BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 16 Julie 2018

“SEERGEKRY IN DIE KERK”


- "Ek het nog die Here lief, maar wil niks met die kerk te doen hê nie!"



Dis een van die mees algemeenste opmerkings wat mens hoor as die kerk ter sprake kom. "Die kerk het my teleurgestel, seergemaak, ingedoen… daarom dien ek nou maar die Here op my eie." 


As jy seergekry het in die kerk wil ek jou bemoedig deur sommer dadelik te sê, jy is nie die eerste en enigste een met hierdie hartseer en ongelukkige ervaring nie. Maar ek wil jou ook graag help om nie by hierdie punt te bly vassteek nie. Ek wil by jou pleit om God se wil te soek en te gehoorsaam as dit by die kerk kom. Want God het in sy Woord so baie oor die kerk te sê... Ons lees in 1 Timoteus 3:14,15 die volgende : 

“Ek skryf hierdie dinge aan jou hoewel ek hoop om gou na jou toe te kom. 
Ingeval my koms vertraag word, sal jy dus weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God. Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid.” 

Sommer hier met die eerste oogopslag sien mens twee baie belangrike sake: 

  • Die kerk is God se kerk, sy huisgesin. Dis nie sommer ‘n losse vereniging, klub of "private boomkerk" nie, maar ‘n ordelike gestruktureerde eenheid waar daar ouderlinge en diakens is! (sien die voorafgaande instruksies rakende ouderlinge en diakens in hoofstuk 3) 
  • Die kerk het ‘n onmisbaar belangrike rol : Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid. Saam met ander gelowiges (ook van alle eeue) verstaan ons die waarheid, want nie een enkele individu het die volle waarheid in pag nie.

Kom ons dink bietjie saam oor die onderwerp van die kerk en seerkry en hoor wat die Here in hierdie omstandighede vir sy kinders wil sê. 

Eers gaan ek jou nog verder skok met die volgende stelling: 

Elkeen wat voluit betrokke is by ‘n plaaslike kerk van Jesus Christus gaan een of ander tyd seerkry.*

Natuurlik kan dit baie wissel in intensiteit. Dit kan enigiets wees van geringe teleurstellings en irritasies tot grondige verskille, hewige botsings en gevegte wat diep wonde en letsels veroorsaak. 

Waarom gebeur dit so algemeen dat mense binne ‘n kerkopset verwond word? 

‘n Kerk wat regtig funksioneer is soos ‘n huisgesin of familie. Ons hoor dit weer in wat Paulus hier vir Timoteus sê. Ons beweeg na aan mekaar, ons het inspraak in mekaar se lewens en dis wonderlik, maar hoe nader mense aan mekaar leef hoe groter is die potensiaal dat verskille in wrywing en konflik kan ontaard. Dit klink dalk vir sommige ongevoelig, maar “seerkry” is ‘n risiko wat altyd in ‘n kerk aanwesig sal wees soos dit altyd ‘n risiko in ‘n gewone huisgesin of huwelik is. 

Seerkry is deel van kerkwees, maar hoe moet ons daaroor dink en hoe moet ons dit hanteer? 

Drie perspektiewe kan baie help: 

ONTHOU WIE DIE KERK SE LIDMATE IS. 

Die kerk word met wonderlike metafore beskryf. Behalwe huisgesin word sy onder andere ook genoem die gebou van God (1 Petrus 2:5), die liggaam van Christus (1 Korintiërs 12:12), maar die heerlikste beeld is seker dat die kerk, die bruid is van Jesus Christus, die hemelse Bruidegom! (Openbaring 19:7–8) Al te dikwels voel ons daar is nogal ‘n groot kontras tussen hierdie heerlike beskrywings van die kerk en dit wat ons van dag tot dag ervaar. Hoekom? Die kerk bestaan uit mense! Hoe maklik vergeet ons hierdie ooglopende waarheid. Die sigbare kerk sal daarom altyd ook skynheiliges huisves...

Jesus het 'n kring van twaalf dissipels gehad en een van hulle was 'n duiwel! 'n Volmaakte kerk waarin almal toegewyd en heilig is, is 'n illusie.

Natuurlik is die kerk veronderstel om uit bekeerdes te bestaan. Mense wat genade ontvang het, maar onthou, ook diesulkes is steeds mense wat gebroke is en daarom sondig, beperkte insigte en vermoëns het en gedurig verander. Dit verklaar so baie van die hartseer dinge wat in ‘n kerk gebeur. En moenie vergeet nie, ek en jy wat seergekry het is ook mense, mense met hierdie einste foute en beperkings. Ons moet ook sensitief wees vir ons eie foute en sondes. Die sonde van selfbejammering, die sonde van ‘n onleerbare gees en eiesinnigheid, die sonde van weiering om gesag te aanvaar, die sonde van verbittering en onvergewensgesindheid is nogal algemeen by mense wat seergekry het in die kerk. En partykeer is dit juis hierdie sondes wat aanvanklik tot die seerkry aanleiding gegee het! Sien dit ook maar net raak! Mag dit tog bietjie begrip en genade vir ons medelidmate en kerkleiers by ons opwek! 

