BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 17 Oktober 2014

IS JESUS “COOL”?

- Nee, as Beeld van God is Hy ontsagwekkend heilig anders en pas glad nie in by die sondige mens se misplaaste verwagtings nie! 


By geleentheid het die mense van Nasaret vir ‘n kort rukkie gedink “Jesus is cool”, maar spoedig daarna het Hy hulle so kwaad gemaak dat hulle Hom van ‘n krans wou afsmyt. Toe Hy hulle onverdund die waarheid rondom God se soewereine genade vertel, wou hulle Hom vermoor! Lees gerus die gebeure in Lukas 4:14-32.

God is anders as die mens. Juis omdat HY GOD IS! Hy is volmaak liefdevol, maar terselfdertyd heilig en regverdig. Jesus is die sigbare bekendmaking van God se karakter en Hy is vol genade* én waarheid! (Johannes 1:14) God pas nie by ons idee van ‘n bloot sentimentele liefde sonder enige norme en beginsels nie! Die heerlikheid van Jesus Christus lê onder andere daarin dat Hy altyd uit pas is met die wêreld, maar juis daarom altyd relevant vir die wêreld is. “Uit pas” – beslis nie “cool” nie! As Hy netjies ingepas het sou Hy van min waarde gewees het. Mense probeer mos Jesus mak maak om by hulle eie sondige begeertes te pas... Die rugbymalles wil graag hê Jesus moet help dat hulle span wen, die politici eis Jesus op vir hulle siening en doelwitte (Dis hoekom selfs Malema die vals profeet TB Joshua gaan besoek het), die geldgieriges glo Jesus gaan hulle help om geld te maak... Ongetroudes wat saambly en vroom vertel hoe hulle elke aand saam hande vashou en bid voor hulle in die bed spring, probeer Jesus inspan vir hulle sondige begeertes... Daar is net geen perke aan die boosheid waarvoor mense hulle selfgemaakte “Jesus” wil aanwend nie... ‘n Jong dame het al selfs beweer dat Hy haar gelei het om ‘n skoonheidskompetisie te wen! Watter belaglike snert! Sal Jesus wat so sterk gewaarsku het teen wellus met die oë, ‘n jong meisie aanmoedig om met haar skrapse uitrustings haarself as ‘n objek van wellus op verhoë uit te stal? (Kliek op SKOONHEIDSKOMPETISIES)

Waarvoor wil jý dalk Jesus misbruik?

Daar is ‘n “harde kant” van Jesus se liefde wat veral vir ons sentimentele westerse mense aanstootlik is. Almal sê vandag : “Jesus is cool”, maar dink mooi, mense wat dunvellig is sou seergemaak gevoel het deur Jesus se snydende tong. Sy woorde was dikwels amper gewelddadig. Natuurlik was dit nie die enigste manier waarop Hy gepraat het nie. Ons het reeds gekyk na die rykdom van sy barmhartigheid, na sy geduld en vriendelikheid en vergifnis. Sy liefde is oneindig eg en buitengewoon groot. Juis daarom dat sy harde woorde nie sommer afgemaak kan word as onbeheerste norsheid of woede uitbarstings nie. Wat ons in die bytende taal van Jesus kry is ’n vorm van liefde wat juis gepas is in die wêreld van korrupsie, dooie harte en rebellie teen God. (Nasaret se mense moes tot hulle ontsteltenis hoor dat God se genade nie inpas by hulle eie volksvoorkeure nie! Hulle kon dit nie sluk toe Jesus hulle herinner dat God gekies het om ‘n heidense weduwee en ‘n heidense generaal uit te kies vir sy guns bo baie Israeliete nie!) 

Jesus se harde woorde van waarskuwing maak juis sin en is juis nodig in ‘n wêreld wat op pad is na ‘n skrikwekkende oordeel en ‘n ewige hel! Kom ons luister na die skokkende hardheid van Jesus se genade. Dit het mense in sy eie tyd verwonderd laat staan. Selfs sy vyande het erken dat hy nie bekommerd was oor andere se goedkeuring nie. “Hulle vra Hom toe: "Meneer, ons weet dat u in u prediking en onderrig regsinnig is. U let nie op die aansien van persone nie. U is getrou aan die waarheid, en so maak u die wil van God bekend.” (Lukas 20:21) Jesus was nooit ‘n people’s pleaser nie! 

