BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 08 Augustus 2013

JAPAN PIONIER VOLTOOI SY ROEPING




Oom Neil Verwey van die Japansending is na ‘n baie lang loopbaan in diens van sy Verlosser op 5 Augustus 2013 oorlede. Hy was ten spyte van sy siekte nog tot op die laaste besig om van Hom te getuig.

Hy het aan karre gewerk op Kuruman, maar God het ander planne gehad...

Ek het grootgeword met die gereelde nuusbriefie van die Japansending wat in ons huis rondgelê het en gelees is. Op hierdie manier was oom Neil Verwey wat die Here in Japan gedien het baie goed aan ons bekend, al het ekself hom nooit persoonlik ontmoet nie. Die boekie “DIE STEM VAN VREUGDE” beskryf op treffende wyse hoe God hierdie Kalahari seun en werktuigkundige op Kuruman, gered en geroep het om in die verre Japan in ‘n baie moeilike vreemde taal Sy Naam te verkondig. Pionierswerk met betrekking tot hospitaalevangelisasie, koerant en radiobediening is deur Neil en sy Britse eggenoot Peggy aangevoor. Dis ‘n aangrypende verhaal van opoffering en geloofsmoed, maar bo alles van God se genadige voorsiening en getroue leiding. Neil Verwey was ‘n man wat ‘n fyn pad van luister na die Here bewandel het. Die volgende staaltjie uit die “DIE STEM VAN VREUGDE” spreek vanself:

Eendag kom daar ‘n man wat Neil nog nooit gesien het nie, na die deur van die hoofkwartier en vra of hy Neil se fiets kan gebruik.

“Ja, seker, jy kan maar my fiets gebruik,” was Neil se antwoord.

Die man was klaarblyklik onbewus van die feit dat Neil uit beginsel die slegste fiets in die Sending besit het. Neil kon nie sien waarom hy ‘n nuwe fiets sou besit terwyl al die ander werkers ou fietse moes gebruik nie, dus het hy vir homself ‘n tweedehandse fiets vir ‘n paar rand aangeskaf. Hy het die man na die skuur geneem en die fiets uitgebring. Die man het weggery en nooit weer teruggekom nie.

‘n Paar weke later kom Neil hom op straat teë en vra: “Wat het van my fiets geword?”

“O”, sê die man, “ek het geld nodig gehad en besluit om die fiets te verpand.”

Neil het gevoel sy gesig word warm van woede, en hy wou die man slegsê omdat hy anderman se goed so behandel. Hy het byna uitgeroep : “Hoe op aarde kan jy my fiets verpand?” Maar in plaas daarvan fluister hy hierbinne : “Here, wat sou U graag in hierdie geval wou doen?”

En dit was asof die Here sê : “Gee hom die geld wat jy by jou het.” WAT? Moes Neil nog boonop geld ook gee vir die man wat sy fiets gesteel het? Maar omdat hy teen hierdie tyd al geleer het om die Here sonder teëpraat te gehoorsaam, het hy die kêrel al die geld gegee wat hy by hom gehad het.

Maar ‘n paar dae later het Neil van Sato San verneem dat die man daardie dag oppad was om te gaan selfmoord pleeg omdat hy geen geld gehad het om vir sy vrou en kinders kos te koop nie! As gevolg van Neil se geskenk is die man se lewe gered. Neil het gegril by die gedagte wat sou gebeur het as hy die man sleggesê het in plaas van na die Here te luister.

Mag Neil Verwey se lewe van gehoorsaamheid en diens ons almal weer aanspoor om ons roeping getrou uit te leef, waar ookal die Here ons geplaas het. Sterkte en troos aan die familie, dierbares en almal wat lief was vir hierdie begenadigde dienskneg van die Here!

1 opmerking:

  1. Ek onthou so goed hoe geraak ek was, lank-lank gelede, by die lees van "Stem van vreugde" , hoe die Here vir oom Neil as't ware van onder 'n kar uit, waar hy as motorwerktuigkundige besig was met herstelwerk. Al die jare hul nuusbrief gekry met die bekende rooi kol van die Japanse vlag op, treffende verhale van hoe God mense een vir een roep en red. Dankie vir hierdie mooi huldeblyk!

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.