BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 07 Januarie 2015

CHARLIE HEBDO AANVAL

- 'n Christen se perspektief.

Dit gons die wêreld deur na vandag se dodelike aanval op die kantore van die satiriese Franse tydskrif CHARLIE HEBDO in Parys. Veral op Twitter word daar groot meegevoel en ondersteuning uitgespreek teenoor die slagoffers en hulle families. Dit is verstaanbaar, want dit was 'n gruwelike aanval op weerlose joernaliste en tekenaars. Die aanval word veral beskou as 'n aanslag teen een van die Westerse grondwaardes, naamlik vryheid van spraak. Baie kommentators gebruik die geleentheid om Islam aan te val en sommige gaan so ver om alle godsdiens die skuld te gee vir die tragiese voorval.

Wat sou 'n verantwoordelike Christelike reaksie wees?

Christene moet geweld veroordeel. Niemand het die reg om sommer op lukrake manier ander se lewens te neem nie. As Christene erken ons die swaardmag wat God aan die staat gegee het om oortreders te straf (doodstraf), maar dit is uiteraard nie hier van toepassing nie. Niemand se lewe is ook bedreig nie en daarom is daar ook nie sprake van selfverdediging nie. Alle terrorisme hetsy vanuit watter oorsprong, links of regs, Islam of nie-Islam, moet ondubbelsinnig veroordeel word!

Maar daar is wel 'n ander kinkel in die saak...

Nie almal besef dat hierdie tydskrif nie bloot die spot met Islam gedryf het nie (iets wat vanuit 'n Christelike oogpunt in elk geval geen doel dien nie), maar ook op die mees afskuwelike en lasterlike manier die spot gedryf het met die Drie-enige God en die Christendom. Dit was om die minste te sê 'n walglike en vulgêre blaadjie, wat nie die term persvryheid waardig was nie en alle grense van ordentlikheid en welvoeglikheid op die mees banale wyse oorskry het! As Christen ondersteun ek vryheid van spraak, maar alle vryheid het perke en die grense daarvan word bepaal deur God se Woord. Daarom vind ek dit maar moeilik om simpatie te hê met die tydskrif, sy redaksie en ondersteuners.

CHARLIE HEBDO se tipe joernalistiek is 'n uiterste vorm van haatspraak, skoorsoek en verdraaiing, wat geen respek vir God en medemens getoon het nie! Hulle het baie spotprentjies geteken wat geen koerant in Suid-Afrika sou waag om te doen nie!

En dit bring my by nog 'n belangrike perspektief. Dit laat mens sidder... God laat nie met Hom spot nie! God is niemand se speelmaat nie! Dit moes die hoogmoedige Herodes op die harde manier uitvind toe God wurms gestuur het om hom te verteer, (Handelinge 12:23) Deur die eeue het God, al is Hy meestal lankmoedig en stel Hy sy oordele uit tot die laaste dag, sy vyande laat voel wat die koste is om met Hom te spot en uit te tart. Dink maar aan die Farao van Egipte se wedervaringe van bloed, paddas... tot by die dood van sy eersgeborene! God kan enige middel of agent gebruik om sy oordele uit te voer. Dit moes die volk Israel op die harde manier leer toe Hy 'n verskeidenheid van heidense nasies aangewend het om hulle te straf vir hulle goddeloosheid. En dit bring my by die punt wat ek wil maak: God kan ook wrede radikale Islamitiese terroriste gebruik om 'n uittartende en goddelose Weste te straf wat Hom bespot en uitdaag. Die Bybel is vol van God se oordele or nasies en volke; die dekadente Westerse beskawing moenie dink ons is immuun daarteen nie!

Klink dit vreemd, hard... wel, ons lees dalk die Bybel te selektief.*


[Hierdie joernaliste het gesterf, waaronder Stephane Charbonnier (tweede van regs), die redakteur. Hulle word as helde besing oor die wêreld heen, maar ek betwyfel dit sterk. Hulle is beslis nie in dieselfde liga as iemand soos die omstrede Geert Wilders van Nederland wat waarsku teen die Islamisering van Europa nie. Daarmee het ek nie 'n probleem nie. Ek het 'n probleem met 'n werkswyse van lastering en vulgariteit en die openlike spot met God.]


