BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 26 Maart 2015

RHODES MUST FALL

- ‘n wekroep wat rooi ligte en dinamietkerse laat flikker!

As Afrikaner het ek beslis geen voorliefde vir en simpatie met Cecil John Rhodes nie. Hy was ‘n uiterste voorbeeld van ‘n politieke knoeier (dink Jameson inval) en kampvegter vir Britse imperialisme. Dis onder hierdie einste imperialisme wat my volk gely en byna doodgebloei het weens die uitwissing van duisende vroue en kinders tydens die Anglo Boereoorlog.

En tog, beide as Afrikaner en Christen voel ek geroepe om te waarsku teen die onverantwoordelike oproepe om die Rhodes standbeeld (en ander soortgelykes) te laat kantel. Die beeld van opgesweepte skares wat standbeelde vernietig herinner aan gewelddadige rewolusies wat tot eindelose smart, chaos, verwoesting en haat gelei het. In ‘n multikulturele en etnies diverse Suidelike – Afrika kan sulke onnadenkende optrede tot uiterste spanning en voortdurende konflik aanleiding gee. En sulke chaotiese politieke en ekonomiese duisternis kan veral ons buurland suid van die Oranje beslis nie bekostig nie! (Eskom sorg reeds vir te veel daarvan...)

Om standbeelde te begin afbreek, skep 'n gevaarlike irrasionele klimaat en teelaarde vir anargie. Dit stuur af op ‘n situasie waar daar nie meer nugter gedink en beredeneer word nie, en baie saamgesleep word op ‘n wilde tog van emosionele aktivisme. ‘n Opruiendheid wat menslike dinamiet genereer, wat iewers gaan ontplof... En waar hou jy op as jy eers begin afbreek? Wie moet val en wie gaan bly staan? Wie gaan regter wees? Ja, Rhodes was ‘n imperialis en onderdrukker, ongetwyfeld. Maar wat van Shaka? Of sommiges dit wil hoor of nie, hy was ‘n geweldenaar wie se optrede die uitwissing van baie stamme tot gevolg gehad het. En ja tog, selfs by beide Rhodes en Shaka kan mens ook baie leer... entrepreneurskap, deursettingsvermoë, strategiese denke...

Nee, kom ons los en respekteer bestaande monumente (straatname, skoolname, dorpsname...) as deel van die geskiedenis. Al is dit nie ‘n geskiedenis wat almal ewe opgewonde maak nie. Kom ons gun dit ook vir mense wat anders voel as ons om nuwes op te rig. Laat ons rustig debatteer oor mense soos Rhodes en Shaka of wie ook al se rol in die geskiedenis. Om standbeelde af te breek gaan nie die foute en onregte waaraan hulle deel gehad het weer regmaak nie. Stukkende standbeelde skep nie welvaart en sakevertroue nie... nog minder versoening en vreedsame naasbestaan. Dis maklik (en benodig nie veel breinkrag nie) om monumente om te gooi en name te verander, maar dit gaan nie werksgeleenthede skep of 'n broodnodige positiewe beleggingsklimaat bevorder nie. Studies, harde werk, integriteit en innoverende denke gaan eerder ‘n land opbou en nuwe geleenthede skep vir almal... Of die betogende en morsende studente wat Rhodes se kop tans eis, hierdie eienskappe vertoon, betwyfel ek...

Nee, wat ouens los die nonsens en keer terug na die boeke en probeer liewers vir julleself 'n werksetiek aanleer... hiervoor sou julle selfs ou Cecil as voorbeeld kon gebruik en dalkies sien julle ook raak dat daar nog baie onontginde diamante in die Afrika bodem wag... vir die wat bereid is om te werk!

2 opmerkings:

  1. Ds. ek sal saamstem dat die uiterlike en innerlike herrinneringe aan die verlede nie verwyder moet word nie. Dit konfronteer die post moderne met die realiteit.

    Ek stem ook saam dat geweld en anargie rondom die roepe om die beeld van Rhodes to vernietig nie aanvaarbaar is nie. Anders promoveer dit 'n algemene houding van die massas om dit wat hulle realiteit versteur te vernietig, en dan het hulle nie nodig om dit te erken nie.

    Maar ek dink nie dit moet gedoen word om "robuuste debat" te vermy nie. Spanning is somtyds juis nodig sodat 'n sweer na bo kan kom om opgelos te word. Veral as 'n ou dink hoeveel die land suid van Oranje daagliks moet ly agv swere wat onderdruk of geignoreer word.

    Mynsinsiens sal die standbeel nie val om rede van die twis daar rondom nie, want dieselfde onderdrukking waarvoor Rhodes toe gestaan het, het nog nie gewyk nie en is die wat oorgeneem het by hom nog net so aktief. Hulle is net 'n bietjie minder sigbaar en minder uitgesproke, maar die doelwitte is nog dieselfde.

    Die standbeeld self sal slegs val wanneer die Rhodes opvolgers dit as 'n goeie openbare beeld initiatief gesien word.

    En hierdie sentiment moet nogsteeds deel wees van die debat, anders sal die padda kook sonder om dit te besef.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie! Beslis is ek ook ten gunste van robuuste debat! Laat ons praat oor Rhodes en wie ook al se vergrype en onderdrukking... en sommer ook oor die hedendaagse leiers s'n, en daaruit leer, sonder om emosies onnodig op te jaag...

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.