BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 23 Maart 2016

GOLGOTA IS GROTER AS GILBOA

- daarom is daar 'n oplossing vir sonde, skuld en mislukkings!



Gilboa en Golgota. Twee uitstaande berge van groot betekenis in die heilsgeskiedenis.

Elkeen is die toneel van ‘n aaklige dood van ‘n bekende persoon. Beide is konings wat sterf, beide sterf ‘n grusame en skandalige dood. Beide se dood het groot gevolge. Maar daar is ‘n groot en heerlike verskil. So ‘n heerlike verskil dat dit vandag in my en jou lewe ‘n verskil kan maak. Genadiglik hoef ons nie stil te staan by die neerlaag van Gilboa nie, maar kan ons aanbeweeg na die oorwinning van Golgota.

Kom ons kyk bietjie na wat op hierdie twee plekke gebeur het. Koning Saul pleeg in wanhoop en vrees selfmoord op Gilboa. Dit was die afgryslike uiteinde van ‘n lang pad van rebellie en ongehoorsaamheid. Ons ken mos die droewige verhaal...Hy het ‘n punt bereik waar God hom finaal verlaat het, soveel so dat hy in desperaatheid ‘n spiritiste medium moes gaan raadpleeg, die heks van Endor. Maar ook sy kon natuurlik nie help nie. Hy is deur God verwerp en in sy angs en vernedering kies hy die hartseer uitweg van selfmoord. Dit gaan egter oor meer as net Saul. Dis ook ‘n nederlaag, bespotting en vernedering van die volk Israel, want Saul was die gesalfde koning van God se volk. Skrikwekkende skade word aan die eer van God gedoen as Saul se kop afgesny word en in die land van die heidense Filistyne rondgestuur word.

NIE DIE EINDE VAN GOD SE BEMOEIENIS EN GENADE NIE...

God verlaat egter nie sy volk nie en sy planne kan nie omvergegooi word nie. God self gryp weer in om sy eer te herstel. Die nuwe gesalfde koning is Dawid. Dawid sou die Filistyne verslaan. Maar nou weet ons Dawid was ook nie ‘n volmaakte koning nie en hy het ook sy mislukkings gehad. God het egter ‘n verbond met Dawid gesluit en as uitvloeisel is Jesus die Seun van Dawid baie eeue later in Betlehem die stad van Dawid gebore. Hy word in Jerusalem verwelkom met Hosannas... “Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele!” (Matteus 21:9) Maar Hy sterf uiteindelik op Golgota. (Lees gerus Johannes 19:17-22;28-30) Dit lyk soos ‘n nog mislukking, die grootste mislukking ooit, maar ons weet op Golgota het Hy sonde, Satan, dood en hel oorwin. Golgota was nie ‘n ramp nie, Golgota was die plek waar Jesus die werk wat Sy Vader hom gegee het afgehandel het. Anders gestel, op Golgota het God afgereken met sonde, skuld en skande! Daarom kan Jesus te midde van sy doodsworsteling triomfantelik uitroep : “Dis volbring” Hier is die volle sonde boete betaal, ons volle sondeskuld is uitgewis. Daar is dus ‘n reuse verskil tussen Gilboa en Golgota.

'N REUSE EN HEERLIKE VERSKIL

Gilboa spel wanhoop en nederlaag. Golgota bring hoop en oorwinning.

Gilboa is ‘n skande, maar Golgota is ‘n triomf.

Gilboa is die konsekwensie van die heerskappy van sondemag en skuld, Golgota bring ‘n einde aan die heerskappy van sondemag en skuld.

Op Gilboa sterf Saul sonder God, op Golgota sterf Jesus in ons plek sodat ons nooit weer sonder God hoef te wees nie.

Op Gilboa tref God se vloek vir Saul, op Golgota tref God se vloek ook vir Jesus, maar juis sodat ons kan deel kry in God se seëninge!

Op Gilboa sterf Saul as ‘n verworpene deur God weens sy eie aanhoudende sonde en opstand teen God. Op Golgota sterf Jesus ook as verworpene, maar Hy sterf vir óns sonde, Hy vat óns straf. Jesus sterf nie in opstand teen God nie, maar juis as die een wat volmaak gehoorsaam is aan God.