(Short summary in English, click CHARLIE)

*God se skrikwekkende oordele oor sy vyande word in besondere detail in die Skrif uitgespel... mens dink sommer vinnig aan boeke soos Nahum en Openbaring...

19 opmerkings:

  1. Johannes, baie dankie vir die insiggewende perspektief in hierdie plasing! Laat ons almal inderdaad die waarskuwing van Ex. 20: 7 onthou: "Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydelik gebruik nie, want die HERE sal die een wat sy Naam ydelik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.". Die goddelose Babeloniesie koning Belsasar moes ook die prys betaal vir sy oneerbiedige hantering van die enige ware God (Dan. 5).

    Laat ons die HERE in sy grootheid en heerlikheid eer! Laat ons lewens waarlik van eerbied en ontsag vir die enige, ware en drie-enige God getuig! Lees gerus biddend Ps. 68 in die 1953 Afrikaanse Vertaling.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Hector, ek dink ons het heeltemal vergeet met Wie het ons te doen...

      Vee uit
  2. Thank you Johannes ! Exactly my thoughts on the matter ..

    AntwoordVee uit
  3. So jy sê die aanval moet veroordeel word, maar terselfdertyd was dit God se wil.
    Ons moet dus iets wat God wou hê, veroordeel.

    Maar eintlik is die paragraaf oor veroordeel bloot 'n klein vrywaring bo-aan 'n artikel wat eitnlik die aanval steun.

    Hoe beland mens in so 'n moeras van teenstrydighede en simpatie met boosheid?

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Alleman (waarom is jy bang vir jou naam?) dat jy my die geleentheid gee om myself duideliker uit te druk!

      1. Ek veroordeel alle terrorisme ondubbelsinnig... dis tog seker duidelik genoeg gestel?

      2. Ek suggereer wel, (en laat ek dit nou duideliker sê) dat in die stryd teen die Islamisering van Europa, hierdie joernaliste roekeloos en dwaas opgetree het om Moslems onnodig uit te tart! Hulle jaag net gematigde wetsgehoorsame Moslems in die hande van radikale. In hierdie sin het hulle 'n lat vir hulleself gepluk.

      3. My groot punt was dat God ook afskuwelike dade (dink aan die verwoesting van Jerusalem) gepleeg deur heidene (dink aan die soldate van Babel) kan gebruik om goddelose dade hier op aarde (selfs van sy eie volk) te straf! Ons kan tog nie opsigself die dade van die wrede Babiloniese soldate wat gemoor, geplunder en verkrag het as sodanig goed praat nie, maar ons kan ook nie ontken dat hulle werktuie in God se hand van oordeel was nie? Die oordeel wat vooraf deur die profete aangekondig is...

      Ek hoop dis nou bietjie duideliker. Ek is dus nie in simpatie met enige boosheid nie, nie die boosheid van terroriste nie, maar ook nie die boosheid van lasteraars wat met die lewende God spot nie!

      Vriendelike groete en dankie vir jou bydra tot die debat.
      Johannes

      Vee uit
    2. Basies word hier gesê dat die Islamiste die Christene se vuilwerk doen, eintlik meer nog: Dat die Islamiste God se vuilwerk doen, m.a.w. vir God vermoor. Dit is 'n baie interesante idee en regverdig die Jihad.
      As Geert Wilders vermoor word is dit die Duiwel en as Stephane Charbonnier vermoor word is dit God. Iemand wat so praat: "Hulle is beslis nie in dieselfde liga as iemand soos die omstrede Geert Wilders..." is iemand wat oordeel, hy weet wie God wil dood hê en wie nie. Dis verskriklik.

