BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag, 28 Januarie 2015

DIE KERKBODE : NO SAFE SPACE?

DIE KERKBODE se goedpraat van ‘n onbybelse lewenswyse skok mens weereens baie diep. Ja, dit laat mens se maag draai van ontsteltenis en jy kry begrip vir Jeremia se sterk emosies oor die angswekkende toestand van Jerusalem as hy uitroep : “My oë teer weg in trane, my ingewande is in beroering, my lewer is op die grond uitgeskud vanweë die verbreking van die dogter van my volk,...” (Klaagliedere 2:11) Die lesbiese lewensstyl en sogenaamde “huwelik” (nogal in ‘n agterna seremonie geseën deur ‘n NG dominee!) van Erna en Liezl word kwistig lof toegeswaai met ‘n ruim omhaal van mense woorde. Wat God se Woord in Romeine 1:18ev oor hierdie leefstyl en die oorsprong daarvan sê, pla blykbaar nie vir Annalise Wiid en DIE KERKBODE nie. ‘n Mens wonder of daar nog iets soos sonde bestaan (behalwe natuurlik die sonde van onverdraagsaamheid), want moet ons nou die res van Paulus se sondelys ook ignoreer of met vroom frases toeverf?



(Vir ‘n gebalanseerde poging om Bybels oor die gaykwessie te dink, Kliek op MAG EK HULLE TROU?)

SAFE SPACE?

Die deurlopende tema van hierdie artikel in DIE KERKBODE is 'n "safe space.” Ons enigste ware “Safe space” is ons getroue Verlosser Jesus Christus wat ons met sy bloed losgekoop het van ons sondeskuld, maar ons ook bevry van die mag van sonde. Alle soorte sondes. Ook dit waarvan ons in Romeine 1:18ev. lees. (Ek gun vir Erna en Liezl hierdie ware veiligheid in die Waarheid....) Afgelei is die kerk natuurlik ook veronderstel om ‘n “safe space” te wees, die kerk as liggaam van Jesus wat in gehoorsaamheid aan en afhanklikheid van Hom leef. Waar ons mekaar versorg en aanmoedig om getrou die stryd teen sonde te stry. Wat ek wel sterk oor wonder is of DIE KERKBODE nog hoegenaamd ‘n “safe space” vir ‘n Bybelgehoorsame gelowige kan wees?

Om self die artikel onder bespreking te lees, kliek op SAFE.


Stadig doodgewurg...





Donderdag, 22 Januarie 2015

BEKERING VAN ‘N BACKSLIDER

- berou tot blydskap in Psalm 51.

Jy kom kerk toe, jy glo (of dink jy glo) in die Here, jy probeer ordentlik lewe en tog is jy nie seker van die ewige lewe nie, tog vorder jy nie geestelik nie, tog kort daar egte Christelike blydskap... Die waarskynlikste rede: daar het nog nie ware bekering plaasgevind nie. Bekering (saam met geloof) is ‘n duidelike vereiste om ‘n Christen te word, om deel te kry aan die koninkryk van God. Regtig? Blaai saam deur die Nuwe Testament...  


Johannes die Doper se boodskap was die boodskap van bekering. “In daardie tyd het Johannes die Doper in die woestyn van Judea begin preek en gesê: "Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom." (Matteus 3:1,2) 

Jesus het aangedring op bekering. "Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: "Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie." (Markus 3:14,15) 

Die eis tot bekering was deel van die apostels se kernboodskap. “By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en het hulle vir Petrus en die ander apostels gevra: "Wat moet ons doen, broers?" Toe antwoord Petrus hulle: "Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang." (Handelinge 2:37,38) 

GELOOF EN BEKERING

Word ons dan nie deur die geloof gered nie? Ja, natuurlik. Geloof en bekering gaan egter altyd hand aan hand. Die twee vlerke van ‘n vliegtuig. Bekering sonder die element van geloof is blote moralisme. Geloof sonder bekering (dis algemeen in ons dag) is bloot sentimentele selfmisleiding. Anders gesê : Ware geloof in Jesus sal insluit dat ek berou en afsku oor my sonde sal hê, ware bekering sal insluit dat ek my vertroue persoonlik op Jesus sal stel en hoop op die genoegsaamheid van sy kruisoffer!

GEEN RESEPPIE

Daar bestaan baie misverstande – bekering is nie ‘n spesifieke voorgeskrewe reseppie of ‘n uitgewerkte rympie wat ek moet prewel nie. Daar is geen standaard bekeringsgebed in die Bybel nie. Daar is nie iets soos ‘n stap een tot vier bekeringsvoorskrif nie. Die Bybel voorsien ons ook nie van ‘n netjies uitgewerkte definisie van bekering nie. Dis ‘n saak van die hart. Die detail verskil van persoon tot persoon, maar daar’s sekere duidelike ooreenstemmende elemente. (Jy hoef dus nie jou bekering te bevraagteken as dit nie presies so plaasgevind het soos wat jy dalk in iemand anders se getuienis gehoor of in ‘n Christen biografie gelees het nie) Ons gaan na die wesenseienskappe van bekering kyk aan die hand van die bekende Psalm 51. (Dis so belangrik om die aard van bekering te verstaan, want daar is soveel vals bekerings in ons dag...)

Hier in Psalm 51 vind ons ‘n klassieke voorbeeld van bekering. Dis eintlik die bekering van ‘n “backslider” (Ons ken mos die agtergrond... Dawid en Batseba. Kliek op SMS – SWANGER!) Bekering het sekere basiese elemente en dit maak nie saak of dit iemand is wat nog nooit die Here geken het en of dit nou iemand is wat teruggeval het en nou weer terugkom na die Here soos die geval met Dawid nie. Die kernmerke van egte bekering is basies dieselfde of mens nou praat van ‘n aanvanklike eerste bekering of die daaglikse lewe van bekering. *

Kom ons gaan saam deur Psalm 51:

Met egte bekering is daar ‘n bewustheid dat my sonde en my oortredings die groot probleem is en daarom verlang ek  na vergifnis. My grootste probleem is nie my gebrek aan gesondheid, geluk of geld nie. Dis nie wat ek nou van die Here vra nie – ek vra genade en vergifnis! “Wees my genadig, o God, in u troue liefde, wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid! Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde! Moet tog nie ag slaan op my sondes nie, wis al my skuld uit!" (3,4,9) (So baie “bekerings” is vals, want daar word vir mense belowe dat as jy jou hart vir Jesus gee sal Hy al jou ideale waarmaak en vir jou die lewe lekker maak. So baie mense neem dan ‘n besluit vir Jesus sonder enige besef van hulle sondenood.) Dis egter juis die mees basiese element van bekering – ek sien raak dat ek ‘n sondaar is wat skuldig voor God staan en daarom vergifnis nodig het.

