BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 21 November 2013

WAT GAAN VAN MY KINDERS WORD?

- Ja, tye is rof, versoekings is baie, goddeloosheid floreer, maar hoor bietjie wat sê God se Woord oor die kinders van gelowiges! 

Wat gaan van my kinders word? Sal hulle gered word en eendag saam met my in die hemelse koninkryk God loof en prys? Of gaan die Satan en die wêreld hulle meesleur in die ewige afgrond in? Sal my kinders God eer deur ‘n heilige diensbare lewe of gaan hulle verval in ‘n wêreldgelykvormige lewe van kompromie, onsedelike bandeloosheid en godverlate ellende? Elke ouer dink seker oor hierdie dinge en soek biddend antwoorde. Wat sê die Bybel?
Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe! 

In beide die Ou en Nuwe Testament kry ons ‘n duidelike beginsel betreffende die genadewerk van God in ons kinders. Ouers se keuses het ‘n direkte invloed op hulle kinders! As God die straf en seën van die verbond voorhou aan die volk en hulle voor ‘n duidelike keuse tussen lewe en dood stel, dan sien ons hoe hierdie keuse hulle nageslag raak. Deuteronomium 30:19 is hieroor baie duidelik : "Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.” 

Ook in die Nuwe Testament vind ons hierdie beginsel. Toe Paulus en Silas aan die bewende tronkbewaarder van Filippi vertel wat hy moet doen om gered te word, het dit duidelike en heerlike implikasies vir sy huisgesin. In Handelinge 16 :31 lees ons : “Toe het die bewaarder ‘n lig gevra, die sel ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval. Hulle antwoord hom: "Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin." 

Die keuses van volwassenes het ewigheidsimplikasies vir hulle kinders! Positief gesê : God se genadewerk in volwassenes het heerlike gevolge ook vir hulle kinders. 

Twee groot verdere waarhede word duidelik vanuit die Skrif betreffende God se handelinge met kinders : 

God werk binne gesinsverbande en God werk middellik. 

Kom ons onderneem ‘n voelvlug deur die BYBELSE GESKIEDENIS wat dit bevestig : 

Familie en volke. God werk binne die natuurlike strukture van die mensdom soos families en volke. Dis vroeg reeds duidelik as God Set as die hoof van ’n nuwe lyn laat gebore word om die regverdige Abel te vervang. Daar is ’n direkte skakel tussen Adam deur Set tot Noag en hierdie lyn staan in kontras met die goddelose lyn afkomstig van Kain in Genesis 4. Dis baie duidelik : ’n Lyn van mense word tot stand gebring wat die voorwerp is van God se verlossende liefde. (natuurlik het dit nooit beteken dat almal in hierdie lyn Godvresend was nie!) Trouens uit Set se nageslag is dit net Noag en sy familie wat gered word as God sy oordeel deur die sondvloed voltrek. 

Noag. God sien Noag in genade aan (Genesis 6:8). God se verbond met Noag behels egter dat hy sowel as sy gesin deur God begunstig word en die vloed oorleef. God se genadewerking raak ’n hele familie. Na die sondvloed kom daar skeiding. Sem word geseën, Jafet deel in hierdie seëninge, maar Gam se seun Kanaän word vervloek! Dit het weereens gevolge vir hulle onderskeie nageslagte. 

Abram. God maak weer ’n nuwe begin nadat Hy die hoogtepunt van menslike arrogansie en onafhanklikheid straf. (Die geskiedenis oor die toring van Babel en die taalverwarring) Hy doen dit deur Abram te kies en dis nie heeltemal ’n verrassing dat Abram uit die nageslag van Sem kom nie! (Sem is deur God geseën) Die kern van God se verbond met Abram is om vir hom ’n God te wees en vir sy nageslag. (Genesis 17:7) Hierdie basiese verbondsformule word nêrens in die Skrif gewysig nie. Die eggo hiervan kry ons tot in Openbaring. (Openbaring 21:3)

Pasga. In die gebeure rondom die Pasga word die verbondsbeginsel wat die hele huis insluit weereens duidelik gedemonstreer. Die geloofsgehoorsaamheid van die gesinshoof het verreikende verlossingsimplikasies vir die hele huishouding. Die bloed aan die deur beveilig almal wat binne is, ook diegene wat nog te klein is om te verstaan wat gebeur. Wie die Bybel in sy geheel lees kan nie die korporatiewe beginsel miskyk nie : die daad van die enkeling het gevolge (negatief of positief) vir die groep. En nêrens is dit duideliker as in gesinsverband nie! 

