BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 06 November 2013

DIE GAY AGENDA SE GEBRUIK VAN EMOSIONELE MANUPILASIE

- hoe met die kerk reageer?

[Hieronder is 'n ope brief van Andre Bekker, waarin hy wys op die gevaarlike manupilasie taktiek van die goddelose Gay agenda en ook die kerk uitdaag om waarlik in liefde te reageer teenoor hierdie gebroke mense. Dit behels nie die ontkenning van sonde nie, want liefde wat sonde akkommodeer is eintlik haat.]

‘n Ope Brief aan die Kerkleiers van Suid-Afrika

Geagte Leser,

Ek is van mening dat die kerk se hantering van sake soos egskeiding die weg gebaan het vir die dilemma waarin die kerk hom vandag met homoseksualiteit bevind. Die debat oor homoseksualiteit is van groot belang. Die uitkoms gaan bepaal hoe sondige praktyke soos pedofilie, poliamorie (meervoudige huweliksmaats), bloedskande en bestialiteit in die nabye toekoms hanteer gaan word.
Daar is egter sake rakende die debat wat my bekommerd stem.

Word die bestaan van ‘n gay agenda betwyfel? After the Ball: How America Will Conquer Its Fear and Hatred of Gays sal die twyfel besweer. 

Dr. Judy Meissner skryf:

“After the Ball is an astutely crafted plan of attack against American society by Aberrosexualist ideologues. The Aberrosexualists’ ultimate objective is the silencing of Christians and the sodomizing of society. Can’t believe “The Plan” actually exists? Look around you, then read After the Ball.”

Besorg wil ek Principle 5: Portray homosexuals as victims, not as aggressive challengers, uit After the Ball, voorhou. Ek merk die emosionele manipulasie, wat deur gay aktiviste en hulle ondersteuners toegepas word, om die kerk te laat besin oor sonde. 

Gays word uitgesonder asof hulle ‘n unieke groep is wat slagoffers is en dus spesiaal behandel moet word.

Ek skryf as iemand wat weet wat dit was om aangetrokke te wees tot persone van dieselfde geslag, wie se verhaal van God se genade spreek. Voeg hierby ook die feit dat ek ‘n bevoorregte is om buiten homoseksuele persone, by geleentheid mense help wat ongewenste oriëntasies soos bestialiteit, pedofilie en bloedskande ervaar. Ek het eerstehandse kennis en ondervinding van ‘n wêreld waar mense leef met depressie, vrees, hartseer, verwerping, eensaamheid, skuld, skaamte en emosionele pyn. Sit en gesels ek met die mense, hoor ek hoe moeilik dit is om hierdie oriëntasies te verwerk. Dieselfde emosies geld ook waar homoseksualiteit betrokke is. Daar is een gemene deler in al die genoemde belewenisse van mense: ‘n oriëntasie wat hulle nie gekies het.

Gesels ek met geliefdes van persone wat die ervaringe deurgaan, hoor ek dieselfde hartseer, verwarring, skuld, skaamte en pyn as wat ‘n mens hoor as iemand oor ‘n geliefde gesels wat homoseksualiteit beleef. Mense word emosioneel hierdeur geraak.

As ‘n mens die pyn van ‘n homoseksuele persoon hoor wat nie kan trou en kinders verwek nie, of selfs nie in die bediening mag staan nie, dan hoor mens presies dieselfde wat enige van die ander gemelde geöriënteerdes beleef. Homoseksuele oriëntasie is nie uniek nie.

LIEFDELOOS?