      Vee uit
    3. Basies word hier gesê dat die Islamiste die Christene se vuilwerk doen, eintlik meer nog: Dat die Islamiste God se vuilwerk doen, m.a.w. vir God vermoor. Dit is 'n baie interesante idee en regverdig die Jihad.
      As Geert Wilders vermoor word is dit die Duiwel en as Stephane Charbonnier vermoor word is dit God. Iemand wat so praat: "Hulle is beslis nie in dieselfde liga as iemand soos die omstrede Geert Wilders..." is iemand wat oordeel, hy weet wie God wil dood hê en wie nie. Dis verskriklik.

      Vee uit
    4. Dankie my vriend van Duitsland, jy laat my altyd weer 'n slag dink...
      Hoe jy regverdiging van Jihad voor my deur kan probeer lê gaan my verstand te bowe! Ek veroordeel alle geweld. En veral Christene moet nooit die swaard gebruik om God se koninkryk te bevorder nie....

      Doen Islamiete God se vuilwerk soos jy dit noem? Wel God kon Babiloniese en Assiriese soldate gebruik om sy volk te straf... dis egter nooit "vuilwerk" nie, dis God se regverdige oordele oor goddelose mense! Moenie dinge deurmekaar klits nie, ons het NOOIT die reg om wraak te neem nie, maar as God heidene wil gebruik om goddeloosheid te straf... wie is ek om te sê Hy mag dit nie doen nie?

      Die onderskeid tussen CHARLIE se joernaliste en iemand soos Geert Wilders het ek bloot maar net genoem om aan te toon dat ek nie teen die kritisering van Islam as sodanig is nie - ek is nie vasgevang in "politieke korrektheid" nie. My probleem is nie CHARLIE se kritiek teen Islam nie, (alhoewel hulle dit op 'n dom manier gedoen het) maar hulle uiterste vulgêre lastering van die Heilige Drie-enige God.

      Ek hoop jy verstaan my nou bietjie beter!
      groetnis
      Johannes

      Vee uit
  4. Johannes ,Ja God kan seker ook wrede radikale Islamitiese terroriste gebruik om 'n uittartende en goddelose Weste te straf wat Hom bespot en uitdaag, maar ek betwyfel dit dat God op hierdie manier werk. Die terroriste het ook twee polisie manne dood geskiet, wat moontlik bekeerde Christene kon gewees het. Ek voel eerder hierdie is die werk van die duiwel, want hy is ʼn moordenaar. My vraag is hoekom gebruik die Vader dan nie ook ander mense om die terroriste of ander Godloënaars en mense wat Hom bespot te vermoor nie, daar is baie van hulle. Ons eie president sê gister weer dat die ANC sal regeer tot Jesus kom, want hulle (die ANC) help die kinders van God, is dit nie ook maar spot met God nie.
    Groete
    Boeta

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Boeta vir jou opinie. Dit gaan nie hier oor 'n afsonderlike beoordeling van elke persoon wat in hierdie tragiese voorval dood is nie. Die punt is maar net dat God dwarsdeur die geskiedenis goddeloses gebruik het as instrumente van oordeel. Toe God die vyande van Israel gebruik get om Jerusalem te verwoes, was daar beslis ook baie "onskuldiges" soos klein kindertjies wat vermoor is. Ons westerse denke van reg en verkeerd, skuldig en onskuldig strook nie altyd met God se manier van dink nie. Onthou jy nog die hele familie van Agan is uitgewis omdat Agan die bangoed gesteel het?

      Islamitiese terroriste is in die mag van die bose, ongetwyfeld, maar dit verander niks aan die saak dat God die mag het om hulle te gebruik nie.
      Ek dink net as Christen moet ek verder kyk as die blote terroriste, na God se hand wat agter die geskiedenis, ook die tragedies van die geskiedenis figureer...
      Stem saam met jou, party van die ANC se uitsprake klink ook vir my lasterlik...

