BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 02 September 2015

BLOEDMAAN

- is die einde van alle dinge naby?



Gaan daar iets vreesliks gedurende die nag van 27/28 September 2015 (of kort daarna) gebeur met ‘n besondere maansverduistering, die vierde in ‘n reeks van sogenaamde bloedmane? Hieroor word wyd berig in sekere godsdienskringe en selfs in die sekulêre media. (Kliek op CNN)



Ons word vertel : “Astronome het die tekens opgemerk. Geskiedkundiges het die betekenis daarvan erken. In 2014 en 2015 is daar die fenomeen in die hemelruim van vier bloedmane wat gedurende Joodse feesdae plaasvind. Dit het nog net drie maal in die geskiedenis plaasgevind: 1493-94, 1949-50 en 1967-68. Elkeen van hierdie datums het ’n buitengewone betekenis vir die volk Israel gehad. Vanaf die ontdekking van die Nuwe Wêreld tot die skepping van moderne Israel, is hierdie jare waarin die vier bloedmane verskyn het, ware keerpunte in die geskiedenis.” (Dit klink na iemand wat graag 'n boek wil verkoop...)

Bewerings oor die betekenis van die sogenaamde bloedmane is nou aan die orde van die dag. Wat moet ‘n Bybelgetroue Christen hiervan dink? Net 'n paar perspektiewe:

DIE EINDE IS BESLIS NABY!

In 1 Petrus 4:7 lees ons : “Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid.” Die Bybel sê dus duidelik dat die einde van alles naby is! God se Woord is genoegsaam en finaal en ons moet dit ernstig opneem. (of die wêreld nou saamstem of nie)  Die sogenaamde tekens van die bloedmane voeg dus niks nuuts by tot ons kennis nie! Die einde is beslis naby, maar wat beteken dit nou presies? "Naby" is natuurlik ‘n relatiewe begrip. Is dit nou dae, maande, jare, dekades of eeue? Dit hang alles af van mens se perspektief op die geskiedenis. “Naby” in die sin wat Petrus en ander Bybelskrywers dit in verband bring met die wederkoms is myns insiens nie ‘n bepaalde stuk tyd wat gemeet kan word nie, maar eerder ‘n uitdrukking dat die wederkoms ‘n naderende, onverwagse werklikheid en ontsagwekkende realiteit is wat al ons aandag en voorbereiding en waaksaamheid vereis! Met ander woorde : Wees gereed! Die res van Petrus se woorde bevestig hierdie siening. Die nabyheid van die einde (hetsy dit my eie dood of die wederkoms is) moet ons aanspoor tot selfbeheersing en nugterheid, juis sodat ons kan bid! Die erns van die tye, as ons dit reg verstaan sal ons gedurig op ons knieë bring! En enigiets wat ons aandag aflei van gebed of gebedsversteuring veroorsaak moet ons ten alle koste vermy. Elkeen wat erns maak met die Bybelse lering oor die wederkoms kan uitgeken word, nie aan sy spraaksaamheid oor wederkomsteorieë of spekulasies nie, maar aan sy gebedspassie!

PASOP VIR NOG ‘N FOEFIE

Het ons nie al genoeg gehad van bangmaakstories en wolhaarprofesieë wat op niks uitgeloop het en net die Christendom se naam skade aangedoen het nie? (Dis net jammer dat hulle propageerders en aanhangers so stil-stil van die toneel verdwyn sonder om verskoning te vra vir hulle onsinnuge verkondiging van misleiding)

Onthou jy nog die planete wat in 1982 in lyn met mekaar sou beweeg en groot aardbewings en dergelike katastrofes sou veroorsaak? Niks het gebeur nie. In 1997 was dit weer die Hale-Bop komeet wat ‘n groot angstigheid en afwagting meegebring het. Weer niks. En toe die groot Y2K rekenaarkrisis wat die einde van die wêreld sou inlui in die veelbesproke jaar 2000. Dit sou kwansuis chaos veroorsaak en mense is aangeraai om noodvoorrade bymekaar te maak. Weereens, die jaar 2000 het stil gekom en gegaan, niks snaaks het gebeur nie. Meer onlangs was dit die paniek in 2012 rondom die sogenaamde Maja kalender en ander wederkomsvoorspellings wat alles op niks uitgeloop het. Al wat gebeur is dat ‘n hele paar mense elke slag heelwat geld maak met hulle verkoop van sogenaamde profetiese inligting aan liggelowige en onkundige Christene. Die uitbuiting van dwases!

WEES VERSIGTIG

Die bron van die nuutste bloedmaan bewerings is nie baie suiwer nie en dit moet mens maar klaar ‘n bietjie versigtig maak. Mark Biltz, van El Shaddai Ministries buite Washington in Amerika, wat die ontdekkings oor die bloedmane sou gemaak het se teologie toon ooreenkomste met die dwalinge van die Hebrew Roots Movement. (alhoewel hy ontken dat hy een van hulle is) John Haggee wat ‘n groot propageerder van die bloedmaan fenomeen is, se lering oor spesifiek Israel laat ook ernstige vrae ontstaan.

Daar is ook baie vrae oor spesifieke aspekte rondom die bloedmaan teorie as sodanig. Dis nogal ironies dat slegs een van die vier maansverduisterings sigbaar sal wees in die staat Israel. Dit maak nie regtig sin as dit 'n verskynsel van betekenis vir die land/volk Israel sou wees soos beweer word nie.

