BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag, 10 April 2015

REDDENDE GELOOF

- laat jou in jou spore omdraai!

Gedurende die Paastyd het ons die heerlike feite herdenk van die kruis en die opstanding. Die waarheidsevangelie van Jesus se volkome afgehandelde versoeningswerk. Jesus het ons sondestraf gedra en as bewys van die genoegsaamheid daarvan is Hy uit die dood opgewek. Die vraag is net, raak dit jou persoonlik? Is jy al hierdeur diep in die hart getref? Het dit al tot persoonlike geloof en bekering gelei? 

Nou wonder jy dalk, wat is geloof? Wat is reddende geloof? Daar is mos ‘n algemene idee dat geloof ’n positiewe ingesteldheid is - ek glo dit sal ’n goeie jaar wees, ek glo ek sal my eksamens deurkom... Dis nie die Bybelse siening van geloof nie! Mense dra hierdie siening oor na hulle geestelike lewe - ek glo maar alles sal regkom (en dink dis geloof) Ek glo ek sal hemel toe gaan - dan dink hulle hulle sal hemel toe gaan. Dis ’n absurde redenasie. (As ek op ‘n verkeerde trein geklim het, kan ek glo soos ek wil, ek gaan nie by die regte bestemming aanland nie...) Dis moontlik om vas te glo aan iets wat nie waar is nie, sulke geloof help mens niks...

So wat is Bybelse geloof dan? Ons kry ‘n besonder prakties en insiggewende voorbeeld daarvan in Johannes 4:43-54. Dis die merkwaardige verhaal van die regeringsamptenaar wat na Jesus gekom het om Hom te vra om na sy kindjie te kom wat sterwend was en hom te genees. Jesus het nie saam met hom gegaan nie, maar wel die volgende gesê : “Jesus antwoord hom: Gaan, jou seun lewe!” En wat was die amptenaar se reaksie? GELOOF! "En die man het die woord geglo wat Jesus vir hom gesê het, en hy het gegaan.” (vers 50 OAV) Om te glo is om persoonlik God se woord/belofte te vertrou. Dié verhaal illustreer dit prakties. Die man weet sy kind is siek en op sterwe. Jesus sê vir hom : Jou seun lewe! Hy glo dit en draai om en gaan huis toe! Hy vertrou op Jesus se woord, Hy aanvaar dit as die waarheid en vra nie verder vra daaroor nie. Geloof is vertroue op God se belofte, nie op my eie idees of wense nie. (Abram) Geloof is vertroue op God se belofte ten spyte van die huidige werklikheid en feite. Die man weet, dis ’n feit dat sy kind sterwend is, maar Jesus sê hy lewe en hy aanvaar dit as die waarheid. Geloof is om teen al die sigbare feite God se belofte te aanvaar. Soos Abram volgens Romeine 4:18,19 teen die sigbare, mediese werklikheid God se beloftes geglo het.

Watse beloftes maak God aan ons? Baie, maar die belangrikste is oor Jesus self en dit wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het. God se Woord sê : Jesus is die lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem. (Johannes 1:29) Deur sy kruisdood het Jesus jou straf gedra en dit bring vrede. (Jesaja 53:5,6!) Glo jy dit? Om te glo moet ek die feite oor Jesus ken, oor sy sterwe en opstanding, maar ook persoonlik vertrou dat dit ook vir my genoeg was!

BEWEEG SONDER OM TE SIEN

Maar daar kom iets by! Wat doen die man toe hy glo dat sy seun lewe? Hy draai om en gaan huis toe. Dit wys dat hy regtig glo, sy geloof bring hom in beweging. As hy nog daar rond gestaan het, vrae en bewyse gevra het..... dan het ons geweet hy het nie regtig geglo nie. Hy sou miskien kon sê : “Ek glo,” maar solank hy daar hartseer rondgestaan het sou dit duidelik wees dat hy nie geglo het nie. Hy sien nog niks, maar hy vat Jesus op sy woord. Hy glo sy seun lewe en hy gaan huis toe! Geloof bring reaksie. Dink weer aan Abram. God sê vir hom basies : “Ek gaan vir jou ’n nageslag en ’n land gee. Trek”. Hy glo dit. En hy begin trek.... hy het nog nie die land nie, het nog nie die seun nie, maar omdat hy God se belofte glo kom hy in beweging!
God sê vir jou: “My seun het jou straf gedra, deur Hom ontvang jy volle vergifnis!” As jy dit glo, sal jy Jesus begin volg, jy sal van gedagte verander (metanoia), omdraai van die ou lewe en Jesus begin gehoorsaam. Dit noem ons bekering. Bekering volg op geloof. Dit gaan saam soos twee kante van ’n muntstuk. 