Die mees manipulerende aantyging is dat die kerk liefdeloos optree teenoor gays as hy nie sogenaamde tradisioneel veroordelende of voorwaardelike standpunte laat vaar en ’n nuwe verwelkomende houding inneem nie. Dit is imperatief dat daar verstaan word waaroor die liefdesgebod handel. Mat. 22:37-39 verwoord die gebod soos volg: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Om inhoud aan die gebod te gee moet verstaan word wat Jesus verstaan het toe hy die gebod geopper het. Jesus ego hier Lev 19:17-18 wat lees: Jy mag jou broer in jou hart nie haat nie. Jy moet jou naaste vrymoedig berispe, sodat jy om sy ontwil geen sonde op jou laai nie. Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE.” Hiervolgens is die feit dat ‘n naaste tereggewys word, oor sonde wat hy doen, ‘n daad van naasteliefde. Die teregwysing kan hom van die verderf red, sou hy positief daarop reageer. Verder is die teregwysing ‘n voorsorg dat die persoon wat die teregwysing doen nie homself aan sonde skuldig maak nie. So gesien is die groot boodskap van die evangelie soos weergegee deur die liefdesgebod onder andere dan ook om met sonde te handel. 

‘n Liefdesgebod wat sonde akkommodeer is ‘n “haatgebod.”

Hoe ironies dat voorstanders van homoseksualiteit vinnig is om te meld dat die Bybel nie net op sekere losstaande verse geïnterpreteer moet word nie, maar deur die lens van die liefdesgebod en die kultuurhistoriese agtergrond! Waarom sou ons die tekste oor bestialiteit en bloedskande nie ook deur dieselfde lens interpreteer nie? Hoe vinnig verdwyn die liefdesgebod dan! Is die liefdesgebod nie ook bedoel vir mense wat worstel met pedofilie, bloedskande of bestialiteit nie? ‘n Prominente voorstaander van en kampvegter vir gay verhoudings en/of huwelike in Suid-Afrika skryf:
“Kom ek sit vir jou uiteen wat die verskil is tussen 'n gay verhouding en bestialiteit. ’n Gay verhouding vind plaas tussen twee volwasse mense wat albei daartoe instem. Met bestialiteit en pedofilie het jy klassieke gevalle van uitbuiting van weerloses. Dit slaag beslis nie die toets van die liefdesgebod nie. As twee gay mense 'n verhouding het waarin hulle mekaar respekteer, aan mekaar getrou is en mekaar liefhet, dan bou hulle mekaar op. Hulle vervul mekaar. Hulle help mekaar om vol en gelukkige lewens te ly. Dan leef hulle volgens die liefdesgebod.” 

(Lees die skakels by “verhouding” en daar sal gevind word dat min verhoudings gaan aan die liefdesgebod se definisie voldoen. As die ouderdom van instemming verlaag word, soos wat voorstanders wil hê, mag pedofilie ook binnekort binne die verstaan van die liefdesgebod val).

Gebruik nou dieselfde argument en vervang gay met bloedskande en ‘n mens kom tot die ontnugtering dat díe verstaan van die liefdesgebod totaal misleidend is.

“Die seun is 20 en die ma 40. Twee volwasse mense wat albei tot die verhouding instem. As die twee mense 'n verhouding het waarin hulle mekaar respekteer, aan mekaar getrou is en mekaar liefhet, dan bou hulle mekaar op. Hulle vervul mekaar. Hulle help mekaar om vol en gelukkige lewens te ly. Dan leef hulle volgens die liefdesgebod.”

‘n Verbysterende argument wat gebruik word, om die kerk emosioneel te manipuleer is dat die tradisionele standpunt van die kerk onnoembare pyn veroorsaak by mense wat, hoe party van hulle ook probeer, nie anders kan as om gay te wees nie. Die mens is gebore met ‘n sondige natuur wat neig om verkeerd te doen. Paulus lig dit uit wanneer hy sê: “Die goed wat ek wil, dit doen ek nie, maar dit wat ek haat dit doen ek. En as ek doen wat ek nie wil nie, dan stem ek die wet toe dat dit goed is. Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig.” 