      groete
      Johannes

      Vee uit
  5. Ek beskou die Charlie-manne nie as martelaars nie. Hulle het die vryheid van spraak misbruik deur mense se gevoelens te kwets en God mateloos te laster. Hulle was net so deel van die probleem as hulle moordenaars. Hulle bv. kan nie in dieselfde asem genoem word as die meisies van Nigerie, of die soldaat van Ottawa, of die 3000 in die WTC, of die Groenewalds van Afghanistan nie. Hulle het moeilikheid gesoek en dit ongelukkig gekry. Ek sal hulle eerder vergelyk met iemand wat op 'n kabel oor die Niagara Valle probeer loop sonder 'n net! Moenie huil as jy val nie. As jy fanatici wil spot en hulle god wil beledig, en dink jy kan vir altyd skotvry daarvan af kom, is jy 'n dwaas. Dre Franse Republiek is darem nog nie die ateistiese se hemel nie! Miskien is dit tyd vir die Franse om hulle grootste seun van alle tye - Jean Cauvin - 'n slag die kans te gee om tot hulle siel te spreek. Groete uit 'n bitter koue Kanada.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ek is dit met jou hartlik eens! Jy slaan die spyker op die kop! As jy kort-kort die leeu se snorbaard trek... Dis net jammer dat die polisie sulke moeilikheidmakers moet beskerm en nou met hulle lewens daarvoor geboet het.

      Vee uit
  6. Goeie dag Ds.

    Om die begruik van skuilname te bevraagteken kan slegs gedoen word wanneer daar bepaal is dat die skuilnaam gebruik word om iemand op sy persoon aan te vat, of wanneer daar duidelik 'n ander agenda bevorder word in stede daarvan om te reageer op die onderwerp alleenlik.

    Die gebruik van skuilname om opinies te lig kom van ten minste die tyd van die eerste koerant, maar was ook (in beginsel) in die Bybel gebruik - Dawid was anoniem deur Natan aangekla oor sy moord vir "lust" sodat hy objektief na die feite kon kyk om dan objektief te oordeel.

    Ek glo daar is drie motiverings vir die gebruik van 'n skuilnaam. Een is om nie jou naam te gebruik as jou outoriteit vir die mening gelig (objektief en logies) nie, want dit sou foutiewe logika wees om te beroep op eie outoriteit. Gewoontlik sou gepaste kommentare wat hiermee verband hou 'n unieke en of potensieel verdelende en of selfveroordelende insig wees. Dus, hierdie gebruik kan die besoedeling van die argument verminder deur onnodige ander spesifieke kennis uit die argument te hou van die begin af. Om die persoon se naam te ken sou die waarde van die bydra besoedel.

    'n Ander (tweede) motivering sou wees om kommentaar te lewer in 'n poging om die objektiewe te stel sonder om te probeer om 'n CV op te bou. Die mening sou geldig wees as enkeling of die massa - want objektiwiteit leef buite individue en massas, dit is ook deur God geskep om 'n maatstaf te wees waarteen ons dit wat ons dink ons weet te kan meet. Om dus vir hierdie doel 'n skuilnaam te gebruik is om te ewe met die gebruik van 'n eie naam - dit maak nie saak wat jou naam is nie, die mening is objektief en logies.

    Die enigste (3 de) motivering vir die gebruik van 'n skuilnaam is om enige vorm van aanval te maak op die persoon en nie die onderwerp aan te spreek nie - ad hominem. Hierdie soort behoort geen reaksie behalwe verwerping te ontvang nie.

    Dit bly dus 'n heel aanvaarbare gebruik indien 'n skuilnaam behoorlik gebruik te word. Vir enige ander doel veroordeel die mening onder die skuilnaam dit self. En as daar 'n uitnodiging is om van skuilname gebruik te maak, behoort dit nie bevraagteken te word nie.

    Nou, hopelik logiese en objektiewe, kommentaar oor hierdie siening.

    My aanvanklike reaksie op die aanval was "Duidelik die werk van die Jihad wat geen opinie behalwe sy eie sal aanvaar nie, en dan ten alle koste sy eie opinie afdwing met 'n pistool teen die kop, sodat met aanvaarding van die afgedwonge opinie, die sneller getrek kan word." "Sending werk" met geen afvalliges.