Ds. Chris Saayman gebruik die volgende treffende beeld. Sien in u geestesoog die volgende prentjie: Twee mense is besig om afdraende te hardloop: reguit hel toe. Weg van God af. Hulle hardloop soontoe, want hulle het ’n onbetaalbare reusagtige sondeskuld by God. Dit maak ’n MUUR tussen hulle en God. Maar toe stuur God een van Sy amptenare agter hulle aan met ’n boodskap. Uiteindelik hardloop die boodskapper hulle in en uitasem sê hy: “Julle ouens kan maar omdraai, terug na God toe. Verander van gedagte, want Hy het my gestuur om vir julle te sê dat Hý deur Jesus al julle skuld betaal het. Hý het alles tussen julle en Hom reggemaak op Golgota. Draai maar om.” Een van die mans se oë begin blink en hy glo onmiddelik dit wat die boodskapper sê. En omdat hy glo, steek hy in spore vas en draai hy om – terug na God toe. Maar, die ander man lag die boodskapper af – “ Ag, dit is tog absurd – dat God my hemelhoë skuld kon afskryf en my die hel kon kwytskeld – NOOIT – dis verregaande – so-iets kán nooit gebeur nie ” – en hy hardloop doelbewus verder – hel toe... Die vraag is: Waar gaan die tweede man eindig? Antwoord: Dáár waar hy gekies het om heen te gaan: die ewige verderf. Hoekom? Omdat Hy God tot leuenaar gemaak het en nie die boodskapper wou glo nie en dáárom nie omgedraai het nie. Vra dan ook : Waar gaan die eerste man eindig? Antwoord: Vir ewig by die Here. Waarom? Omdat hy geglo het en omgedraai het?? Nee – omdat God Sy skuld op die kruis uitgevee het! – en dáárom kon hy omdraai terug na God toe! Hy draai om OP GROND VAN die INHOUD van die verbysterend heerlike boodskap van God: “Ek het jou sondes in my Seun Jesus se vloekdood gestraf en afgeskryf ”. Dit is dus nie sy OMDRAAI wat hom red nie, maar die inhoud van die boodskap wat hy begin glo – DIT red hom. Hy red nie homself met sy eie omdraai nie. Maar hy draai om omdat hy die boodskap hoor (en glo) dat hy gered is deur God se ontferming! 

Gaan jy glo, of gaan jy God tot ‘n leuenaar maak? 1 Johannes 5:9,10 “As ons die getuienis van die mense aanneem--die getuienis van God is groter, omdat dit die getuienis is van God wat Hy aangaande sy Seun getuig het. Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself. Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie.”

Hoekom nie God glo nie? Hoekom sou Hy vir ons lieg?

Glo jy die evangelie of het jy dit maar nog net gehoor? Het dit jou al laat omdraai, weg van die ou lewe of is jy dalk (binne die kerk) volspoed op pad na die ewige verderf? 

GLO, DRAAI OM en BEGIN GOD DANK!


[koppie naby Otjiwarongo]

Maandag, 06 April 2015

LAASTE BEKER KOFFIE OP ONKOSHI

Sommer so onverwags is 'n stukkie geskiedenis vanoggend vir my verder ingekleur...

