BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 01 November 2014

BEVRY VAN VREES!

VREES : OORSAKE, GEVOLGE EN GENESING 

Vrees. Koue beklemmende vrees. Daardie kol op die maag. Vir sommige ’n alledaagse ellende. Die voortslepende kanker in baie mense se lewens, ’n beperkende faktor wat jou tot passiwiteit rem. Natuurlik, nie alle vrees is ongewens, verkeerd of sondig nie. Normale vrees (bangheid) vir ‘n leeu verhoed dat ek in die wildtuin uitklim en sy voorpoot probeer skud... Maar vrees kan maklik verkeerd word en buite beheer raak. ’n Gesonde normale vrees kan oorgaan in ’n irrasionele onlogiese vrees. ‘n Verlammende fobie. Dit kan sondig word as my vrees vir leeus so erg is dat ek nie in Tsumeb se hoofstraat wil stap nie, want net dalkies het daar een uit Etosha ontsnap...! (Dit klink my amper die Amerikaners se buitengewone paniekerige vrees vir Ebola val so half en half in hierdie kategorie...) In hierdie boodskap gaan dit oor sondige vrees. Godonterende vrees. Ons kyk na die oorsake, die gevolge en die genesing. 

OORSAKE. Waar kom vrees vandaan? Ons lees vir die eerste keer van vrees in Genesis 3:10. Adam en Eva wat bang was vir God en daarom wegkruip. Die eerste waarneembare gevolg van die sondeval was dus vrees.* Voor daar sonde was, was daar nie vrees nie. Sedert die sondeval is vrees die oorheersende faktor in mense se lewens. Kom ons kyk prakties hierna. Wat maak mense bang, watter vrese hou mense gevange en beheer hulle lewens? Daar is baie dinge - vrees vir die onbekende toekoms, vrees weens ’n gevoel van gebrekkige sekuriteit, vrees vir eensaamheid, vrees vir armoede en gebrek, vrees vir die dood, vrees vir die oordeel, vrees vir mense, vrees vir God self. Baie keer vrees mense net hulle vrees - dit het al so ’n bose kringloop geword dat daar eintlik nie meer vasgestel kan word waaroor dit nou regtig gaan nie. Later is ek bloot net bang omdat ek bang is. So wat is die grondliggende oorsaak van die mens se vrese? Ons het eintlik reeds die antwoord gekry. Sonde. Hoekom veroorsaak sonde vrees? Sonde dryf ’n wig in tussen ons en God. En dis juis die punt - ons is gemaak om van God afhanklik te wees, ons is gemaak om in ‘n verhouding met Hom te staan. Dis hoekom Hy ons geskape het. Sonder ’n liefdevolle vertrouensverhouding met Hom is ons uitgelewer aan vrees. Ons is afhanklik van sy liefdevolle Vaderlike sorg en gemeenskap en wanneer dit versteur is, lei dit tot vrees en ellende. Die groot vrees van die mens is dus eintlik die vrees vir God en dit lei tot ’n menigte ander gestaltes van vrees, want wie bang is vir Sy Maker se totale lewensewewig is versteur. (Soos ‘n motor se onderstel wat skeef is!) Alle ander vrese in ons lewe, al kan daar baie sekondêre oorsake wees, is dus op een of ander manier herleibaar na haakplekke in ons verhouding met God. 

GEVOLGE. Wat is die praktiese gevolge van hierdie vrese? Martyn Lloyd-Jones noem die volgende**: 

~ VREES is ’n verlammende swakheid. Jy kan nie die lewe leef wat God wil hê jy moet leef nie. Jy kan nie jou pligte as Beelddraer van God, as Christen, as man, vrou of kind nakom nie. Vrees maak jou oneffektief. Veroorsaak mislukking. 

~ VREES lei tot selfsug. Dit gee aanleiding tot die houding van : “Ek moet net myself beskerm, ek trek my terug in die klein wêreldjie van my eie selfsugtige belange.” Jy word kopsku vir mense, vir uitreiking, vir menseverhoudings... Jy is net ingestel op selfoorlewing. 

~ VREES veroorsaak ongelukkigheid. Vrees en blydskap gaan nie juis saam nie. Vrees gooi ’n droewige skaduwee oor ’n mens se hele lewe. Die bang mens kan niks werklik geniet of waardeer nie. Daar is altyd ’n werklike of fiktiewe gevaar wat my bedreig laat voel. 