ONTHOU WIE DIE KERK SE VYAND IS. 

Die groot vyand van die kerk is nie daardie ou wat jou so irriteer nie, ook nie die man wat Sondae voor jou sit en jou ‘n klomp geld skuld nie. Die vyand van die kerk is die groot aanklaer, leuenaar en mensemoordenaar, Satan! Die duiwel is ook jou groot vyand (nie die ou wat langs jou in die kerkbank sit en van jou geskinder het nie), hy is Jesus se vyand, hy is God se vyand! Die Satan haat God en dis juis op die kerk waar hy sy groot woede uithaal omdat die kerk so kosbaar is vir God en omdat die kerk God se instrument is om die waarheid te bewaar en die wêreld te bereik! Die Satan weet sy doppie is geklink, maar dis juis daarom dat hy alles uithaal om soveel moontlik skade aan te rig aan die bruid van Jesus. Hy weet sy tyd is min.**  Hy gebruik elke vuil en lafhartige taktiek in en buite die boek. 

Pasop dat jy nie vir die verkeerde mense kwaad word nie, die eintlike vyand is die duiwel! Pasop dat jy nie deur te skinder en deur jou bitterheid self ‘n instrument in die hande van die duiwel word nie! Deur die kerk te los en af te kraak bevorder jy die agenda van die duiwel en nie die wil van God nie! 

ONTHOU VERAL WIE DIE KERK SE KONING IS! 

Die kerk is God se huisgesin. Die kerk is Jesus se kerk. Elke plaaslike gemeente, hoe gebroke ook al waar Christus bely word is Jesus se kerk. Sy eiendom wat Hy deur sy bloed gekoop het. Pasop dus maar wat jy van die kerk te vertel het... Jesus is die koning, maar ook die bruidegom van die kerk. Ons toewyding aan die bruid (kerk) sê geweldig baie oor ons toewyding aan die Bruidegom! Hoe waardevoller die Bruidegom vir jou word, hoe waardevoller sal die kerk vir jou wees! 

Natuurlik is dit ‘n hartseer feit dat die bruid dikwels nog vuil en bevlek is en min van die heerlikheid en karakter van die Bruidegom vertoon. Dit moet ons nie laat tou opgooi nie, maar ons juis aanspoor om te bid en te werk vir die genesing, heiligmaking en gereedmaking van die bruid! Jesus sal eendag sy bruid volmaak en vlekkeloos maak. Ja, daardie swartgallige medegelowige wat jou so irriteer sal ook eendag volmaak wees! Onthou dit maar. Daardie irriterende medegelowige is egter nou reeds jou broer of suster aan wie jy liefde moet bewys.. Jesus het vir hulle ook gesterf, ja hulle wat jou nou seergemaak het! Jesus het hom en haar lief!

Deur die kerk te beledig, te vermy, af te kraak of te ignoreer maak jy Jesus seer! 

Ja, jy is dalk heeltemal eerlik as jy sê dat die kerk het jou seergemaak, maar hoor ook hierdie eerlike waarheid – jou houding veroorsaak pyn vir Jesus. Dis ‘n sonde, dis ‘n sonde waarvan jy moet bekeer! Jy is op ‘n gevaarlike pad! Wat jy aan die kerk doen, doen jy aan Jesus! Dit moes Paulus duidelik hoor op pad na Damaskus... 

 “Hy het op die grond neergeval en ‘n stem vir hom hoor sê: "Saul, Saul, waarom vervolg jy My?" "Wie is U, Here?" vra hy toe. "Ek is Jesus," antwoord Hy. "Dit is vir My wat jy vervolg. (Handelinge 9:4,5) 

Paulus het die kerk vervolg, maar Jesus ervaar dit as vervolging van Homself! Nadat Paulus tot bekering gekom het, het hy nie net ‘n liefde vir Jesus gekry nie, maar ook ‘n liefde vir Jesus se kerk. “O, ja maar die kerk was baie goed en suiwer in daardie dae...,” sê jy vir jouself. 

Ekskuus, maar jy maak ‘n fout. Gaan lees maar die Nuwe Testament en let op al die probleme waarmee die gemeentes te kampe gehad het. Die briewe aan hierdie gemeentes is deels juis geskryf om hierdie kwellings aan te spreek: dwaling (Kolossense), wettisisme (Galasiërs), tweespalt, onenigheid, onsedelikheid, wanorde rondom die gawes amp (1&2 Korintiërs), konflik en selfsugtige ambisies (Filippense). Daar sou nog baie voorbeelde genoem kon word...

Juis die onvolmaaktheid van die kerk het aanleiding gegee tot die meeste van die Nuwe Testamentiese geskrifte! 

Los die verskonings en wees gehoorsaam...

Kerklose Christenskap is nie iets wat ons in die Nuwe Testament kry nie...

Nee, jy het geen verskoning nie. Wees lief vir Jesus, wees lief vir sy bruid en liggaam, die kerk en spesifiek die plaaslike kerk waar Hy jou geplaas het! 

