BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 01 Augustus 2017

AANDAG VIR DIE ANTICHRIS

- Hoe oorleef ek in ‘n tyd van massale afvalligheid?


KIES DIE WAARHEID BO WONDERS!

Ons leef in ‘n tyd van massale afvalligheid en afgryslike dwaling. Dwarsdeur die wêreld, maar helaas ook in ons eie land en kerk is daar al groter getalle mense wat basiese waarhede en waardes verwerp. Basiese waarhede soos wie Jesus is, sy uniekheid as enigste Middelaar, sy plaasvervangende kruisdood en sy liggaamlike opstanding word betwyfel en bevraagteken, selfs ook op ons teologiese fakulteite. Fundamentele etiese norme soos wat ‘n huwelik is word daagliks ondergrawe, nie slegs deur internasionale drukgroepe nie, maar in ons eie kerklike vergaderings...

Dit alles dui daarop dat as die Antichris kom gaan die groot meerderheid van mense hom aanhang en volg. (Ook die meerderheid van mense wat ons kerke vol sit!) Eintlik wys dit dat vele alreeds voor die Antichris se propaganda geswig het, want die Bybel leer natuurlik dat daar nou reeds baie antichriste is. “Kinders, dit is die laaste uur. Julle het gehoor dat daar ‘n antichris kom; en daar is nou reeds baie antichriste. Daaruit weet ons dat dit die laaste uur is.” (1 Johannes 2:18) Elke geslag lewer sy kwota antichriste op en hulle verblind en verlei die massas. Dit is nie iets wat nog kom nie, dit gebeur reeds elke dag voor ons oë! Die kernstrategie is misleiding. (Christene wat dink die Antichris, gaan sê : “Hi ouens, ek is die Antichris, kom hier dat ek vir julle ‘n 666 tjap op die voorkop kan gee,” is baie naïef en gaan beslis onkant gevang word!) 

Hoekom het die finale Antichris en ook al sy voorlopers so ‘n groot aantrekkingskrag? Waarom val so vele vir die valse “christusse” van elke era in die geskiedenis? Wat maak mense kwesbaar en vatbaar vir hierdie misleiding?

Ons kry hier in 2 Tessalonisense 2:9-12, drie belangrike hoofredes waarom mense soos vlieë agter vrot vleis agter die Antichris sal aanswerm. Paulus verwys hier na die Antichris as die “wettelose mens” of “mens van sonde”.(OAV) Vergelyk ook 2 Tessalonisense 2:3. “Laat niemand julle op watter manier ook al mislei nie. Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die laaste afvalligheid gekom het en die wettelose mens wat vir die verderf bestem is, sy verskyning gemaak het nie.”

EERSTE REDE. Die Antichris se koms sal gepaard gaan met sigbare en opwindende vertoon - ongelooflike wonders! “Deur die werking van die Satan sal die verskyning van die wettelose gepaard gaan met groot magsvertoon en allerhande vals tekens en wonders.” (9) En dis juis wat mense gaan vang, want die goddelose mens wil graag sien en voel en ‘n ervaring hê! Dit staan reëlreguit teenoor die pad van geloof wat God uitgestippel het vir sy kinders. Paulus stel dit so in 2 Korintiërs 5:7 : “want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.” Die Antichris gaan mense dus maklik aan die hoek kry met die aanloklike aas van oorweldigende magsvertoon en “showbusiness”. Hy sal beslis gebruik maak van meesleurende reklame foefies, massamedia beïnvloeding, oortuigende retoriek en indrukwekkende wonderwerke. Die maklik verleibare massas sal verstom en verbyster word deur die valse wonders wat die Antichris se opgang sal ondersteun. Volgens Openbaring sal die valse profeet hierin ‘n groot rol speel. Die vals profeet as simbool van alle anti-waarheidsgodsdiens se bonatuurlike mag om wonders te doen sal miljoene mislei. Openbaring 13:13,14 stel dit so : “Hy doen groot tekens, sodat hy selfs vuur van die hemel af op die aarde laat kom vir die mense om te sien. Aan hom is daar mag gegee om wondertekens namens die dier te doen, waardeur hy die bewoners van die aarde mislei.” (Vals profete soos TB Joshua het reeds bewys hoe maklik massas met hulle vals wonders mislei kan word.) Alle wonders is nie Goddelike wonders nie! (Dink aan die Egiptiese towenaars wat ook water in bloed kon verander en hulle kieries slange laat word het!) Alle bonatuurlike dade het nie ‘n suiwer bron nie. Ja, daar is ware egte wonderwerke, spesifiek die wonders wat Jesus en sy apostels gedoen het, om Jesus se Godheid te demonstreer en om die evangelie in sy kinderskoene dae te sanksioneer. En natuurlik is God die Almagtige vir wie niks onmoontlik is nie, vandag nog in staat om wonders te doen soos en wanneer Hy wil! God vereis egter nou van ons om te glo sonder om te sien. Jesus se woorde aan Tomas is vol betekenis : “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” Ons moet deeglik daarvan kennis neem dat die Satan en sy agente konsentreer op wonders, want hulle ken die mens se hart. Die mens wil graag sien, wil graag vermaak word, wil graag wonders hê om sy eie lewe maklik en gerieflik te maak. Alle mense hou van wonders en sensasie, ook die mees goddelose rebel. Daarom sal die Antichris dit met groot welslae gebruik. Wees maar eerlik - as ons sou afkondig dat hier volgende Sondag definitief vuur uit die hemel sal kom, sal man en muis hier wees. Maar as ek vandag vir julle sê dat ek volgende Sondag die heerlike evangelie van genade in Jesus sal verkondig...dan is daar maar min belangstelling! Mense soek opwinding en vermaak - die Antichris sal dit in oormaat verskaf en hulle met ‘n slap riem vang!

