BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 02 Oktober 2013

AamBEELD van die Bose?

- BEELD probeer die kerk van die Bybel afboelie.

Dit wil al meer voorkom asof die Afrikaanse pers en by name koerante soos BEELD en RAPPORT (met sy liefde vir ABEL) ‘n verskuilde aanslag teen die kerk van Jesus Christus loods. Mense kan dit afmaak as ‘n tipiese bangmaakstorie of samesweringsteorie uit die kraal van die verkramptes, maar oordeel gerus self...



Onlangs het die dagblad BEELD, kommentaar in ‘n hoofartikel gelewer oor besluite van die Algemene Kerkvergadering van die Hervormde Kerk.*


Die kommentaar van BEELD bevat onder andere die volgende :

"Maar dit is veral in Suid-Afrika waar die Hervormde Kerk saam met ander kerke kan en moet help met die genesing van die land.

Die uitdagings in die land is groot. Armoede, morele verval wat lei tot misdaad en geweld, noem maar op.

Terwyl die besluite oor apartheid die toekoms oopmaak, is dit jammer dat die kerk steeds die toekoms vir gay teoloë in die kerk toemaak.

Hoe kerklui ook al die Bybel inspan om so ’n uitsluitende standpunt te regverdig, lyk dit vir ’n wêreld waarin gay mense volledig gelyke regte voor die wet het, vreemd en liefdeloos as ’n kerk steeds sulke besluite in stand hou.

Hopelik hoef gay mense nie nóg 20 jaar te wag voordat die kerk vir hulle ook die toekoms oopmaak nie."

Gun my net ‘n paar kort opmerkings oor BEELD se sienswyse:

Die sienings van die skrywer oor kerklike besluitneming en die Bybelse boodskap is merkwaardig gebrekkig en eensydig. Dit lyk asof die skrywer verwag dat die kerk die wêreld moet navolg en nie die Woord van God nie. As die sondige samelewing iets as liefdeloos ervaar of as wetgewing van ‘n sondige regering iets as aanvaarbaar verklaar moet die kerk in hulle voetspoor volg. Is dit nie presies die fout wat sommige teoloë van die vorige bedeling gemaak het deur hulle ondersteuning van apartheid nie? Samelewingsnorme (van destyds) het die interpretasie van die Skrif baie sterk beïnvloed. Bepleit BEELD ‘n herhaling van hierdie tipe foute?

Die “uitsluitende standpunt” van die kerk word aangeval en verdag gemaak. Dis ‘n oorvereenvoudiging en moedswillige ignorering van die Skrifboodskap. Ja, die evangelie is beslis inklusief (insluitend). Jesus nooi alle mense na Homself. (Matteus 11:28ev) Alle nasies is in die visier van die sendingopdrag. Vir alle soorte sondaars is daar hoop. (inderdaad ook vir gays wat hulle bekeer!) Maar die Bybelse boodskap is baie duidelik ook uitsluitend. Dit maak onderskeid en skeiding. Vir sommige is die evangelieboodskap ‘n lewensgeur en vir ander ‘n stank van die dood. (2 Korintiërs 2:16) Sommige word gered en ander gaan verlore. Paulus herinner ons duidelik in 2 Tessalonisense 3: 2 daaraan dat nie almal gelowiges is nie! 

Inderdaad gaan baie eendag van die Koninkryk uitgesluit word! 

Jesus self was beslis en duidelik hieroor. Daarom sy dringende oproep tot bekering!

Dis ironies dat die koerant self morele verval in die land uitlig as ‘n probleem, maar juis pleit dat die kerk morele verval (deur die toelating van homoseksuele teoloë) moet sanksioneer! Wat is die koerant se standaard en norm vir moraliteit? Die Woord van God of die algemene gangbare opinie? Die Skrifopenbaring of Steve se sienings? Het BEELD homself al oor die immoraliteit van saambly of aborsie uitgespreek?

