BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 05 Mei 2015

VIER FEITE WAT NIE VERSWYG MAG WORD NIE

(ook nie by ‘n begrafnis– of roudiens nie!)



In die aangesig van die dood droog ons slimmighede en stories op... Gelukkig het ons God se Woord vir ‘n tyd en geleentheid soos hierdie. Kom ons kyk saam na Hebreërs 9:27,28.


‘n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel. So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem. As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag.

Die meeste mense glo nie meer die Bybel nie... Vriende, ek glo die Bybel – dis natuurlik nie ‘n prestasie nie maar ‘n genadegawe, ek glo dis God wat hier praat en dat sy woorde die verskil tussen lewe en dood, hemel en hel maak. Ek gaan net vier basiese feite uit die gelese gedeelte uitlig, vier feite wat die Woord hier leer, vier feite wat onomstootlik waar is...

DIE MENS IS BESTEM OM TE STERWE. (hiermee kan jy nie stry nie, selfs al is jy 'n ateïs) Die dood is die een ding wat niemand kan vryspring of ontwyk nie. Dit kom beslis. Meestal onverwags – dink maar aan die skrikwekkende gebeure onlangs in Nepal! Ons is bestem om eenmaal te sterwe. Beslis te sterwe, maar ook net een maal... Daar bestaan dus nie iets soos ‘n tweede kans, ‘n vagevuur of reïnkarnasie nie! En dus die hartseer, wat ek ook telkens sien en beleef, mense weet die dood is ‘n feit, maar die meeste is nie voorbereid daarvoor nie – daai ding van uitstel, jy weet...

NA DIE DOOD WAG DIE OORDEEL. Die dood is nie die einde van ons bewustelike bestaan nie. Na die dood kom daar ‘n oordeel. God maak onderskeid tussen mense. Die mens word tot verantwoording geroep. Daar kom ‘n skeiding – die skape word van die bokke geskei. Die een groep deel in die ewige heerlikheid saam met God, die ander groep word weggestuur na die ewige smart weg van God af.

In hierdie lewe sowel as in die ewigheid bestaan daar vir elke mens net twee opsies, twee moontlikhede. Die Bybel sê dit op baie maniere : Daar is ‘n smal pad na die lewe of ‘n breë pad na die verderf. (jy kan op hierdie oomblik net op een van die twee wees) Jou huis is op die rots gebou of op sand gebou. (nie op beide nie) Jy dien God of jy dien Mammon. (jy kan nie altwee dien nie) Daar is nie ‘n tussengroep nie. Daar is nie iets soos ‘n halwe Christen of ‘n half geredde nie! Net soos jy ook nie iets soos ‘n halwe bestuurderslisensie kry nie – jy het een of jy het nie een nie!

JESUS SE STERWE WAS GENOEGSAAM VIR ONS SONDE. Jesus se sterwe was ‘n offer vir ons sonde. Sy offer was genoeg om die sondes van baie mense (met ander woorde sy miljoene kinders) weg te neem. Die begrip “een maal” is hier baie belangrik. Dit beklemtoon die genoegsaamheid van Jesus se sterwe. Dit gaan immers hier in Hebreërs oor die voortreflikheid van die Nuwe Verbond bo die Ou Verbond. Jesus se eenmalige sterwe was genoegsaam in teenstelling met die oneindige en ontelbare bloed offers van die ou bedeling wat telkens herhaal moes word. Jesus se sterwe was genoeg vir die grootste en aakligste sondes en gruwelikste sondaars... genoeg vir Saggeus, die Samaritaanse vrou, Paulus, Petrus... Hulle is deur Jesus aangeraak en het deur Hom vergifnis en vryspraak gekry. As jy jou tot Jesus wend, maak nie saak wat agter jou lê nie, sal jy agter kom dis ook genoeg vir jou. Nog nooit het Jesus ‘n berouvolle sondaar weggejaag nie. (Johannes 6:37)

AS EK AAN JESUS BEHOORT KAN EK UTSIEN NA ‘N HEERLIKE FINALE VERLOSSING. As Jesus weer kom bring Hy die finale verlossing vir diegene wat Hom verwag. Dit sluit ook in die bevryding van ons liggame van verganklikheid! (Romeine 8:23, Filippense 3:21) Vir diegene wat in die geloof volhard bestaan daar 'n heerlike toekoms om na uit te sien! Maar diegene wat in hierdie toekoms wil deel, moet nou reeds na Jesus kom en sy genade aanvaar. Na die dood is daar nie ‘n tweede kans vir berou en bekering nie. Daarom, Jesus se wederkoms is nie goeie nuus vir almal nie, maar net vir die wat Hom verwag, wat uitsien na sy koms, wat weet hulle behoort aan Hom. Is jy aan Hom verbonde en leef jy in die verwagting van ‘n aangesig tot aangesig ontmoeting? Het jy al tot bekering gekom en Jesus as Verlosser aanvaa? Volhard jy in die geloof of het jy weggedwaal? Onthou, nie alle mense sal in die hemelse RUS ingaan nie! Hemelse rus word nie deur ‘n Christelike begrafnis, ingewikkelde rituele of ‘n spraaksame dominee se lofredes verseker nie, maar deur die genade van God wat ons deur geloof in Jesus as genoegsame Verlosser ontvang!

