- die merkwaardige volharding van Charles Simeon.
Almal wat vir die Here werk ervaar soms ernstige moedeloosheid. Dis sulke tye wat mens vir jouself sê : “Laat iemand anders maar ouderling vir hierdie wyk wees, kry tog maar ’n ander Sondagskoolonderwyser in my plek of laat hierdie gemeente vir hulleself maar elders ’n predikant soek! Ek is moeg vir kritiek, ek is sat vir lek en trek.” Tou opgooi word dan ’n ernstige opsie!
Wanneer moedeloosheid ons werk vir die Here bedreig, is dit tot groot hulp as mens bietjie terugdink aan al die oposisie en teleurstellings wat vorige knegte van God in die geskiedenis moes oorkom. Dink maar aan die onregverdige behandeling en verwerping wat ’n Johannes Calvyn en ’n Jonathan Edwards moes deurmaak. Ons gaan egter nou bietjie terugdink aan 'n ander uiters merkwaardige voorbeeld van volharding naamlik, Charles Simeon. (Sy lewe spreek my persoonlik aan.)
Charles is gebore in 1759. Sy vader was welaf, maar nie ’n Christen nie. Sy moeder is vroeg oorlede. Charles het sonder ’n verhouding met Jesus Christus grootgeword. Op die ouderdom van 19 is hy na die Universiteit van Cambridge en dis hier waar God radikaal in sy lewe ingegryp het. Dit het op ’n ongewone manier gebeur, want daar was destyds nie juis ander bekeerde Christene op hierdie universiteit nie. Na Charles se bekering het hy blykbaar vir drie jaar lank nie ’n ander kind van God op kampus raakgeloop nie.
So het sy bekering plaasgevind : Drie dae na sy aankoms op Cambridge in Januarie 1779 het hy gehoor dat hy nagmaal moes gebruik. (Soos dit ’n goeie Anglikaan seker betaam het) Dit het Charles groot laat skrik, want hy het besef dis baie gevaarlik vir hom om die nagmaal te gebruik omdat hy Christus nie as Verlosser geken het nie. Desperaat het hy begin lees en homself probeer verbeter. Alles het niks gehelp nie en hy het daardie Nagmaal as ’n onbekeerde gebruik. Met die begin van die Pase in 1779 het hy egter ’n kind van God geword. So vertel hy in sy eie woorde wat gebeur het:
In Passion Week, as I was reading Bishop Wilson on the Lord's Supper, I met with an expression to this effect - "That the Jews knew what they did, when they transferred their sin to the head of their offering." The thought came into my mind, What, may I transfer all my guilt to another? Has God provided an Offering for me, that I may lay my sins on His head? Then, God willing, I will not bear them on my own soul one moment longer. Accordingly I sought to lay my sins upon the sacred head of Jesus; and on the Wednesday began to have a hope of mercy; on the Thursday that hope increased; on the Friday and Saturday it became more strong; and on the Sunday morning, Easter-day, April 4, I awoke early with those words upon my heart and lips, 'Jesus Christ is risen to-day! Hallelujah! Hallelujah!' From that hour peace flowed in rich abundance into my soul; and at the Lord's Table in our Chapel I had the sweetest access to God through my blessed Saviour.*
Het jy al jou sonde op die Lam van God gelê?
Simeon se bekering na die lees van biskop Wilson se boek het ’n dramatiese verandering in sy lewe tot gevolg gehad. Sy uitspattige lewensstyl het plek gemaak vir eenvoud en toewyding. Hy het dadelik begin om die evangelie aan sy diensmeisie oor te dra. As hy huistoe gegaan het, het hy vir die familie huisgodsdiens gehou. So het sy twee broers ook Jesus gevind. In sy privaat lewe het hy ’n patroon van sterk dissipline in gebed gevolg. Natuurlik het dit nou nie beteken dat Charles oornag volmaak was nie. Hy moes veral ’n stryd voer teen hoogmoed en voortvarendheid wat so eie was aan hom.
Net toe Charles sy studies voltooi het is die leraar van Trinity Church in Cambridge oorlede. Dit was in Oktober 1782. Charles het dikwels verby hierdie kerk geloop en vir homself gesê : “Hoe bly sal ek wees as God my hierdie kerk gee sodat ek die evangelie hier kan preek en ’n boodskapper vir Hom kan wees in die Universiteit.” Sy wens het waar geword toe biskop Yorke hom aangestel het. Sy eerste preek hier was op 10 November 1782.
Dit klink dalk wonderlik, maar die harde werklikheid was dat die gemeentelede glad nie vir Charles Simeon daar wou gehad het nie! Hulle het die assistent kurator Mnr. Hammond verkies! Simeon was gewillig om afstand te doen van sy pos, maar die biskop het verklaar dat hy nie vir Mnr. Hammond sal aanstel nie. Die gevolg?
Charles het vir 54 jaar in die gemeente volhard!
Dit was nie ’n maklike pad nie! Slegs oor ’n tydperk van jare se getroue arbeid het hy die teenstand van die mense oorkom!
Uiteindellik het hy ’n merkwaardige geseënde bediening en invloed gehad. Hy was ’n kragtige stem vir die evangeliese invloed in die Anglikaanse kerk en sy posisie by die universiteit het veroorsaak dat hy jong evangeliese studente vir die kerk kon werf. Hy het ook ’n hart vir sending gehad en was die geestelike vader van die beroemde Henry Martyn. Hy was betrokke by die Church Missionary Society, die British and Foreign Bible Society en die Society for Promoting Christianity among the Jews.. Sy grootste invloed was egter deur sy jarelange getroue Bybelse prediking.