Verlede naweek is een van die baanbrekers van die Tsumeb omgewing, tannie Sientjie Fourie oorlede. Ek het haar nie geken nie, maar haar dogter tannie Matie Stehle is ons skriba. Die Fourie gesin was pioniers wat op die plaas Ruimte (naby die Etosha wildtuin) vanaf 1947 geboer het en was baie betrokke by die kerk en gemeenskap. Hulle het ook op 'n ander hartseer manier deel van die omgewing se geskiedenis geword  toe Sientjie se man, Louis Fourie in 1982 deur terroriste op sy plaas vermoor is. Tannie Sientjie het heldestatus verwerf toe sy deur haar dapper optrede 'n groter ramp voorkom het. Deur aanhoudend op die aanvallers te skiet het sy verhoed dat hulle oor die veiligheidsheining rondom die opstal geklim het... Dit was rowwe dae van pyn, hartseer, lewensverlies... Hierdie Tsumeb, Grootfontein en Otavi omgewing was nie verniet bekend as die Driehoek van die Dood nie.

Vanoggend praat ek met tannie Babsie du Plessis wat my huis hier op Tsumeb huur. Sy vertel toe dat wyle Louis Fourie sy laaste beker koffie by hulle op die plaas gedrink het. Hulle het op die plaas Onkoshi geboer. Toe hulle die skokkende nuus van Louis se dood kry, het die beker nog op die tafel gestaan... Dit het die hele saak net nog meer hartseer gemaak.

Mag ons wat nie eers wat binne die volgende minute gaan gebeur nie, voluit lewe vir God en ons naaste... die beker koffie wat jy vandag vir iemand inskink kan dalk 'n laaste liefdesdaad aan daardie persoon wees!

Donderdag, 02 April 2015

GOEIE VRYDAG EN ‘N GOEIE GEWETE

Om God te dien en te bewonder, te geniet en te aanbid is die sin en doel van ons bestaan. Slegs as ek met hierdie doel besig is, vind ek vreugde en vervulling as mens. Om God te dien beteken nie net om kerk by te woon of te sing nie - dis ’n totale lewensbeskouing en lewenswyse! Dis : om alles wat ek doen vir die Here te doen, alles wat ek geniet uit dankbaarheid uit sy hand te ontvang. Hy is die Gewer van alle goeie gawes! Noem maar op!

ONRUSTIGE GEWETE

Ek kan God net dien, ek kan alles wat HY my gee net geniet as ek ’n skoon gewete het. As ek skuldig voel voor God of as ek bang voel kan ek Hom nie met vreugde dien nie. Solank my gewete my hinder, het ek geen vreugde en geen vrymoedigheid voor God nie. Dink aan ’n kind wat iets verkeerd gedoen het by die huis en weet daar wag ‘n pak slae, maar nou gaan speel hy eers ’n rugbywedstryd - sy gewete pla hom, vrees knaag aan hom en hy kan nie sy beste lewer nie, nog minder ten volle geniet wat hy doen. Ons probleem kom by die feit dat ek ’n heilige God dien, ’n alwetende God, ’n lewende God, maar dat ekself ten diepste onheilig en onrein is. Nou is daar onrus in ons harte, onrus wat ons hinder om God te dien, onrus wat ons onseker en bang maak vir die dood en oordeel.

Hoe kan my gewete tot rus kom, hoe kan ek vrede ervaar? 

Almal se gewetens pla hulle nie. Sommiges se gewetens is immers baie stukkend en oneffektief. As die Heilige Gees egter in iemand begin werk, is die eerste gevolg daarvan ‘n ontwaakte gewete! ‘n Gewete wat sensitief begin raak vir sonde en my skuld voor God en medemens. 

Die mens met ‘n ontwaakte gewete probeer gewoonlik baie planne maak om hierdie onrustige gewete stil te maak : Ek probeer my onrus net wegsteek, probeer dit vergeet, probeer die stil stemmetjie uitdoof deur allerhande aktiwiteite (selfs kerklike aktiwiteite!), ek probeer myself verbeter deur vroom pogings om godsdienstig te word, in desperaatheid kan ek my wend tot gedurige en nimmereindigende sondebelydenisse – maar ook dit kan nie volkome rus bring nie, want die vraag bly : het ek als bely, opreg genoeg bely?

