BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 04 November 2013

KRY WEER WOEMA!

DIE LIED VAN DIE LAM - kom ons sing oor Jesus se oorwinning!

Openbaring is vir baie mense net ‘n ingewikkelde raaiselagtige boek wat ons maar liewers moet uitlos. Hulle sien dit as ‘n boek wat moeilik ontsyferbare voorspellings oor die toekoms maak… miskien bedoel vir slim professore of "nerds" met dik brille...

Nee, Openbaring is ‘n heerlike troosboek, ‘n kragtige stuk aanmoediging en versekering. Dit gee God se kinders weer WOEMA! Openbaring gaan oor die groot tema van OORWINNING. Dis ‘n boodskap wat kinders ook kan verstaan...

Openbaring sê vir ons eintlik presies wat die ander Bybelse boeke ook sê, maar dit praat deur prentjies!

Eerstens gaan dit oor die oorwinning wat Jesus behaal het. Openbaring sê vir Christene wat swaarkry en dalk moed wil verloor : “Jesus is die Sterkste, hou moed!” Deur sy kruis en sy opstanding het Hy reeds sonde, Satan, dood en hel oorwin. Sy oorwinning wat klaar afgehandel is sal finaal sigbaar word by sy heerlike wederkoms. Dan sal die duiwel ook in die poel van vuur (hel) gewerp word. Maar in die tweede plek gaan dit ook oor die oorwinning wat God se kinders behaal. God se kinders word aangemoedig om te volhard en te oorwin. Dit word ook duidelik gestel dat net die wat oorwin (die wenners!) die Koninkryk van God en al die heerlikheid sal erf. (Dit word simbolies op verskeie manier gesê in die briewe aan die sewe gemeentes. Kyk self hoe word dit telkens herhaal in 2:7; 2:11; 2:17; 2:26; 3:5; 3:12; 3:21; 21:7) Uit hierdie sewe briewe kan ons ook agterkom wat ons moet oorwin : Sonde en versoekings, valse leringe, vervolging. As jy ‘n kind van God is sou jy al agtergekom het dat hierdie die dinge is wat jou lewe as Christen swaar maak...

Jesus se oorwinning en ons oorwinning gaan saam. 

Omdat Jesus reeds oorwin het, kan ons ook oorwin as ons aan Hom getrou bly. Nou waar daar oorwinning is, word daar mos gesing en gejuig! Dis ook so in Openbaring. Daarom kry ons baie lofliedere en lofprysing en aanbiddingstaal! Dit pas vir Christene om te sing!

In Openbaring 15:1-4 kry ons die lied van die mense wat die oorwinning behaal het oor die dier en sy beeld en getal. 

Toe het ek ‘n ander groot en wonderbaarlike teken in die hemel gesien. Ek het sewe engele gesien wat die sewe laaste plae bring. Daarmee het die toorn (wraak) van God sy einde bereik.
En ek het iets soos ‘n spieëlgladde see met vuur daarin gesien. Die mense wat die oorwinning behaal het oor die dier en sy beeld en die getal van sy naam, het by die spieëlgladde see gestaan met siters wat hulle van God gekry het. Hulle sing die lied van Moses, die dienaar van God. Dit is ook die lied van die Lam: "Groot en wonderbaarlik is u dade, Here God, Almagtige. Reg en betroubaar is u optrede, Koning van die nasies. Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? U alleen is heilig! Al die nasies sal kom en U aanbid, want hulle sal sien dat u handelwyse regverdig is." 

Hierdie mense is die kinders van God wat ten spyte van swaarkry en vervolging die goddelose wêreldsisteem (Antichristelike magte en invloede wat ons ook elke dag rondom ons sien en voel) oorwin het. Hulle het kompromisloos volhard in navolging van Jesus. Die spieëlgladde see is ‘n simbool van God se mag en majesteit. Dis ‘n beeld wat Johannes reeds in hoofstuk 4:6 gebruik het. Dis met vuur gemeng. Vuur vertel ons van God se oordele. Ja, volgens die Bybel is God nie maar sommer net almal se "Pêl" nie! God bewerk verlossing vir sy kinders, maar neem wraak op sy vyande en die vervolger van sy uitverkorenes.

Die lied word genoem die lied van Moses. Dit word so genoem na aanleiding van die lied wat die Israeliete gesing het in Eksodus 15 nadat God hulle deur die Rooi See verlos het uit die hand van die Egiptenaars. Hulle was mos in 'n baie benoude situasie...agter die woedende Egiptenare, voor die see, byna letterlik tussen die duiwel en die diepblou see! Daar is min direkte ooreenkomste in die lied behalwe met Eksodus 15:11. “Wie van die gode is soos U, Here? Wie is soos U, so hoog geëer en heilig? In lofsange word U vereer, Bewerker van wonderdade!” Die groot ooreenkoms lê in die perspektief op verlossing! Ons redding is soortgelyk aan die redding wat die volk Israel beleef het. Die lied van Moses herdenk die magtige verlossingsdaad van God met die Uittog/Eksodus! Dis ’n gebeurtenis wat vooruitgesien het op die nuwe eksodus, die verlossingsdaad deur Jesus aan die kruis toe Hy ons uit die slawerny van sonde bevry het. Die groot dade waarvan die verlostes nou sing in Openbaring is die evangelie gebeurtenisse (die kruis en opstanding van Jesus) Dis is die oorwinningdaad van God waardeur ons verlos word. 

