BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 06 November 2015

Teen-Evangelie strategie

- die besluite van die Algemene Sinode om selfdegeslagverhoudings goed te keur en kerklik te seën, is baie meer as maar net ‘n etiese kwessie!

Oor etiese kwessies en die fynere toepassings daarvan sal daar altyd verskille onder Christene wees. Mag ‘n Christen rook, kaartspeel of sport op Sondag beoefen? Watter dae is belangrik en watter kos mag ons eet of nie...? Die Bybelse beginsel in sodanige sake is verdraagsaamheid, vryheid en die inagneming van die swakker broeder se gevoelens...

Wanneer iets wat die Bybel duidelik sonde noem egter nie alleenlik oorgesien, goedgepraat, maar selfs kerklik gesanksioneer en geseën word, dan is die hart van die evangelie op die spel. My vriend dr. Hein Strauss het dit baie skerp opgesom in sy opmerking : “Dit bly my verstom dat die hele gay-kwessie tot so 'n uiters doeltreffende teen-Evangelie strategie ontwikkel het...” Dis presies waaroor dit gaan – die gay agenda is ‘n teen-Evangelie aksie! Die Algemene Sinode besluit is ‘n besluit teen Christus en sy evangelie!

Kan mens so sê? JA! Ek gaan verduidelik hoekom.

Kom ons kyk na 1 Korintiërs 6:9-11 "Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God."

Hier is ‘n lys van dinge wat die Here baie ernstig opvat. En ja, laat ons baie konsekwent wees, nie alleenlik homoseks is ‘n afskuwelike sonde nie, maar ook dronkenskap of skinder! Dis ‘n teks wat ons almal weer moet laat sidder... Nou waarom is die sinodebesluit oor homoseksualiteit dan so erg?



Kan ons dit nie maar goedpraat nie, want is ons nie almal maar in elk geval skuldig aan iets soos gierigheid of bedrog (daai belastingopgawe!) nie?



Hier kom ons nou by die verskil. Geen sinode (so ver ek weet) het dronkenskap of gierigheid al tot ‘n aanvaarbare leefstyl verklaar wat amptelik deur die kerk geseën mag word nie!



As sonde tot niet verklaar word, word die evangelie ook oorbodig verklaar! Dan was die plaasvervangende kruisdood van Jesus en sy liggaamlik historiese opstanding ook mos nie nodig nie! En hier kan ons twee en twee bymekaar begin tel. Die groot voorpraters van die gay agenda is nie juis bekend as mense wat sterk staan vir die kruisboodskap en die historiese opstanding nie. Gaan kyk maar. (daar sou wel uitsonderings kon wees) Diegene wat die Algemene Sinode se gaybesluit bevorder het of nou toejuig is (meestal?) mense wat dikwels ander basiese Bybelwaarhede ontken. Dis mense wat binne die dampkringe van die sogenaamde Progressive Christianity beweeg en opereer. Hierdie rigting verkondig lankal nie meer die kruisevangelie van verlossing deur die bloed van Jesus nie. Hulle praat wel van sy kruisdood maar slegs in die sin van ‘n heldedood vir ‘n goeie saak. In die sin waarvolgens Martin Luther King of Dietrich Bonhoefer ook hulle lewens vir ‘n goeie saak opgeoffer het. (Kliek op MARCUS BORG) Hulle staan nie by die raamwerk van die Heidelbergse Kategismus van sonde, verlossing en dankbaarheid nie. Jesus is vir hulle maar net ‘n morele hervormer. En Hy is vir hulle ook maar net een van baie hervormers in dieselfde klas as 'n Boeddha of 'n Mandela.



Die Algemene Sinode besluit raak die hart van die evangelie! Die saak is baie belangriker as wat ons dalk besef.



Die NG Kerk staan hier voor ‘n lakmoestoets of ons hoegenaamd voor die openbaring van God se woord gaan buig en of ons ‘n mens gemaakte godsdiens beoefen? Eer ons God of is ons gedienstig aan die grille en giere van die sondige mens?


Die verwyt word gehoor : “Seksualiteit is hoegenaamd nie so ’n kern-saak in die geloof dat dit afskeiding regverdig nie.”

So op die oor af klink dit na ‘n heel aanneemlike stelling. Die Christelike boodskap het immers baie meer om die lyf as ‘n bepaalde seksuele moraal of gedragskode. Maar kom ons dink ‘n bietjie dieper en luister na die wyd erkende wyd erkende en bekwame teoloog, D.A. Carson :


"At one level I want to say that homosexuality is the wrong issue to divide the church over. It reminds me a bit of what happened at the reformation when Martin Luther nailed the 95 thesis to the gate, to the door of the Wittenberg church in 1517. The trigger issue was selling of indulgences. Imagine splitting the entire western church over indulgences! In one sense it was the wrong issue, but it became the trigger issue about whether you live under the Bible or not…….it affected everything. Homosexuality has become in our day, in many denominations a trigger for a very simple issue; will we live under the authority of the word of God or will we not? And that is absolutely everything. You just can’t duck that one. Sooner or latter you face that issue or you die."



Nie net die Baptis, Carson help ons hier nie, ook die Anglikaan, JI Packer

Nadat die Anglikaanse kerk se sinode van New Westminster in Junie 2002 aan biskoppe in hulle gebied die reg gegee het om homoseksuele persone te trou, het dr JI Packer (bekende gereformeerde Christen skrywer en teoloog) saam met ’n aantal sinodegangers as teken van protes die sinodesaal verlaat. Dr JI Packer het ’n artikel geskryf om sy protes-optrede te verduidelik. Sy hoofrede oor hoekom hy uitgestap het, spel hy vir ons baie duidelik uit. “Why did I walk out with the others? Because this decision, taken in its context, falsifies the gospel of Christ, abandons the authority of Scripture, jeopardizes the salvation of fellow human beings, and betrays the church in its God-appointed role as the bastion and bulwark of divine truth.” 