Al ons pogings om self ’n plan vir ons sonde skande en skuldige gewete te maak is – mislukking. Dis soos Adam en Eva se vyeblare, totaal ondoeltreffend.

GOD SE OPLOSSING

Die Woord van God gee ons egter die antwoord. In Hebreërs 9:13,14 word hierdie saak direk aangespreek. “Want as die bloed van stiere en bokke en die as van 'n vers wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees, hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien.” Die bloed van Jesus reinig ons gewetens! Anders gesê, die offer, die sterwe van Jesus aan die kruis bring rus vir my gewete!

Hoe gebeur dit prakties? Daar is ‘n paar dinge nodig voordat die sterwe van Jesus persoonlik vir my gewetensrus kan bring. Ek moet:

1. besef – MY SONDE is die probleem - dis die rede vir my onrus en nie my opvoeding, my omgewing, of ander mense nie. Moenie versagtende woorde gebruik om sonde te beskryf nie. Noem dit wat God dit noem – nie ‘n paar foutjies nie, maar SONDE!

2. die feite en betekenis van Jesus se kruisdood ken. Wat het daar gebeur? Ek moet weet dis ’n stuk geskiedenis, dit het voor almal se oë gebeur. Die Seun van God is doodgemartel aan ’n kruis, onskuldig ter wille van my en as straf op my sondeskuld. Jesaja 53:5,6 beskryf die betekenis die duidelikste. “Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.” Die straf wat Jesus gevat het bring rus. Ek weet nou, my sonde is erg ja, maar dis klaar gestraf en God sal nie eis dat dit weer gestraf word nie! Hierdie wete bring vrede en rus in my hart. “U versoenend sterwe is die ruspunt van my hart!”

3. oortuig wees van die genoegsaamheid van die kruisboete van Jesus. Jesus se straf was genoeg; ek hoef niks by te voeg nie. (Dink aan ‘n baie groot verkeersboete. Dit pla my, ek rol slapeloos rond in die nagte. Dan kom ‘n goeie welaf vriend en vat daardie kaartjie en gaan betaal dit. Hy bring vir my net die kwitansie... Dit bring rus in my gemoed, want ek weet my skuld is betaal!) Ten spyte van baie mislukkings, baie aaklige sondes, baie sondes met onherroeplike gevolge, baie verswarende omstandighede, kan ek seker weet Jesus se sterwe was genoegsame betaling. Dit was genoeg vir Petrus - wat vooraf gewaarsku is, genoeg vir Paulus – wat doelbewus Christene probeer uitroei het! Jesus het vir sondaars gesterf, werklike sondaars, ja ook vir Godslasteraars, huweliksopbrekers, plaasmoordenaars, verkragters, molesteerders, ja ook vir skynheilige godsdienstiges.... Dink mooi, kan daar ’n sonde wees wat swaarder weeg as die bloed van God se eie Seun? Kan daar ooit ‘n groter offer wees as die bloed van die onskuldige Lam van God?

4. in geloof aanvaar dit was ook vir my! Vervang die “óns” Jesaja 53:5,6 met jou eie naam en lees dit oor en oor! Wat verbind Jesus se offer aan my persoonlik? Die hele Skrif maak dit duidelik : Geloof - dis waar, dis waar vir my en daarom gaan ek die Here daarvoor dank!

Jesus se genoegsame sterwe, ja sy bloed bring rus vir my onstuimige en gekweste gewete. 

Eers dan kan ek God met vreugde dien – “in ruimte deur sy kruis voorsien” soos die pragtige Lied 396 dit stel. My gewete maak my benoud, skuldgevoelens druk my vas, maar die vaste feite van die kruis gee weer vir my ruimte. Ek kan God eers begin dien as ek die Gekruisigde omhels het. Alle diens aan God sonder die kruis as basis is nutteloos en verwerplik. Dis maar net eie geregtigheid! As die kruis jou nie motiveer om anders te lewe nie, help al jou heiligheid en goeie dade niks! 

Goeie Vrydag is die goeie boodskap van ‘n goeie gewete, vir elkeen wat glo!


Hierdie ou man van die San gemeenskap het kom luister na God se Woord...

