BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 07 Oktober 2014

DIE GOEIE HERDER

- is ook ons troos in die aangesig van die dood.

Dalk is die boodskap van Psalm 23 so oorbekend dat ons dit nie meer raakhoor nie. Miskien kan jy dit opsê, maar die kosbare waarhede hierin het nog nooit joune geword nie. Ek wil jou uitdaag op hierdie hartseer dag, spesifiek ook julle wat baie smart beleef, jy wat baie vrae of twyfel het – kies vir die waarheid van hierdie Psalm in jou eie lewe! Die woord kom immers na ons, ons wat lewe, ons wat nog ‘n kans het, wat nog kan hoor...
[Ons ken die hele Psalm onder die opskrif : "Die Here is my Herder." Dit lyk egter of hier twee aanvullende metafore is naamlik : Die Here as Herder (1-4) en die Here as Gasheer (5-6). Ek gaan vir die doel van hierdie kort oordenking net op eersgenoemde fokus] 

“Die HERE is my Herder; niks sal my ontbreek nie.” Net so ‘n paar opmerkings oor hierdie kragtige uitspraak in vers een :

Dis ingrypend persoonlik. “MY Herder.” Niemand kan dit namens jou sê nie. Dis ‘n kragtige persoonlike geloofsbelydenis. Ja, die HERE was Israel se Herder wat hulle veilig uit Egipte gelei het - 'n algemeen bekende historiese feit, maar Dawid maak dit hier persoonlik van toepassing. Hierdie Here is ook MY Herder! Kan jy dit al sê? Dis ‘n ingrypend persoonlike geloofskeuse met drastiese gevolge vir nou, maar ook vir die ewigheid.

Die Here se sorg, liefde, vertroosting en teenwoordigheid is omvattend en oorvloedig. In alle omstandighede...ja, ook in die verskrikking van die donker skadus van die dood! Soveel so dat ons binne die konteks van sy wyse insig en bedoelings NIKS, ja niks sal kortkom nie. Glo dit asseblief. Glo dit nou! Ons Herder sorg vir ons volle menswees. Ja, Hy ken ons sondenood en behoefte aan vergifnis, maar sy sorg eindig nie by vergifnis nie. Hy verkwik, vertroos en vernuwe, Hy sorg en lei ons, ook in die donkerste tye! Mag julle wat tans so ‘n donker tyd beleef dit proefondervindelik ervaar deur die geloof.

Die hele klem deurgaans in die Psalm is nie op wat die skape (ons) doen nie, maar wat die Herder doen. Ons vind ons vrede, vertroosting, rus en berusting nie in wat ons doen nie, maar in dit wat die Herder doen. Ja, beslis eis die Bybel van ons geloof, bekering, gehoorsaamheid, ‘n KEUSE..., maar die diepste fondasie van ons vrede is dit wat God vir ons doen, deur Jesus Christus. Die klem val nie op my gevoelens, geloof of toewyding nie, maar die heerlike getrouheid van die Herder! Wat ‘n troos in donker tye wanneer die sterkste geloof dreig om te wankel

Die herder motief wat ons op verskeie plekke in die Ou Testament kry (o.a. ook Esegiël 34) vind vervulling in Jesus Christus. In Johannes 10 is dit baie duidelik as Jesus sê : “Ek is die goeie Herder.” Eers as ons besef dat Jesus self die goeie herder is besef ons hoe wyd sy versorging en hoe intens sy liefde is. Want Hy sê ook : “Ek lê my lewe af vir die skape.” (Dit plaas Hom in ‘n klas bo alle ander Herders.) Hierdie versekering gee ons hoop nie net vir nou nie, maar ook vir die ewigheid . Hy het deur sy lewe af te lê aan die kruis my sondestraf gedra. Hy het die volle straf gedra, hy het uitgeroep dis volbring en daarom kan elkeen wat op Hom alleen vertrou weet ek hoef nie die oordeel meer te vrees nie. God hou niks meer teen my nie, want my eie sondes, ja myne is klaar gestraf. Dit kom daarop neer – as ek vanoggend kan sê, Jesus is my persoonlike Herder hoef ek selfs die dood nie meer te vrees nie, want ek het nie meer skuld nie.

Kan jy sê: Jesus is my Herder? Is jy sy skaap? Hoor jy sy stem en volg jy Hom? Hoor die versekering wat die Herder vir sy skape gee : "My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” Nie dood, Satan of hel kan ons uit sy hand gryp nie. Geeneen van ons vyande kan veroorsaak dat ons tot in alle ewigheid iets kortkom of gebrek ly nie!



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.