Moenie ophou om Jesus lief te hê nie! Dis nie Hy wat jou in die steek gelaat het of seergemaak het nie. Hy het nog nooit enige mens onregverdig behandel nie. Sy liefde vir jou het nog niks verander nie, dis nog net so groot soos die dag toe sy liefde vir jou Hom na die kruis laat stap het! 

Moenie die kerk afskryf en ‘n weersin in kerkwees ontwikkel nie! Die kerk is groter as die bepaalde gemeente waar jy seergekry het, die kerk is die liggaam van Jesus dwarsoor die hele wêreld heen. Die kerk is meer as daardie mense wat jou gekwes het. Jesus se kerk soos reeds gesien, het baie foute. Die gemeente van Laodicea het Hom so ontstel dat dit Hom naar gemaak het (Openbaring 3), maar Hy nooi altyd weer sy kerk om terug te keer na ‘n lewende verhouding met Homself! 

Moenie nalaat om die gemeente se byeenkomste by te woon nie! (Hebreërs 10:2) Dis die Here se opdrag, dis in jou belang, maar dis ook ter wille van jou broers en susters.

Wees positief en lewer ‘n bydrae! Deur gebed en betrokkenheid. Deur te vergewe, verskille uit te praat, deur jou aan gesag te onderwerp, deur in alles die belang van Jesus se bruid te bevorder en nie jou eie begeertes voorop te stel nie!



*  Sien artikel van Kirstin Tabb Ek het ruim van sy insigte gebruik gemaak.

**Openbaring 12



Dit was so lekker toe Christiaan Meyer en Andries Niemann by ons op Tsumeb kom kuier het. Jongmanne wat kinders was tydens ons Antipas dae in Vereeniging. Hier saam met Natanie en Marisja by Tierkloof.

4 opmerkings:

  1. Geagte Johannes en mede gelowiges, nalv artikel:
    Mag ek metafories n vraag stel? Na 4 egskeidings, wat is die kanse vir n suksesvolle 5de vaste verbondsverhouding? Nou weet ek, dat die eerste opmerking sal wees..."it takes 2 to tango" - wel waar - maar tog nie so eenvoudig nie.....die tergende vraag nogsteeds Wat is die kans vir sukses na 4 mislukkings? Dit terwyl ek aanvaar en erken en met ope arms ontvang word in die wereld met al my gawes en talente..die saambly verhouding is baie beter! Teenoor antagonisme, agterdog en weerstand van die een waarvoor ek ontsaglkik lief is - die Kerk! Help my!!Ek sien nie kans om nog n tree nader aan haar te gee nie...My seer is te akuut en verwerping te intens...Hartseergroete Albie

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Beste broer Albie, ek hoor jou absolute pyn en frustrasie en vermoed daar is waarskynlik ‘n lang en komplekse verhaal hieragter wat nie sommer nou vinnig met ‘n paar sinnetjies ontrafel en genees kan word nie. Baie dankie dat jy iets daarvan met ons deel en dit opsigself wys vir my dat jy nie in totaliteit Jesus se kerk afgeskryf het nie. Ek is nie op hoogte met jou huidige omstandighede nie, maar ek vertrou dat die Here Jesus vir wie jy lief is (en wat jou eerste liefgehad het) jou ook weer saggies maar ferm sal lei na sy liggaam die kerk… Sy genade is groot genoeg om ons op te help en bo ons gevoelens van seer en verwerping uit te laat styg! Uiteindelik maak Hy ons bereid om alles te verduur en te verdra ter wille van die uitverkorenes, soos Paulus dit aan Timoteus stel. Nooit moet ons ook vergeet dat die lyding wat ons moet verduur, juis ook in eie kringe, ‘n voortsetting is van die lyding van Christus nie! Mag die Here self jou diepe insig gee…
      Ek hoop regtig dat daar iewers vorentoe ‘n geleentheid sal kom dat ons sal kan saamgesels… Hier is jy altyd hartlik welkom. Waarskynlik het ons beide baie soortgelyke ervarings om met mekaar te deel… Mag jou hartseergroete in blye groete verander word, deur SY GENADE!

      Jou broer in Jesus
      Johannes

      Vee uit
  2. Hello oom Johannes! Dit was werklik ñ inspirerende stuk. One is altyd opsoek na die perfekte kerk waar daar geen seer en probleeme is nie. Maar dit is al gesê, "as jy ñ perfekte kerk key, moenie daarheen gaan nie, want dan sal dit nie meer perfek wees nie." Ons weet dit is net die genade van Christus wat ons kan laat saam leef in liefde!

    Ek en Christiaan het werklik dit geniet om by julle te kuier, en julle gasvryheid was ongelooflik en het ons harte aangeraak. Ek begin dit amper oorweeg om weer Suid-Wes toe te trek!

    Baie liefde,
    Andries

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Andries! Jy moet maar begin pak en jou pa ook oorreed... Maar nou ja, op die ou end is al wat saak maak dat ons sal volhard in ons liefde vir Jesus en sy kerk wat Hy deur sy bloed gekoop het!

      Liefdegroete (ook vir almal "daaronder")
      Johannes

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.