Toe Jesus sy openbare optrede in die sinagoge in Nasaret begin het, het almal aanvanklik goed van Hom gepraat (22), maar toe Hy eers onverskrokke teen die grein van hulle selfgesentreerde verwagtings ingaan (24-27), was daardie selfde mense “woedend” (28) en het probeer om permanent van Hom ontslae te raak. Jesus pas by niemand se kortsigtige sondige selfsugtige verwagtings in nie – daarom raak baie mense net vir ‘n tydjie opgewonde oor Hom, maar as Hy op ons tone trap draai ons teen Hom. Soos die skare wat eers Hosanna skreeu, maar nie lank daarna nie : “Kruisig Hom” 

Die heerlikheid wat Jesus van God vertoon is ook vol waarheid, daarom draai Hy nie doekies om die skokkende toestand van die sondige mens te beskryf nie. Toe mense Hom vra vir ’n teken was sy reaksie : “ ’n Slegte en afvallige geslag wil ’n teken hê” (Matteus 16:4) Toe sy eie dissipels nie ’n demoon kon uitdryf nie, trap Hy hulle uit met : “Ongelowige geslag, hoe lank moet ek nog by julle wees?” (Markus 9:19) Sy reguit taal moes mense van woede laat stik het!  “Julle is soos wit geverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerhede is.” Vir verbondsmense : “Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen.” (Johannes 8:44) En selfs toe Jesus se eie toegewyde dissipel Petrus heldhaftig geprotesteer het teen Jesus se lydensweg, het Jesus hom streng bestraf : “Moenie in my pad staan nie Satan!....” (Matteus 16:23) Jesus as beeld van God, die God van waarheid, sluit ook die waarheid van die oordeel en die hel in. Hieroor was Jesus uitgesproke eerlik. Niemand in die Nuwe Testament het meer oor die hel gepraat as Hy nie. Maar dis juis genade en opregte liefde wat Hom daartoe gebring het. Jesus geen kwesbare gevoelens gespaar om mense teen die hel te waarsku nie. (Matteus 8:12; 13:49-50; 22:13;25:30 en Markus 9:43,48) In die lig hiervan verduidelik Jesus met skrikwekkende logika dat blote aardse gevare - soos om doodgemaak te word - niks in vergelyking is met die bedreiging van die hel nie. “Aan julle My vriende, sê Ek : Moenie bang wees vir die wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie. Ek sal vir julle sê vir wie julle moet bang wees : vir Hom wat mag het om, na die dood, in die hel te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hom moet julle vrees.” (Lukas 12:4-5)

Glo jy in God? Glo jy in Jesus as die een wat God kom openbaar het? Dan moet ons die volle waarheid glo. Met eerlikheid wys Jesus ons die weg na die hemelse heerlikheid, of mense daarvan hou of nie! Rym hierdie waarhede met die GOD VAN LIEFDE? Ja! As dit dalk vir jou nie klink na die Prins van Vrede nie, onthou net, sy doel is nie vrede met ONGELOOF en SONDE nie. Dis vyande wat vernietig moet word, anders vernietig hulle ons. Daarom noem Jesus ons probleme by die naam en roep mense op tot bekering! Hy spel die konsekwensies ondubbelsinnig uit as ons ons nie bekeer nie.

Wie kan hierdie reguit boodskap vat? Wie kan na hierdie dinge luister? Wie kan dit verstaan? Die mens kom van nature in opstand teen hierdie feite! Jy kan die waarheid van God net aanvaar as Hy dit self aan jou openbaar! “By daardie selfde geleentheid het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel: "Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.” (Lukas 10:21) Die nederiges, die leerbares, die gebrokenes, die onderdaniges, die eenvoudiges - hulle sal die stem van krag en waarheid en geregtigheid en liefde hoor in die woorde van Jesus. As God my hart verander sal ek nie aanstoot neem aan Jesus se woorde nie. Ek sal juis moed skep uit die feit dat daar ten minste Iemand is wat die erns van die menslike toestand raaksien, die vyand ken, nie kompromie maak nie en praat soos ’n oorwinnende Koning en ’n groot Verlosser. HY wil ook jou Verlosser wees sodat jy Hom kan aanbid en bewonder!

GOD IS ONTSAGWEKKEND HEILIG ANDERS, JUIS DAAROM IS HY ONS EWIGE AANBIDDING WAARDIG!

(met erkenning aan John Piper se “Seeing and Savoring Jesus Christ”)



[Juis omdat God so heerlik heilig anders is, kan Hy van menslike wrakke "kunswerke" maak tot Sy eer!]

*Lees meer oor die RYKDOM VAN SY GENADE. Kliek op GOUD, DIAMANTE...


10 opmerkings:

  1. Ek dink Jesus is cool. Maar ek verstaan waarskynlik iets anders onder cool as jy.
    Om sleg te praat van ander pastore dink ek is gladnie cool nie.

    AntwoordVee uit
  2. Met "cool" bedoel ek natuurlik duidelik die beskouing dat Jesus gerieflik inpas by die sondige mens se skewe verwagtings oor wie Hy moet wees! In hierdie opsig is Hy beslis nie "cool" nie, want Hy is te eerlik oor ons sonde, juis omdat Hy ons liefhet en daarvan wil verlos!