    Toe ek verneem dit is dieselfde bende wat nie net die verdraaier van waarheid bespot het nie, maar ook allerhande lasterlike dinge gedoen het teen alle gelowe, spesifiek teen die drie-enige God, was my reaksie "Dit was hul verdiende loon.". Onmiddelik het ek berou gekry om my eie oordeel uit te spreek. Die oordeel is nie myne nie. Hierdie is natuurlik nie dieselfde as om te se dit God se wil was nie, maar dit raak tog aan die oordeel wat hierdie kant van die dood uit gedeel word.

    Dit is blykbaar 'n aanvaarde beginsel dat 'n mens van nature regverdigheid vra, na aanleiding van die wet wat op ons harte geskryf is. Maar hoe onderskei ons wat oordeel is en wat nie is nie? Een van die grondbeginsels is dat almal eendag uit die dode sal opstaan, geoordeel gaan word, party vir die tweede dood en ander vir die ewige lewe.

    Nou is die vraag of daar "double jeopardy" is met God? Ons weet Sodom en Gamorra was op aarde tot uitwissing geoordeel (en dat hulle 'n maliker dag in die finale oordeel sal he as die wat Christus vewerp) , die mensdom met die vloed (vele meer voor Christus) en die man aan die regterkant van Christus aan die kruis is tot die ewige lewe verlos.

    Vervolg...

    AntwoordVee uit
  7. Wat hierdie oordele betref, wil dit voorkom asof God hierdie oordele nooit sonder waarskuwing gedoen het nie. Dit wil voorkom asof alle oordeel voor Christus deur profesie vooraf gegaan was. Dit wil verder voorkom asof God's wil geopenbaar was alvorens euwel vir goed gebruik was, net sodat mense verwar moes wees oor God se wil en die sonde van die mense nie. God het ook te kenne gegee, deur profesie, dat sy volk eers uit Egipte sal kom eers wanneer die Edomiete (was dit hulle?) hulle volle vlak van goddeloosheid bereik het. Dit wil dus lyk asof die heidene aan hulle eie vergrype bloot gestel was - dus eie wil - voordat hulle hierdie kant van die dood veroordeel was.

    In Christus se tyd as mens was daar baie wonderwerke gedoen en verdoemenis uitgespreek. Die eindtyd is ook baie duidelik opgeteken, maar gereformeerde Christene bely dat die Bybel die totale en enigste openbaring van God is en dat Hy nie meer tot ons spreek soos in die tyd van die Bybel nie.

    Gereformeerde Christene bely ook dat alles die wil van God is, maar dat God nie die outeur van euwels is nie, en dat God euwel vir goed gebruik. Dit in dit self blyk 'n teenstrydigheid te wees, dieselfde teenstrydigheid tussen die vryheid van die mens en die wil van God. Sommige se dit is nie 'n verlossings beginsel nie en daarom 'n rand eier. Tog wil dit lyk asof die van ons wat nie die gawe van onderskeiding het nie, 'n dag tot dag struweling daarmee het. Was dit my sonde of was dit die wil van God?

    Die aanval op die godslasterlike bende was nie vooraf gegaan met profesie nie, en dus is dit moeilik om dit duidelik tot oordeel toe te reken.

    Lank terug het Mnr Rushdie se dade die houding van hierdie bendes van verradelikes duidelik na vore laat kom vir die moderne mens - ons aanvaar geen opinie anders as die moeslem opinie nie. En ek stem saam dat Charlie Hebdo, soos kinders, dit as 'n uitdaging gesien het om die moeslem opinie te tart, en dat hulle vulgeriteit verskuil het agter "vryheid van spraak". Persoonlik dink ek "vryheid van spraak" het slegs betekenis in die konteks van die Bybel se bedoeling van "vryheid van spraak" het.