Al hierdie vrug het gekom ten spyte van die ergste verwerping en vervolging denkbaar.
Volharding bring vrug!
Ons moet net aanhou met die werk wat God ons gegee het! (in ons gemeente, in ons huis, in ons werkplek)
Simeon leer met sy lewe vir ons ’n les om vas te byt en te volhard te midde van die sterkste teenstand. Ons moenie emosioneel pieperig wees en sommer gaan lê as dinge rof raak nie!
Kom ons kyk bietjie na die erge teenstand wat hy moes verduur:
Die eerste ding was Simeon se gemeente gedoen het om die lewe vir hom moeilik te maak was om die tweede Sondag lesing (amper iets soos ons aanddiens) aan Mnr Hammond toe te ken. Dit was in hulle mag. Vir 5 jaar het Mnr Hammond hierdie byeenkoms hanteer. Toe hy uiteindellik weg is, vra die gemeente ’n ander man om dit waar te neem, vir die volgende sewe jaar! Eers in 1794 (na 12 jaar!) kry Simeon die geleentheid om die tweede diens in sy eie gemeente te hanteer! Dink net hoe sal ’n leraar voel as die gemeente iemand van buite af kry om die aanddiens in sy plek te hou, net omdat hulle nie van jou hou nie! Simeon het wel op ’n stadium probeer om later in die Sondag nog 'n diens te hou en die dorpsmense het gekom, maar toe het die kosters die deure gesluit!
Die tweede groot vyandige aksie wat die gemeente teen Simeon gevoer het was om die kerkbanke (pews) te sluit. Die “pewholders” het geweier om kerk toe te kom, maar ook geweier om ander mense in hulle persoonlike banke te laat sit. Simeon het toe op sy eie koste ander sitplekke laat inrig in die paadjies en hoeke van die kerk! Hierdie sitplekke is egter uitgevat en in die kerk se werf gegooi! Die rekords wys, in 1792 het Simeon ’n hofbvel gekry dat die “pewholders” nie onbepaald hulle banke kan sluit en wegbly nie. Maar hy het dit egter nie afgedwing nie.
Simeon het nie met geweld opgetree nie, maar eerder deur ’n standvastige bediening van die Woord, gebed en getuienis in die gemeenskap die teenstand teen hom oorwin.
Moet egter nie dink dat alle teenstand na 12 jaar verdwyn het nie. Na dertig jaar in die bediening was daar nog steeds teenstanders wat die lewe vir hom moeilik gemaak het. In 1812 skryf hy aan ’n vriend : "I used to sail in the Pacific; I am now learning to navigate the Red Sea that is full of shoals and rocks." In 1816 kon hy darem skryf dat daar vrede is en dat die kerk beter bygewoon word as ooit tevore!
Hoe het Charles Simeon dit reggeky om ten spyte van soveel teenstand te volhard? John Piper noem ’n paar dinge. Daar was twee kernredes vir sy volharding:
1) ’n Toegwyde Gebedslewe. ’n Vriend, wat vir ’n paar maande saam met hom gebly het vertel dat Simeon 4 uur in die oggend opgestaan het en die eerste vier ure van die dag aan gebed en die bestudering van die Woord gewy het!
2) Hy het toegeneem in nederigheid en gegroei in sy bewondering en aanbidding van Jesus. Hy was voortdurend en ernstig bewus van sy sonde, maar ook bewus dat hy net op grond van Jesus se werk by God aanvaarbaar is.
Daar was ook ander eienskappe en beginsels wat Simeon staande gehou het (en wat ons ook kan toepas):
1) Hy het ’n sterk verantwoordelikheidsgevoel gehad vir sy kudde voor God of hulle van hom gehou het of nie.
2) Hy het nie dat gerugte ( "rumours") hom onderkry nie. “Die mense sê” is nie iets waaraan hy hom gesteur het nie!
3) Sy prediking selfs te midde van teenstand was nie byterig nie. (Dis ’n slaggat waarin ’n leraar so maklik kan val. As mense my kwaadmaak, dan kom ek hulle by vanaf die kansel! Pasop hiervoor.)
4) Hy het sy teenstanders hanteer van aangesig tot aangesig. (Praat dinge persoonlik uit met mense wat jou vyandig gesind is.)
5) Hy kon kritiek en teregwysing hanteer en daaruit leer.
6) Hy kon hoopvol en positief kyk na ontmoedigende negatiewe omstandighede. Hy kon dus die silwerrandjie van die donker wolk raaksien.
7) Hy was onberispelik wat finansies betref en geen liefhebber van geld nie.
8) Hy het sy lyding gesien as ’n wonderlike voorreg om die kruis van Christus te dra.
In April 1831 was Chares Simeon 71 jaar oud. Hy was toe reeds 49 jaar in die gemeente. ’n Vriend, Joseph Gurney het hom gevra hoe hy die vervolging kon oorkom en al die vooroordele teen hom kon oorleef in sy 49 jaar lange bediening.
Sy antwoord was : "My dear brother, we must not mind a little suffering for Christ's sake. When I am getting through a hedge, if my head and shoulders are safely through, I can bear the pricking of my legs. Let us rejoice in the remembrance that our holy Head has surmounted all His suffering and triumphed over death. Let us follow Him patiently; we shall soon be partakers of His victory" *
* Aangehaal deur John Piper uit H.C.G. Moule, Charles Simeon, London: InterVarsity, 1948.
Hierdie is 'n verwerking en opsomming van John Piper se biografiese skets oor Charles Simeon. Lees gerus die volledige skets by desiringgod.org
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.