Met egte bekering begin ek besef (dalk gaandeweg) dat my sonde eintlik sonde teen God self was. “Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig.” (6)Dis merkwaardig dat Dawid hier besef – sy sonde was nie net teen Batseba en haar man Uria nie, maar ten diepste teen God. Baie mense sien sonde maar net as ‘n klompie foute wat nou vir hulle probleme veroorsaak, maar besef nie dat alle sonde eintlik rebellie en opstand teen God is nie.

Met egte bekering en berou maak ek nie meer verskonings vir my sonde nie. Al daardie verskonings van : “Ek is maar net ‘n mens, ek kom uit ‘n moeilike huis, ag niemand is mos volmaak nie, ons is mos almal maar net mense...” Dis als dinge met ‘n element van waarheid, maar met bekering soek ek nie meer verskonings nie, ek soek verlossing! Met egte bekering begin ek besef dat my sonde dieper gaan as maar net ‘n klompie nare en verkeerde goed wat ek gedoen het. Ek is van geboorte af ‘n sondaar. My wese is sondig, daarom kies ek vir die sonde... “Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het.” (7)

Met egte bekering is daar nie net ‘n verafskuwing van dit wat verkeerd is nie, maar ook ‘n opregte begeerte om nou volgens God se wil te lewe. “Maar U verwag opregtheid diep in ‘n mens se hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe. “ (8) 

Ek wil nie net vry wees van sonde nie, maar ook vry van die begeerte tot sonde!

Die egte berouvolle bekeerling besef dat hy homself nie kan verander en verbeter nie, maar heeltemal op God se genade aangewese is. Ek het God nodig! Ek het ‘n herskeppingswonderwerk nodig. Ek het behoefte aan iets meer as maar net ‘n nuwe blaadjie omslaan. Ek het ‘n nuwe hart met nuwe begeertes nodig! “Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig." (12) Dis die waarheid van die wedergeboorte wat hier reeds in Ou Testamentiese taal gestel word.

Met egte bekering is daar ‘n element van desperaatheid en erns! Dis nooit 'n ligtelike saak, koue formaliteit of haastige ritueel om 'n rympie agter iemand aan te prewel nie. Dawid pleit hartstogtelik: "Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie!" (13)

Met egte bekering is daar ‘n element van nederigheid, gebrokenheid en verootmoediging. Here, ek verdien niks nie, ek is niks nie, ek het niks om op trots te wees nie, maar wees my tog genadig! “‘n Offer vra U nie, anders sou ek dit bring; ‘n brandoffer wil U nie hê nie. Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ‘n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God." (18,19) 

Bekering is nie ‘n menslike prestasie wat God se guns verdien nie, nee dis om vanuit my diep nood my hand uit te steek en God se genade deur Jesus in geloof te ontvang! Here, ek het U nodig!

Egte bekering lei tot blydskap of weer die herstel van blydskap van ‘n backslider. “Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U weer met toewyding dien.” “Red my van ondergang, o God, my Redder, dat ek kan jubel oor u verlossingsdaad.” “Here, gee my die woorde om u lof te verkondig.” (14, 16, 17) Wanneer God die swaar skuldlas van jou wegneem, kan dit mos nie anders as dat daar blydskap sal wees nie!

Egte bekering kan nie en wil nie weggesteek word nie, maar moet en wil met ander gedeel word. “Dan sal ek oortreders leer wat U van ‘n mens verwag; dat die sondaars hulle tot U sal bekeer."(15)

Bekering behels dat ek in nederigheid en eerlikheid en berou my hart voor God uitstort en om genade sal roep. Bekering laat my omdraai (ook van my vertroue op my eie geregtigheid, morele prestasies en godsdienstigheid) en my hoop op Jesus stel! Ja, beslis is dit nie die "kwaliteit" van my bekering wat my red nie, maar Jesus en die genoegsaamheid van sy eenmalige offer. Bekering ('n berouvolle omdraai en 'n diep "change of mind") lei tot geloof in Jesus, maar is terselfdertyd ook 'n gevolg van ware geloof in Jesus! Weereens, bekering en geloof gaan saam en moet nie as afsonderlike stappe gesien word nie, maar is ineengestrengel. Die Christen se hele lewe is immers 'n lewe van geloof en bekering!



*Die verskil kan aan die hand van ‘n eenvoudige beeld verduidelik word. (ek het dit by Nico van der Walt gehoor) Wanneer ‘n skip besig is om reg suid vanaf Kaapstad na Antarktika te vaar en dan skielik die opdrag kry om terug te keer na Kaapstad, maak hy ‘n radikale omdraai van 180 grade. ‘n Mens sou dit kon vergelyk met ‘n aanvanklike bekering. Eers het hy suid gevaar, maar nou reg noord. Maar op die terugpad is daar gedurig winde, strome en golwe wat dreig om hom van koers af te dwing en daarom moet die stuurman voortdurend die roer gebruik om die skip weer terug te bring op koers sodat die kompas weer reg noord kan wys. Dit kan vergelyk word met daaglikse of voortdurende bekering.

Dis baie duidelik dat die boodskap van bekering in die Nuwe Testament nie net aan buitestaanders en ongelowiges buite gemeentes gerig word nie. Lees gerus Openbaring 2-3 en sien hoe hierdie oproep tot bekering herhaaldelik in die briewe aan die sewe gemeentes voorkom.























God wil jou weer in sy heerlikheid en vreugde laat deel!

Donderdag, 15 Januarie 2015

GOD SE WIL VIR MY

- is baie duidelik!

“Wat is God se wil vir my lewe? Wat is sy planne vir my toekoms?” Dis ‘n vraag wat mense dikwels vra, veral dalk hier aan die begin van ‘n jaar. Ons vra dit gewoonlik in verband met dinge soos : “Watter werk moet ek aanvaar, moet ek op ‘n ander plek gaan woon, met wie moet ek trou, waar moet ek gaan studeer...?” By sommige is daar groot nuuskierigheid oor God se wil (eintlik meer oor die toekoms) en hulle gebruik allerhande kunsmatige metodes – Hulle kyk waar die Bybel oopval en gryp sommer die eerste teks as ‘n aanduiding van God se wil... Hulle kyk gedurig uit vir tekens en visioene... Aan die anderkant is baie mense weer bevrees oor God se wil.... “Sê nou maar die Here stuur my na ‘n plek wat vir my heel onaanvaarbaar is, sê nou maar God gee my ‘n opdrag waarvoor ek glad nie kans sien nie?” (Dis natuurlik 'n ongegronde dwase vrees, want hoe sou die Persoon wat jou die meeste liefhet in die ganse heelal iets slegs vir jou beoog?)