BEELD klink soos die aambeeld van die Bose. ‘n Aambeeld is ‘n instrument waardeur voorwerpe gevorm word. BEELD wil  blykbaar die Afrikaner se denke vervorm en verwring tot ‘n vorm wat teenstrydig is met God se wil vir sy kerk. ‘n Mens wonder onwillekeurig of BEELD hier dalk ‘n lansie probeer breek ter ondersteuning van die gay aktiviste op die komende Algemene Sinode van die NG Kerk, waar daar ‘n poging gaan wees om praktiserende homoseksuele predikante in die bediening toe te laat? (Kliek op HOMOSEKSUELE PREDIKANTE?)

Asseblief BEELD, kom by! Begin dink Bybels!

*Hoofartikel van 30 September 2013

NASKRIF : Neels Jackson, kerksakeverslaggewer van Beeld het nou volledig op die wa van die gay aktiviste in die kerk geklim as mens kyk na sy onlangse kommentaar op die Algemene Sinode. Hy skryf onder andere :

"Die NG Kerk praat deesdae graag oor menswaardigheid, maar solank kerkmense gays stereotipeer en byvoorbeeld die reg op ’n huwelik wil ontsê, sal dit hol woorde bly.
Maar ook wat dit betref, is die skip aan die draai.
Baie mense sal voel die groot draai van die skip gaan te stadig.
Vir ander is dit ontstellend vinnig. Maar vir almal is dit waarskynlik onomkeerbaar."

Nee, Neels die mens het nie die reg om die wese van die huwelik te bepaal of te wysing nie, dis die Skepper se reg en Hy het besluit dat 'n huwelik tussen een man en een vrou sal wees...


7 opmerkings:

  1. Antwoorde
    1. Dag broer Brandon, dis heerlik om weer van jou te hoor. Ek sal ook graag verneem hoe dit met jou gaan en waar jy jouself deesdae bevind.

      Seën vir jou.
      Johaannes

      Vee uit
  2. BAIE dankie hiervoor!

    Vanoggend WEER:

    "Die duiwel is Woensdagoggend op die tafel" ... as DIT die aanslag is van die nuwe Beeld redakteur (Adriaan Basson)op sake wat vir Christene van belang is , sien ek swarigheid vorentoe. En op die voorblad regs bo ( die mees opvallende plek van 'n koerant) : "Duiwel spook nog by NG Kerk"

    http://www.beeld.com/nuus/2013-10-03-duiwel-gou-op-algemene-sinode-se-tafel

    AntwoordVee uit
  3. Ek dink as mens die Bybel wil begin bevraag teken, vra net vir jouself 2 vrae uit die Bybel

    1. Wat was die 1e opdrag wat God vd mens gegee het in Genesis? Dit was "vermeerder en vul die aarde" - nou my vraag, hoe doen gays of lesbians dit? Waarom sal God dan so 'n "onmoontlike" opdrag aan hulle gee.

    2. Van die laaste verse in Maleagi is waar God spesifiek se dat Hy 'n nageslag van kinders van God wou he. Weereens waarom so 'n "onmoontlike" opdrag aan hulle gee.

    Ek dink ons moet besef dat in God se oe homosesualisme sonde was en steeds is. Dit saam met boosheid was 1 vd groot redes dat God Sodom en Gomorra vernietig het.

    Ek dink ons moet bid dat hierdie mense tot bekering kom and die Here hulle genees, anders sal hulle by die Wittroon moet verantwoording doen vir hulle optredes. Vir ons wedergeborenes is dit geen rede om hoogmoedig te wees teenoor dit nie want deur God se genade is ons sondes vergewe.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ja, mag die rykdom van Sy genade ons inspireer om radikale dankbaarheidslewens te lei... Dit sal ook beteken dat ons terwyl ons sonde duidelik aanspreek met opregtheid die evangelie verkondig aan gebrokenes in 'n stukkende samelewing.

      Vee uit
  4. Baie dankie vir hierdie artikel.

    Hierdie skakel, handel ook oor Beeld, en veral Neels Jackson, se voorgesette teenkanting en openlike aanslag teen die kerk en God se Woord, waarop ek ook 'n paar weke terug gereaggeer het.

    http://hil001.blogspot.com/2013/08/my-reaksie-op-alles-in-die-woord-van.html

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.