Vandag is ‘n baie belangrike en beslissende dag vir elkeen wat kan hoor.... luister na die waarskuwing van die Hebreër skrywer in hoofstuk 3:7-17.

Luister daarom na wat die Heilige Gees sê: "Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het en My in die woestyn op die proef gestel het.

Daar het hulle My op die proef gestel en uitgetart, hoewel hulle veertig jaar lank gesien het wat Ek vir hulle gedoen het.

Daarom het Ek ‘n afkeer van hierdie geslag gekry en gesê: ‘Met hulle hart is hulle gedurig op ‘n dwaalspoor, hulle wou my paaie nie leer ken nie.’

Toe het Ek in my toorn ‘n eed afgelê: In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie."

Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ‘n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie.

Maar solank daar nog ‘n "vandag" is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie.

Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.

Daarom word daar gesê: "Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het."

Wie was dit dan wat gehoor het en tog in opstand gekom het? Was dit nie hulle almal wat onder leiding van Moses uit Egipte getrek het nie?

En van wie het God veertig jaar lank ‘n afkeer gehad? Was dit nie van hulle wat gesondig het en wie se dooie liggame in die woestyn agtergebly het nie?

Oor wie anders as dié wat ongehoorsaam was, het Hy ‘n eed afgelê dat hulle nie in sy rus sou ingaan nie?

Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in sy rus kon ingaan nie.

Glo jy hierdie Bybelse feite? Baie sê wel nog so, maar hulle lewens wys dat hulle hul glad nie meer aan God se Woord steur nie. Daar is geen lewende geloof, geen lewensverandering, geen honger en dors na God se Woord en sy geregtigheid nie. 

Kom ons vat saam : Daar wag beslis ‘n oordeel na die dood. Daar is iets soos genade vir sondaars, omdat Jesus se offer genoegsaam was. Inderdaad, oorvloedige genade in die volste sin van die woord! Maar hierdie genade moet nou aanvaar word, anders mag dit te laat wees vir ewig!

9 opmerkings:

  1. Shoe Johannes, het so lanklaas van jou gehoor ek het gedink jy het ge-emigreer. Stem 100% met jou saam. Ek dink ons hoor te min preke van die hemel en die hel. So n paar Sondae gelede het n pastoor van Bloemfontein die oggend oor RSG oor die hel gepreek en die aand oor die hemel. Wat n treffende boodskap was dit nie.

    Groete in Cristus

    Boeta

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Boeta. Ek is maar bietjie stil, ek het eintlik nog verlof! Groetnis

      Vee uit
  2. Enige iemand/iets wat sê dat hy/sy/dit WEET dat iets bonaruurliks na die dood gebeur lieg.
    Pastoor Johannes, oorweeg dit gerus om wanneer jy uit jou bybel sit en oordeel te onthou dat twee derdes van die mense op aarde NIE christene is nie, hoofsaaklik omdat hulle nie christenouers het nie. Baie van hulle WEET van heeltemal ander bonatuurlikhede na die dood as jy. Al meer mense WEET ook dat die mens na die dood in dieselfde toestand is as wat dit vir die duisende miljoene jare was voor geboorte.
    Al die gelowe/ongelowe se WEET wat na die dood gebeur is blote ongestaafde bewerings/opinies/gedagtes/denkbeelde, soms selfs drogbeelde, niemand WEET nie, vandaar die onbeleefde woordjie, “lieg”.
    Boeta, gelukkig WEET baie mense (duidelik nie jy nie) dat die hemel/helstories pure bangmaak- of beloningsnert vir stout of soet kinders is.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Vriend, dis jammer dat jy nie jou naam meld nie, dan sou mens meer sinvol en rustig met mekaar kon praat...

      Net so 'n paar regstellings :

      Dit gaan in die gedeelte wat jy so sterk aanval nie bloot oor oordeel nie, maar juis om die grootheid, genoegsaamheid en daarom die dringende erns van God se genade aanbod uit te lig? (lees maar weer in geheel)

      Dis nie "my bybel" nie - dis God se Woord of jy dit aanvaar of nie. Ek praat dus nie met my eie gesag nie en dis daarom ook nie my eie opinies nie.

      Nou wonder ek net op grond waarvan WEET jy so seker al die dinge wat jy beweer. Wat is jou bron van gesag?