DIE BASIESE BEGIN...

Kom ons vergeet eers van alle metodes en vrese en kyk eenvoudig na wat God se Woord vir ons sê. Anders gestel kom ons kyk eers na die basiese Bybelse vertrekpunt rondom die saak van God se wil. 1 Tessalonisense hoofstuk 4 is ‘n goeie beginpunt. “Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid.” (3) Jy sien, God se wil is volgens die Bybel nie ‘n vreeslike geheim wat deur allerhande metodes ontdek moet word nie! Dit word tog hier duidelik en eenvoudig gestel... Nou sal iemand sê : “Wag ‘n bietjie, dis nie wat ek wil hoor nie, ek wil weet of ek daardie aanloklike werksaanbod moet aanvaar?” Ek dink dis waar ons die groot fout maak, ons ignoreer God se basiese opdrag aan sy kinders en juis daarom tas ons so in die donker rond wat ander besluite betref. Begin by die begin. As jy reeds ‘n kind van God is, is God se basiese wil in die eerste plek dat jy in heiligheid moet leef. (As jy twyfel oor kindskap moet jy na Jesus kom dat Hy jou red, dis dan die belangrikste saak vir jou op God se agenda. Vergeet eers van alle ander dinge.) 

God se wil vir sy kerk (sy kinders) is HEILIGMAKING. Dis in lyn met ons basiese belydenis oor die wese van die kerk : “Ek glo in ‘n heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges!” Heiligheid is die basies wil van God en opdrag aan sy kerk. “Daar staan immers geskrywe: "Wees heilig, want Ek is heilig." (1 Petrus 1:16)

REINHEID

Paulus maak die wil van God baie prakties : “Weerhou julle van onsedelikheid.” Dit was destyds uiters aktueel en vandag nog meer so. Dit gaan hier oor alle vorme* van seksuele onreinheid – in woorde, gedagtes, dade... Alle uitlokking (kliek – SNEEUWITJIE), losbandigheid, saambly (kliek – ONDER MY DAK?), egbreuk en alle vorme van perversiteit (Kliek – GAY?). Dis juis op hierdie terrein waar die vroeë Christene radikaal anders geleef het as die omliggende massas mense. Hulle het uitgestaan vanweë hulle nuwe lewenswyse op seksuele gebied. Al die onreinheid wat vandag so aanvaarbaar geword het, was ook reeds deel van die heidense Romeine samelewing. Paulus beklemtoon die erns van hierdie saak. “Die Here straf al sulke dinge.” (6) Paulus maak dit ook duidelik dat dit nie hier oor sy eie voorskrifte of puriteinse gevoelens gaan nie, maar oor God se opdragte! “Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net ‘n mens nie, hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het.” (8) 

BROEDERLIEFDE

Die ander aspek van God se wil wat hy onderstreep is die broederliefde. Dis so vanselfsprekend dat hy sê dis eintlik nie nodig om daaroor te skryf nie. Hy moedig net die Christene aan om nog meer daarop te fokus. “Oor broederliefde hoef ons nie aan julle te skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê. En dit doen julle dan ook teenoor al die broers in die hele Masedonië. Ons versoek julle egter dringend, broers: Lê julle nog meer daarop toe.” (9,10)

As jy erns wil maak met God se wil, as jy regtig wil weet hoe om te leef, maak erns met die opdragte wat hier gegee word. Dis asof Paulus wil sê : “As hierdie dinge in plek is, moenie verder bekommerd wees nie, gaan net rustig aan met jou lewe en doen jou werk wat jy nou het goed.” (sien vers 11) 

KEUSES?

God se wil vir sy kinders is nie iets vreemds of ‘n geheim wat deur sekere formules ontdek moet word nie. Sy wil is dat jy moet fokus op heiligheid. Los als wat sy Woord verbied en fokus positief op liefde vir jou medegelowiges soos die Woord beveel. As hierdie dinge in plek is, sal jy ook weet watter keuses om te maak t.o.v. beroep, studies, huwelik ens. As hierdie basiese beginsels van heiligmaking afwesig is, soek jy tevergeefs na God se leiding in spesifieke sake.

As ek in een of ander buite egtelike verhouding, enige vorm van onsedelikheid, bitterheid, onvergewensgesindheid... leef, mors ek my asem om te vra dat God my sal lei wat die toekoms en sekere keuses betref!

Kom ons vat dit saam : As jy die basiese wil van God naamlik ‘n heilige lewe nastreef, dan gaan detail besluite oor werk en huwelik en studies... amper outomaties kom. Hoe heiliger jy lewe hoe makliker sal jy die regte besluite neem, want jou begeertes en jou denkprosesse sal al meer in ooreenstemming met God se Woord wees. God se Woord (nie net enkele tekste nie), maar die beginsels van die Woord sal ‘n blywende stem in jou binneste word wat jou daagliks sal lei...

“en jou ore sal 'n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan.” (Jesaja 30:21)

Vir nog verdere praktiese wenke oor die verstaan van God se wil rakende keuses wat ons moet maak, kliek op JI Packer.



[God se koers en wil vir ons is die pad van heiligmaking.]

*Die Griekse woord "porneia" is 'n baie omvattende term.

HOE NEEM EK BESLUITE

VOLGENS GOD SE WIL?


‘N BYBELSE BENADERING TOT GOD SE LEIDING IN BESLUITNEMING (oorgeneem by J.I.Packer):

1. Die vertrekpunt is : wat is die beste wat ek vir God kan doen? [Kies doelbewus teen selfsug en eiebelang en vra eerlik wat tot God se eer sal dien. So word ‘n klomp verkeerde keuses sommer van die begin af uitgeskakel.]