~ VREES lei dikwels tot irrasionele denke en optrede. Dit beklem mense so dat hulle dom en onlogiese dinge doen. Hulle tree snaaks op en neem impulsiewe besluite. Hulle kan nie nugtere besluite neem nie. Hulle oorreageer op nietighede of is bang vir belaglike dinge. 

~ VREES laat mens vlug. Dit beteken nie altyd fisies weghardloop nie, maar behels ’n verskeidenheid van ontvlugtingsmetodes. Ek probeer uit die werklikheid van my vrese en onsekerhede te ontsnap deur buitensporige vermaak, alkohol, plesiersug, seksuele avonture en losbandigheid. Dit kan natuurlik ook sommige aanspoor tot veg. Ek wil teen alles en almal baklei.

~ VREES kan ook negatiewe liggaamlike effekte hê weens die oormatige afskeiding van sekere hormone. Daai ding wat ons (abnormale) stres noem! Dit gaan draai by maagsere, hartaanvalle, beroertes... 

~ VREES kan vererger tot wanhoop! Ek sien geen sin meer in die lewe nie. In sommige gevalle tot so ’n mate dat mense selfmoord pleeg. 


OPLOSSING. 

Die emosies van vrees moet gebreek word deur feite!

Ons gemoed kan net tot rus kom op vaste feite. Dit help nie net om vir jouself (of andere) te sê : “Moenie bang wees nie, ruk jou reg, hou op om simpel te wees...” 

Watter feit(e) breek die patroon van sondige vrees? Kom ons kyk na 1 Johannes 4:16 - 21. (lees gerus in jou Bybel) Hier word dit baie duidelik gestel : Die groot feit wat vrees verdryf is die feit van God se liefde en ’n lewe in ooreenstemming met daardie feit! Solank hierdie feit nie vir jou ’n persoonlike werklikheid is nie sal jy altyd gebuk gaan onder vrees. Liefde en vrees staan teenoor mekaar en is onderling uitsluitend. 1 Johannes 4:18 stel dit so kragtig en pragtig: “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite....” Die liefde waaroor dit hier in die eerste plek gaan is God se liefde vir ons. Vrees kan net oorwin word as ons God se liefde leer ken en dit glo. Ek moet oortuig wees dat die almagtige God, wat lewe en dood in sy hande hou my waarlik innig liefhet! Hierdie liefde het God vir ons gewys het deur Jesus te laat sterwe. (16) Dis die vertrek punt. Dis die begin van die oplossing. Dit gebeur wanneer ek tot ware geloof in Jesus kom en weet dat my sonde op grond van sy verdienste vergewe is! Dan weet ek daar wag nie meer straf nie en verdwyn my vrees vir die oordeel! (17) Het jy al hierdie liefde proefondervindelik leer ken of dalk nog net daarvan gehoor? 

Maar die oplossing strek verder. Onthou :"Die volmaakte liefde verdryf die vrees." Wat is volmaakte liefde? Dis duidelik dat dit hier gaan oor ’n liefde wat ons moet hê en betoon. (want hy sê : “wie nog vrees het nie volmaakte liefde nie.”) Ons kan nie volmaak hier as volmaak in absolute sin verstaan nie. Dis tog net God self wie se liefde absoluut volmaak is. Dit gaan hier oor ’n volledige liefde, ’n liefde wat in ons ’n begeerte opwek om God se bevele te gehoorsaam. En wat is dit? Liefde vir God en mekaar. Volmaakte liefde is dus die liefde wat uitdrukking vind in ons liefde vir God en mekaar. Hoe is ons in staat tot sulke liefde? Hoe gaan ons dit regkry? 

Volgens 1 Johannes 4:19 is dit in die eerste plek God se liefde vir ons wat ons in staat stel tot wederliefde vir Hom en gevolglik ook teenoor mekaar. Deur liefdevolle gemeenskap met God word hierdie liefde vervolmaak, dit bereik wasdom, dit bereik sy doel met ons. Prakties kom dit daarop neer dat hoe meer ons van God se liefde bewus word, en gevolglik hoe meer ons met God en met mekaar in liefde wandel, hoe minder vrees en hoe meer vrymoedige vertroue sal daar wees. 

