BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 14 Augustus 2015

INGEHOK AGTER DORINGDRAAD?

- ONTHOU JESUS MAAK SLAWE VRY 

Slawerny is iets vreesliks. Slawerny is natuurlik ook iets wat nog steeds in ons dag gebeur, dink maar hoe dikwels die gevare van mensehandel deesdae in die nuus is. Skrikwekkend, ontstellend! Slawerny in watter vorm ook al, is onmenslik, dit maak van jou eintlik maar ‘n dier. Die slaaf móét net gehoorsaam, hy het geen keuse nie, geen vryheid nie. Hy/sy is ’n willose instrument wat deur iemand anders misbruik en uitgebuit word... 

SKOKKENDE NUUS!

Nou hier kom die skokkende nuus : Almal van ons is in een van net twee posisies... of ek is ’n vrygekoopte dissipel van Jesus of ek is ’n slaaf van die sonde! Wat is jy?

Jesus praat in Johannes 8:31-36 met 'n groep Jode en sê vir hulle: "As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak." (31,32)

Jesus insinueer dus dat hierdie Jode nie vry is nie. En as jy nie vry is nie, is jy mos ’n slaaf.

Opvallend is dat Jesus hierdie dinge sê vir Jode wat in Hom glo... Hoe werk dit nou? Hoe kan Jode wat in Jesus glo later sulke vreeslike dinge sê? Sien vers 48. Hierdie Jode se geloof was ’n valse geloof. Hoe weet ons dit? Ware geloof blyk uit die feit dat mens aan Jesus se woorde getrou bly, en dit was hulle nie. Anders gesê, die merkteken van ware geloof is volharding in gehoorsaamheid aan Jesus, ’n soeke om sy wil in my lewe te doen. So baie mense is in hierdie posisie - hulle gaan deur as gelowiges, maar die tyd sal uitwys dat hulle nooit regtig geglo het nie.

NIE VRY NIE

Jesus stel dit duidelik dat hierdie Jode nie vry is nie. Hulle neem aanstoot as Hy dit sê, hulle hou nie daarvan nie. Hoe kon Jesus so iets vernederend van hulle sê? Daarom reageer hulle heftig : “Ons was nog niemand se slawe nie.” Hulle bedoel dit nie letterlik nie, almal weet mos die Jode was slawe in Egipte. Hulle bedoel dit waarskynlik innerlik geestelik. Hulle het gedink hulle is geestelik vry, maar hulle was nie. Dis moontlik om vry en gelukkig te lyk, ryk te wees, te doen wat ek wil, ja ook baie godsdienstig te wees en tog nog steeds ‘n miserabele slaaf te wees. 

WREDE BAAS

Jesus gaan nou voort en stel dit duidelik dat hulle nie vry is nie... (34) Elkeen wat sonde doen is ‘n slaaf van die sonde. Anders gesê, as ek sonde doen is sonde my baas. Daar is nie ’n meer meedoënlose en wreder slawemeester as die sonde nie! Die eintlike wrede heerser in hierdie wêreld is nie politieke leiers of ekonomiese magte nie, maar sonde... Dis ’n slawemeester wat mens uitput, vernietig, geestelik verrinneweer en doodmaak. Is jy vry of is jy nog ’n slaaf?

So baie mense is godsdienstig, voel houtgerus, sê hulle is gelowiges, maar in praktyk is hulle slawe van sonde. Sonde is ’n verslawende mag - ons weet : internet pornografie, dobbel, verslawende middels, alkohol, ’n onbeteuelde humeur is sterk verslawende dinge....maar eintlik is alle sonde verslawend. As iets jou in sy mag het is jy sy slaaf - 2 Petrus 2:19. Sonde is ’n wrede verslawende meester - jy weet dis skadelik vir jouself, jou gesin, jou gesondheid, jou verhouding met God en tog hou jy aan. Jy kan dit nie los nie...

SELFMISLEIDING

Jesus verduidelik verder die dilemma van slaaf wees. Die Jode het gedink hulle is kinders van Abram, maar in werklikheid was hulle slawe van sonde. Omdat hulle hulleself beskou het as kinders van Abram was hulle geestelik selfversekerd. Hulle maak dus staat op hulle godsdienstige afkoms. Hulle mislei hulleself. Nou kap Jesus hierdie wortel van hulle selfversekerdheid af as Hy sê dat slawe geen permanente plek in die familie het nie. ’n Slaaf is maar ’n tweederangse mens! Daar’s geen plek in God se gesin vir slawe nie! Skrikwekkend, ontstellend!

HOOP!

Droewige werklikheid! Gelukkig kom Jesus met hierdie kragtige uitspraak wat hoop bring : “Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees.”  (Vers 36!)

Jesus alleen het die mag om mense van sondeslawerny te bevry. Die Vader het aan Jesus die mag gegee. Daar is baie skynoplossings vir die slawerny van sonde : probeer goed voel oor jouself, gee die skuld vir iemand anders, wees altyd besig...  Baie van die sogenaamde oplossings verstrengel mense nog net verder : hulle sondes kwel hulle en dan soek hulle hulp en ontvlugting by drank, hipnose, losbandige plesier en tydverdrywe. Dit maak als net erger. Hulle raak al vaster vasgevang in Satan se web. Dis soos ’n vlieg in ’n spinnerak....hoe meer hy beweeg, hoe vaster. Geliefde, hoor tog die oplossing: 

EERS AS DIE SEUN JOU VRYGEMAAK HET SAL JY VRY WEES!

Vryheid is die teenoorgestelde van slawerny! Hoe lyk die vryheid wat Jesus jou gee as jy Hom aanvaar as jou Here? Ons word vry in twee opsigte :

~ Ons kry volledige vergifnis en dit beteken ons word vry van die skuldgevoelens en straf wat sonde meebring, daarom ook vry van vrees vir dood en hel. Iemand wat weet God het hom vrygespreek hoef nie meer in vrees te leef nie. Hoef nie meer die dood en die hel te vrees nie. God se vergifnis is volmaak. Lees Hebreërs 8:12.

~ Maar ons kry ook krag van die Heilige Gees om vry te word van die verslawende mag van sonde. In Jesus is jy mos ‘n nuwe skepping van God! (2 Korintiërs 5:17) Dit sal sigbaar word! Ek kry ’n nuwe koning, Jesus. Ek staan nou onder die heerskappy van Jesus Christus! Dit beteken nie dat die kind van God nooit meer kan val nie, maar dat die Heilige Gees in ons woon en dat ons krag kry om te stry teen sonde en kan opstaan as ons geval het.

Die kind van God beleef nog steeds 'n stryd teen sonde en versoekings, maar is nie meer 'n magtelose slaaf daarvan nie!


NOG AGTER DORINGDRAAD?

Miljoene mense is ingehok en vasgekeer in ’n wrede slawekamp, die slawekamp van sonde. Vasgevang in die grootste ellende, ingeperk deur rye doringdraad van misleiding, sondige gewoontes en daaglikse sonde ellende. Hulle probeer op allerhande manier vlug, maar beland net in groter ellende. Alle pogings is tevergeefs. MAAR... daar is ’n magtige Verlosser, Hy het sonde, duiwel en hel oorwin aan die kruis. Hy red elkeen wat sy Naam aanroep! (Rom 10:13) Hy verwyt nie, Hy red elkeen wat regtig vry wil wees! Moenie soos die Jode in selfmisleiding voortploeter nie, erken eerlik jy is slaaf, kom na Jesus en Hy sal jou vrymaak!


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.