BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 19 Maart 2015

ENIGSTE WARE VERLOSSER?

- hoe kan ek weet en glo dis Jesus?

Het die twyfel jou al beetgepak en jou laat wonder? Vrae soos : Hoe kan ek seker weet dat Jesus die enigste ware Verlosser is? Is alle godsdienste nie dalk maar min of meer waar nie? Ja, die Bybel sê duidelik dat Jesus die enigste Middelaar is (1 Timoteus 2:5), maar hoe weet ek dat die Bybel waar is? Is die evangelies nie maar net legendes of ’n klomp gekookte stories nie? Hoe kan ek eerlike en duidelike antwoorde op hierdie vrae kry?

‘n Goeie plek om te begin is die opstanding van Jesus. As Jesus waarlik uit die dood opgestaan het, kan ons Hom oor alles glo (oor verlossing, oordeel, hemel, hel...), maar as Hy nie opgestaan het nie, is Hy maar net nog ‘n mens, net nog ‘n profeet soos baie ander voor en na Hom.

Een duidelike bewys vir die opstanding is dat die dissipels eers self getwyfel het. (Matt 28:17) Hierdie dissipels wat Jesus sien sterf het was later egter so oortuig van die opstanding dat hulle bereid was om te sterf ter wille van hierdie feit. Nou, geen mens sal ‘n leuen uitdink doelbewus om jouself in gevaar te bring nie. Nee, mense dink leuens uit juis om hulleself te beskerm! As die dissipels self Jesus se liggaam gesteel het (soos sommige beweer) of geweet het sy lyk is nog in die graf, sou hulle mos nie moed gehad het om te sterf vir iets wat hulleself geweet het nie waar is nie. 

‘n Ander indirekte bewys van die egtheid van die opstandingsverhale is juis die verskille tussen die opstandingsberigte in die vier evangelies. As alles een mooi storie was sou mens kon vermoed dat dit ‘n uitgedinkte verhaal is, maar nou is daar soveel verskille en unieke beklemtonings dat dit inpas by ‘n uitsonderlike buitengewone gebeurtenis soos iemand wat uit die dood opstaan. Opmerklik ook is die feit dat die eerste getuies van die opstanding vroue was. Nou dit sou juis ’n hindernis wees in die oë van eerste eeuse lesers, want vroue is nie as betroubare getuies geag nie. So die enigste rede waarom vroue as getuies genoem word, was omdat dit werklik so gebeur het.

Party mense word egter nie maklik oortuig nie. Hulle sal sê, ja alles goed en wel, maar is die evangelies nie maar legendes of mooi uitgedinkte stories nie? Wie die evangelies noukeurig bestudeer sal gou agterkom dat hulle nie legendes is nie. Waarom?

1) Hulle ontstaansdatums is te na aan die gebeure wat hulle beskryf om legendes te wees. Indien dit onwaarhede sou bevat sou daar baie lewende persone wees wat die evangelies in diskrediet sou kon bring. In die Markus evangelie byvoorbeeld, vind ons sekere persone se name soos in die verwysing na Simon van Sirene waar spesifiek gemeld word dat hy die pa was van “Aleksander en Rufus”. (Markus 15:21) Hierdie moes bekende persone in die oorspronklike leser teikengroep gewees het. Enigiemand sou hulle kon uitvra oor die waarheid aan die gebeure. Dis ‘n duidelike bewys dat ons hier met kontroleerbare historiese beriggewing te make het. Paulus se briewe is nog vroeër geskryf as die evangelies en dit ondersteun ook die evangelies. 

2) Die inhoud van die evangelies is heeltemal te teenproduktief om gekookte stories te wees. Dink aan die lafhartigheid van die dissipels en by name die leiersfiguur Petrus (sy gruwelike verloëning van die Here) wat so duidelik en eerlik beskryf word. Dit sou vir enige beweging ’n groot verleentheid gewees het. Niemand sou so iets uitgedink het as dit nie regtig gebeur het nie.

Lees maar net die Nuwe Testament met ‘n oop gemoed en jy sal die egtheid, eerlikheid en nugterheid self aanvoel. Die evangelieverhale het geen voordeel vir die eerste dissipels ingehou nie, net nadele soos verwerping, vervolging en die dood. Waarom sou mens iets uitdink wat vir jou net ellende besorg? Waarom sou mens iets uitdink wat jou eie swakheid en ongeloof te beklemtoon as jy dan die stigters sou wou wees van ‘n mensgemaakte godsdiens?

