BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 25 Junie 2015

GEDOOPTES EN NAGMAALGANGERS

- moenie op hulle louere rus nie, maar vlug vir die sonde!


Baie mense (ook binne die kerk) dink dat sonde nie meer ernstig en gevaarlik is nie. Hulle hou daarvan om ‘n klomp geykte verskonings af te rammel :

“Ag, ons is mos almal maar mense, ag, niemand is volmaak nie, onthou ons mag nie oordeel nie, die kerk is bedoel vir sondaars. Ag die genade is mos darem daar. Ag, wie is in elk geval sonder sonde? Ons is mos darem gedoop, ons vier mos die nagmaal…”

Dit klink asof mense sê : “Dis God se dure plig om sonde te vergewe en dis ons heerlike voorreg om sonde te doen soos ons wil en lekkerkry...”

Hierdie ligte ongeërgte houding oor sonde is natuurlik so oud soos die kerk self. Van die vroegste tye af was daar mense wat verskonings vir sonde gesoek het. Judas praat van mense wat die genade van God misbruik. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe. (Judas vers 4) Hierdie probleem was ook onder die Korintiese gemeente aanwesig.

WAARSKUWING

Hier in 1 Korintiërs 10:1-13 waarsku Paulus hulle baie hard en duidelik, maar gelukkig stop hy nie daar nie! Ons sal ook sien hier is ‘n heerlike troos boodskap vervat.

Paulus gebruik die volk Israel as voorbeeld om die erns en relevansie van sy boodskap oor te dra. Hy herinner sy lesers aan die groot wonderlike gebeurtenis van die Uittog uit Egipte. God het mos die hele volk, klein en groot op dramatiese wyse gered deur hulle veilig deur die Rooi See te lei toe die bloeddorstige Egiptenaars hulle agtervolg het. ‘n Aangrypende gebeurtenis van God se genade en goedheid! Dit was iets meer as net ‘n fisiese gebeurtenis. Dit was ‘n omvattende genadige reddingsdaad van God. Almal het gedeel in dieselfde geestelike voorregte.

Paulus sinspeel duidelik hier op die doop en nagmaal. Vers 2. “Omdat hulle almal vir Moses gevolg het, is hulle almal in die wolk en in die see gedoop.” Hulle deurgang deur die Rooi see sien hy as ‘n simbool van die doop. Vers 3,4. "Almal het dieselfde geestelike voedsel geëet, en almal het dieselfde geestelike drank gedrink: hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat met hulle saamgegaan het. Die rots was Christus." Hier is ‘n duidelike verwysing na die Nagmaal. Maar dan maak hy ‘n skokkende stelling in vers 5. “Tog was God met die meeste van hulle nie tevrede nie, want hulle het in die woestyn omgekom.” Dis ‘n historiese feit – die grootste deel van die volk wat uit Egipte verlos is, het nooit die land Kanaän veilig bereik nie! Die mense wat soveel heerlike genade ontvang het se witgebleikte geraamtes het uiteindelik die woestynsand ontsier!

Wat Paulus eintlik wil sê is : “Hierdie bevoorregte volk het in al die verbondsvoorregte gedeel, maar dit het hulle niks gehelp nie, want hulle het hulle nie bekeer van hulle verkeerde optrede nie. Hulle het met sonde geheul. Die oordele van God het hulle getref!”

Paulus gebruik die tragiese verhaal van Israel se woestyntog as ‘n voorbeeld (gaan lees dit na) dat ons nie in dieselfde strikke van versoeking en sonde moet trap as waarin hulle getrap het nie. Hy noem voorbeelde en gebeurtenisse uit Israel se uittoggeskiedenis by die naam : Sondige begeertes (6); afgodery (7) – verwys hier na die groot partytjie en jol wat gehou is tydens die episode van die goue kalf (sien Eksodus 32:6); onsedelikheid (8) – vergelyk Numeri 25:1,9*; uittarting van Christus (9); verset/ opstand oftewel “murmurering”, om te kla oor God se pad met ons, m.a.w. onvergenoegdheid! (10)

Pasop vir sonde! Pasop vir die misbruik van God se genade! Moenie met sonde speel en eksperimenteer nie! Moenie God tart nie!

Hierdie geskiedenis raak ons direk, dis vir ons ‘n voorbeeld en waarskuwing! (11) Ons moet elkeen onsself ondersoek! Moenie ligtelik hierna luster en dink dit kan nie vir my en jou oorkom nie! (12) Enige kind van God kan in enige sonde val... juis dalk op die gebied wat jy dink jou sterk punt is... Moenie by jouself redeneer - “ek was nog nooit dronk, of ek het nog nooit my vrou verneuk nie..." Wees bedag op alle versoekings! Sonde het skrikwekkende gevolge!

BEMOEDIGING

Paulus waarsku nie net nie, hy bemoedig ook. Hy wys ons op ‘n heerlike vertroostende feit : GOD IS GETROU! (13) Hy sal ons nie bo ons kragte laat versoek nie (Hy is billik, Hy ken ons grense) en Hy sal uitkoms gee (krag, oorwinning)! Paulus se waarskuwings is nie om ons moedeloos en beangs te maak nie. Hy wil sê : Wees versigtig, maak erns, pasop en weet dan dat God jou ook deur versoekings sal dra... Versoekings sal kom, maar God is getrou. Die dringende en ernstige waarskuwings is juis deel van sy getrouheid en ‘n manier wat Hy gebruik om ons te bewaar!

Paulus se boodskap wat hy wil oordra is baie duidelik:

Vir die wat speel met sonde en God uittart wag daar ‘n skrikwekkende oordeel al deel hulle in die verbondstekens. Alle gedooptes en nagmaalsgangers moet kennis neem!

Vir die wat die erns van sonde besef en daarteen stry kom daar die heerlike versekering, dat God ons nie in die steek sal laat nie, maar oorwinning sal gee. Mag ons almal in hierdie tweede groep wees...

* Die getal wat dood is volgens Numeri 25:9 is 24 000 en nie 23 000 soos Paulus hier in Korintiërs skryf nie. Die getal is opsigself is seker nie so belangrik nie, maar die waarskuwing wat ons ter harte moet neem, weens die skrikwekkende gevolge van hulle onsedelikheid.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.