Ons kry ‘n begrip van Paulus se pyn oor sy toestand as hy uitroep: “Ek ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood.” Interessant lees ek nie dat hy aanvaarding van sy toestand soek, om daardeur sy pyn te verlig nie. Inteendeel, hy soek verlossing, en erken dan: “Dank God! Deur Christus Jesus” (Rom7:15-18, 21, 24-25).

Die geestesgesondheid van gays is ‘n taboe onderwerp, wat baie selde openlik bespreek word, omdat die gemeenskap “gay” (gelukkig) voorgestel moet word. Tog word die een emosionele troefkaart, die selfmoordsyfer wat hoër is onder gays as die heteroseksuele gemeenskap, voor die deur van die kerk gelê. As die kerk egter die ware toedrag van sake besef, en ook dat dit nie anders is in ”gay vriendelike” lande nie, sal die emosionele manipulasie gesien word vir wat dit werklik is. Dink aan een goeie rede waarom die kerk vir enige van die onderstaande verantwoordelik gehou moet word. Waarom moet die kerk dan verantwoordelik gehou word vir die hoër selfmoordsyfer?

Die Gay and Lesbian Medical Association: Top Ten Things Gay Men Should Discuss with their Health Care Provider waarsku as volg:

1. Dit is welbekend dat mans wat met mans seks het, ‘n groter risiko loop om HIV infeksie op te doen.
2. Gay mans gebruik dwelms meer as die algemene bevolking.
3. Meer gay mans ly aan depressie en angs as die algemene bevolking.
4. Mans wat homoseks beoefen, loop ‘n groter risiko om geïnfekteer te word met seksueeloordraagbare virusse - wat die potensieel-dodelike lewersiekte, Hepatitis Immunisasie, veroorsaak.
5. Seksueel-oordraagbare siektes kom meer voor onder mans wat homoseks beoefen.
6. Gay mans loop ‘n hoër risiko om te sterf aan prostaat-, testikulêre en/of kolon-kanker.
7. Gay mans misbruik alkohol meer as heteroseksuele mans.
8. Gay mans gebruik baie meer tabak as heteroseksuele mans.
9. Probleme met hoe hulle hulle eie liggame sien, is baie algemener onder gay mans as heteroseksuele mans. Gay mans staan ‘n groter kans om een of ander eetprobleem te hê as heteroseksuele mans. Dit lei weer tot ander mediese probleme.
10. Gay mans loop die risiko om die virus Papilloma op te doen. Dit verhoog die risiko vir anale kanker.

Die kerk kan nie apaties teenoor die gebrokenheid staan nie, maar hy hoef ook nie onder ‘n valse skuldlas gebuk te gaan nie. Wat van belang is om uit te lig, is dat die trauma wat ‘n homoseksuele persoon en/of sy geliefdes deurgaan, nie uniek is nie, en nie net by homoseksueles voorkom nie.

Emosionele manipulering behoort rooi waarskuwingsligte te laat aangaan. Bepaling van morele waardes, Christelike etiek, sonde en die besinning oor sake soos kerklidmaatskap, huwelike en die aanstelling in ampte kan en mag NOOIT op emosionele oorwegings geskied nie.

‘n Ander saak staar die kerk ook in die gesig. Word daar gekyk na die menseregte waarop gays hulle beroep, is dit dieselfde wat vir alle mense in Suid-Afrika geld - insluitende die pedofiel, die persoon wat aangetrokke is tot ‘n dier of selfs dié wat bloedskande bedryf. In die grondwet van Suid-Afrika word dit gestel dat elkeen gelyk is voor die wet en die reg het tot gelyke beskerming en voordele van die wet. Daar mag o.a. nie op grond van oriëntasie teen ‘n persoon gediskrimineer word nie. Wie bepaal dat pedofilie, bestialiteit of bloedskande ge-kriminaliseer moet word en homoseksualiteit ge-dekriminaliseer moet word? Wie bepaal wat is of wat is nie ‘n psigiese afwyking? Wat vandag onaanvaarbaar is, is môre aanvaarbaar.

