BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 11 November 2015

MORELETA PARK MAAK STEM DIK TEEN AS BESLUIT


Die NG Kerk Moreleta park is een van die grootste en invloedrykste NG gemeentes in Suid-Afrika. Hulle het nou na 'n aanvanklike verklaring 'n meer uitvoerige standpunt ingeneem rondom die Algemene Sinode se dwaalbesluit. Dis duidelik dat hulle hulle beywer vir 'n herroeping of verandering van die AS se onbybelse standpunte. Hiervoor gaan hulle die kerkordeelike weg volg, maar indien daar geen resultate is nie, sal hulle weer herbesin.'n Mens kan maar net wonder... moontlik afskeiding of doleansie? Kom ons ondersteun hulle in die proses, spesifiek ook met voorbidding. Ds. Dirkie van der Spuy wat voorheen ook 'n leraar van die NG Kerk Pionierspark in Windhoek was, is ook betrokke in hierdie gemeente.



VERKLARING VAN DIE KERKRAAD VAN MORELETAPARK OOR DIE ALGEMENE SINODE VAN 2015 SE BESLUIT OOR SELFDEGESLAGVERHOUDINGS

Die Kerkraad van Moreletapark Gemeente het tydens hul sitting op 29 Oktober 2015 eenstemmig besluit om standpunt in te neem teen die Algemene Sinode van 2015 se besluit oor selfdegeslagverhoudings. Die Kerkraad is oortuig dat hulle besluit, wat in hierdie verklaring opgesom is, die weg aandui wat God vir hulle kom aanwys het.

Die eerste en grootste gebod is dat ons God moet liefhê bo alles en die tweede is dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself (vgl. Matt.22:37-39). Daarom verklaar die Kerkraad dat hulle so lief vir God is dat hulle Hom in elke besluit bo alles wil eer deur aan Hom gehoorsaam te wees (vgl. Ps. 119:30-35). Die Bybel is duidelik dat God genadig én regverdig is. Daarom is Hy lief vir alle mense maar keur Hy sonde af, omdat dit ons verhouding met Hom skaad. Alle mense sondig en kan alleen op grond van God se genade vrygespreek en deur geloof sy kinders word (vgl. Rom. 3:23). God se bevel aan sy kinders is dat sonde nie in hulle lewens moet heers nie maar dat hulle moet wegdraai daarvan af en volhardend daarteen moet stry (vgl. Rom. 6:14). Die Kerkraad bevestig daarom dat hulle nooit ‘n besluit sal neem wat enige sonde toelaat of goedkeur nie. 

Die Kerkraad het geen begeerte om ‘n enkele sonde uit te lig nie, maar die besluit van die Algemene Sinode dwing hulle egter om in dié geval standpunt in te neem, aangesien geslagsgemeenskap buite die raamwerk van ‘n huwelik tussen een man en een vrou volgens die Bybel, verkeerd is. 

Die Kerkraad wil dat die Gemeente se standpunt, sowel as die kerklike proses wat gevolg word om beswaar aan te teken teen die besluit van die Algemene Sinode, ‘n getuienis moet uitdra wat Bybels en Kerkordelik begrond is. Die Gemeente wil in die proses saamwerk om ‘n oplossing te kry waardeur God geëer sal word en die kerk se getuienis na en teenoor alle mense nie sal skade ly nie. As ‘n evangeliese Gemeente, wat die Bybel aanvaar in al die beginsels wat dit leer (Sola Scriptura), wil ons dat ‘n verantwoordelike interpretasie van die Bybel die lig vir die pad vorentoe sal gee.

Die Kerkraad het besluit dat die besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudings, nie aanvaar kan word nie op grond daarvan dat dit (inter alia):

1. Die sonde van die beoefening van homoseksuele geslagsgemeenskap ontken.

2. Die beoefening van volhardende sonde in leraars se lewens aanvaar.

3. Die Bybel op ‘n liberale en humanistiese wyse uitgelê word wat in stryd is met die byna 2000 jaar oue hoofstroom Christelike en byna 500 jaar oue gereformeerde uitleg van die Bybel.

4. ‘n Verbintenis, ingesluit die beoefening van die seksuele, buite die konteks van die huwelik erken terwyl die Bybel, sowel as in die besluite van die Algemene Sinode, die huwelik slegs as ‘n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou beskou.