Op Gilboa sien ons die dodelike mag en gevolge van sonde. Op Golgota aanskou ons die uitwissing van ons sondeskuld en straf.

Gilboa was tydelik goeie nuus vir die Filistyne (1 Sam 31:9), maar dit wat op Golgota gebeur het is blywende ewige Goeie Nuus, GOEIE VRYDAGNUUS vir elke sondaar wat in Jesus glo!

Ons kan juig : Golgota is groter as Gilboa!

Omdat Golgota groter is as Gilboa is daar hoop vir die grootste rebelse sondaar! Jesus sal jou nie wegwys as jy na Hom kom vir verlossing nie.

Omdat Golgota groter is as Gilboa is daar hoop vir die teruggevalle kind van God. (vir backsliders!) Kom in berou na Jesus en Hy sal jou terugvat en weer gebruik soos Petrus! (Kliek op PETRUS)

Omdat Golgota groter is as Gilboa is daar hoop vir jou wat voel dat jy misluk het in jou Christenskap, misluk het in jou huwelik of huisgesin. Jesus vergewe en herstel.

VASGEKEER IN 'N DOODLOOPSTRAAT?

Vriend, jou mislukkings, jou sondes, is dalk baie groot. Jy voel of jy by ‘n Gilboa van absolute wanhoop gekom het. Jy voel dalk soos Saul homselwers, vasgekeer in ‘n doodloopstraat van sondeskuld en skande. Dalk is daar ‘n baie spesifieke sonde of skande wat meedoënloos aan jou vreet, wat jou gewete verrinneweer... daardie een ding...wat jou so pla en teister dat jy dalk moontlik letterlik soos Saul op die rantjie van selfmoord rondsteier... 

Ja dis erg, baie erg, verskriklik erg, maar ek wil jou uitdaag en uitnooi: Kyk na Golgota, kyk wat daar gebeur het, kyk na die Seun van Dawid wat daar hang en hoor as hy uitroep : Dis volbring! Glo in Hom, hoop op Hom en vind volkome rus, vergifnis, vrede!  "Aanskou die Heiland, sien die kruis..."

MOENIE 'N ONGELOWIGE GEVANGENE BLY VAN DIE GEMORS VAN GILBOA NIE; BEWEEG VANDAG NOG GELOWIG AAN NA DIE GENADETRIOMF VAN GOLGOTA!

(Die essensie van hierdie preek het ek jare gelede by ds. Danie Steyn gehoor)

2 opmerkings:

  1. Dis heerlik om weer al die foto's van ons tuisdorp en my man se geboortedorp te sien op u webwerf! Het julle darem nou al almal reën gekry? Ai, ek weet: Suidwes kan mos eintlik nooit genoeg reën kry nie. Hier in Kanada met sy oorvloedige, oorvloedige water, reën, ysreën en sneeu op duisende maniere, kyk ek steeds uit vir die voggies in die lug en geniet elke vlok, elke korrel, elke druppel. Die mense hier dink ek is mallerig . . .

    En ja, dis 'n wonderlike analogie om Gilboa deur te trek na Golgota! Wát 'n genade, misterie en wonder is Golgota nie . . . ek en my Bybelstudiegroep is weer Woensdag daaraan herinner dat, die feit dat Jesus die Romeinse geseling op sigself oorleef het, bewys dat Hy God is. Niemand, niemand kon Hom doodmaak nie. En Hy pleeg ook geensins selfmoord nie. Aan die kruis sterf Hy omdat Hy sy lewe vrywilliglik GEE – omdat Hy God is – en Hy neem dit weer op, omdat Hy GOD is!

    Alle lof, eer, heerlikheid en aanbidding aan die Lam wat ook die Leeu van Juda is!

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ja, oor die algemeen is daar groot dankbaarheid oor die reën wat in ons gebied geval het. Dit was nie so baie nie, maar die verspreiding was goed en het gelei tot goeie groei. Oor die land as geheel kan ek my nie uitspreek nie, maar dit klink my daar is gebiede waar dit nog baie droog is.

      Groete en als wat mooi is vir julle daar in Kanada!

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.