BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 05 Mei 2023

KAN GOD SORG? GEE HY OM?

 - ook vir ons aardse materiële nood en behoeftes?

[Johan en Ria de Koning]

KRY BALANS

Ons moet altyd pasop vir uiterstes, vir ekstreme standpunte. Aan die een kant is daar mense wat verkondig dat ‘n Christen altyd ryk en altyd gesond sal wees – jou geloof moet net reg wees.  Dis die siening van die welvaartsteologie en die Word Faith beweging. Ons weet egter duidelik dis nie wat die Skrif leer nie. In teenreaksie hierop kan daar opregte Christene wees wat dink dat God glad nie belangstel in ons daaglikse aardse lewe nie en dat Hy net vir ons siele sorg met die oog op die lewe hierna.  Miskien koester jy dalk self so ‘n aaklige vermoede dat God glad nie vir jou as mens op aarde omgee nie, maar jou net hemel toe wil vat. Jy het die nare suspisie - "God gee net om vir my geestelike lewe." Dis natuurlik en gelukkig nie waar nie!  

FILIPPENSE

God se omvattende sorg kan duidelik afgelei word uit die hele brief aan die Filippense en spesifiek Paulus se bemoedigende versekering in Filippense 4:19.

Let sommer op na twee sake :

 God se voorsiening raak al ons ons behoeftes.

God se voorsiening word beskryf as "ruimskoots" (ryklik, oorvloedig) 




Ons wil vandag bietjie nadink hieroor en vra – sorg God regtig vir sy kinders? 

AGTERGROND - 'N KOSBARE GEMEENTE EN 'N GESKENK IN DIE TRONK

Net eers ‘n bietjie agtergrond vir hierdie woorde van Paulus in vers 19. Hy is in die tronk en nou skryf hy ‘n brief aan die gemeente van Filippi. Hy het ‘n goeie verhouding met hierdie gemeente gehad - Hy en Silas het dit gestig. Dis mos o.a. die plek waar Lydia die purperverkoopster en die tronkbewaarder tot bekering gekom het. (Handelinge 16)  Dit blyk dat daar ‘n besondere band tussen Paulus en hierdie gemeente was. Nou terwyl Paulus in die tronk was het hy ‘n bydra of geskenk van hulle ontvang. Epafroditus het dit vir hom gebring. Een van die redes vir hierdie brief is om dankie te sê. Paulus doen dit baie versigtig, hy is natuurlik baie bly oor die finansiële hulp, maar wil tog nie die indruk skep dat hy ongelukkig is, swaarkry, gebrek het en kla nie. Trouens die hele brief loop oor van die tema van blydskap. Ja dis nogal ironies – die man binne die ellende van ‘n tronk is besig om die mense buite die tronk te bemoedig en tot blydskap aan te spoor. Dis in hierdie konteks wat Paulus dan ook verduidelik dat hy geleer het om in alle omstandighede tevrede, vergenoegd te wees. In tye van oorvloed sowel as in tye van gebrek. Hy verduidelik aan hulle dat hy alles kan hanteer, alle soorte omstandighede wat oor hom kom omdat Jesus hom krag gee. (10-13) Teen hierdie agtergrond bemoedig Paulus hulle nou ook met die versekering van God se versorging. 



PRAKTIESE MERKERS

Kom ons kyk na ‘n paar praktiese beginsels rondom God se versorging.

God se versorging gaan nie net oor ons siele nie. Paulus in die tronk  het self nou God se fisiese versorging beleef deur die gemeente in die vorm van finansiële hulp. Die Onse Vader is ‘n duidelike bevestiging van God se besorgdheid oor ons gewone behoeftes– Ons word aangemoedig om te bid vir daaglikse brood! (fisiese behoeftes) Natuurlik is dit net 'n onderafdeling van 'n houding en 'n gebed wat in die eerste plek Godgesentreerd is!

God se versorging is deel van Sy Vaderlike toesig en opvoeding van sy kinders. Hy besluit wat ons nodig het, wanneer ons dit nodig het en hoe Hy dit sal voorsien. God se Vaderlike versorging is deel van ‘n leerproses. (Dink aan sy voorsiening van die manna in die woestyn. Net genoeg vir elke dag! Hoekom? Die volk moes leer om Hom te vertrou en te gehoorsaam. ) God se eerste prioriteit is om ons meer heilig te maak! Om ons geloof te suiwer! En daarom bring Hy ook tye van beproewing oor ons – ook die geloofsreus Paulus sê vir ons daar was tye wat hy te min gehad het en honger was.!