Neem kennis dat dieselfde gay akitivistiese organisasies wat tevore ten hemele geprotesteer het wanneer hulle agenda’s vergelyk is met ander afwykende seksuele praktyke of parafilias, later in die openbaar erken het dat hulle in hierdie opsig gefouteer het en dat dit inderdaad oor die regte van alle seksuele uitdrukkingsvorme gaan. Vandaar die versamelnaam “LGBT” (“Lesbian, Gay, Bisexual, Transgender”) asook ander vorme van seksuele gedrag of oriëntasies. 

Dit is opvallend dat in Suid-Afrika mense wat op die ooreenkomste tussen die verskillende parafilias wys, nog gebrandmerk word as liefdelose mense wat hulle moet skaam oor hulle lelike gesindhede in hierdie verband, en tog doen die Bybel dit ook, soos Dr. Gagnon aantoon.

Dit is nie ‘n geheim dat in Amerika sterk stemme opgaan - op grond van dieselfde argumente wat die gay gemeenskap voorhou - om erkenning te kry vir bestialiteit, bloedskande en poliamorie nie.

Pedofilie is reeds in die DSM V verander, om net ‘n psigiese afwyking te wees, as daar op die aangetrokkenheid gehandel word. Kort voor lank sal dieselfde stemme ook in Suid-Afrika opgaan. Ons hoor dit reeds hier te lande vir die wettiging van pedofilie, om nie te praat van poliamorie nie.

Van kardinale belang is om kennis te neem van hoe die gay aktiviste nie skroom om die kerk en gelowiges, wat nie met die gay agenda saamgaan, te viktimiseer, en poog om wetgewing in plek te kry, wat die kerk meer sal onderdruk nie. Al gedink wat sal gebeur as hulle alles kry wat hulle eis?

Die gay agenda is daarop uit om die Christengemeenskap van sy godsdiensvryheid en regte te ontneem. Vir diegene by wie daar enige illusie oor die toedrag van sake bestaan, sal die artikel en 12 Chilling Incidents of LGBT Tyranny boekdele spreek. Die voorvalle is ook aan die toeneem in Suid-Afrika. Kerkleiers word aangemoedig, om hulle te vergewis van die South African Charter of
Religious Rights and Freedoms en dit deel van hulle kerk/gemeente se beleidsdokumente te maak.

Die persepsie bestaan dat seksuele oriëntasie nie kan verander nie. ‘n Voormalige linksgesinde lesbiese Engelse professor, wat Christene verafsku het, weerlê in ‘n artikel en openbare video onderhoud hierdie siening, asook Dr. Stanten Jones. My artikel Former Homosexuals do Exist in South Africa belig ook die saak. Daar is verder gesaghebbende navorsing wat op ‘n deurlopende basis t.o.v. die onderwerp gedoen word, deur ‘n Amerikaanse organisasie National Association for Research and Therapy of Homosexuality en Dr. Neil Whitehead, Homosexuality and the Scientific Evidence. ‘n Boek deur psigiater, Jeffery Satinover, Homosexuality and the Politics of Truth is ‘n moet lees vir enigiemand wat erns met die saak wil maak. 

‘n Moet kyk is die dokumentêr:
Understanding Same-sex Attraction en laastens kan my webblad besoek word.

Ek wil u voor ‘n uitdaging stel. As u seun vandag na u toe sou kom en sê: “Pa ek is seksueel aangetrokke tot ‘n hond,” gaan u u teologie en morele oortuigings verander, en helaas die Bybel herinterpreteer om u seun te akkommodeer? Waarskynlik nie. Waarom word dit dan met homoseksualiteit gedoen?

Met besorgdheid vra ek hoe sal die kerk mense met ander oriëntasie of selfs poliamorie hanteer?