Ragab. Die redding van Ragab en haar huis is baie insiggewend. Hierdie heidense prostituut het deel geword van die verbondsvolk op grond van geloof (Hebreërs 11:31) en ’n persoonlike belydenis dat die HERE die ware God is. Niks anders as ’n bekering uit die heidendom nie! (Josua 2:11) Dit het egter tot gevolg gehad dat sy en haar hele familie, almal wat aan haar behoort, verlos is en die banvloek oor Jerigo vrygespring het! (Josua 6:17,25) 

Josua. Josua as gesinshoof neem verantwoordelikheid vir sy hele huis. (Josua 24:15) Die term “hele huis” wat ons in Handelinge in kry dus nie iets nuuts of toevalligs is nie!

Saggeus. Ons ken die aangrypende verhaal van die gierige tollenaar Saggeus se bekering. Maar let op : Saggeus se redding het gevolge vir sy huis . Treffend is Jesus se uitspraak : "Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ‘n kind van Abraham." (Lukas 19:9) Jesus se woorde, “aangesien hy ’n kind van Abram is”, is baie veelseggend. Etnies was hy dit reeds, maar hy was ongered. Nou het hy deur die geloof in Jesus ’n ware kind van Abram geword, maar die redding kom ook na sy huis. Die heerlike beloftes van die Abramsverbond is in die nuwe bedeling steeds geldig! * 

GOD WERK DEUR MIDDELE

God bring sy beloftes ten opsigte van ons kinders in vervulling deur praktiese instrumente. Kom ons kyk net na ‘n paar:

Onderrig en lering in die huisgesin. Die beginsel in Deuteronomium 6 is seker oorbekend, maar die meerderheid van ons huisgesinne ignoreer dit. ”Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.” (Deuteronomium 6:6,7) Die feit is : in verreweg die meeste huisgesinne vind daar nie genoegsame konstante Christelike onderrig plaas nie! Die TV het in meeste huisgesinne lankal die gereëlde huisgodsdiens vervang en die gevolg is skrikwekkende onkunde. Sommige katkisante wat aangeneem word, weet letterlik niks van basiese Bybelse geskiedenis nie.

Opvoeding en tug. Kinders kan nie maar net toegelaat word om alles te doen en te besluit soos hulle wil nie. Anders as by diere, is instink nie genoeg om ons die regte pad te wys nie. Die mens moet opgevoed word en dit sluit allerlei vorms van dissiplinering in. Waar dit nagelaat word is die gevolge afgryslik soos in die geval van Eli wat nie sy seuns getug het nie. (Sien 1 Samuel 3:13,14) As ek toelaat dat my kinders gevoed word deur die goddelose Huisgenoot en die losbandige sepies... nou ja, dan sal hulle dienooreenkomstig vrot vrugte dra.

Voorbeeld. Kinders is nabootsers van hulle ouers. Dit help nie ek leer my kind die gevare van rook en ekself rook nie, dit maak nie sin dat ek my kinders Sondagskool toe stuur en self Sondae oggende in die bed lê nie. Dis nou ‘n resep vir die kweek van klein rebelle! Beslis maak alle ouers foute – ook die mees toegewydes, maar dan kan ons nog steeds ‘n voorbeeld stel, die belangrike voorbeeld van vergifnis vra.

Gebed. Ons beste pogings sal nie vrug lewer tensy God ingryp in ons kinders se lewens nie. Net Hy kan deur sy Gees harte verander en die wedergeboorte bewerk. Tog is dit waar dat God werk in antwoord op gebede. Die belofte van “Wie bid, sal ontvang,” geld tog ook wat betref die redding van ons kinders. "As God werk wie kan dit keer", wie kan Hom keer om ook ‘n ewige genadewerk in ons kinders te doen, ten spyte van goddelose tye? Mag ons met hernude erns en ywer vir ons kinders se redding bid, want by God is niks onmoontlik nie!