Die antwoord op vrees is dus om as’t ware dieper te delf in God se liefde. Glo dit en leef dit! Dis ‘n feit! ( per slot van rekening - God is liefde! Ons kan dit met oortuiging verkondig - al misbruik sommige hierdie waarheid), Om onsself al meer en meer daarvan te vergewis en met blye wederliefde daarop te reageer. So bevry die liefde ons van vrees! 

DALK WENSDENKERY OF SELFBEDROG? NEE! DIS 'N FEIT!

Hierdie liefde is nie iets wat in ons verbeelding bestaan nie, dit is ’n sigbare historiese feit (vir elke kind van God) in die persoon en werk van Jesus Christus. Om God se liefde te leer ken beteken juis dat ek Jesus moet leer ken! Hy het gekom as Redder van die wêreld. (14) Deur in Hom te glo leer ken ons God se liefde baie prakties. Hy het ons bevry van die vrees vir die dood. (Hebr 2:14,15) Hoe? Deurdat Hy die straf vir ons sonde reeds volledig gedra het. Vrees is gegrond op die beginsel van straf. Mense vrees want hulle verwag straf. Maar as ek bewus is van God se liefde in Christus hoef ek nie meer straf te vrees nie. Hoe so? Die gelowige is iemand wat glo dat God Jesus in my plek aan die kruis klaar gestraf het. Omdat Christus se werk volledig afgehandel is sal die gelowige nie gestraf word nie! Hierdie feit bring my gewete tot rus. Kan jy sien, dis die feite van God se liefde in Christus wat die vrees uit ons lewens verdryf. Natuurlik as hierdie feite van Christus se liefde vir my ’n werklikheid is, sal dit tot wederliefde lei - ’n lewe van liefdevolle gemeenskap met God en my naaste. 

Nou sal iemand sê : “Ja, maar ek is nie bang vir God nie, dis moeilike lewensomstandighede en uitdagings wat my bang maak.” Die groot punt is net : Hy wie se vrees vir God, dood en oordeel deur die feit van die liefde aangespreek is, kan ook ander kleinere vrese oorkom op dieselfde basis. Byvoorbeeld, wie oortuig is van God se egte liefde, besef tog dat daardie liefde ook Vaderlike sorg insluit. Deur die feit van God se Vaderlike sorg word my vrese oor byv. finansies en die toekoms besweer. (Sien Hebreërs 13:5-6) 

WARM TRUI VAN DIE LIEFDE 

As mens koud kry trek jy ’n trui aan. Die koue van vrees en angs kan net buite gehou en verdryf word deur die warm trui van liefde. Hierdie trui is gebrei van drie soorte liefdeswol. Eerstens God se liefde vir ons wat Hy onomstootlik vir ons deur Jesus se kruis dood bewys het - hierdie liefde moet ek leer ken en glo. Ek moet daarop konsentreer en daaraan vashou. Niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie....! (Rom 8:31ev.) Maar natuurlik as God se liefde vir my ’n werklikheid word, reageer ek ook daarop. Ek reageer deur wederliefde vir Hom en vir my medemens. Die res van die trui bestaan dus uit hierdie liefde wat ek aan God en my naaste bewys. 

Glo in God se liefde, beoefen wederliefde - dit verdryf die vrees. 




Verdere studie oor die oorwinning van vrees...
In 2 Timoteus 1:7 lees ons - “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.” ’n Tweede groot feit waarvan kinders van God moet kennis neem om vrees te oorwin is die feit van die inwonende Heilige Gees in God se kinders. Soos reeds gesien, is ons kinders van God weens Jesus se versoeningswerk aan die kruis. So word ons bevry van die vrees vir God, die dood en die oordeel. Dis alles heerlik en waar, maar tog moet ons dag vir dag as gebroke mense in ’n gebroke wêreld leef. Hoe kry mens dit reg? Dis waar ’n heerlike waarheid met betrekking tot die gawe van die Heilige Gees inkom en ter sake is... God se kinders ontvang die Heilige Gees juis om hulle in staat te stel tot die leef van ’n nuwe lewe onder moeilike omstandighede. Paulus herinner die jongman Timoteus aan hierdie waarheid as hy sê : “Die Gees wat God ons gegee...” Hieruit kom ’n paar belangrike sake na vore. Die feit dat ons die Heilige Gees ontvang het, maak ons nie passief nie. Ja, die Heilige Gees is ’n gawe van God aan Sy kinders, maar God se kinders moet dit besef en aktief die Heilige Gees gehoorsaam en doelbewus in die krag van die Heilige Gees voortgaan. Ons moet onsself bewustelik aan Hom onderwerp en op Hom ingestel wees. Let op hoe stel Paulus dit hier - “gees van vreesagtigheid” (OAV) Met ander woorde die Gees wat God ons gegee het maak ons nie bang, vreesagtig of lafhartig nie maar stel ons in staat tot krag, liefde en selfbeheersing. Die Heilige Gees bewerk die kwaliteite en gesindhede in ons wat juis direk teenoor vrees staan. 