2. Maak erns met die basiese opdragte van die Skrif : die opdragte om God en ander lief te hê, die perke en die verpligtinge wat God se bevele op ons lê , die aandrang op energieke aksie van ons kant af (Prediker 8:10, 1 Kor. 15:58), die ingrawe in wysheid om ons in staat te stel om die beste keuse onder al die opsies te maak. [Maak veral in die eerste plek erns met die opdrag in die Skrif wat direk handel oor God se wil soos 1 Tessalonisense 4:3]

3. Volg die voorbeelde van godvresendheid in die Bybel : veral, boots die liefde en nederigheid van Jesus self na. Terwyl ons dit doen, kan ons nie ver verkeerd gaan nie.

4. Laat wysheid ons koers bepaal, nie slegs die wysheid wat God jou persoonlik gee nie, maar die gesamentlike wysheid van jou vriende en leiers in die Christen gemeenskap. Moenie ’n geestelike “lone ranger” wees nie. As jy dink dat jy God se wil verstaan, toets jou verstaan van dinge. Maak gebruik van die wysheid van hulle met meer insig as jy, aanvaar raad. [Praat veral met volwasse Christene wat nie bang gaan wees om hulle eerlike mening te gee nie.]

5. Neem kennis van enige aanduidings of aansporings van God wat oor jou pad kom — enige spesiale las vir ’n bediening, ’n rusteloosheid van hart wat aandui dat iets moet verander.

6. Koester die Goddelike vrede, waarvan Paulus sê dat dit die harte bewaar van hulle wat in God se wil is. [onrus in 'n gelowige se hart is gewoonlik 'n aanduiding dat  ek op die verkeerde koers gaan]

7. Neem kennis van die beperkings wat deur omstandighede bepaal word en wanneer dit duidelik is dat hierdie beperkings nie verander kan word nie, aanvaar dit as van God. [Moet nooit iets forseer nie!]

8. Wees voorbereid dat God se leiding oor ’n spesifieke saak nie duidelik sal wees voor die tyd van beslissing aanbreek nie en dat God jou stap vir stap lei, want dit is wat Hy gewoonlik doen.

9. Wees voorbereid dat God jou na iets kan lei wat jy gedink het jy nie sal van hou nie, en jou sal leer om daarvan te hou!

10. Moet nooit vergeet nie, as jy ’n slegte keuse gemaak het is dit nie die einde van alles is nie : God vergewe en herstel. Hy is jou Verbond en Verlosser. Hy sal jou nie versaak nie, maak nie saak hoe sleg jy gegly het nie. (Miga 7:8)


[die kursiewe gedeeltes in hakies is my opmerkings]

Maandag, 12 Januarie 2015

DIE VRYHEID EN EENHEID VAN PARYS

- wat my nie opgewonde maak nie.

Hoe so? Selfs Abbas en Netanyahu loop dan saam-saam...?


Die wêreld is bykans ongeëwenaard verenig in die veroordeling van die aanval op die CHARLIE HEBDO kantore in Parys. Op ongekende skaal is daar die afgelope naweek vir vryheid en eenheid betoog. Christene is ongetwyfeld ook ten gunste van vryheid. Dis immers ‘n oorheersende tema onder andere in die brief aan die Galasiërs. Maar die vryheid waarvoor ons staan en waarin ons lewe is ‘n vryheid wat fundamenteel verskil met die vryheid waarvoor wêreldleiers Sondag in Parys saam met derduisende optoggangers gemarsjeer het, toe ‘n verbysterende geskatte 1,6 miljoen Franse Parys se strate ingevaar het vir hulle marche républicaine. 

SAAM MET DIE FRANSE EN DIE WÊRELD?


Die Christen bevind homself in ‘n moeilike middelposisie in hierdie tyd van #NousSommesCharlie. (ons is Charlie) Ja, ons is erg gekant teen alle terreur en geweld, ook Islamitiese terreur, maar ons is ook net so sterk gekant teen die obsene westerse idee van vryheid soos verteenwoordig in die lastertydskrif CHARLIE HEBDO. Almal gaan dus vir ons kwaad wees, die Moslems omdat ons hulle valse en gewelddadige godsdiens afwys, maar ook die Westerse postmodernistiese liberale omdat ons nie kan saamsing in hulle koor van losbandige vryheid teen God en sy gebod nie. Nooit, maar nooit kan ons onsself aan “Charlie” se kant skaar nie!

VRYHEID = VRYHEID ONDER DIE WOORD. 

EENHEID = EENHEID IN CHRISTUS.

As Christene glo ons in die vryheid om God te dien volgens ons gewete wat gebonde is aan sy Woord. As Christene verlang ons na eenheid, eenheid binne die Waarheid, met ander woorde ‘n eenheid wat gevind word in onderwerping aan Jesus Christus as ons Koning!

Die Franse se passievolle uitstorting van solidariteit en emosie vir vryheid en eenheid gee mens eintlik koue rillings. Maar dis rillings van skok, want die vryheid waarvoor hulle skree is ‘n vryheid sonder die grense van die Woord en die eenheid waarvoor hulle betoog is ‘n eenheid buite die heerskappy van Christus! Kortom gestel : Die massale optog in Parys is wesentlik die “opmars” van ‘n antichristelike bestel. Lyk my die wêreld is nou ryper vir so ‘n bedeling as ooit te vore...



                 [La place de la Bastille... foto Libération ]


[Merkel en Hollande - foto Libération ]

Vrydag, 09 Januarie 2015

ONTVANGERS VAN GENADE

- het ‘n duidelike roeping en opdrag.

Ons lê dikwels klem op ons planne en programme, ons visies en ambisies. (veral hier aan die begin van ‘n jaar praat en dink ons dalk meer daaroor) Die kind van God behoort iemand te wees wat sal besef : God het ‘n baie spesifieke plan en doel vir my. Die vraag is natuurlik, wat is daardie plan? Kan ek dit weet? Moet ek probeer uitvind?

Die juweelteks van EFESIËRS 2:8-10 vat als so mooi en gebalanseerd saam :

“8.Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God.  9.Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.  10.Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”

Die oorheersende tema hier  is genade. Dis vandag egter baie moeilik om oor die woord genade te preek sodat mense nog daaroor opgewonde raak. Min mense hoor nog die musiek in die woord “genade.” Die probleem lê nie by die begrip genade self nie, maar by ons huidige kultuur en verstaansraamwerk. Die mens van vandag sien homself nie juis as iemand wat genade nodig het nie. Genade is iets mooi, maar niemand stel daar in belang nie. (Dis vir baie amper so iets soos om ‘n plaas in Zimbabwe te erf – niemand wil dit hê nie!) Hoekom?