‘n Stabiele en liefdevolle huwelik. Iemand het gesê : “Die beste ding wat jy vir jou kind kan doen is om sy ma lief te hê.” Hierin is baie waarheid. ‘n Huwelik waar getrouheid, liefde en vergifnis beoefen word is die groeibodem van ‘n nuwe geslag wat die Here dien. Dis een van die redes waarom God egskeiding met ‘n passie haat! Hoor wat sê die Here : “Daar is nog iets wat julle doen. Julle huil en kerm en sug by die altaar van die Here omdat Hy nie meer julle offers wil aanneem nie, en julle vra: "Waarom dan nie?" Dit is omdat die Here weet wat gebeur het tussen jou en die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is: jy was ontrou aan haar, ontrou aan jou eie vrou, die vrou aan wie jy plegtig trou belowe het. Die Here het man en vrou een gemaak, een in liggaam en gees. En waarom een? Omdat Hy wil hê dat daar ‘n nageslag moet wees, wat Hom eer. Beheers julle, moenie ontrou wees aan die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is nie. Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige. Beheers julle, moenie ontrou wees nie.” (Maleagi 2:13-16)

KANAAL VAN GENADE

God se genadewerk in volwasse mense het positiewe heerlike gevolge vir hulle kinders! Dit beteken nie dat hulle kinders outomaties ook Christene is nie, maar dat God dit so bedoel het dat die gelowige gesinsopset en opvoeding ‘n kanaal word waardeur sy genade na die kinders vloei. Dit bring vir ons troos en hoop. Dis God se wil en bedoeling om ook in ons kinders te werk. Maar dit plaas ook ‘n geweldige verantwoordelikheid op ons as ouers en ander volwassenes, want in hierdie genadewerk gebruik God ons onderrig, opvoeding, voorbeeld, gebede en huwelike as instrumente! Ons moet dus erns maak daarmee.

God sal sy deel doen, maar ons moet ook ons opdragte uitvoer! Daarvoor sal Hy ook elke ware Christenouer die genade voor gee.

*Herbevestiging van die Abramsverbond

God het nêrens die Abramsverbond (wat soos ons gesien het ook betrekking het op die nageslag) opgehef nie! Petrus se woorde in Handelinge 2:38,39 is baie duidelik ’n eggo van dit wat God aan Abram beloof het. God het vir Abram gesê : "Dis vir jou en jou kinders wat die seën sal kom en ook vir die nasies" (vgl. Genesis 22:17-18). Dit lyk asof Petrus weer teruggryp na die belofte aan Abram en asof hy wil sê “Ja, dis vir julle en julle kinders - hierdie beginsel bly van krag - maar nou uiteindelik sien ons dat die ander nasies ook ingebring word.” Wat nou van die Nuwe Verbond wat in die plek van die Ou Verbond gekom het? Hieroor is daar baie mistasting. Die Abramsverbond word nooit “oud” genoem in die Skrif nie. (Die Nuwe Verbond word teenoor die Mosaïese Verbond (Sinaï Verbond ) gestel en nooit teenoor die Abramsverbond nie.) Die Nuwe Verbond wat in Jesus tot stand gekom het, is in wese ‘n vervulling van die Abramsverbond, want almal wat nou aan Jesus behoort word in hierdie verbond opgeneem en gevolglik kinders van Abram genoem. Nooit het die verbondsbelofte beteken dat almal in Abram se nageslag outomaties gered is nie, want die verbond is voorwaardelik. (Genesis 17:9) Die beloftes moes geglo word anders het dit niks gebaat nie. Abram het God se beloftes geglo en dis hoe hy gered is. (Genesis 15:6 en Romeine 4:1-4) In die Nuwe Verbond is daar steeds die voorwaarde dat daar in die geloof volhard moet word! (Kolossense 1:23)

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.