DIE KRUIS EN DIE OPSTANDING VAN JESUS IS DIE BELANGRIKSTE GEBEURTENIS VAN ALLE TYE. DAAR HET GOD ONS BEVRYDING VAN SONDE EN SATAN BEWERK. 

As ek Jesus as my Here aanvaar dan beteken dit dat sy kruisdood en opstanding ook vir my persoonlik die oorwinning en die ewige lewe gebring het. Die fokus in Openbaring is baie sterk op die oorwinning wat Jesus spesifiek deur sy offer aan die kruis en opstanding behaal het. Die kruisdood staan sentraal. Daarom word die lied pertinent die lied van die Lam genoem. Telkens word Jesus die Lam van God genoem, want soos die Paaslam se bloed die oordele van God destyds in Egipte by die Israeliete laat verbygaan het, so red Jesus se sterwe ons! Israel het God se verlossingsdade aanskou en sing ’n lied, ons as gelowiges reageer ook met ’n loflied op die evangelie dade van verlossing in Jesus Christus.

Wie is dit wat hieroor bly is? Die wat die dier oorwin het! Waaruit bestaan die oorwinning nou weer? (Dink terug aan die boodskap van die 7 briewe) Die wat in die geloof in Jesus volhard deur goeie werke ten spyte van sonde en versoekings, valse leringe en vervolging.

Elke kind van God word vandag nog deur dieselfde vyande bedreig:

Sonde en versoekings – ons moet weer en weer kies teen sonde. Dis nie so maklik nie. Dis eerder so maklik om te doen wat almal rondom ons doen. Elke dag sien ons bitterheid, leuens, onsedelikheid... almal dink dis maar reg, maar ons moet wegvlug van hierdie dinge. (Sê jy nee?... vir vuil grappe, flieks wat sonde verheerlik, musiek wat rebellie en seksuele losbandigheid propageer – ja dit sluit selfs Afrikaanse musiek soos die van Kurt Darren in, om uitlokkende klere te dra – by die matriekafskeid dink almal dis mos maar reg, die versoeking om in die eksamen skelm te wees of vir jou ouers te lieg...vir weerwraak gevoelens teen die kind wat jou voor die hele klas gespot het?)

Valse leringe – daar is mense wat sê die Bybel is net stories, mense wat beweer dat Jesus nie regtig opgestaan het nie, mense wat leer daar gaan nie eendag ‘n oordeel en ‘n hel wees nie (ook leiers en leraars in ons kerk), maar ons moet dit verwerp en vashou aan die waarheid van die Woord.

Vervolging – elke ware kind van God word vervolg. (2 Timoteus 3:12) As jy heilig lewe en gehoorsaam wil wees aan Jesus sal jy deur jou maats uitgestoot of selfs direk gespot word. “Chicken, hoekom wil jy nie met ons saamgaan nie...” Openbaring is ‘n besondere boek van bemoediging deur die eeue vir God se kinders van alle tye wat ter wille van hulle geloof swaarkry moet verduur. Swaarkry is deel van die Christen se pakket, nie net in Moslemlande nie, maar ook hier tussen ons eie godsdienstige Afrikaners...

Jesus se mense behaal die oorwinning! Weereens, deur sy genoegsame kruisdood (die bloed van die Lam), maar ook deur ons radikale openlike standpunt van toewyding en getrouheid aan Hom. Hierdie tema vind ons ook in Openbaring 12:11 wat sê : “Hulle het self die oorwinning oor hom behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het; en hulle het nie hulle lewens so lief gehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie.”

Kinders van God is mense wat kan en moet sing! Nou reeds. Ons sing oor die oorwinning wat Jesus behaal het en wat ons in staat stel om ook sonde, valse lering en vervolging te oorwin. (weereens die Bybelse waarheid dat God eers gee, alles gee, voordat Hy volharding van ons kant vra... Kliek by "SWAK" CHRISTEN) Die wat oorwin sal ook tot in alle ewigheid sy lof besing. Dit gaan asemrowend heerlik wees!

Jesus is die Sterkste. Is jy aan sy kant? Dan het jy rede om te sing, nou en altyd. Om te sing van die groot dade van God...

Wil jy graag Openbaring se boodskap in geheel bestudeer? Kliek op Openbaring Reeks.


Ons Jeugkamp by !Uris Safari Lodge

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.