Ja, op sigself is seksualiteit miskien nie so ‘n kernsaak nie, maar in ons huidige debat en konteks, gaan dit wel oor een geloofsbelangrike kernsaak : Erken ons nog die Woord van God as die finale gesag in leer en lewe? Staan ons nog hoegenaamd by die evangelie van Jesus Christus? Dis die antwoord wat die NG Kerk en elke lidmaat nou afsonderlik moet gee..

"Ja, maar julle oordryf als. Die Algemene Sinode besluit stel tog duidelik dat elke kerkraad sy eie diskresie mag gebruik...", so word ons gepaai. D.A.Carson het weer wyse woorde in die verband :

"You see they’ll start off by saying “We’ll allow each church to decide on their personal preference” and so it seems big hearted and wide minded to allow diversity of opinion on this, but pretty soon when more of those people get into office, what I’ve discovered is that, in the vast majority of cases, the least liberal people in the world are liberals, that is they are the least yielding, the least flexible, and pretty soon they start saying that unless you espouse egalitarianism, unless you espouse the legitimacy of homosexuality therefore you are out of here! Well at some point then it becomes a matter of absolute conscience, you have got no choice in the matter."

Mag ons hierdie wyse waarskuwing ter harte neem...

Diegene van ons wat sterk oor die AS se besluit voel en ons daarvoor beywer dat Ringe en Sinodes drasties moet standpunt inneem, word nou beskuldig van verwaandheid, onregverdigheid en natuurlik liefdeloosheid. Ons hoor ook verwyte dat ons nie weet hoe om 'n teks binne konteks te interpreteer nie, ons is bloot moraliste wat dan nou kwansuis nie weet Christenskap gaan oor 'n verhouding nie, ons sou dan net in 'n toornige God glo wat straf en nie in die verlossing wat Jesus bring nie... Dis alles pogings om 'n karikatuur te maak van mense wat maar net in nederigheid aan God se Woord gehoorsaam wil wees. Maar laat ons maar hierdie beledigings met blymoedigheid dra ter wille van die eer van God en die saak van die evangelie!

Naskrif : Die groep Suid Kaapse rings verteenwoordigers se sterk protes, is myns insiens dus geregverdig! (Kliek op SUID KAAP) Die stryd gaan daaroor of daar nog hoegenaamd plek vir die evangelie in die NG Kerk is!

8 opmerkings:

  1. Dankie Johannes. Ek dink jy vat die saak goed saam, en ek ondersteun jou daarin.
    Hierdie hele saak herinner aan die woorde van Judas se brief:
    "GELIEFDES, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën." (vers 3-4, OAV)
    Philip, Kaapstad

    AntwoordVee uit
  2. Die konteks van die gedeelde aangehaal in 1 Kor 6:9 strek van 1 Kor 5 tot hoofstuk 7 en handel oor die seksuele. 1 Kor 5:1 ev spreek op grond van Lev 18:7, 8 'n seksuele daad tussen 'n man en sy pa se vrou baie streng aan. In 1 Kor 6:9 haal Paulus weer Lev 18 aan naamlik 18:22 wanneer hy oor homoseksuele gedrag praat. Mense wat in hierdie sondes volhard sal nie die koninkryk beërwe nie.

    Die konteks bring vir my 'n ander baie belangrike saak na vore en dit is dat ons liggame (die fisiese) deel is van Christus nie (:15)? En ook "dat julle liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is nie?" (:19).
    Sal ons dan toegee dat die liggaam van Christus en die tempel van die Heilge Gees so onteer word deur ontoelaatbare seksuele verhoudings? Beide kontekste van Levitikus en Korinthiërs verwys na die heilgheid en eer van God in ons liggaamlike en meer spesifieke die seksuele.

    Dit behels soos tereg gesê is God se heliligheid, en ook sy verlossing.

    Hierdie besluite van die sinode is in baie opsigte dus inderdaad 'n beslissingspunt in die kerk!

    Mag ons nie nou moeg word in die stryd nie.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Hi Gert dis wonderlik om ook 'n slag van julle te hoor. Wat gaan julle gemeente maak? Sal graag wil weet....

      Vee uit
  3. Laat jou paaie jou weer na Ludz. toe lei waar jy al die fotos geneem het wat jy so ryklik wys!
    Groete in Christus.

    AntwoordVee uit
  4. Hallo Johannes,
    Ons gemeente het teen die Sinode se Skrifhantering en ook teen die besluit standpunt ingeneem. Ek kan nie dink dat die NG Kerk al voor 'n groter beslissings oomblik was as nou nie!

    AntwoordVee uit
  5. Hi Johannes, Dankie vir jou getroue getuienis vir die waarheid. Die duiwel het 'n manier om ons na Christus en Sy Woord te dryf. Ek moet eerlik wees ek het die NGK al lankal afgeskrywe, maar die reaksie op die AS se besluit vul my met diepe dankbarheid en baie hoop vir SA. Laat ons hoop dat dit nog baie verder sal uitkring en dat dit ook daartoe lei dat die Here se Woord weer die hoop en kompas van ons land sy mense word. Ek is baie verheug oor Moreletta Park se sterk en duidelike standpunt van 'n paar dae gelede. Mag die Here julle almal seen en soos Gert Oosthuizen hierbo se, laat ons nie moeg word van die stryd nie, 'n kroon is op die spel! Groete uit Ontario, Christo Heiberg

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.