TWEEDE REDE. Mense val vir die valsheid van die Antichris omdat hulle die waarheid nie liefhet en aanvaar nie! “...met gruwelike misleiding van dié wat verlore gaan, omdat hulle nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie.” (10)

Die “waarheid” is die waarheid van God, wat Hy geopenbaar het, naamlik die evangelie van Jesus Christus. Hierdie evangelie kom na ons deur die Woordverkondiging wat ons hoor en so word saligmakende geloof in ons gewek. Die mens wat nie erns maak met die Woord en doelbewus die evangelie aanvaar nie, is ‘n oop teiken vir die Antichris. Daarom sal selfs baie kerklidmate deur die Antichris en sy leringe meegesleur word, aangesien hulle nog nooit redding deur die evangelie gevind het nie. Ja, dis selfs moontlik dat die sogenaamde kenners van die eindtye deur die einste Antichris oor wie hulle so fluks spekuleer, geflous gaan word, want hulle het hulleself nog nooit aan die Waarheid (Jesus) onderwerp nie! Inderdaad, wemel dit in sommige kringe van beweerde en gewaande wonders, terwyl die waarheid onder hulle so skaars soos sonskyn in ‘n Arktiese winter is!

Gaan ek en jy veilig wees teen die Antichris? Die beste beskerming teen die leuen is om die waarheid baie goed te ken. Daarom ook Paulus se vermaning net ‘n entjie verder in vers 15. “Wees dan standvastig, broers, en hou vas aan die leer wat ons aan julle oorgedra het, of dit deur ons prediking of deur ‘n brief was.” Hou vas aan die apostoliese waarheid, die waarheid wat ons vandag in die Nuwe Testament het!

Dink bietjie. Hoe word mense opgelei om valse banknote uit te ken? Daar word nie gekonsentreer op voorbeelde van vals note nie - die vervalsers maak in elk geval altyd nuwe uitvindings, nee, die beste beveiliging is om die kenmerke en eienskappe van die egte note baie goed te bestudeer! Dan sal jy als wat daarvan afwyk, gou kan opmerk. Hoe beter ek die evangelie ken en die boodskap daarvan my eie maak, hoe minder kwesbaar sal ek wees vir die wolhaarwonders van die Antichris. Hoe meer ek die VOLHEID in Jesus ontdek (die genoegsaamheid van sy sterwe én lewe), hoe minder sal ek val vir die valsheid van die Antichris en sy trawante.

Daar is ook ‘n DERDE REDE waarom soveel mense vir die Antichris sal val. Dit hou direk verband met hierdie tweede rede, waarna ons nou net gekyk het. “Dit is ook waarom God hulle aan die mag van dwaling sal oorgee, sodat hulle die leuen sal glo.” (11) Om die waarheid van die evangelie te verwerp het skrikwekkende gevolge. God self word jou vyand en Hy bring jou onder die oordeel. Hoe doen Hy dit? Hy gee jou oor aan die mag van die dwaling. Het jy al gewonder hoe dit moontlik is dat selfs intelligente mense deur dwaalleraars aan hulle neuse rondgelei kan word? (Dink maar hoe mense val vir die Israelvisie, Hebrew Roots Movement, allerlei New Age propaganda truuks...) Hier is die antwoord. Wie God se Woord van waarheid verwerp en die ongeregtigheid verkies word as’t ware deur God self aan die Bose se mag oorhandig. Die straf oor sonde is nog erger sonde. Ons kry dieselfde gedagte in Romeine 1:28. “En omdat hulle dit van geen belang ag om God te ken nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings...” Dis asof God sê : “Julle het my waarheid doelbewus verwerp, daarom is dit julle straf om die leuen te glo en so julle eie lot te verseël!”

Verwerp die Waarheid en God sal jou verwerp! 

Maar positief : Ons kan veilig wees teen die aantreklike verleiding van die Antichris! Hoe? 

Vat die Woord en volhard daarin! Dis hoe God jou sal bewaar!

Kies die Waarheid bo wonders! Die Waarheid is die Woord, die Waarheid is die evangelie, die Waarheid is Jesus self. (Joh 14:6) Diegene wat by Hom skuil is veilig!


Jy hoef nie te wonder of die briljante en omstrede Macron dalk die Antichris is nie... Jy moet wel seker maak dat jy die Waarheid ken en tot jou redding aanvaar het!

En ten slotte! Ons hoef nie een van die kastige "soekers na die waarheid" te wees nie. Die Waarheid is naby en by ons, dis Jesus self soos Hy Homself in die Woord deur die werking van die Heilige Gees openbaar! Kliek op SOEKERS




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.