Mense sê : “Ag wat God is ‘n God van liefde, Hy sal niemand oordeel en hel toe stuur nie.  Ek het nie juis genade en vergifnis nodig nie.”  
Watse dwase redenasie! God se Woord sê : “Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ‘n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het.” (Openbaring 20:12)

Mense sê : “Ag wat daar bestaan nie juis meer iets soos sonde nie.” As mense in onsedelikheid leef, dan sê ons so half grappig : “Hulle is maar ‘n bietjie stout...” (Ons tydskrifte het kort-kort ‘n artikel oor een of ander filmster of mode heldin wat nou ware liefde ontdek het en by haar kêrel ingetrek het... so min mense besef nog iets van die aakligheid van ‘n onsedelike lewe) As jong mense hulle aan drank te buite gaan hier in die feesseisoen, dan word dit maar afgemaak : “Ag, jong hulle kuier bietjie hard, maar nou ja hulle het hard gewerk deur die jaar...” 

Watse dwase redenasie!  God se Woord sê : “Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie." (1 Kor 6:9-10)

Mense sê : “Ag wat ek leef darem ‘n redelike ordentlike lewe. Baie kerklik en godsdienstig. Bekering en genade is eintlik bedoel vir tronkvoëls, moordenaars en Moslems!”  
Watse dwase redenasie! God se Woord sê : "Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie...” (Rom 3:10)

Ten spyte van al hierdie dwalings, werk die Gees van God tog nog steeds vandag in mense se harte en oortuig hulle van sonde sodat hulle die genade in Jesus vasgryp deur die geloof.  So kry ons redding van sonde, dood en hel. Genade bly die mooiste woord in die Bybel. Genade is kosbaar vir mense wat  die aakligheid van hulle sonde besef en soos Jesaja uitroep : “Wee my, ek is verlore...” (Jesaja 6:5)  Genade is oneindig soet vir mense wat soos die tollenaar in die gelykenis bid : “O, God wees my sondaar genadig...”

IS JY AL ‘N ONTVANGER VAN GENADE?

Genade is nog net so kosbaar en heerlik vir die ontvangers daarvan vandag soos vir die Verlore Seun. (terwyl dit vir baie ander net so onverstaanbaar en onaanvaar bly soos vir die OUDSTE SEUN) Genade is nog steeds “onbeskryflik groot” Dis nog steeds “Amazing Grace” Dit gee vir ons die redding as geskenk, ‘n heeltemal gratis geskenk, sodat ons niks het om oor te spog of te roem nie! Genade bring aan God alleen die eer!

Genade is nie bloot ‘n wonderlike feit  nie, dit het ook ‘n wonderlike effek. Redding uit genade het ‘n rimpel effek kan mens sê. Gevolge wat sigbaar en wyer uitkring! Die ontvanger van genade is ‘n nuwe skepping. (Vgl. 2 Kor. 5:17) Genade laat jou nie onveranderd nie. Ons lees hier dat die ontvangers van genade geskape is met ‘n baie spesifieke doel. Hier kom ons nou by die antwoord op die vraag oor wat God se doel vir ons is. (10)

GENADE BEVRY EN RIG ONS TOT GOEIE WERKE!

Goeie dade! Goeie werke!  Hoor ons? (So baie mense dink dat goeie werke ‘n Roomse ding is. Nee dis ’n Bybelse ding as ons dit in die Bybelse volgorde verstaan as die uitvloeisel van genade.) Goeie werke is God se doel en agenda vir ons! Hier word ‘n belangrike ding oor goeie werke gesê. (Die OAV  sê dit baie duideliker) “goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” Goeie werke het nog steeds ‘n genadekarakter. Dis nie ons prestasie en ons vernuftigheid nie! Nee, God het dit klaar voorberei en moontlik gemaak  vir ons. Dis ‘n pad wat Hy klaar uitgelê het en ons kan net daarop loop! Goeie werke kom ook van God af, dis ook ‘n gawe van God, dis steeds onverdiende genade. Hoe so? Deur die geloof in Jesus het God ons vrygespreek, sodat ons ‘n nuwe status het. Ons is nou nie meer oortreders in God se oë nie, maar kinders, regverdige kinders.  God hou van sy kinders en vind vreugde in hulle dade van dankbaarheid en gehoorsaamheid. (Trouens, al die sogenaamde goeie dinge wat mense buite Christus doen, is wegwerplik voor God. Wanneer goddelose film en popsterre kinders uit Afrika aanneem, tel dit nie in God se oë as goeie werke nie...) Deur die geloof in Jesus gee God vir ons die Heilige Gees wat ons in staat stel om Jesus se voorbeeld te volg. Goeie werke is om soos Jesus te leef in gehoorsaamheid aan Sy Vader. 

God se plan en agenda vir ons wat genade ontvang het is eenvoudig - leef soos Jesus! Gelykvormigheid aan Jesus.

Hoe lyk Jesus se lewe? Jesus het volkome onder die beheer van die Heilige Gees gelewe en dus altyd die vrugte van die Gees  volmaak vertoon. Dit wat die Gees in Jesus se lewe gedoen het wil Hy ook in ons lewe doen. God se doel vir ons,  die goeie werke wat God vir ons voorberei het is dus nie nuwe snaakse goed nie, maar 'n lewenswyse wat die vrugte van die Gees vertoon. (Galasiërs 5:22,23) As jy ‘n ontvanger is van genade, gered is deur die geloof alleen, dan het God jou bedoel en bestem vir 'n radikaal ander lewe gekenmerk deur: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Konsentreer hierop. Laat ons die opdragte van God se Woord en die geleenthede wat Hy oor ons pad bring uitvoer en benut volgens hierdie beginsels. Dis God se plan vir jou, ook in 2015! Oor die detail van waar en hoe hoef jy jou nie te bekommer nie...


Woensdag, 07 Januarie 2015

CHARLIE HEBDO AANVAL

- 'n Christen se perspektief.

Dit gons die wêreld deur na vandag se dodelike aanval op die kantore van die satiriese Franse tydskrif CHARLIE HEBDO in Parys. Veral op Twitter word daar groot meegevoel en ondersteuning uitgespreek teenoor die slagoffers en hulle families. Dit is verstaanbaar, want dit was 'n gruwelike aanval op weerlose joernaliste en tekenaars. Die aanval word veral beskou as 'n aanslag teen een van die Westerse grondwaardes, naamlik vryheid van spraak. Baie kommentators gebruik die geleentheid om Islam aan te val en sommige gaan so ver om alle godsdiens die skuld te gee vir die tragiese voorval.

