BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 02 Julie 2015

NEE DR. NELUS!

Kerklik geseënde gay huwelike? Kan dit wees? Sê u dit as 'n bedienaar van die Woord of dalk as woordvoerder van SCOTUS?

Die moderator van die NG Kerk (Algemene Sinode) is volgens persberigte ten gunste daarvan dat die NG KERK die huwelik herdefinieer. Miskien is hy daartoe aangemoedig deur die onlangse beslissing van SCOTUS (Supreme Court of the United Sates) ten gunste van sogenaamde selfde geslag huwelike, want in die Bybel sal jy dit nie kry nie!

“Dit het tyd geword dat gay NG predikante nie meer gedwing word om selibaat te wees nie en dat gay paartjies se huwelik met die volle seën van die kerk voltrek word.
Dit is die pleidooi van prof. Nelus Niemandt, algemene moderator van die NG Kerk.
Hy hoop die besluit oor gay predikante sal in Oktober op die algemene sinode opgehef word en dat hulle ook sal kan trou.”*


Nee, niemand(t) durf homself bo die Woord ag nie!

Hoe kan dr. Niemandt sulke uitlatings maak wat indruis teen vorige sinode besluite, maar veel erger wat direk teen God se Woord ingaan? In Romeine 1* leer die Woord ons dat God juis mense oorgegee het aan die skandelike drifte van homoseksualiteit omdat die mens die waarheid verruil het vir die leuen en skepsele gedien het bo die Skepper. Nou word skepsele se sienings weer bo die waarheid van die Skepper in sy Woord gestel!

Hierdie wendig moet seker nie as 'n verrassing beskou word nie, want nie te lank gelede nie het DIE KERKBODE die lof van 'n lesbiese huwelik besing. Tog het sy blatante afwykende uitspraak skokgolwe deur die kerklike publiek gestuur en voorsien ek dat daar 'n groot rimpeleffek gaan wees. Daar word nou reeds van alle kante af wal gegooi om die skade te besweer, maar dis ongelukkig reeds gedoen. Die feit dat dit nie die amptelike besluit van 'n sinode (en dus die kerk) is nie, bring maar weining troos. Net die feit dat 'n moderator so 'n skrikwekkende Skrifafwykende uitspraak kon maak, laat mens sidder. En tog...miskien word evangeliese gelowiges in die NG Kerk nou wakker geskud om vas te skop en verdere verdraaiing van die Skrif halt te roep! Of is die padda dalk al te lank in die al warmer wordende pot water?

Lees ook : As mens jou op die Skrif beroep in 'n debat oor homoseksualiteit, dan word jy mos bykans sonder uitsondering met die skulpvis argument gegooi. "Eet jy dan nie skulpvis nie? Die Bybel verbied dit ook mos. So ons kan nie sê gay huwelike is verkeerd omdat die Bybel daarteen gekant is nie!" Kliek op SKULPVIS.


*Dit lyk nie of Niemandt voel dat hy verkeerd in die pers aangehaal is nie, want hy het die skakel na hierdie berig ge -retweet.


**Romeine 1:22 Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword 
Rom 1:23  en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van 'n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. 
Rom 1:24  Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer 
Rom 1:25  hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen. 
Rom 1:26  Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; 
Rom 1:27  en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. 

Lees ook : Wat maak homoseksuele sonde anders? Kliek op DIFFERENT  (artikel deur John Piper)

"At this moment in history, contrary to the other sins listed..., homosexuality is celebrated by our larger society with pioneering excitement. It’s seen as a good thing, as the new hallmark of progress."

7 opmerkings:

  1. Dankie vir hierdie reguit en moedige woorde Johannes!

    Mens word herinner aan 1 Tim 4:1-2 "Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete".

    Ook 2 Tim 3:1 "Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. ... mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af."

    Philip, Kaapstad

    AntwoordVee uit
  2. Baie dankie vir 'n dapper stap om duidelik die waarheid te stel.

