BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 27 Julie 2018

VENSTERS IN DIE HEMEL?

JA, GOD SPESIALISEER IN DIE ONMOONTLIKE! 


HAGLIKE TOESTANDE! 

Dit was ‘n situasie van absolute ellende! Ons lees hiervan in 2 Konings 6 en 7. ‘n Skrikwekkende toestand in Samaria die hoofstad van ddie Noordryk! Hiperinflasie! Zimbabwe styl! “Later het koning Ben-Hadad van Aram sy hele leër opgeroep, na Samaria toe opgeruk en dit beleër. Daar het ‘n groot hongersnood in Samaria ontstaan, en die beleg het voortgeduur totdat die kop van ‘n donkie naderhand byna ‘n kilogram silwer gekos het en ‘n klein skeppie duiwemis sewe en vyftig gram. (6:24-25) [Dis nie seker of die skeppie duiwemis letterlik bedoel is en of dit ‘n bynaam vir een of ander minderwaardige kosbrousel was nie.] 

KANNIBALISME!

Die gevolge van die beleg was meer as net hongersnood. Dit was ‘n desperate toestand! 
“Toe die koning van Israel ‘n keer op die stadsmuur langs verbyloop, het ‘n vrou uitgeroep: "Help my asseblief, U Majesteit!" 
Hy het geantwoord: "As die Here jou nie help nie, hoe sal ek jou kan help? Uit die dorsvloer of uit die parskuip?" 
Toe die koning haar vra wat haar moeilikheid is, antwoord sy: "Hierdie vrou het aan my voorgestel: ‘Gee jou kind dat ons hom vandag eet, dan kan ons môre my kind eet.’ 
Ons het toe my kind gekook en geëet, maar toe ek vir haar die volgende dag sê: Gee nou jou kind dat ons hom eet, het sy haar kind weggesteek!" (26-29) Ondenkbaar afgryslike gevolge! 

ONGELOOF EN BLAAMVERSKUIWING

Hoe reageer die koning? “Toe die koning die vrou se verhaal hoor, het hy sy klere geskeur. Soos hy op die muur langs verbygeloop het, kon die bevolking sien dat hy ‘n roukleed onder sy ander klere aanhet. 
Hy het uitgeroep: "Mag die Here my om die lewe bring as ek vandag Elisa seun van Safat se kop op sy lyf laat bly." (30—31) Hy tree op soos ‘n swakkeling! In plaas van ‘n positiewe voorstel, in plaas van tot God bid, wil hy sy frustrasie op die onskuldige Elisa uithaal. Asof die hele penarie nou Eisa se skuld was...

EN GOD SE MAN? 

Wat maak Elisa? Elisa, die man van God, hy bly kalm en maak ‘n geloofsuitspraak. Nie sommer uit sy eie uit nie. God het met hom gepraat en 'n belofte gemaak! “Maar Elisa sê: "Hoor die woord van die Here! So het die Here gesê: Môre hierdie tyd sal ‘n mens vir elf gram silwer vyf kilogram meel of nege kilogram gars kom koop, hier in die poort van Samaria." (7:1) Kos gaan weer volop en goedkoop wees! Dit kom daarop neer dat Elisa geglo het dat God die onmoontlike sou doen. In ‘n dag se tyd sou die hongersnood en lyding verby wees! Kom ons lees nou verder wat gebeur het…. (Lees 2 Konings 7:2-20) 

HOE REAGEER HULLE? 

Ons sien hoe verskillende mense op verskillende maniere in ‘n tyd van ernstige krisis reageer: 

Party raak so desperaat dat hulle hulle nugtere denke en menslikheid verloor. Hierdie vroue het kannibale geword! (In die moeilike sosio ekonomiese omstandighede wat ons nou beleef, kan ons verwag om dit ook te sien – selfsug, hardheid, ongevoeligheid, wreedheid…ja, selfs vorme van "kannibalisme" waar mense mekaar vernietig...) 

Sommige blameer ander, soek ‘n sondebok! Hy wil nou Elisa se kop laat afkap! (31) Nog erger,  die koning het sy begrip van God verloor, hy verwyt God. “Terwyl Elisa nog so met hulle sit en praat, het die koning self na hom toe gekom en gesê: "Kyk watter ellende het die Here oor ons gebring. Hoe kan ek nog op die Here hoop!" (33) Hy pak die skuld op andere. Ons hoor dit so dikwels: “Waar was God? Hoe kon God sulke dinge toelaat!” So dikwels het God geen plek in mense se lewens en lewensbeskouing nie, maar as daar 'n krisis kom dan kry Hy skielik die skuld vvir alles...