    AntwoordVee uit
  3. "Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters 'n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun. Ek weet dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie. Ja, uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei." (handelinge 20:28-30) Paulus noem "ander pastore" hier - "wolwe" - soms is dit waar van pastore, en dan moet dit maar gesê word.

    AntwoordVee uit
  4. Dankie Frans, ek stem saam. Soms is dit wel nodig om dwaalleraars by name te ontmasker - Paulus doen dit immers ook. Natuurlik moet ons hier baie versigtig trap en seker maak dat ons motiewe nie persoonlik is nie, maar dat dit regtig gaan oor 'n liefde vir die waarheid. En beslis moet ons nooit verval in 'n negatiewe gesindheid van bloot foute uitwys nie, die positiewe verkondiging van die blye evangelie moet altyd voorop staan!

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Hiermee moet ek beslis ook met jou saamstem, en in nederigheid by jou leer. Dankie Johannes

      Vee uit
  5. Ek stem saam met Afrikaansinleipzig dat ons nie net vir TB Joshua as n valse profeet kan brandmerk nie. Ek was nog nie by TBJ in Nigerie nie, maar ek het al heelwat getuienisse van mense gehoor wat daar was. Ds. Jannie Pelser het een Sondagaand oor RSG getuig dat hy saam met van sy gemeentelede daar was en dit wat hy daar gesien en gehoor het getuig van die waarheid. Ek het ʼn getuienis van twee ds. van Belville gehoor wat ook daar was en hulle kon nie uitgepraat raak oor dit wat daar gebeur nie. Ek self het al na ʼn video gekyk wat verstommend was.
    Toe Johannes in Mark 9:35-38 by Jesus kla oor iemand wat duiwels uitdryf wat was Jesus se antwoord.
    Mar 9:38 Toe antwoord Johannes Hom en sê: Meester, ons het iemand gesien wat in u Naam duiwels uitdryf en wat ons nie volg nie; en ons het hom belet, omdat hy ons nie volg nie.
    Mar 9:39 Maar Jesus sê: Moet hom nie belet nie, want daar is niemand wat ‘n krag in my Naam sal doen en gou van My sal kan kwaadspreek nie;
    Mar 9:40 want wie nie teen ons is nie, is vir ons.

    Toe Jesus self duiwels uitgedryf het is Hy beskuldig dat hy dit in beëlsebul se naam uitdryf.
    Ek dink nie ons kan TB Joshua net afskiet as ʼn vals profeet nie.
    Seën
    Boeta

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Boeta, doen gerus bietjie leeswerk o,a, by http://www.conradmbewe.com/2012/05/prophet-tb-joshua-does-it-again.html
      http://www.discerningtheworld.com/2014/10/13/who-is-more-prone-to-false-teaching-a-black-or-a-white-man/
      https://www.zambianwatchdog.com/t-b-joshua-is-a-liar/comment-page-1/

      (Conrad Mbewe is een van die kragtigste predikers in Afrika en 'n suiwer man van die Woord)

