BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 23 Junie 2016

DOOD WORD ‘N WINS!

- en dis nie gebou op sentiment nie, maar op feite!

Ons het reeds gesien ‘n Christen kyk anders na die lewe. (Kliek op LEWE) As ek waarlik die kosbaarheid van Jesus besef het, as ek Hom ontdek het as my enigste bate, as ek besef dat ek net deur  Hom vryspraak kry, dan word Jesus my eerste liefde. (En HY word dit al meer en meer!) Dan is Hyself die sin en doel van my bestaan. Dan sê ek : “Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” (soos Paulus in Filippense 1:21) ‘n Christen kyk  anders kyk na die lewe, ‘n Christen kyk ook anders na die dood. Dis so radikaal anders, dat die gemiddelde normale beskaafde mens dink jy is mal as jy verklaar : “Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” Ja, volgens die opinie van die wêreld is dit inderdaad waansinnig om te sê : “Vir my is die lewe Christus.” En dis nog meer waansinnig om te sê : “en die sterwe is wins.”

WAT VAN DIE DOOD?

Ons het verlede Sondag gekyk na hoe dink ons en hoe behoort ons te dink oor die vraag : Wat is die lewe? Vandag kyk ons na die vraag : Wat is die dood? As jy oor die een dink moet jy ook oor die ander dink, want die dood is deel van die lewe? Wat is die dood? Mense hou nie daarvan om hieroor te praat nie en probeer dit ten alle koste vermy. (Dit sal baie dom wees om hierdie kernvraag te vermy. Verlede jaar is roudienste vir vier kinders in ons kerk hier op Tsumeb gehou)

Mense hou nie daarvan as jy vir hulle vra : Is jy gereed om te sterwe? Vir baie voel dit soos ‘n belediging of sommer net swartgallig en morbied om oor die dood te praat. Die ware rede vir ons ongemak met die dood is vrees. Die mens het ‘n vrees vir die dood, want diep in ons harte weet ons dat ons dan oop en bloot voor God sal staan wat dwarsdeur ons sal kyk. Hebr. 2:15 praat daarvan dat die vrees vir die dood ons in slawerny hou.

Hierdie algemene vrees en ongemak wat mense oor die dood het, maak Paulus se stelling juis te meer radikaal, anders, heerlik, bevrydend! Waarom kan hy so iets kwytraak? (en onthou net weer hy skryf dit nie in ‘n teoretiese akademiese omgewing soos ‘n studeerkamer nie, hy sê dit in ‘n tronk waar hyself die dood in die gesig staar) 

DIE EVANGELIE MAAK DIE VERSKIL

Hoe kry Paulus dit reg om so positief te wees? Die evangeliegebeure, die kruis en opstanding het vir altyd ‘n nuwe wending gebring oor hoe ons die dood moet beoordeel. In die Ou Testament was daar nog baie vaagheid oor die lewe na die dood. (vir die vrome koning Hiskia was die dood ‘n verskrikking) In die Nuwe Testament is daar ‘n positiewe siening oor die lewe na die dood en verloor die dood sy verskrikking. Daarom kan Paulus elders uitroep : “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?” (1 Kor. 15:55)  Hierdie nuwe positiewe siening van die dood is die direkte gevolg van Jesus se uitwissing van ons sondeskuld aan die kruis (want ons sonde is die rede hoekom ons bang is vir die dood) en sy liggaamlike opstanding uit die graf. Hy het die dood oorwin en die lewe vir ewig ‘n werklikheid gemaak.

Het die evangelie al jou siening oor die dood verander?

VERSKEIE SIENINGS

Soos daar verskillende houdings is oor die lewe is daar vandag verskillende houdings oor die dood:

VREES. Dis die groot vyand, die donker, skrikwekkende einde, waaraan ek liewers nie eens wil dink nie.
GELATE AANVAARDING. “Ag, almal moet maar doodgaan... Wat kan mens daaraan doen?”
DAPPER HOUDING. Ek sal nie bang wees nie en sal nie wys ek is bang nie. Amper ‘n uitdagende minagting houding. “My ou toppie het mos die emmer geskop.”
SENTIMENTELE NAÏWITEIT.  Mens hoor dit deesdae baie by roudienste en huldeblyke... “John speel nou rugby  in die hemel vir die eerste span, Kobus jaag nou “rally” in die goue strate, Gert is seker stout soos altyd en die engele moet maar net aanpas en verlief neem...” Sentimentele snert, uitgespreek deur mense wat totaal onkundig is oor die Bybel se boodskap!

DIS WAARLIK WINS!

Die Christen se siening is iets heel anders : Die sterwe is wins! Nie net die afwesigheid van vrees nie, maar ‘n positiewe uitsien. Maar dis ook ‘n nugtere berekende uitsien, gebou op feite! Bybelse feite, Goddelike waarheidsfeite. Wat beteken hierdie wins nou prakties?

Paulus verklaar : “...ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste;” (Fil.1:23)

Twee sleutelbegrippe is belangrik in vers 23: “heengaan, by Christus”

Wat sou hy bedoel met heengaan? 2 Kor. 5:1 gee vir ons ‘n leidraad. “Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ‘n tent is, afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het. Dit is ‘n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan.” Die dood is nie meer ‘n verskrikking nie, dis nie ‘n donker einde nie, dis ‘n verhuising van ‘n tydelike woning na ‘n ewige woning. Dis net ‘n oppak en vertrek na my finale blyplek. As jy vanuit die Woord weet wat is jou bestemming, behoort die verhuising geen verskrikking te wees nie!

Die kernrede vir Paulus se blydskap is dat hy by Christus sal wees. Van aangesig tot aangesig sal ek Hom sien wat my liefgehad en sy lewe vir my gegee het. Onbelemmerde en onverstoorde gemeenskap met die volmaak liefdevolle Jesus Christus. Geen pyn, geen sonde, geen twyfel, geen stryd, net die volmaakte teenwoordigheid van onbeskryflike liefde! ‘n Tuiskoms by my ware vaderland en my ware Redder-Koning! “Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.” (Fil. 3:20)

Let Wel : Paulus se positiewe siening oor die dood beteken allermins dat hy swartgallig oor die lewe was! Inteendeel, hy straal 'n positiewe gees uit selfs hier binne die tronk. Hy sien die lewe as 'n geleentheid vir "vrugbare arbeid" en 'n kans om "Christus te verheerlik." Hy het nie 'n selfbejammerende houding van, "ag, dit gaan so sleg, ek wil maar liewers doodgaan," nie! Paulus  leef positief voluit, maar hy besef, as hy moet sterwe is dit ook positief. Weereens, 'n wen-wen situasie.

Die kind van God het ‘n unieke beskouing van die lewe en van die dood! “Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” Die “en” is baie belangrik. Dit koppel die twee helftes aanmekaar. NET mense wat kan verklaar “Vir my is die lewe Christus”, kan ook met vertroue sê : “die sterwe is wins.” Kan jy dit sê?


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.