Daar is nog ‘n groot rede om te glo. Die evangelie is so uniek en anders as enige mensgemaakte godsdiens. Ons het hier te make met ‘n unieke vorm van almag. God is so almagtig dat Hy Homself in Jesus swak maak. Jesus word verwerp, mishandel en gekruisig. Dis alles tekens van swakheid. Dis so anders as die wêreld se dapper helde en gode en profete. Maar Juis in sy swakheid kom sy almag na vore as Hy deur sy kruisdood en opstanding die houvas van die duiwel oor ons breek. Die evangelie is ook so anders as alle ander godsdienste wat eintlik maar net ‘n klomp opdragte bevat van wat die mens moet doen. Die evangelie gaan oor wat Jesus gedoen het vir en namens ons. Die godsdienste van die wêreld gaan oor : Doen, doen, doen.... Die evangelie van Jesus sê : Dit is gedoen, dit is gedoen, dit is gedoen.... In Jesus se eie woorde : “Dis volbring!” Hoe meer mens die goeie nuus van die evangelie hoor, hoe meer besef jy dit is onmoontlik nie deur ‘n mens uitgedink nie.

BONATUURLIKE GODDELIKE OPENBARING

Kom ons gaan weer terug na die oorspronklike vraag. Hoe weet ek dat Jesus die Seun van God en die ware Verlosser is? Daar is baie logiese redes (waarna ons nou gekyk het) maar hier in Matteus 16 kry ons die groot rede. Petrus kom tot ‘n heerlike erkenning en insig as hy bely : “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” Nadat Petrus hierdie aangrypende belydenis gemaak het dan antwoord Jesus hom... "Gelukkig is jy, Simon Barjona," het Jesus vir hom gesê, "want dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.” (17) Dis ‘n eggo van Jesus se woorde in 11:25. “Daardie tyd het Jesus gesê: "Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het.” Petrus het nie hierdie insig aan "vlees en bloed" sy eie familie of volk te danke nie - inteendeel! Sy insig en sy geloof is ‘n gawe van God. Dis ‘n bonatuurlike openbaring van God wat jou oë open vir Jesus, die Lig van die wêreld! As Hy dit vir jou gedoen het, dank Hom daarvoor, dis net genade!

Wat van jou? Glo jy al? Wonder jy of God Homself ook aan jou wil openbaar? Dis insiggewend en bemoedigend, net na Jesus se stelling in Matteus 11:25 waarna hierbo verwys word, rig Hy ‘n direkte en ope uitnodiging aan almal... ook aan JOU! “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (Matteus 11:28)


God laat die lig vir jou opgaan sodat jy kan sien wie sy Seun is en in Hom kan glo...

2 opmerkings:

  1. Johannes, hoe weet ons wat die wil van God is, veral as dit kom by n huweliksmaat en woonplek en of ek kan gesond word van n siekte. Markus 11:24 se ek moet nie twyfel as ek God iets vra nie, en dat ons sal ontvang en ons het dit reeds ontvang.verduidelik dit asb

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Charlotte vir die vrae... dis sommer 'n hele mondvol. Oor die kwessie van God se wil kan jy gerus lees by http://skattegemynuitgodsewoordintsumeb.blogspot.com/2015/01/god-se-wil-vir-my.html (of kyk by onderwerplys - God se wil. God se basiese wil vir ons is heiligmaking, dis sy groot doel met ons as verlostes. Alle ander aspekte is daaraan ondergeskik. Eenvoudig gestel, streef na die heiligheid wat God in sy Woord voorskryf en die ander dinge (soos regte huweliksmaat, woonplek en beroep) kom byna vanself! Genesing is iets wat in ons dag baie klem ontvang (en daar is baie dwalinge hieroor soos byv die Word Faith leringe) en om net 'n kort antwoord te gee is baie moeilik. 'n Paar sake : Ons mag gelowig bid vir genesing. Hy genees inderdaad op wonderbaarlike maniere! God gee nie altyd genesing in hierdie bedeling nie, want ons leef nog in 'n geskende skepping en die verheerliking van ons liggame het nog nie aangebreek nie. (selfs die apostel Paulus wat baie wonders en genesings gesien gebeur het, skryf dat hy Trofimus siek agtergelaat het.) Gebedsverhoring is 'n heerlike feit in die Skrif, maar dis nooit 'n blanko tjek wat ons volgens ons eie vleeslike begeertes kan invul soos ons wil nie. Die konteks van die Skrif relativeer die "alles" in Markus 11:24 baie duidelik. So lees ons in 1 Joh 5:14 "En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil."

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.