BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 19 Oktober 2012

NET DESPERATES


 - gaan deur die smal deur.

Nie almal wat dink hulle sal in die koninkryk van God ingaan sal daar wees nie. Nie almal wat uiterlik deel is van die kerk sal uiteindelik gered word nie. Dis die skokkende onthulling wat deur die gelykenis van die 5 dwase en 5 verstandige meisies verwoord word. (Matt 25) Dit laat mens onwillekeurig wonder : Hoeveel mense sal dan gered word? Sal dit maar min wees? 

Lukas 13:22-30 gee ‘n belangrike perspektief hierop. Iemand het op ‘n stadium die moed gehad om hierdie belangrike vraag direk vir Jesus te vra : “ Here, is dié wat gered word maar min?” (23) Die agtergrond van die vraag, was dalk die idee wat destyds geheers het dat almal in die volk Israel gered sal word, behalwe ‘n paar uitstaande slegte sondaars! (Jesus se lering oor die noodsaak van bekering sou mense dalk hieroor kon laat wonder.) Wat antwoord Jesus? Soos gewoonlik gee Jesus ‘n verrassende antwoord... Jesus antwoord nie met statistiek nie, maar met ‘n uitdaging (Vers 24) en ‘n waarskuwing.  (Vers 27,28)

UITDAGING. 

“Span al jule kragte in om by die smal deur in te gaan.” (NAV) “Stry hard om in te gaan deur die nou poort.” (OAV) 
Met ander woorde: Moenie somme maak en spekuleer  nie, maar maak seker en werp alles in die stryd dat jy wel sal ingaan! Iets pla ons miskien aan hierdie antwoord. Ons weet mos baie goed dat ons net uit genade gered word. Ons weet tog dat ons beste pogings en godsdienstige prestasies nie vir ons die ewige lewe kan koop nie. Hoe nou?  Klink dit nou of Jesus sê dat ons met eie krag of inspanning  in die koninkryk moet kom? Nee, allermins! Jesus praat  nie teen redding uit genade nie. Dis ‘n waarheid wat vasstaan in die hele Bybel van voor tot agter. Jesus onderstreep  maar net dat redding bedoel is vir die wat dit regtig wil hê, genade is vir dié wat  regtig met hulle hele hart daarna verlang! Hierdie beginsel vind ons reeds in die Ou Testament waar die Here sê : “En julle sal my soek en vind as julle na my vra met julle hele hart.” (Jeremia 29:13)  Jesus wil dus sê : "Die genadegeleentheid moet heelhartig benut word, NOU!"
Hoekom, nou? Jesus beklemtoon dit met die verhaal van die eienaar wat sy deur sluit en mense wat dan tevergeefs sal klop. (Baie dieselfde situasie as wat ons in die gelykenis van die tien meisies kry, waar vyf voor ‘n geslote deur beland het.)

"Span al julle kragte in" beteken dus : 

Gryp ten volle die genade aan terwyl 
die geleentheid daar is.

Werp jy alles in die stryd om die genade deelagtig te word? Iemand wat regtig in God se genade en vergifnis belangstel sal sekere dinge anders doen. As ek met my hele hart verlang na God se genade en vergifnis sal:
~ ek elke kans aangryp om die Woord te hoor. Deur die Woord kom geloof en deur geloof word ons gered. (Iemand wat Sondag vir Sondag laat slaap en ander dinge eerste stel is nie juis baie ernstig oor genade nie)
~ ek wegbly van plekke en dinge en mense wat my verder van God wegtrek. Iemand wat skoon voete wil hê, bly tog weg uit die modder. Is daardie TV program wat ek so graag kyk bevorderlik vir verlange na ‘n rein hart?
~ ek andere van harte vergewe soos ek wil hê God moet my vergewe. Bitterheid is ‘n seker struikelblok wat vergifnis by God verhinder! 
~ ek die verlossing najaag as eerste prioriteit en soek met ‘n passie, omdat dit die belangrikste ding in my lewe geword het. Politiek, sakebelange en rugby kan maar eers ‘n bietjie wag!

WAARSKUWING. 

Jesus onderstreep die erns van sy uitdaging met ‘n waarskuwing. “Baie, verseker ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie.” Baie mense leef onder ‘n vals illusie. So baie gaan te laat uitvind dat hulle nooit gered was nie en dat God hulle nooit geken het nie. (Vers 27, 28)

Jesus sluit sy waarskuwing af met hierdie veelseggende en betekenisvolle uitspraak : “Daar is laastes wat eerste sal wees, en eerstes wat laaste sal wees.” (30) Onthou net weer Jesus se hoorders het waarskynlik gedink dat almal wat aan die volk Israel behoort, gered sal word - hulle is die eerstes. Die heidene en die baie slegte mense (soos tollenaars en prostitute) sal nie gered word nie - hulle is die laastes. Nou keer Jesus alles om. Hy wil vir hulle sê : Baie mense wat bevoorreg is, wat deel is van die Verbondsvolk sal uitendelik verlore gaan. Maar daar gaan slegtes wees, heidene, sondaars en uitgeworpenes wat uiteindelik gered sal word!

In die Lukas evangelie self kry ons ‘n pragtige voorbeeld van iemand wat laaste was, maar toe uiteindelik tog eerste gekom het. Terselfdertyd is hy ook ‘n voorbeeld van iemand wat alles in die stryd gewerp het. Die misdadiger aan die kruis.  Hy was een van die laastes. Hy was ‘n slegte mens wat iets vreesliks moes gedoen het, anders sou hy nie tot ‘n kruisdood veroordeel gewees het nie. Maar hy word nou ‘n eerste, ‘n bevoorregte, want hy kry toegang tot die koninkryk van God. Hy het al sy kragte ingespan om in die koninkryk in te gaan. Weereens dit beteken nie dat hy deur sy eie goeie werke of prestasies gered is nie. Dit beteken maar net hy het die genade heelhartig aangegryp en die geleentheid vir redding voluit benut. Ons weet mos wat het gebeur : Terwyl sy medemisdadiger met Jesus spot, het hierdie sterwende man met sy laaste krag uitgeroep : “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” (Lukas 24:42) ‘n Desperate roep van iemand wat na genade smag. Hy kry  dan ‘n  heerlike waarborg uit Jesus se mond : “Ek verseker jou : Vandag sal jy saam met my in die Paradys wees.” Inderdaad het hy genade gevind. ‘n Laaste een wat eerste gekom het! ‘n Sondaar wat al sy krag ingespan het om by die smal deur in te gaan!

Ja, wondergenade : ‘n Desperate sondaar is veilig deur die smal deur tot in die Koninkryk!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.