BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 12 Augustus 2015

ATHANASIUS TOER NA TSUMKWE

- vir ‘n besondere ringsitting!

[Ek deel net graag ‘n paar persoonlike indrukke. Onderstaande is nie ‘n amptelike en volledige verslag van die ringsitting en besluite nie.]

Die dapper kerkvader Athanasius sou seker nooit kon droom dat dié belydenisskrif (wat later aan sy naam gekoppel sou word*) met die waarheid van die Drie-eenheid as sentrale tema, op die afgeleë Tsumkwe in die noord ooste van Namibië onder bespreking sou kom nie. Dis egter presies wat gebeur het met die onlangse sitting van die Noorde ring van die NG Kerk in Namibië. Hierdie ring is in meer as een opsig baie uniek! Geografies is dit seker die grootste ring in die NG Kerk. Dit strek vanaf die seekus van die dood in die weste dwarsoor die wye noorde van Namibië tot aan die Kwando rivier (Caprivistrook) en die Botswana grens in die ooste. Ons ring sprei haar vlerke vanaf die Angolagrens in die noorde en so ver suid om die dorpe Omaruru en Otjiwarongo en omliggende gebiede in te sluit. Die kulturele verskeidenheid is net so verstommend – benewens Afrikaans wat as voertaal gebruik is, het ons ook gebede in Herero, Luchazi, !Kung en Nama/Damara gehoor tydens ons ringsitting. In die ringsgebied as sodanig word daar natuurlik nog ‘n groot verskeidenheid ander tale gepraat.

DIE WARE EN GEMEENSKAPLIKE GELOOF

Nog meer merkwaardig - te midde van hierdie verskeidenheid word ons saamgebind deur ons gemeenskaplike geloof in die unieke Drie-enige God waarvan Athanasius so duidelik en kragtig getuig het teen die dwaalleraar Arius. Ds. Hector Jooste van Otjiwarongo het die bespreking oor die belydenis van Athanasius gefasiliteer en ek wil my verstout om te sê dat hierdie belydenisskrif eintlik baie radikaal die dwalinge van die tydsgees aanspreek. Athanasius laat die post moderniste in hulle relatiwistiese pap verstik as hy ‘n duidelike verband stel tussen leerstellige waarheid en saligheid! Elkeen kan dus nie maar sommer glo soos hy wil en hy voel nie, nee die waarheid moet geglo word!

1. Vir elkeen wat salig wil word, is dit voor alle dinge nodige dat hy die algemene geloof hou; 2. Maar elkeen wat dit nie geheel en al en ongeskonde bewaar nie, sal sonder twyfel ewig verlore gaan. Die algemene geloof is: 3. Dat ons die één God in die drievuldigheid en die drievuldigheid in die eenheid eer,.... 40. Dit dan is die algemene geloof : as iemand dit nie getrou en vas glo nie, sal hy nie salig word nie. [numering is die van die belydenisskrif]

Die sogenaamde “Progressiewe Christene” word ook deur die belydenisskrif van Athanasius voor stok gekry. Mag die ouens (ook in ons kerk) wat luidkeels verkondig dat oordeel en hel nie bestaan nie tog besef dat hulle sienings direk indruis teen hierdie belydenisskrif wat ons beweer om te onderskryf.

35. Want soos die redelike siel en die vlees een mens is, so is God en mens één in Christus: 36. wat gely het om ons saligheid ontwil, ter helle neergedaal het, op die derde dag weer opgestaan het uit die dode, 37. opgevaar het na die hemel, aan die regterhand van die Vader sit en vandaar sal kom om hulle wat nog lewe én hulle wat alreeds gesterf het te oordeel; 38. by wie se koms alle mense weer sal opstaan wat die liggaam betref en rekenskap sal gee van hulle eie werke; 39. hulle wat goed gedoen het, sal in die ewige lewe ingaan, maar hulle wat kwaad gedoen het, in die ewige vuur. 

Natuurlik, wanneer ons oor die heerlikheid van die Drie-enige God praat mag ons nooit vashaak by ons gebrekkige formulerings van iets (Iemand) wat ver bo ons vuurmaakplek is nie. Nee, die wonder van hierdie Drie-enige God is dat Hy in ‘n verhouding met ons staan! In hierdie verhouding moet ons Hom met gehoorsaamheid en liefde dien volgens die waarheid van die Woord!

ETIESE KWESSIES

Dis verblydend dat die Noorde ring as uitvloeisel van ‘n beskrywingspunt deur die gemeente Tsumeb sterk standpunt ingeneem het teen Die Kerkbode betreffende die saak van sogenaamde “gay huwelike”. Die beskrywingspunt het nogals robuuste debat uitgelok en heelwat meningsverskille het na vore gekom. Die volgende besluite is na ‘n stemming aanvaar:

8.1.1. Die Ring neem met skok en hartseer kennis dat DIE KERKBODE die instelling van die huwelik as ‘n verbintenis tussen een man en een vrou aangetas het deur die artikel “Op soek na safe spaces” te plaas.

8.1.2. Die Ring versoek DIE KERKBODE om onvoorwaardelik verskoning te vra vir die artikel “Op soek na safe spaces” in DIE KERKBODE van 22 Januarie 2015.

8.1.3. Die Ring pleit by DIE KERKBODE om Bybelse waardes en norme te handhaaf en nie deur die tydsgees op sleeptou geneem te word nie. 