Gaan ons sien dat daar kommissies aangestel word om te ondersoek of ‘n persoon wat omgang met sy ma het, of met sy hond of sy bure se vyfjarige seuntjie, in die bediening mag aangestel word? Gaan daar besin word of ‘n seun met sy ma mag trou? Die kerk se hantering van homoseksualiteit baan die weg as standaard waarmee die kerk al hierdie situasies sal moet aanspreek.

As die kerk ooit gesaghebbend wil bly, sy roeping wil vervul en ‘n morele invloed wil uitoefen, moet die kerk nie sy morele leiding deur ‘n eensydige en oppervlakkige siening van  "liefde” laat rig nie of deur emosionele manipulasie nie. Die grense van seksuele gedrag, wat in die Ou en Nuwe Testament gestel word, moet eerbiedig word. Homoseksuele praktyke sal weer gesien moet word vir die sonde wat dit is en gehanteer word soos enige ander sonde in die kerk, en dade wat deur enige van die ander oriëntasies gepleeg sou word. 

Die kerk sal moet terugkeer na gesonde hermeneutiese benaderings tot die Skrif. En dit begin nie by die mens en sy emosies nie, maar by die gesag van God en Sy Woord, soos Dr. Robert Gagnon dit meesterlik doen in sy boek The Bible and Homosexual Practice: Text and Hermeneutics en artikels. Die kerk gaan ook aan ouers en
geliefdes leiding moet gee oor hoe om moeilike lewenssituasies te verwerk, sonder om hulle geloofsoortuigings prys te gee. So sal die kerk ook nugter moet besin, oor wat Dr. Gagnon noem: Church Policy as Regards Homosexual Practice: Membership and Ordained Ministry.

Die kerk het die taak en verantwoordelikheid om aan sy lidmate en die samelewing leiding te gee. In hierdie verband behoort daar nie net op seksuele afwykings gekonsentreer te word nie, maar behoort daar ook morele leiding gegee te word aan heteroseksuele mense wat worstel met versoekings t.o.v. egskeiding, promiskuïteit, buite-egtelike verhoudings, verslawings aan pornografie, masturbasie ens. 

Ons leef in ‘n gebroke wêreld waar sonde en versoekings vir alle mense ‘n werklikheid is. Alle mense moet gehelp word om vergifnis te vind, van skaamte af te sien, en ‘n nuwe vervullende lewe te lei. Hierdie lewe is in Christus Jesus te vinde.

Mag God in die saak geëer word.
André Bekker

Kliek op GETUIENIS om Andre se eie verhaal te lees. Belangrik : Die feit dat ek hierdie skakel plaas beteken nie dat ek noodwendig met als op sy webwerf saamstem nie.

KERKBODE

Intussen is dit skokkend om die propaganda van die KERKBODE te beleef....

Die onderstrominge in die Kerkbode van ‘n pro gay agenda slaan weer sterk deur in die KERKBODE van 1 November 2013. In ‘n artikel “Oor kompromieë en konsensus” skryf Cobus van Wyngaard onder andere soos volg : “Al kon die kerk nog nie ‘n finale nuwe standpunt oor homoseksualiteit formuleer nie, weet ons dat ons in die koers van groter inklusiwiteit beweeg. Ons weet ook dat ons huidige standpunt nie genoeg is nie.” In ‘n onderhoud wat Fritz Gaum met dr. Ben du Toit oor die heruitgawe van sy omstrede boek, God? Geloof in ‘n postmoderne tyd voer, verklaar du Toit na aanleiding van Neels Jackson  se opmerking dat die NG skip aan die draai is : “Daar is ‘n onkeerbare proses na eenwording ná die aanvaarding van die Belydenis van Belhar; na volle erkenning van alle mense se seksualiteit...” 

Sluit dit nou in die vorme van seksualiteit soos homoseksualiteit wat uitdruklik deur God se Woord verbied word? Mag ons stilbly as God se Woord so geleidelik ondrgrawe word?

1 opmerking:

  1. Uitstekend!!!Sola Scriptura!!! Die WOORD ALLEEN!Albie

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.