Andere gaan nog verder en val in die diep put van ongeloof en spotterny. Hoor die koning se adjudant… “Die adjudant, wat die vertroueling van die koning was, het vir die man van God gesê: "Dit is onmoontlik selfs al maak die Here vensters in die hemel sodat dit nou reën." Elisa het geantwoord: "Toe maar, jy sal dit met jou eie oë sien, maar jy sal nie daarvan eet nie." (7:2) 

Maar...Die gelowige soos Elisa glo in God wat spesialiseer in die onmoontlike! Hy kyk verby die sigbare omstandighede en sien ‘n almagtige God raak!  Hy bevind homself ook vasgekeer in hierdie gedoemde stad, maar hy glo in God se beloftes!

VIR DIE ALMAGTIGE GOD IS NIKS ONMOONTLIK NIE! HY KAN DIE HARDSTE SONDAAR RED! 

Geloof gaan oor God wat die onmoontlike doen. Juis ook as dit oor reddende geloof gaan. Dit raak ons direk as sondaars! Die verlossing van ‘n sondaar is menslik gesproke die grootste onmoontlikheid wat daar is. Die grootste wonderwerk denkbaar is as God ‘n rebelse sondaar, ‘n slaaf van die duiwel, genadig is, vergewe en bevry! 

Kom ons spring gou na die Nuwe Testament... Paulus gebruik Abraham as voorbeeld van reddende geloof in Romeine 4. Ook Abram het in die onmoontlike geglo, net omdat God dit beloof het! 

“Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: "So sal jou nageslag wees." 
Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie. 
Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. 
Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het. 
Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek.”  (Romeine 4:18-22) 

Ons word uitgedaag om in God te glo. God wat die onmoontlike gedoen het om Jesus uit die dood op te wek! 

Ons word uitgedaag om die onmoontlike te glo dat Jesus se sterwe genoeg was vir my oneindige groot sondeskuld! Miskien word jy vandag gekonfronteer deur al jou sonde en mislukkings van die verlede, 'n verlore toestand. Als lyk so hopeloos. Jy het soveel kerek probeer en soveel krer gefaal...  Glo in God wat die onmoontlike doen. Hy het dit reeds aan die kruis gedoen deur Jesus waar jou skuld uitgewis is! Dis afgehandel! Die volle skuld is betaal!

God doen die onmoontlike! Dis reeds aan die kruis gedoen! Hierdie boodskap is goeie nuus waaroor ons nie mag stilbly nie! Die melaatses is ‘n aangrypende voorbeeld!* 

Elisa se verhaal word vir ons geskryf, om ons te help glo. Ook Abraham se verhaal word spesifiek vir ons geskryf om ons te bring by geloof! 

“Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek. 
Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. 
Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.” (Romeine 4:22 - 25) 

Glo, stel jou vertrou op God wat die onmoontlike doen! Sien en proe vanoggend hier by die Nagmaal dat Hy die onmoontlike vir jou gedoen het deur die kruis en opstanding van Jesus! 


* Daar was vier melaatses by die ingang van die stadspoort. Hulle het vir mekaar gesê: "Hoekom bly ons hier tot ons doodgaan? 

As ons sou besluit ons wil in die stad ingaan, sal ons daar doodgaan, want daar is hongersnood in die stad. Bly ons hier, is ons ook dood. Kom ons loop oor na die kamp van die Arameërs toe! As hulle ons laat leef, leef ons; as hulle ons doodmaak, is ons dood!" 

Skemeraand het hulle na die kamp van die Arameërs toe vertrek. Toe hulle by die kant van die kamp van die Arameërs kom, ontdek hulle dat daar niemand is nie! 

Die Here het die Arameërs in die kamp die geluid laat hoor van strydwaens, perde en ‘n groot leër. Hulle het vir mekaar gesê: "Die koning van Israel het die konings van die Hetiete en van Egipte gehuur om ons aan te val." 

in die skemer het hulle op die vlug geslaan. Hulle het die hele kamp net so gelos soos dit was, tente, perde en donkies, en vir hulle lewe gevlug. 

Toe hierdie melaatses by die kant van die kamp gekom het, het hulle in ‘n tent ingegaan en geëet en gedrink. Hulle het ook silwer, goud en klere daaruit gevat en dit gaan begrawe. Daarna is hulle ‘n tweede tent in waaruit hulle ook goed gevat en gaan begrawe het. 

Hulle sê toe vir mekaar: "Ons maak nie reg nie. Vandag is ‘n dag vir blydskap en ons bly stil! As ons wag tot ligdag, sal ons beslis gestraf word. Kom ons gaan vertel dit by die paleis van die koning." 




Andrew Breytenbach (snr.) en Andrew Breytenbach (jnr.) by 'n ou platesspeler waarmee daar musiek gemaak is tydens ons Dankfeesete! Oom Andrew wat tans op Usakos woon is deel van die geskiedenis van die gemeente. Hy het jare gelede die elektriese bedrading van die kategese klaskamers gedoen. Andrew (jnr.) is tans die leierdiaken van die gemeente.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.