Die groot gevaar egter in al hierdie bewerings en die entoesiasme wat dit veroorsaak lê daarin dat dit mense opsweep en opgewonde maak oor allerhande dinge, maar nie juis aanspoor tot heiligheid en hulle opgewonde maak oor die evangelie nie. Wat maak jou werklik opgewonde? Is jy opgewonde waaroor die engele opgewonde is naamlik die evangelie? (1 Petrus 1:12)

LEES DIE BYBEL IN SY GEHEEL EN IN KONTEKS

Sons en maansverduisterings, duisternis as sodanig is tipiese beskrywings om iets van die geweldige intensiteit van God se oordele aan te toon (Vergelyk Eksodus 10:22; Esegiël 32:7-8) Die bekende profesie van Joël val ook in hierdie kategorie. Dit gaan oor Goddelike ingrype in terme van oordeel sowel as verlossing. Joël 2:31 lui: “Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom.” Hierdie profesie van Joel word deur die apostel Petrus aangehaal tydens sy Pinksterdag preek en luister wat sê Petrus. “Maar Petrus het opgestaan met die elf en sy stem verhef en hulle toegespreek: Joodse manne en almal wat in Jerusalem woon, dit moet julle weet, en luister na my woorde. 
Hierdie mense is tog nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar die derde uur in die môre. 
Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is: 
En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp. Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom. En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Handelinge 2:14-21)

Petrus haal die Joel profesie in geheel aan en veronderstel dat dit vervulling gevind het in die gebeure op Pinksterdag. Dit onderstreep die waarheid, erns en eskatologiese betekenis van die gebeurtenis. Die profesie word nêrens aangewend as ‘n model waarvolgens sekere tydsberekening gedoen moet word nie. Ons leef beslis in die LAASTE DAE! Dis die tydperk van Jesus se eerste koms tot by sy wederkoms. Dis die tyd van geleentheid en redding, maar dis ook die tyd van God se oordele, wat reeds aan die gang is, maar ‘n hoogtepunt met die finale verskyning van Jesus sal bereik. Die laaste dae is dus die groot draaipunt van die geskiedenis met betrekking tot die koms van die Koninkryk van God! En dis nou, dis vandag... dis 'n tyd van beslissing!

Hierdie beeld uit die Joël profesie word ook Openbaring 6 aangetref as beskrywing van God se oordele en nie as ‘n berekeningsformule nie. "En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was 'n groot aardbewing; en die son het swart geword soos 'n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos 'n vyeboom wat deur 'n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos 'n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openbaring 6:12-17) God se oordele koms beslis, wees gewaarsku! Dis die Bybelse waarskuwing aan die goddelose, maar terselfdertyd die troosboodskap aan die verdrukte kinders van God.

Nêrens in die Skrif word ons aangemoedig om die tyd van Jesus se wederkoms te bereken nie, maar wel om altyd gereed te wees!


5 opmerkings:

  1. Jesus se woorde oor Sy wederkoms is baie duidelik:
    "MAAR van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen. En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees." (Matt. 24:36-37)
    "Maar van daardie dag en dié uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader. PAS op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie. Dit is soos ’n man wat op reis is, wat sy huis agtergelaat en sy diensknegte volmag gegee het, en vir elkeen sy werk, en aan die deurwagter bevel gegee het om te waak. Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie; dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!" Markus 13:32-37
    "En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie" Hand. 1:7
    (Philip, Kaapstad)

    AntwoordVee uit
  2. Hi. Ek wonder maar net wat die mense maak met al die mense wat deur hulle profesie bewys het dat hulle valse profete is. Ek dink dat daar van so 'n persoon verwag moet word dat hy/sy hulle poste moet ontruim en dit baie duidelik bekend gemaak moet word dat hierdie persoon 'n valse profeet is en dus nie meer vertrou kan word nie.
    Die tyd is wel naby, maar daar is nog water wat in die see in moet loop voor die einde van alles. Homoseksuele verhoudings het nog nie die piek bereik wat dit moet nie. Die groot afval is nog steeds in die pyplyn, net soos die wegraping soos in die dae van Noag, wat hy en sy huis gered is van die vloed. So sal die kinders ook die oordele van God gespaar word, wat oor die aarde sal kom.
    Almal is meer bekommerd oor die einde van die wereld , as oor die einde van die wereld vir hulle, wat vir my baie erger is as die einde van die wereld, want dit is die einde van die lewe in totaliteit. Ek stem volkome saam met dominee dat Petrus hierdie gedeelte aangehaal het om die grootsheid van die moment in die geskiedenis, sowel as die verandering wat dit in die toekoms in die geskiedenis van Israel beteken. Ek glo dat dit ook is soos die profeet Joel dit gesien het, vanwee die totale grootsheid van die dramatiese gevolge van die gebeurtenis.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Tinka vir jou bydrae. Sterkte vir jou daar in die verre Wamboland!

      Vee uit
  3. Dis baie jare later, en daar was weer "Blood Moons" en baie ander"profete" wat probeer het om die koms van Jesus vas te maak in 'n tyd. Almal was verkeerd, e on sis steeds hier. In die ou testamentiese tye sou die vals profete gestenig geword het, maar vandag hang ons steeds aan hulle lippe en betaal hulle deur hulle Youtube channels te volg. Unsubscribe van hulle en los jou boodskap dat hulle vals is . Raporteer die sites as vals. Di shoe die gestop word

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.