Wat sou 'n verantwoordelike Christelike reaksie wees?

Christene moet geweld veroordeel. Niemand het die reg om sommer op lukrake manier ander se lewens te neem nie. As Christene erken ons die swaardmag wat God aan die staat gegee het om oortreders te straf (doodstraf), maar dit is uiteraard nie hier van toepassing nie. Niemand se lewe is ook bedreig nie en daarom is daar ook nie sprake van selfverdediging nie. Alle terrorisme hetsy vanuit watter oorsprong, links of regs, Islam of nie-Islam, moet ondubbelsinnig veroordeel word!

Maar daar is wel 'n ander kinkel in die saak...

Nie almal besef dat hierdie tydskrif nie bloot die spot met Islam gedryf het nie (iets wat vanuit 'n Christelike oogpunt in elk geval geen doel dien nie), maar ook op die mees afskuwelike en lasterlike manier die spot gedryf het met die Drie-enige God en die Christendom. Dit was om die minste te sê 'n walglike en vulgêre blaadjie, wat nie die term persvryheid waardig was nie en alle grense van ordentlikheid en welvoeglikheid op die mees banale wyse oorskry het! As Christen ondersteun ek vryheid van spraak, maar alle vryheid het perke en die grense daarvan word bepaal deur God se Woord. Daarom vind ek dit maar moeilik om simpatie te hê met die tydskrif, sy redaksie en ondersteuners.

CHARLIE HEBDO se tipe joernalistiek is 'n uiterste vorm van haatspraak, skoorsoek en verdraaiing, wat geen respek vir God en medemens getoon het nie! Hulle het baie spotprentjies geteken wat geen koerant in Suid-Afrika sou waag om te doen nie!

En dit bring my by nog 'n belangrike perspektief. Dit laat mens sidder... God laat nie met Hom spot nie! God is niemand se speelmaat nie! Dit moes die hoogmoedige Herodes op die harde manier uitvind toe God wurms gestuur het om hom te verteer, (Handelinge 12:23) Deur die eeue het God, al is Hy meestal lankmoedig en stel Hy sy oordele uit tot die laaste dag, sy vyande laat voel wat die koste is om met Hom te spot en uit te tart. Dink maar aan die Farao van Egipte se wedervaringe van bloed, paddas... tot by die dood van sy eersgeborene! God kan enige middel of agent gebruik om sy oordele uit te voer. Dit moes die volk Israel op die harde manier leer toe Hy 'n verskeidenheid van heidense nasies aangewend het om hulle te straf vir hulle goddeloosheid. En dit bring my by die punt wat ek wil maak: God kan ook wrede radikale Islamitiese terroriste gebruik om 'n uittartende en goddelose Weste te straf wat Hom bespot en uitdaag. Die Bybel is vol van God se oordele or nasies en volke; die dekadente Westerse beskawing moenie dink ons is immuun daarteen nie!

Klink dit vreemd, hard... wel, ons lees dalk die Bybel te selektief.*


[Hierdie joernaliste het gesterf, waaronder Stephane Charbonnier (tweede van regs), die redakteur. Hulle word as helde besing oor die wêreld heen, maar ek betwyfel dit sterk. Hulle is beslis nie in dieselfde liga as iemand soos die omstrede Geert Wilders van Nederland wat waarsku teen die Islamisering van Europa nie. Daarmee het ek nie 'n probleem nie. Ek het 'n probleem met 'n werkswyse van lastering en vulgariteit en die openlike spot met God.]


(Short summary in English, click CHARLIE)

*God se skrikwekkende oordele oor sy vyande word in besondere detail in die Skrif uitgespel... mens dink sommer vinnig aan boeke soos Nahum en Openbaring...

Vrydag, 02 Januarie 2015

KYK NA DIE SKAAL

- en kry hoop vir 2015 en nog verder!

Aan die begin van die jaar het ons almal tog maar sekere verwagtinge of planne, al stel ons dit nie formeel in vaste nuwejaarsvoornemens nie... Jy wil dalk hierdie jaar jou huis klaar renoveer, vasbyt en ’n nuwe motor koop, jou boerdery uitbrei, weer studeer, aandag aan jou liggaam gee en begin fiks word... Of moed bymekaar skraap en vir die meisie begin kuier wat jy al lankal in die oog het, dalk trou, ‘n gesin begin... Met al hierdie planne en projekte is daar natuurlik niks verkeerd nie en as kinders van God kan ons ook sy seën vra op hierdie dinge. (mits dit binne sy geopenbaarde riglyne en wette geskied) Tog is daar een demper, een vals noot, een lang skaduwee wat nie ontvlug kan word nie.... VERGANKLIKHEID! Alles en almal is verganklik, als word oud, gaan tot niet, raak stukkend of sterf... ! Als en almal sal vergaan! Eendag word die nuwe huis ‘n murasie, iewers word die gesondste liggaam siek, alle geliefdes word net tydelik aan ons geleen voor die dood hulle kom wegvat... (Dis weer persoonlik vir my die onderstreep, toe ek die afgelope vakansietyd vier begrafnisse moes hanteer...) 

Vir die hartseer werklikheid van nietigheid, tydelikheid en verganklikheid het net die Bybel ‘n troosvolle boodskap. Die Bybel leer daar is ‘n onverganklike erfenis wat eendag vir God se kinders wag! As ek wedergebore is, is ek ‘n kind van God. As kind van God is ek ‘n erfgenaam! “En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.” (Romeine 8:17) 

HOE LYK DIE ERFPORSIE?

Die erfenis wat vir God se kinders wag behels twee groot sake volgens Romeine hoofstuk 8 :

~ die hele skepping gaan tot volmaaktheid herstel word.

~ God se kinders gaan tot volmaaktheid herstel word.

1) DIE SKEPPING gaan volmaak herstel word.