Die Heilige Gees verskaf die spesifieke teenmiddel teen vrees en sy gevolge! 

Vrees verlam, laat ons swak voel en terugdeins of vlug - die Heilige Gees gee krag. Krag om die Satan en die sonde te oorwin, krag om te getuig en probleme by die horings te pak. 

Vrees is selfsugtig, selfbeskermend, net ingestel op myself - die Heilige Gees gee liefde, selfs ’n liefde vir ons vyande. Liefde laat ons wegkyk van onsself en uitbeweeg na ander. Hierdie liefde verlos ons van vrees! (dit sluit pragtig aan by die boodskap van 1 Johannes 4) 

Ons het gesien vrees maak dat mense onlogies, impulsief en onverantwoordelik optree. Vrees vang dwase dinge aan - die Heilige Gees bewerk juis die teenoorgestelde denkwyse in ons, naamlik selfbeheersing, nugterheid. Mense word so deur hulle vrese beheer dat hulle onsinnige dinge aanvang en halsoorkop besluite neem, maar die Heilige Gees gee ons insig in die gebeure rondom ons. Ons kyk dan nie meer net teen mense en gebeure opsigself vas nie, maar sien die groter prentjie - die prentjie van God se beheer, God se liefde, God se eind doelwitte... Ons sien hoe alles meewerk om hierdie doelwitte te bereik, ons verstaan waar ons lyding vir die evangelie inpas - al hierdie feite help ons om nie paniekerig te raak nie, maar in nugterheid en kalmte besluite te neem wat tot God se eer strek.

Kom ons vat als mooi saam.

Seker die mees algemene opdrag wat God aan sy mense gee - beide in die Ou en Nuwe Testament : “Moenie vrees nie” Hierdie is nie ’n onrealistiese onmoontlike opdrag nie. Dit wat God beveel - dit gee Hy ook. Hy is die een wat ons van vrees bevry. (Psalm 34:5) “Ek het die Here gesoek, en Hy het my geantwoord en my uit al my vrees gered.” Hoe word ons van vrees bevry? Deur Sy liefde in Jesus Christus raak te sien en gelowig daarin te wandel in wederliefde. Deur die werklikheid van die Heilige Gees wat woon in elke kind van God. Is die Heilige Gees ’n werklikheid vir jou? Dalk besef jy - "Hy woon nie in my nie" - Wat moet ek dan doen? Sien jou sondaarnood raak, sien raak wat aan die kruis gebeur het...glo in die Here Jesus Christus,  begin om God en jou medemens lief te hê!

* Martyn Lloyd-Jones; “I Am Not Ashamed” p162. Heelwat gedagtes kom ook uit Jay E. Adams “The Christian Counselor’s Manuel”p413ev 

** Martyn Lloyd-Jones; “I Am Not Ashamed” p169ev




4 opmerkings:

  1. Dankie Johannes, vir 'n pragtige oordenking. Net gisteraand gesels ek en twee kollega's oor die die een se dogter wat opgeneem is vanwee haar vrees wat so erg geword het... Dis 'n hartseer verhaal. Haar naam is Hannah. Liewe kind van amper 20. Die sondeval het sy merk gelaat en vandag se chaotiese wereld plaas ons en ons
    kinders onder nog groter druk. Mag die liefde van God in Jesus in ons lewens heers!
    Geniet die leeus en ander diere daar in Tsumeb! Christo

    AntwoordVee uit
  2. Dankie Christo. Hoop om nog baie van jou daar uit Kanada te hoor!

    AntwoordVee uit
  3. Dankie Johannes, hierdie was werklik baie inspirerend.

    Seen
    Boeta

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.