BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 10 Maart 2012

GOEDKOOP GOEDVOELGODSDIENS

- vinnig met finesse na die verderf!

Goedvoelgodsdiens is nie ’n nuwe uitvinding nie. Dit was reeds in die Ou Testament die bedrieglike boodskap van die valse profete. Vandag word dit nog steeds vanaf kansels verkondig, op universiteite geleer, in kwasi Christelike tydskrifte gepropageer...

Wat is hierdie goedvoelgodsdiens? Dit word goed opgesom deur die profeet Jeremia : “Hulle het ’n goedkoop raat vir die wonde van my volk. Hulle sê net : ‘Als is reg! Als is reg!’ Maar niks is reg nie.” (Jeremia 6:14) Kenmerkend van die goedvoelgodsdiens is dat geestelike leiers nie meer die onderskeid tussen rein en onrein ken nie! Daar is nie meer so iets soos verkeerd nie. Vir elke soort sonde word ’n rasionele verskoning uitgedink. Die diep krake in die samelewing word nie vanuit God se Woord aangespreek nie, maar sommer op ’n maklike manier toegepleister met leuens. (Esegiël 22:26,28) Die goedvoelpropageerders wil nie die feit in die oë kyk dat sonde die mens se kernprobleem is nie. Hulle is ’n ewigheid ver verwyder van ’n ware profeet soos Johannes die Doper, wat sonde by die naam genoem en op bekering aangedring het. Die rede agter die goedvoel verleiers se paaiboodskappe is finansiële gewin. Die profeet Miga het al gesê dat hulle van vrede praat “so lank hulle kos kry.” (Miga 3:5) en sedertdien het dit nie veel verander nie.

Die goedvoelboodskap sê : “Wees net positief! Jy is nie ’n sondaar nie, jy het niks verkeerd gedoen nie. Glo in jouself en leef voluit!” Die goedvoelteoloog wil ons wysmaak : “Ons word nie in sonde gebore nie. Daar bestaan ook nie ’n duiwel en ’n hel nie.” Die goedvoeltydskrif gee ons raad : “Hoe om van jouself te hou.” Daarom verkeer die goedvoelslaaf onder die indruk dat selfbeeld belangriker is as ewige saligheid en dat die bestryding van selluliet dringender is as die bevryding van sonde.

Die goedvoelboodskap verduister dus die evangelie en beroof mense so van ware vreugde! Dis ’n gladde glybaan weg van Christus en sy redding. Hoe so? Die evangelie van Jesus Christus is waarlik Goeie Nuus, maar dis slegs Goeie Nuus vir sondaars, vir sondaars wat weet hulle is sondaars. God se genade en vergifnis word geskenk, nie aan die selfvoldane goedvoel Fariseër nie, maar aan die selfveragte slegvoel sondaar wat uitroep : “O, God wees my sondaar genadig!” (Sien Jesus se gelykenis in Lukas 18)

Ware geluk en vreugde kan nie gebou word op goedvoeltegnieke en rugstreelpraatjies nie, maar op die volledige vergifnis wat Jesus aan sondaars skenk. Die pad na ware geluksaligheid begin dus by die ontnugterende ontdekking : “Ek is ’n skuldige sondaar onder die skrikwekkende oordeel en toorn van ’n heilige God!” (Dis waar Paulus begin in Romeine 1:18ev as hy die evangelie sistematies verduidelik) Sondebesef laat my allesbehalwe goed voel, maar laat my soek na die ware Oplossing van my probleem. Die Oplossing is natuurlik, Jesus Christus wat gekom het, juis vir sondaars! Net Jesus kan ons gewetens van skuld bevry op grond van sy algenoegsame offer op Golgota.

Ons geestelike vaders, wat ontsag vir God se Woord gehad het, het die pad na ware geluk baie goed begryp. Die Heidelbergse Kategismus leer op voetspoor van die Romeine brief dat drie dinge nodig is om salig te lewe en te sterwe:

~ Ek moet weet hoe groot my sonde en ellende is. (Godgegewe Geluk begin dus by die ontdekking van my ernstige sonde toestand!)

~ Ek moet weet hoe ek van hierdie sonde verlos kan word. (Godgegewe Geluk in die volle sin word gevind, wanneer ek my vertroue op Jesus as my enigste en genoegsame Verlosser stel)

~ Ek moet weet hoe ek vir hierdie verlossing kan dankbaar wees. (Godgegewe Geluk word daagliks beleef as ek God eer en dank met ’n lewe van gehoorsaamheid en heiligheid)

Sonde! Verlossing! Dankbaarheid!

Dis die Bybelse volgorde en Goddelike resep! Dis die Bybelse lering wat ons so dringend nodig het in die kerk. Dis die Bybelse boodskap wat weer hoop kan bied aan ’n sonde verskeurde wêreld! Dis die Bybelse waarheid wat die toets van tyd en oordeel sal deurstaan, terwyl die goedvoelpleisterings sal afskilfer en verkrummel...

1 opmerking:

  1. Fantasties! Baie dankie hiervoor Johannes!Julle doen wonderlike werk vir die Here.
    Ferdie Mulder

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.