Woensdag, 01 April 2015

RAAD WAT NIEMAND WIL HOOR NIE

- STERWE : die koninkryksgeheim vir vrugbaarheid.


Sterwe om te kan lewe! Jesus se woorde in Johannes 12:24,25 is moontlik van sy ongewildste uitsprake vir mense in ons dag, maar dis die oplossing vir ‘n sukkelende kerk!

“Dít verseker Ek julle: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ‘n groot oes in.
Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou.”

“As die koringkorrel nie sterwe nie...” Geweldige woorde! Ingrypend radikaal! Jesus gebruik ’n eenvoudige beeld uit die landbou wat elkeen van sy hoorders goed sou verstaan. ’n Koringkorrel (of mieliepit) moet in ’n sekere sin sterwe sodat daar ’n oes kan kom. Hy moet sy huidige bestaan, identiteit en vorm as pit prysgee, onder die grond begrawe word en ophou voortbestaan as pit. As die pit by wyse van spreke sou weier, dan sou niks positief gebeur nie. Dit bly dan net alleen, daar’s geen oes nie en die pit mis sy bestaansdoel.

Jesus praat natuurlik in die eerste plek hier van Homself en spesifiek van sy sterwe aan die kruis. (dis kort voor die kruisiging) Jesus se sterwe aan die kruis lewer ’n ryk oes op van verloste mense. As Jesus nie gesterwe het nie, sou ons nie verlos kon word nie en daar sou geen oes van verlostes gewees het nie. Ons moet goed verstaan - Jesus het baie wonderlike dinge gedoen... preke, genesings, wonders.... maar nie een van hierdie dinge kon verlossing bewerk nie, Hy moes spesifiek sterwe en ons straf dra in ons plek. Daarom het Satan alles gedoen om Jesus van die kruis weg te hou... (hy het op 'n stadium selfs vir Petrus ingespan - Matteus 16:21-23)

Jesus moes sterwe! Sonder sy sterwe kon daar geen oes wees tot eer van die Vader nie! Jesus het om ons te red doelbewus ’n lewe van vernedering en lyding gekies wat uitgeloop het op die kruis.

EN ONS?

Hierdie selfde beginsel van sterwe om te kan lewe maak Jesus van toepassing op sy volgelinge. (vers 25) Dis op ons van toepassing op ’n aangepaste manier. Aangepas, want ons lyding verdien nie vir ons die lewe nie en bewerk nie verlossing nie. Anders gestel, niks wat ons kan doen kan vir ons sonde betaal nie. Geen offer wat ons kan bring kan die slegte dinge wat ons gedoen het uitkanselleer nie. En tog word daar van elke kind van God verwag om te sterwe aan sy eie voorkeure en belange.

Wat beteken dit? Jesus moet eerste gestel word, uit dankbaarheid vir wat Hy vir ons gedoen het. Wie Jesus nie bo alles kies nie, kan Hom nie volg nie. Jesus kry voorkeur bo alles wat vir my belangrik en dierbaar is! In hierdie opsig moet ek sterwe aan my eie lewe.

Geen sterwe, geen lewe, geen sterwe geen groei, geen sterwe geen oes! En daarom as daar geen sterwe in my lewe is nie, is my Christenskap vrugteloos,vaal en vreugdeloos. Hierdie beginsel is waar van Jesus self en sy werk geld as ’n basiese vereiste vir volgelingskap. Maar dis OOK die SLEUTEL tot vrugbare getuienis en sendingwerk.

Sonder ’n doelbewuste keuse vir lyding en sterwe kan daar geen suksesvolle uitdra van die evangelie wees nie! Sonder n keuse vir lyding kan jy nie vir die Here werk nie - ook nie by die huis, werk, in die gemeente of verre sendingveld nie. 