      Vee uit
  6. Johannes ek het van Conrad Mbewe baie gelees en maar net weer besef dat alles wat nie Calvinisties is nie sektes genoem word. In sy geval nog erger witchcraft. Ek sien Conrad Mbewe kla oor die charismate en die feit dat hulle duiwels uitdryf en vergelyk hulle met witch doctors Jesus het self die voorbeeld gestel van hoe ʼn diens moet lyk nl. Hy het hulle geleer, Hy het vir hulle gepreek en alle siektes genees. Teaching, Preaching and Healing. Mat_4:23 En Jesus het deur die hele Galiléa rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees.
    Wat my nog verder pla is dat hy Reinhard Bonnke hierby intrek, terwyl Reinhard se preke miljoene mense tot die Here bekeer het.
    Ek heg n brief aan, wat deur ʼn (soos hy homself noem) “a reformed Evangelist” geskryf is.
    Marvin Torgeson As a reformed Evangelist, I find it incredible that the problem is labeled a 'charistmatic problem'. The problem is that these people will need sound discipleship and good biblical instruction. If there is syncretism (which there always is) in any Christian group, its due to that mindset being worked out of the Africans. But, remember that when you pack in your westernized (we dont do gifts, miracles or healings mindset) you are not packing in a biblical message either. In fact you are copying the ungodly and false teachers that have a form of godliness but deny its power. The kingdom of God is not in word but in power. Some of this smells of just plain jealousy. The Pentecostal/Charismatic evangelists have gone out and God has done powerful works to bring men to himself. But, some reformed though they have purer doctrine do not fund their evangelists, do not even put much stock in large crusades or even promote miracles and healings that God will do. Tell me, which one will you attend if you were sick, afflicted and tormented? A gospel ministry that resembles the new testament or one that resembles the old cessationist (we don't want to look disorderly) church. Ill tell you which one; its the one with power to help me recover from the sin and wickedness that world has afflicted me with. The real gospel has power to convict of sin and heal of disease.
    If the reformed would believe as much of the bible as the Charismatics do, they would not be complaining about the Charismatics being the problem, they would see that the old worldly mindset is the problem. In the USA we are so accustom to the western mindset that our syncretism goes un noticed and is just part of what it means to be Christian in America. I am reformed and its not false teaching to believe God to heal and deliver from demons, afflictions, sicknesses and mental trauma. Its false teaching to resist the powerful working of the Spirit, its wrong and false to say that its the Charismatic gift-mindedness that is aiding their syncretism. Nonsense, its the fact that they must learn to discern and remove the false and keep the good. Remember test all things hold fast to that which is good. Despise not prophesying. Step up to the plate Reformed preachers and Reformed Evangelists and believe God, spend you money where your mouth is,imitate the new testament book of Acts instead of push it away with the falsehoods of cessationism. If the reformed can come to the African with more than just westernized versions of Christianity-caged-in-powerlessness the African would listen. But until then we should pray for the Charismatic because they are doing what the Reformed will not do and will not believe God to do. We are the ones that should be trained by them. We have little converts, they have millions.
    Call them false if you want, but you know as well as I do its presumption and an insult against God. If you believe God is sovereign then you should trust he knows how to work with his Charismatic believers.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Boeta ek hoor jou mooi. Net 'n paar opmerkings:
      Ek gaan nie Mbewe verdedig nie en stem ook nie noodwendig als met hom saam nie, ek het na hom verwys tov een spesifieke saak.
      Ekself is nie 'n "cessationist" nie en glo dat die gawes vandag nog funksioneer soos dit die Gees behaag om dit te skenk.
      Aan die anderkant is die wilde uitsprake van charismate oor die talle wonders en bekerings (en opgewekte dooies) erg onder verdenking. Waar is al daardie miljoene bekeerlinge? Ek bly self in Afrka, en werk ook onder mense van Afrika (was vanmiddag weer op Tsintsabis onder die Boesmans), ek vertel jou die geestelike herlewing waarvan charismate graag praat bestaan nie! As daar regtig soveel miljoene bekeer het, waarom so min verandering in moraliteit, waarom versprei Vigs so vinnig, waarom soveel geweld en korrupsie ens?
      Dis baie beslis onwaar dat Calviniste alle ander christelike groeperings as sektes beskou. (Natuurlik is daar in alle groepe, dwepers en heethoofde) Ek doen dit nie, en die Calviniste wat ek ken doen dit ook nie... Whitefield (Calvinis) se respek vir Wesley (Armeniaan) is 'n handboek voorbeeld.

      Hierdie post gaan egter nie oor die Calvinisme/Charismatiese debat nie en ek sluit dit dus nou af. groetnis

      Vee uit
  7. More Johannes
    Jammer dat ek nie my naam bygesit het nie, ek is nie n anonymous skrywer nie vergeet partykeer net so n bietjie.
    Ek het egter nooit probeer om n debat oor Calvinisme/Charismatiese te voer nie, maar ek het dit genoem omdat die woord Calvinis gereeld opgekom het. Jammer daarvoor.
    Ek wil tog met jou verskil oor die miljoene wat in Afrika tot bekering kom. Se byvoorbeeld daar het tien miljoen Afrikane oor tien jaar tot bekering gekom is dit n druppel in die emmer as jy dit vergelyk met die 1,1 biljoen mense. As jy net Nigerie vat waar 171 miljoen mense is gaan jy selfs daar nie n uitwerking op vigs, moraliteit, korrupsie, ens. sien nie, maar ons kan tog nie se dit was nie ware bekerings nie. Maar as jy na kleiner gedeeltes waar daar ware bekerings was kyk, sien jy wel die verskil. n Vriend van my wat reeds 50 jaar sendingwerk in Afrika doen kan bevestig wat ek nou se. Charles het in Botswana begin. Hy het die Evangelie aan die Boesmans in die okovango moerasse op n Mokoro verkondig en kerke geplant wat vandag nog daar staan en steeds groei en die mense leef werlik soos kinders van die Here. Hy het later na Zambie ook gegaan en kerke daar geplant en so ook verder in Afrika in. Charles het Leraars vir elke kerk wat hy geplant het opgelei en hulle lei dan nou weer Leraars op. God is getrou.
    Ons kan egter nie hierdie bekerings en getalle net afskiet as onwaar omdat ons in n land nie verandering aan moraliteit, ens. sien nie. Vat maar SA 70% plus Christene, maar lyk dit so?
    Groete en Seen
    Boeta

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.