God gaan sy hele stukkende skepping weer vernuwe en heelmaak tot iets beter as wat dit ooit was! Die hele skepping gaan weer voldoen aan sy oorspronklike plan. Dit gaan weer “goed” wees in die oortreffende trap! (Daar is twee beduidende uitsonderings : die afvallige engele m.a.w. Satan en sy demone en mense wat die evangelie van Jesus nie aanvaar het nie, sal nie deel wees van hierdie herstel nie, maar onder die ewige toorn van God ly.) Hoekom moet die skepping herstel word? Die eenvoudige rede is - hierdie skepping is tans nie soos God bedoel het dit moet wees nie. Dis vol ellende en verganklikheid. Ons sien die gevolge in alle vorme van verwoesting en dood... van die besoedeling van ons oseane, uitroei van woude tot by die grusame stroping van renosters... Waar kom dit vandaan? Wat is die diepste oorsprong van al hierdie euwels en ellendes? “Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het.” (Romeine 8:20) God het dit gedoen - God het hele aarde vervloek as gevolg van die sondeval! Die mens se straf het gelei tot die vervloeking van die hele skepping. Die skepping ly direk en indirek onder die gevolge van die mens se rebelllie! Maar net so, die mens se verlossing deur Jesus lei weer tot die hele herstel van die hele skepping. Anders gesê: Jesus se verlossingswerk het geweldige implikasies, kosmiese implikasies - dit lei tot die herstel van mens sowel as die ganse skepping. Jesus se bevrydingswerk lei daartoe dat ons en die skepping herstel word tot God se oorspronklike bedoeling, nl. om in volmaaktheid eer aan God te bring. Die skepping sien met gespanne verwagting hierna uit, sê Paulus deur die treffende stylfiguur van personifikasie! “Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê.” (Romeine 8:19-21) 

Die ellende wat ons nou in die skepping sien en in die alledaagse lewe ervaar is nie God se bedoeling nie. God gaan dit nie daar laat nie. Die skepping weet dit as’t ware en verlang na die herstel wat God gaan bring. Die nuwe hemel en die nuwe aarde. Hoe dit presies gaan lyk weet ons nie. (beslis nie minder mooi as die huidige nie) Wat ons wel weet, die nuwe hemel en nuwe aarde is die plek waar volmaakte harmonie sal heers, waar geregtigheid sal woon, waar God se wil volkome sal geskied! ( 2 Petrus 3:13)

2) GOD SE KINDERS gaan volmaak herstel word.

As iemand Jesus as Verlosser aanneem, dan word hy volledig vrygespreek van alle skuld, volledig vergewe deur God, volledig deel van God se volk. Ons verlossing is vas en seker en afgehandel. Maar in ‘n sekere sin is ons verlossing nog nie voltooi nie. Ons liggame is nog steeds aan verganklikheid onderworpe. Ja, wat ons liggame betref leef ons nog steeds onder die vloek van die sondeval. Daarom word kinders van God siek, daarom is ons vol gebreke en skete, gaan ons liggame daagliks agteruit en sterwe ons uiteindelik. Ons leef nog in ’n onvolmaakte wêreld; daarom beleef ons hartseer en lyding. Om hierdie rede is daar by die kinders van God ’n verwagting en versugting dat ons verlossing voltooi sal word. Net soos by die skepping is daar ’n hoopvolle versugting by God se kinders na ’n volmaakte bedeling.’n Versugting en ’n uitsien na die volle heerlikheid wat nog openbaar moet word. God se kinders kan met reg uitsien na die volle verlossing. 

Wat behels hierdie volle verlossing waarna ons kan uitsien? Die verlossing van ons liggaam! (Romeine 8:23 OAV vgl. ook NIV) God se kinders gaan volmaakte verheerlikte liggame ontvang, bevry van alle verganklikheid en sondigheid. Sonder skete en kwale, sonder siekte en ellende, sonder smart en dood. Sonder enige sonde! Ons weet nie nou al presies hoe hierdie liggame sal wees nie, maar ons kry ‘n belangrike leidraad in Filippense 1:20-21, waar ons lees : “Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.” Ons gaan liggame hê soos Jesus se verheerlikte opstandingsliggaam. ‘n Liggaam, maar ‘n liggaam sonder beperkings en gebreke!

Wat ’n heerlike toekoms wat wag vir elkeen wat aan Jesus Christus behoort. Ons gaan nie spoke wees wat op wolke ronddryf nie, maar mense met volmaakte liggame wat God gaan bewonder in ‘n nuwe skepping!

Wat is die praktiese funksie van hierdie heerlike waarheid wat Paulus hier in Romeine 8 bespreek? Dis bedoel as troos en aanmoediging vir God se kinders wat nou swaarkry weens hulle geloof! “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie." (Romeine 8:18) Daar wag vir God se kinders ‘n heerlike toekoms wat ons huidige hartseer, pyn en ellende na niks sal laat lyk!



Paulus se woorde hier bring ’n skaal in mens se gedagte. (daardie balansseerskale) Dis asof hy wil sê : Kyk ’n bietjie na die skaal. Pak op aan die eenkant al die lyding, hartseer, vervolging... (ja, dit wat ons nou beleef is erg...) Maar pak nou op die anderkant van die skaal die heerlikheid wat vir God se kinders wag.... die volmaakte skepping, volmaakte liggame sonder gebreke, letsels of beperkings. Geen brille, pille of krukke. Geen emosionele pyn of hartseer. Volmaakte paradysgeluk en harmonie. Kyk hoe staan die skaal nou!

Op hierdie heerlikheid hoop ons met volharding, want God wat nie kan lieg nie het dit beloof! As die glans van hierdie heerlikheid vir ons deur die geloof ‘n werklikheid word, dan verdof ons swaarkry amper tot iets byna niksseggend in vergelyking met hierdie heerlikheid wat wag. 

Kyk na die skaal en kry perspektief! Mag die werklikheid van hierdie skaal ook vir jou perspektief gee op die onbekende 2015 wat wag... onthou dit veral in tye van swaarkry, pyn, onreg, vervolging, ellende... Maar maak veral seker dat jy ‘n erfgenaam van God is!




[Die voormalige spogdorp, maar nou spookdorp, Kolmanskop is 'n sigbare simbool van verganklikheid.]

Donderdag, 01 Januarie 2015

WAAR IS DIE GOD VAN LIEFDE?

Kyk : Immanuel is die duidelike antwoord!

Waar is die God van liefde? So baie het al hierdie vraag deur die eeue heen gevra en vra dit nog steeds. So veel aaklige gebeurtenisse het hierdie vraag aangevuur... die Anglo Boere oorlog konsentrasie kampe, die bloedige loopgrawe van die Eerste Wêreld Oorlog, die massa uitwissing van mense in die Tweede Wêreld Oorlog, maar ook die afgelope jaar... die ellendes van Sirië, Irak...maar ook nader aan ons lyf, plaasmoorde, gesinsmoorde, kindermishandeling, onreg, ongelukke*, korrupsie, uiterste armoede, siekte, eensaamheid, hartseer, dood van ‘n geliefde... ook ek en jy het dalk al dikwels (miskien in die stilligheid) gewonder... Ja, ons vier Kersfees, maar nog steeds : WAAR IS HY? HOOR, SIEN, VERSTAAN HY? GEE HY HOEGENAAMD OM? 