(uit Notule, ringsitting van die Noorde ring 2015)

Baie in dieselfde trant is daar na aanleiding van ‘n beskrywingspunt van die gemeente Otjiwarongo die volgende besluit geneem :

8.4.1 Die Ring van die Noorde spreek hiermee sy diepe kommer uit oor die onlangse uitlatings van prof. Nelus Niemandt rakende gays in die kerk, en meer in die besonder gay predikante in die NG Kerk wat toegelaat moet word om met hulle lewensmaats in die “huwelik” te tree. Hierdie vergoeiliking van ‘n sondige lewenswyse is totaal strydig met die mees basiese beginsels van die evangelie van Jesus Christus. 

8.4.2 Die Ring herbevestig dat die ring in haar gesprek oor gays staan by die bestaande besluite van die Algemene Sinode. **

(uit Notule, ringsitting van die Noorde ring 2015)

NAGMAAL EN BROEDERSKAP


Dit sou ‘n totaal verkeerde indruk wees as jy dink dat ons net oor sake wat ons ontstel gedebatteer het. Ons het by mekaar gehoor wat in die onderskeie gemeentes aangaan en vir mekaar gebid. So is dit lekker om te hoor en te sien hoe ‘n gemeente soos Verre Noord na ‘n baie onstuimige tyd, die verlede begrawe, weer opgestaan het en positief voortgaan onder leiding van Gerhard Enslin wat bereid is om te help ten spyte van sy normale werksverpligtinge. Daar is ook saam nagmaal gevier Saterdagaand waartydens die plaaslike leraars van Tsumkwe voorgevat het. Sondag het van die ringslede ‘n aantal gemeentes se eredienste in die Boesmanland gebied bygewoon. Ek en Hannes Grobbelaar was by die diens op Mangetti Duin waar ons besonder hartlik ontvang is. (Ek was destyds vir ‘n kort tyd tydens my militêre diensplig hier betrokke en natuurlik bring dit herinneringe terug...)

Maar ook tydens informele gesels en lekker saameet is daar bande gesmee en verstewig. ‘n Mens raak opgewonde oor hoe die Here gelowiges by ‘n gemeente voeg, soos Theuns van der Merwe van Otjiwarongo kon getuig. Ek vind uit dat N!aice wat werksaam is by Aasvoëlnes, ‘n broerskind is van ou Oza vir wie ek leer ken het toe ek jare gelede dikwels by Pespeka diens gehou het. Wie sou ooit kon raai dat Hendrik van Zyl so ‘n slag met olifante het dat hulle hom telkens gedweë gehoorsaam? Is dit nou Hendrik “The Elephant Whisperer” of dalk eerder “The Elephant Shouter”? En dan, vir my amper die hoogtepunt... Die lekker saamgesels De Wet Mouton (Otavi)... En dan ook met Lukas Coetzer (Outjo) en Lucas Janse van Vuuren (Wes Caprivi) die Sondagoggend vroeg. Broers, julle verhale het my diep geraak. Ons het regtig so baie om met mekaar te deel. Die wonderlike pad wat God in sy groot genade en geduld met mense stap is net verbysterend heerlik...




Gerrie Cwi en Leviet Kxao (/Kotsakei), is leraars van Tsumkwe gemeente.













Hannes Grobbelaar van Tsumeb luister baie fyn...



Hendrik van Zyl het opgetree as voorsitter van die Ringsvergadering.




Jason Ngambue, die Hererosprekende leraar van Kamanjab/Opuwa
Lukas Coetzer van Outjo sorg dat Hector Jooste van Otjiwarongo genoeg pap kry...









Is dit nou gryskoppe, ringkoppe of pankoppe?






Dirk de Vos van Grootfontein is wel een van hulle...

Carl Bredenhann en Gerhard Enslin van Verre Noord (in Wamboland) kon vir ons goeie nuus bring oor 'n gemeente wat positief vorentoe gaan...


Ons eet saam in 'n tent.
 Nicolene Enslin was een van die dames wat gesorg het dat ons nie hongerly nie.



Isaac Chameia (heel links) is die tentmakerleraar van Mangetti Duin.

*Die Geloofsbelydenis van Athanasius is waarskynlik nie deur Athanasius opgestel nie. Dit stam moontlik omstreeks 500 uit Spanje of Suid- Frankryk. 
** Met 8.4.2 het ek persoonlik ietwat ongemak, want die huidige besluite van die Algemene Sinode is vir my te vaag.

2 opmerkings:

  1. Johannes. Dit klink en lyk na 'n geseënde Ringsitting. Dit bring 'n warm gevoel om my hart om bekende gesigte te sien soos dié van Hendrik van Zyl, Dirk de Vos en Jan Woest. Dis manne en vele ander wat mens ook sou kom noem, wat vir jare reeds toegewyde dienswerk in Namibië verrig.
    Oor die Ring se Beskrywingspunt dink ek aan 'n opmerking in 'n preek van wyle Dr MD Lloyd-Jones waarin hy die rede noem waarom daar soveel verwarring onder moderne mense oor die inhoud van die evangelie bestaan. Ek meen dat dit ook in ons tyd 100% van toepassing is. Ek haal aan: 'I am not blaming the modern man and woman, those who are outside the Christian Church. There is a sence in which I do not blame them for their bewilderment and for the fact that they are outside the Church, because, alas, we are living in days and times when the Church herself is mainly responsible for the confusion.' Dis hartseer maar so waar. As die kerk se lig dof en donker word, hoe donker moet dit dan nie in die wêreld wees nie.
    Groete. Coen
    Groete. Coen

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Baie dankie Coen! Die opmerking oor die kerk se lig is so waar...

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.