      Terloops, ek is nie 'n pastoor nie.

      groetnis
      Johannes

      Vee uit
    2. Asseblief Johannes moenie vir my sê die ironiese bedoeling van “WEET” het elke keer oor jou kop gevlieg nie. Did my use of the Afrikaans language let me down? Die hele bedoeling van die kommentaar was om “Enige iemand/iets”, soos pastore, sataniste, pouse, dominees, imams, sangomas, priesters, ateïste, hindoes, ens. te maan om NIE te sê WEET as hulle eintlik bedoel GLO nie.
      Jy wil graag my naam weet, “dan sou mens meer sinvol en rustig met mekaar kon praat...” en twee sinne later, “dis God se Woord of jy dit aanvaar of nie.” Are you testing my knowledge on the topic of irony?
      Jammer oor my verkeerde afleiding dat jy ‘n pastoor is. Boeta se lof vir die RSG pastoor het my verlei.
      My naam? Realistic, maar noem my gerus WWW = wil werklik weet. Ek wil werklik weet dat christene verkeerd is as hulle WEET dat twee derdes van die mensdom hel toe gaan, omdat hulle nie soos “God se Woord” (die christen een) voorkryf, glo nie. Ek wil weet die moslem glo net, en WEET nie, dat hy my kop moet afkap as ek ‘n spotprent teken nie. Ek wil weet die hindoe glo net en WEET nie, dat reïnkarnasie plaasvind nie.
      As iemad/iets sê hy/sy/dit WEET, moet toetsbare herhaalbare bewyse gelewer word, wat ook die wat anders as jy WEET oortuig, anders word daar gejok oor die WEET.

      Vee uit
    3. Ek neem dan aan jy is 'n agnostikus, as ek so vinnig kyk vir wie jy almal vermaan...
      Ek kan maar net die Christelike saak probeer stel.

      Die Christen verwys niemand na hemel of hel nie... Dis alleenlik God se prerogatief! Ons kan net in eenvoud getuig oor Sy Seun, Jesus Christus. Hierdie getuienis berus op die fiete van die opstanding (lees gerus daaroor elders op my Blog byv die post "ENIGSTE WARE VERLOSSER?") en die gepaardgaande inwendige getuienis van die Heilige Gees in ons harte. Dis 'n kragtige getuienis wat nog nooit deur vervolging, verleiding en enige isme op aarde uitgevee kon word nie. Hierdie getuienis vind inderdaad ook vrugbare reaksie onder Moslems, Hindoes ens. wat hulle weens die Gees se getuieniswerk tot die lewende God bekeer. (Ja, selfs ook Nazi's het hulle al tot Jesus bekeer)

      Dit my vriend is die rede hoekom ons aanhou sal getuig volgens die opdrag in Handelinge 1:8.

      Ten spyte van jou verduideliking oor ironie, wonder ek nog steeds hoe jy kan weet/beweer dat Christene lieg? Wie het dit getoets? Waar is jou toetsbare en herhaalbare bewyse?

      As jy regtig eerlik soekend is, wel dan kan ek jou bemoedig, want Jesus sê : Die wat soek sal vind!

      Sterkte en vriendelike groete
      Johannes

      Vee uit
    4. “Die Christen verwys niemand na hemel of hel nie... Dis alleenlik God se prerogatief!”
      Die christen wat sê hy WEET, soos deur te sê, jy móét Jesus as jou saligmaker aanvaar, neem dus sy god se funksie oor?
      Ek stem eintlik saam. Ek sal liewer sê: “Niks kan iemand na die hemel of hel verwys nie”. Die kans dat dié twee konsepte op ander plekke as in sommige mense se gedagtes bestaan is weglaatbaar klein. Die kans dat elkeen wat in die konsepte glo, se beeld daarvan verskil is , wel… groot.
      Een van “God se Woord?” se vier “feite” volgens jou artikel is:
      NA DIE DOOD WAG DIE OORDEEL. en dit sluit die volgende sinsnede in.
      “die ander groep word weggestuur na die ewige smart weg van God af”.
      En jy WEET dit?? Hoe lank is die ewige smart? 100 000 000 000 000 000 jr.? Gaan dit nooit ophou nie? Nooit nie? En dit alles miskien omdat die groep net halwe christene, of moslems, was?
      Jy sê ook:
      “(Ja, selfs ook Nazi's het hulle al tot Jesus bekeer)”
      Was daar Nazi’s wat nie christene was nie? Die embleem ‘Gott mit uns’ = ich bin kein, oder = ich bin EIN christen?? As ek dit nie mis het nie was selfs Hitler ‘n christen!, ‘n katoliek nogal.
      Hoe weet jy moslems lieg as hulle sê, Jesus is nie god nie? Die Jode lieg as hulle sê, die storie van Jesus is bog?. Die Hindoes sê daar is baie godde?
      Ek het dieselfde toetse gebruik.

      Vee uit
    5. Nee vriend Anoniem, jy klink my baie deurmekaar. Hitler was nie 'n Christen in die Bybelse sin van die woord nie. Die Bybel leer ons immers dat 'n boom aan sy vrugte geken word!

      Moet jou nie kwel oor vrae waarop die almagtige God alleen antwoorde het nie. Doen wat Hy jou beveel... Bekeer jou en glo in sy Seun Jesus Christus!

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.