Waar is die God van liefde? Hierdie vraag is gelukkig finaal beantwoord deur die menswording van Jesus. Ons kyk hierdie ooglopende antwoord so maklik mis. Met slim redenasies probeer mense die misterie van lyding ontsyfer en God selfs skuldig bevind, terwyl ons die waarheid hier naby ons miskyk. Die antwoord is : “Jesus, Immanuel, God met/by ons!” Matteus vertel ons in verband met Jesus se geboorte : “Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word: "Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem." Die naam beteken God by ons.” (23) Deur Jesus se vleeswording het God self na ons afgedaal. Hy is hier... God word mens met ons soos ons by ons. Dis die uiterste vorm van liefde. 

God maak Homself "swak" om soos ons te word en by ons te wees!

God se “met ons wees” het geweldige implikasies en is die uiterste vorm van radikale onselfsugtige liefde! Dis ‘n selfopofferende, self-gee, naby liefde. Paulus, as hy Christene tot liefde wil aanspoor, skets op kragtige wyse vir ons hierdie liefde wat geïmpliseer word deur die menswording van God se Seun in Filippense 2:5-8! “Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.”

So waar is die God van liefde? Wel, kyk net en sien...

Waar is die God van liefde? Sien die God van liefde as Jesus as swak suigeling in ‘n krip lê soos miljoene ander babas voor en na Hom, volkome afhanklik van sy moeder...

Waar is die God van liefde? Sien die God van liefde as Jesus in ‘n ry staan en skouers skuur saam met growwe sondaars om deur Johannes gedoop te word in die Jordaan. Hy vereenselwig Homself met sondaars deur die doop van bekering te ondergaan al het Hy self dit nie nodig nie.

Waar is die God van liefde? Sien die God van liefde as Jesus bemoeienis maak met die groot skelm in die dorp Jerigo, Saggeus en juis kies om by hom aan huis te gaan. Ja, God is by sondaars, by mense wat dit nie verdien nie... (Kliek op SAGGEUS VIER KERSFEES)

Waar is die God van liefde? Sien die God van liefde as Jesus vir ‘n verworpe vrou wat by sy voete huil die versekering gee : “Jou sondes is vergewe!” (Kliek op BAIE LIEFDE)

Waar is die God van liefde? Sien die God van liefde as Jesus oorweldig van emosie, huil by sy vriend Lasarus se graf.

Waar is die God van liefde? Sien die God van liefde as Jesus tussen hemel en aarde, halfnaak, verwerp, verag en bespot hang aan ‘n kruis om sondaars se straf te dra. Hier het ons die uiterste vorm van vereenselwiging met die gevalle mensdom, as Hy ons skuld op Homself neem en aanspreeklikheid vir ons misdade aanvaar... en gestraf word daarvoor. (Sien Jesaja 53:5,6) Hier is die vaste historiese feitelike antwoord op die vraag, “Waar is die God van liefde?” Geen groter liefde as dit is moontlik nie, dat iemand sy lewe vir ander gee nie... en nie vir goeies nie, maar vir slegtes...

Weet jy, ek dink die vraag : “Waar is die God van liefde?”, is dalk heeltemal ‘n verkeerde vraag. Die vraag moet eerder wees : “Sondaar, waarom verwerp jy tot nou toe die God van liefde, waarom weier jy om voor Jesus te buig?”

Sien die God van liefde as Jesus na sy opstanding uit die dood vir sy bang dissipels gerusstel : “Vrede vir julle!” Weereens , Hy is by hulle...

Sien die God van liefde as Jesus sy dissipels aan die einde van Matteus verseker : “...En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld." (LW. God se liefde het nooit beloof dat ons nie verdrukking, nie moeilikheid, nie siekte of dood op aarde sal beleef nie... Inteendeel, sy kinders sal ‘n oorvloed van hierdie dinge ondergaan...) Sy liefde beloof wel dat Hy by ons sal wees, by sy kerk tot aan die einde... 

[In gehoorsaamheid aan ons opdrag om vir die evangelie te getuig ervaar ons die saamwees van Immanuel op ‘n besondere manier... Anders gestel, diegene wat vir hulle self leef, sal dit nie juis beleef nie...]

Sien die God van liefde as Jesus se volgelinge ook hulle lewens opoffer vir ander... deur die eeue, maar ook sommer baie onlangs – Pierre Korkie word vermoor in Jemen, die Groenewalds in Afganistan...

In al hierdie situasies kom God by stukkende sondaars in hulle nood en smart staan. God se liefde is ‘n naby liefde... by wyse van spreke – God is nie bang om Sy hande vuil te maak in die proses om by sondaars te wees nie!

Waar is die God van liefde? Sien (in geloof) die God van liefde as Jesus weer sal kom op die wolke van die hemel en dan als sal nuutmaak. Tot dan moet ons nie ‘n nuwe wêreld verwag nie – tot dan sal daar rampe, tragedies en onreg wees.... Maar dis ons voorreg om binne hierdie situasies sy nabye liefde te beleef! En Hom te eer deur in sy liefde te bly glo, omdat Hy dit vir eens en altyd aan die kruis bewys het!

Waar is die God van liefde? Jesus self is die bewys, meer nog die persoonlike vergestalting van God se liefde! 

En wat so wonderlik is - niks kan ons van hierdie liefde skei nie! Nie die slegste, wreedste, onregverdigste gebeure en omstandighede nie! Paulus die groot sendeling en martelaar kon ondubbelsinnig getuig : “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (Romeine 8:38,39)

Vra jy nog : “Waar is die God van liefde?” Weereens jy hoef nie ver te soek na God se liefde of navorsing daaroor te gaan doen nie. God se liefde is Jesus – GOD MET ONS! Hy is nou hier by ons deur Sy Heilige Gees! Is Hy al deel van jou lewe? Het jy Hom al aanvaar? Wel, as Hy jou Verlosser geword het kan jy getuig : “IMMANUEL – GOD BY MY!”



[ By ons in ons klipharde omstandighede...]

*Die tragiese en onnodige gru ongeluk by Hentiesbaai is nog rou in Namibiërs se gemoed...