Dis baie duidelik : Jesus moes deur lyding God se Koninkryk kom vestig. In Getsemane het Hy homself finaal bereid verklaar vir hierdie pad. Jesus se lyding en vervolging het egter nog nie opgehou nie.  Ons lyding is ’n voortsetting van sy lyding. Dit is soos Paulus sy lyding verstaan het. “Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie. Ek verduur my deel daarvan ter wille van sy liggaam, die kerk,waarvan ek ‘n dienaar geword het volgens die opdrag wat God my gegee het om sy woord ten volle aan julle bekend te maak." (Kolossense 1:24,25) Paulus het lyding verduur ter wille van die kerk. Paulus het lyding verduur om sodoende die evangelie te verkondig en die kerk te laat groei. Dit was ’n doelbewuste keuse tot lyding. Hy kon rustig eenkant ’n kommerlose bestaan gevoer het as Christen. Maar nee, hy kies om die pad van vervolging te loop sodat die evangelie versprei kon word. Paulus pas die beginsel van die koringkorrel prakties toe. “Vir hierdie evangelie ly ek verdrukking, selfs in boeie soos ‘n misdadiger, maar die woord van God kan nie geboei word nie. Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat ook hulle die verlossing, wat daar in Christus Jesus is, en die ewige heerlikheid kan ontvang." (2 Timoteus 2:9-10)

God het besluit om sy uitverkorenes deur die lyding van sy Seun te red. God het ook bepaal dat die evangelie deur die lyding van sy diensknegte versprei sou word. 

Evangelieverkondiging gaan onvermydelik met opoffering, lyding en sterwe in baie opsigte gepaard. John Piper stel dit so : More and more I am persuaded from Scripture and from the history of missions that God's design for the evangelization of the world and the consummation of his purposes includes the suffering of his ministers and missionaries. To put it more plainly and specifically, God designs that the suffering of his ministers and missionaries is one essential means in the joyful triumphant spread of the gospel among all the peoples of the world.

Lyding ter wille van die verspreiding van die evangelie behels gewoonlik ‘n doelbewuste keuse Om deur God gebruik te word in die uitdra van sy Woord moet ons bereid wees om baie kere en in baie opsigte te sterf. Wat sou dit prakties beteken? Wat moet ek opoffer sodat die evangelie kan versprei, in watter opsigte moet ek sterwe? (hier is nou nie malariamuskiete en kannibale nie - hoe sterwe ek ter wille van evangelie?) Kom ons kyk na drie praktiese areas. 

Sterwe aan, doen afstand van:

~Aansprake op die veiligheid van my gemaksone, my gerief en eie belang. Ons voel so veilig om weg te kruip in ons bekende gemaksones...bekende mense, bekende aksies, bekende omgewings... Die uitdaging is: Sterf vir jou gemaksone en gaan sit langs ’n plaaswerker of 'n straatkind...steek grense oor, praat met iemand van ‘n ander kultuur of sienings... Wees bereid om my eie voorkeure prys te gee, te kies teen eie belang in terme van tyd en geld. Om die evangelie uit te dra, sal ek dalk tyd opsy moet sit wat ek andersins tot my eie voordeel sou kon gebruik het. Hierdie opofferings is malligheid in die oë van die wêreld, maar ook in die oë van die meeste kerkmense. Maar dis presies wat dit God se kinders gekos het om die evangelie oor die wêreld heen uit te dra – hulle het winsgewende en aanloklike loopbane vaarwel geroep, familie en vriende verlaat, hulle kinders aan malariamuskiete blootgestel... (Dink aan talle voorbeelde : Martin Rautanen, CT Studd, Adoniram Judson, David Brainard, AA Louw...) Maar dit gaan nie net oor sulke opvallende groot sake nie - Om werklik die Koninkryk van God te laat kom moet ek dikwels doelbewus teen my eie welsyn, regte en gerief kies ook wat klein dingetjies betref. Baie mense is bereid om op ’n afstand betrokke te raak by die uitbreiding van die Koninkryk, hulle wil nie hulle hande vuilmaak nie. Tevrede om op ’n veilige afstand ’n tjek uitskryf wat hulle nie eens regtig voel nie. 