Alhoewel die besluit van die Algemene Sinode die reg aan kerkrade gee om hieroor hulle eie standpunte en praktyke te formuleer en te reël, glo die Kerkraad dat hierdie ‘n tyd is waar daar opgestaan moet word teen sake wat van kardinale belang is vir die integriteit van die evangelie en die getuienis van die kerk.

Die Kerkraad sal daarom die volgende proses volg om sy getuienis te laat hoor en die onaanvaarbare dele van die besluit van die Algemene Sinode te laat verander of herroep, nl.:

1. Gesprekke sal met die ring van Elarduspark gevoer word.

2. ‘n Brief sal aan die Diensraad van die Oostelike Sinode gerig word waarin die Gemeente haar distansieër van die besluit van die Algemene Sinode en vra dat ‘n spesiale sitting van die Oostelike Sinode gehou word om standpunt in te neem teen die besluit.

3. Indien die bogenoemde proses onsuksesvol sou wees sal die Gemeente, in die lig van die omstandighede dan, herbesin. (vetdruk - my beklemtoning)

4. Die Gemeente sal ingelig bly en die geleentheid gegee word om deurentyd deel te neem aan die proses. 

As leierskap van die gemeente wil ons die gemeente lei om te fokus op dit waarvoor God ons hier op aarde geplaas het naamlik deur saam met mense ‘n pad te stap sodat almal Jesus kan leer ken en in verhouding met Hom kan leef (vgl. Mat 28:19-20). Ons begeerte is dat alle mense die God mag ontmoet wat so lief was vir die wêreld dat Hy sy Seun gestuur het sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê (vgl. Joh. 3:16). Die Gemeente het begrip vir spesifieke uitdagings waarmee mense sukkel maar wil hande vat sodat ons mekaar kan help in ‘n lewe van groei in Christus. 

Soli Deo Gloria

Moreletapark Gemeente

3 November 2015



8 opmerkings:

  1. Broer Dirkie, Ek stem 100% saam met julle besluite oor die kwessie van dieselfde geslag-huwelike. Ek sal op enige verhoog, papier,ens. daarvoor stem. Dit is darem mos nou vir enigiemand wat kan lees logies om weg te bly van sulke dinge af. Enigiend wat 'n deeglike eksegese van Romeine gadoen het, MOET DAN WEET WAT GOD NIE VAN HOU IN HIERDIE VERBAND NIE!!

    AntwoordVee uit
  2. Ek wonder maar net of die besluitnemers op die AS nou te trots is om trug te staan en te se ons het n verkeerde besluit geneem, of is dit nog steeds die siening waarme volstaan word.
    Bravo Moreleta park

    AntwoordVee uit
  3. Dit is n baie goeie besluit van Moreleta se kerkraad. Ons bid ook dat die Here sy kerk sal bewaar in hierdie moeilike tye.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Janre, my Gereformeerde broer, baie dankie vir jou bydra op hierdie forum. Maak gereeld so!

      Vee uit
  4. Kyk na die Ope brief aan Dirkie vd Spuy hier, waar sy duplisistiese standpunt aangespreek word & sy ontvangserkenning weergegee word. Sy kollega Hendrik Saayman verdedig hom ook daar & ek antwoord hom daarop:
    .
    http://hierstaanek.com/2015/10/20/ope-brief-aan-ds-dirkie-van-der-spuy/
    Ek het hom intussen genader vir 'n persoonlike afspraak & wag vir terugvoer van hom.
    Ek kan nie sien hoe hy op die moderatuur kan dien & terselfdertyd verskil vd Sinode-besluit nie.
    Dan moet hy as Assessor bedank.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Broer, kom ons gee hom kans en bid vir hom vir wysheid. Obadja en Nikodemus was ook deel van (gevalle) strukture waar verkeerde besluite geneem is, maar God het hulle gebruik volgens sy wil.

      Vee uit
    2. Broer Somerset, Ek self is erg uitgesproke en gekant teen die AS besluit, maar ek dink ook jou brief aan ds. Dirkie is bietjie kras op die oor. Die feit van Moreleta park se baie sterk standpuntinname (wat ek dink ook sy sienings verwoord) wys tog immers duidelik dat sy hart reg klop!
      Ek dink Moreleta Park volg die duidelike en verstandige kerklike roete!

      Vee uit
  5. Bravo Moreleta Park.Teenstand .vervolging en verdagmakery deur ander sal natuurlik mos nie uitbly nie.Maar ek bid regtig dat die Vader alleen deur Sy Gees vir ons die weg sal wys.Groetnis Pieter Brand

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.