God se versorging mag nie misbruik word vir gierigheid, sondige selfsug en selfverryking nie. Hy sal Hom ook nie so laat misbruik nie!  God se versorging geskied binne die konteks van radikale gehoorsaamheid om sy koninkryk en sy wil eerste te stel. Dink maar aan die verhaal van Elia en die weduwee van Sarfat – 1 Konings 17  Sy kry die opdrag om “eers” vir e|lia 'n roosterkoekie te maak en dan sal sy die wonderwerk van God se bonatuurlike versorging ervaar!  Wanneer Jesus sy dissipels leer om nie oor kos en klere bekommerd te wees nie – leer Hy hulle om die koninkryk en die wil van God eerste te stel! (Matteus 6:33) 



En onthou maar ook - God beloon vrygewigheid en nie suinigheid nie!


Neem ook kennis - God se manier van versorging is gewoonlik deur sy  ander kinders (God se familie op aardse), maar hy kan enige metode gebruik. Gemeente van Filippi word deur God gebruik om Paulus te verkwik, maar Elia word  deur kraaie versorg sowel as deur ‘n gehoorsame weduwee.

God se versorging sal nooit so werk dat dit ons tot luiheid of onverantwoordelikheid aanmoedig nie. Paulus het self op ‘n stadium vir sy eie onderhoud gesorg deur met sy hande te werk. (Hy was 'n tentmaker – 'n soort leerwerker) Hy skryf aan die gemeente van Tessalonika hieroor omdat daar mense was wat net vir die wederkoms wou wag en nie wou werk nie. Lees gerus  2 Tessalonisense 3:7-12. Hy beveel die lui gemeentelede wat net op die wederkoms wou wag om te werk sodat hulle hul eie brood kan verdien op 'n ordelike wyse. God gaan nie luiheid of roekelose omgang met geld soos onverantwoordelike skuld maak,  beloon nie! Spreuke waarsku mos ook baie duidelik teen die roekelose werk met geld.

Vertroue op God se versorging en ‘n keuse teen bekommernisse is deel van ons nederige onderwerping aan Hom! Vertroue op God as die Sorger is deel van ons basiese geloofslewe. Dis nie opsioneel nie.  


Kyk weer na die bekende 1 Petrus 5:5,6. (2020 Vert.) Hoe verneder ons onsself onder God se hand? Juis deur ons bekommernisse op Hom te laai, juis deur te vertrou dat Hy vir ons omgee en kan sorg. Vertroue op die lewende God wat ook in ons daaglikse behoeftes voorsien is deel van praktiese Christenskap. 

Ek wil sommer in die verband 'n staaltjie uit my eie kinderjare met jou deel. Ons het in Suiderhof, Windhoek gebly. Op 'n keer het my pa, Johan de Koning gebid en gevra dat die Here vir ons sou vleis voorsien. Hy het ook so iets gebid soos "dit maak nie saak deur wie nie" Daardie selfde dag kom 'n Damaraman al die pad uit Katutura en bring vir ons 'n bok se blad. Hulle het 'n bruilof gehad en toe vir ons van die vleis gebring!

VAT VERS 19 OOK VIR JOUSELF!


Paulus se versekering is nie uit die lug gegryp nie, dis in lyn met wie God is en hoe Hy Homself as versorgende Vader aan sy mense openbaar het! As kind van God wat in gehoorsaamheid aan Hom leef, kan jy maar hierdie vertroostende versekering ook vir jou vat! Onthou net in Jesus het God reeds sy grootste geskenk aan jou gegee, die lewe van Sy Seun, dit bevestig sy liefde en die rykdom van sy genade bo alle twyfel – daarom sal Hy verder ook oorvloedig voorsien in wat Hy weet wat ons nodig het. As jy God as VERLOSSER leer ken het, sal jy Hom ook as VERSORGER beleef!

Luister ook op YoutTube - GOD SORG!


1 opmerking:

  1. Wanneer Jesus sy dissipels leer om nie oor kos en klere bekommerd te wees nie – leer Hy hulle om die koninkryk en die wil van God eerste te stel!
    God is goed, prys sy heilige Naam!

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.