~Kulturele ekslusiwiteit. Dis nodig om ons trots in ons sak te steek en in nederigheid grense oor te steek na ander mense en kulture wat volgens ons norme anders of minderwaardig is. Ons moet bereid wees om in ander mense se lewe in te klim, hulle denke te probeer verstaan, opofferings te maak om hulle te akkommodeer. Opofferings ten opsigte van byvoorbeeld taal, kleredrag, eet voorkeure... Ons moet geduldig gewoontes en gebruike wat vir ons onaanvaarbaar is verdra. Gewillig om kulturele opofferings en aanpassings te maak. Weet U dis presies wat Jesus gedoen het - hy het sy hemelse bestaan prysgegee en een van ons geword! (Vergelyk Filippense 2) As ons die evangelie wil deel moet ons diensknegte word wat van ons troontjies afklim. (Daar is geen plek vir die Amerikaanse "back in the States" houding nie!) Dis presies wat Jesus gedoen het .... Hy het nie gekom om “gedien te word nie, maar om te dien..” (Markus 10:45)

~Alle ambisies en begeerte na sukses en populariteit. Laat vaar daardie begeerte dat almal van my moet hou! Sterf aan die begeerte wat ons het om bedank en waardeer te word. As ons werklik die evangelie wil bevorder, moet ons bereid wees om nederige metodes te gebruik, wat aan God al die eer sal gee. Om agter die skerms te werk, om weggesteek te wees. Wees bereid om ongewild te wees en deur ander van valse motiewe beskuldig te word. Mense gaan nie van jou hou as jy vir die beginsels van die Woord staan nie. Is jy bereid om veragting en spot te verduur? Bereid om onbelangrik te wees? Satan het Jesus versoek op hierdie punt... Hy wou Jesus op ‘n pad van sukses en belangrikheid laat afdwaal. (“Spring van die tempel se dak af” Dit sou Jesus baie gewild laat word het, almal sou Hom ge “cheer” het...) Maar Jesus kies die pad van die kruis. Sukses en erkenning mag nooit ons dryfkrag en motief wees nie. Ons moet bereid wees om die evangelie te bevorder al sien ons nooit sigbare suksesse nie. Ons begeerte om bedank te word en erkenning te kry, moet ons afsterf. Wees eerder gereed vir teleurstellings en beledigings. Vriend, en weet maar, as jy vir die Here wil werk gaan jy getoets word. Die skoolkinders of plaaswerkers met wie jy die evangelie deel, juis hulle gaan jou dalk skade aandoen, of ondankbaar wees – en dan? Sal jy nog volhard in jou getuienis? 

Kan jy sien, sonder ’n bereidheid om skade te lei, om te sterwe in vele opsigte, is daar geen kans dat ’n mens regtig die evangelie kan uitdra nie? Sonder sterwe, geen vrugdra, geen oes en daarom geen vreugde! 

Twee slotopmerkings:

~Waar lê die struikelblok, hoekom groei die kerk nie vinniger nie? Hoekom is daar nog soveel onbereikte mense na 2000 jaar van kerkwees? Min Christene is bereid om die pad van die koringkorrel te loop. Min is bereid om hulle finansiële aspirasies en sekuriteite af te sterwe, min mense is bereid om hulle gesondheid op die spel te plaas. John Stott verklaar : The greatest single secret of evangelistic or missionary effectiveness is the willingness to suffer and die.

~ Miskien is daar iemand wat eerlik en opreg is en nou sê :”Ek wil graag die evangelie uitdra - maar ek moet nog aan baie dinge sterwe, ek sal maar eers wag tot ek dit regkry.” Vriende net Jesus se sterwe was volmaak en volledig. By ons is dit ’n onvolmaakte proses. Dis ’n proses wat lewenslank duur. Solank as wat jy lewe sal die kind van God agterkom - hier is nog ‘n soeke na selfbelang en eie eer wat in my pad staan. Moenie wag totdat jy volmaak is voordat jy die evangelie begin uitdra nie- dan gaan jy nooit sover kom nie. Stel jouself maar net tot beskikking van Jesus, die Heilige Gees is getrou en sal jou wys waar jy moet sterwe. Dis ‘n lang en moeisame (maar avontuurlike) pad. Begin net, vandag...

Ek het nog skaars begin leer loop op hierdie pad, mag Hy my genade tot bereidheid daarvoor skenk...


Groen koring in Namakwaland