    'n Mens behoort nie verbaas te wees oor die prof se standpunte nie, gesien in die lig van hoe ver die proses gevorder het van eenwording met die VGKSA ( wat Belhar alreeds as 4de belydenisskrif aanvaar het).

    Allan Boesak het alreeds daarop gewys dat Belhar eis dat gays volle regte in die kerk moet geniet. Die klousule wat volgens hom dit vereis, is hierdie een ( en veral die deel in hoofletters):

    "Daarom verwerp ons enige leer wat òf die natuurlike verskeidenheid òf die sondige geskeidenheid so
    verabsoluteer dat hierdie verabsolutering die sigbare en werksame eenheid van die kerk belemmer of verbreek of selfs lei tot 'n aparte kerkformasie, wat voorgee dat hierdie geestelike eenheid werklik bewaar word deur die band van die vrede wanneer gelowiges met dieselfde belydenis van mekaar vervreem word ter wille van die verskeidenheid en vanweë die onversoendheid; wat ontken dat 'n weiering om hierdie sigbare eenheid as 'n kosbare gawe na te jaag sonde is, WAT UITGESPROKE OF ONUITGESPROKE VOORGEE DAT AFKOMS OF ENIGE ANDER MENSLIKE OF SOSIALE FAKTORE MEDEBEPALEND IS VIR LIDMAATSKAP VAN DIE KERK.

    Lees meer hier: http://www.thebanner.org/news/2011/01/world-news-allan-boesak-quits-church-posts-over-homosexuality-policy-belhar

    AntwoordVee uit
  3. Dankie Johannes vir jou kommentaar en vir jou raak vraag of Nelus die uitlatings gemaak het as bedienaar van die Woord of van Scotus.
    Frits Gaum het natuurlik self ook dieselfde sake in Rapport bepleit. Dit verskyn op glodiebybel. Ek het daar kommentaar gelewer. Sien by
    http://www.glodiebybel.co.za/index.php/geloofskwessies-m/56-homoseksualiteit-kat/1013-die-ng-kerk-en-gays-tyd-vir-herbesin-2015-06-28.html
    Jan Louw

    AntwoordVee uit
  4. En genadiglik is daar meer mense wat ons standpunte deel ( groot op Beeld se voorblad vandag):

    http://www.netwerk24.com/nuus/2015-07-03-gays-in-kerk-nelus-niemandt-kry-wind-van-voor

    AntwoordVee uit
  5. Johannes. Hierdie radikale uitgangspunt van 'n kerkleier is maar tipies hoe die kerkleiding werk. Die suggestie om Gay Huwelike binne die NG Kerk te regverdig is nou gelê in die gedagtes van lidmate. 'n Mens was eintlik so iets te wagte. Dis maar deel van 'n sagmaakproses. Die proses het alreeds begin toe die kerk sy Bybelse standpunt van 1986 hersien het. Dis net 'n kwessie van tyd dan sal die gedagte minder skokkend en selfs aanvaarbaar vir talle lidmate begin klink. Dis hartseer maar waar. Die verstrooiing en verwarring onder lidmate duur eenvoudig voort.
    Die dilemma waarin ons kerk hom die afgelope paar dekades in bevind hou ten diepste verband met wyd uiteenlopede standpunte oor die Skrif. Dit is nie net die Bybel wat in gedrang kom nie, maar ook die Here van die Bybel. Ons kerk is verdeeld oor 'n saak wat aan die kern van sy bestaan lê. En dit het direkte implikasies vir die inhoud van die geloof wat ons bely en vir die praktyk van die geloofslewe.
    Sonder om na kitsoplossings te soek vir die delimma. As kerk het ons behoefte aan ware herlewing, wat 'n soewereine, genadige werk van God is. En een van die kenmerkende vrugte van alle herlewings is dat daar weer 'n ontsag vir God en sy Woord kom. Iets wat so noodsaaklik in ons tyd geword het (Jes 63:7-19; 64:1-12)

    Groete. Coen

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Coen. Ek stem met jou saam, slegs ware herlwing kan nog die agteruitgag in ons kerk keer... Mag die Here ons genadig wees!

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.