    Ander spotprente in Denemarke het ook die moeslem benadering tot 'n probleem duidelik gemaak. Daarom is dit duidelik dat 'n aanval op Charlie Hebdo slegs 'n kwessie van tyd sou wees. 'n Profesie duidelik aan ongelowiges sowel as gelowiges, maar vanuit logika.

    Wat opvallend was is dat die redakteur se vrou (sonder veel ooglopende emosie) op Franse TV spesifiek Charlie as 'n vaandel vir sekularisme beskou en dat Charlie onder hierdie vaandel die saak bedryf het. Sekulere humanisme is ook 'n geloof - soos wat ateisme 'n geloof is - en dus het die moeslem teen die geloof wat deur die Franse Rewolusie gevestig was, oorlog gemaak.

    Wat onheilspellend is, is dat die Weste nou hierdie oorlog as 'n oorlog teen "vryheid van spraak" en joernalistiek noem. Charlie Hbdo was (of is) nie joernaliste nie, maar wel onverskillige provakateurs met 'n onheilige doel. Dit laat 'n mens dink dat dade gevolge het, ongeag wat ons opinie daaroor is.

    Wat verder baie kwel is dat alby die hoof narre in die storie aan Franse veiligheid bekend was en al veroordeel was vir terrorisme, wat dan die "lone wolf" nonsens weerspreek. Maar nog erger is die vraag hoe 'n bekende terroris so maklik 'n AK aan die hande kan kry in 'n land waar wapenwette baie streng is.

    Hierdie saak gaan, net soos 9/11, as verskoning gebruik word om ander mense (nie die oortreders) se lewens onherroeplik te verander onder die vaandel van reg en regverdigheid. Ons dink hier spesifiek aan hoe 9/11 oa ontaard het in "die soek na wapens van massa vernietiging" wat toe later duidelik blyk nooit waar was nie.

    Baie Amerikaners is baie gelukkig dat hulle land die rol speel van "judge, jury and executioner" op die wereldfront. Sommige dink selfs dat hulle hierdie rol ontvang het van God.

    Vervolg ...

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Baie dankie vir jou kommentaar. Ek wil net een aspek uitlig om op te reageer. Jy sê : "Hierdie saak gaan, net soos 9/11, as verskoning gebruik word om ander mense (nie die oortreders) se lewens onherroeplik te verander onder die vaandel van reg en regverdigheid." Ek dink hier raak jy 'n belangrike aspek aan - ek voorsien dat "die gevare van fundamentalistiese Islam" nog as dekmantel gebruik gaan word om sogenaamde "fundamentalistiese Christene" dws Christene wat vanuit 'n Bybelse lewensbeskouing kritiek lewer op die Westerse permissiewe samelewing te kritiseer en te verdruk. Bybelgetroue Christene sal al meer as "onverdraagsaam" getipeer word en saam met radikale Moslems oor dieselfde kam geskeer word! Wat die uiteinde daarvan gaan wees, kan mens maar net probeer raai...

      Vee uit
  8. Ons kan maar net bid van die enigste God, Skepper van hemele en aarde, dat hierdie politieke vuilspel nie die gelowige laat twyfel nie. Om te bid dat daar wereld vrede sal wees blyk teenstrydig te wees met die openbaring in die Bybel, want die duiwel is listig aan die werk en tussen dit alles deur moet die gelowige kop bo water hou en aan die geloof vas knel soos nooit te vore nie.

    Christus het nie maanskyn en rose voorspel vir die wat Sy Naam aanroep nie, in teendeel, Hy het onderdrukking van alle aard voorspel. Die enigste redding vir 'n gelowige is die aanvaarding van die gawe van geloof aan hierdie kant van die dood. Die verlies of verwerping van die gawe ly tot ewige verdoemenis - DUS, die geloof is die enigste waardevolle "iets" aan hierdie kant van die dood.

    Ons kan maar net bid dat geen verdrukking, of iets anders, hierdie geloof sal skaad nie.

    AntwoordVee uit
  9. "Jésus est le JE SUIS" - Pieter Niemann
    Jesus is "EK IS".

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.