BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 12 Oktober 2014

STIG ‘N NUWE KERK?

- wat staan ons te doen as die kerkleiding klaarblyklik die pad byster raak?

Dis geen geheim dat daar die afgelope dekades reuse woelinge en koersveranderings in kerklike geledere (en onder andere ook by name in die NG Kerk) was nie.

Oor kernleerstellings soos die liggaamlik historiese opstanding van Jesus, Skrifbeskouing, die bestaan van die duiwel, die kerk se hantering van homoseksualiteit en baie ander sake (soos die vrou in die lerende amp) is daar hewige debat gevoer en is daar in sommige gevalle Sinodale besluite geneem wat baie diep gelowige lidmate geskok laat wonder het of ons nog ‘n plek het in die kerk en of ons nog met ‘n goeie gewete lidmate kan bly van ‘n bepaalde denominasie. Inderdaad het duisende van die room van ons lidmate ander kerklike tuistes gevind of gemeentelose swerwers geword... Die voorstel rakende die verandering van Kerkorde Artikel 1* van die NG Kerk is nou weer so ‘n kwessie wat gemoedere gaande kan maak en weereens ‘n besinning oor lidmaatskap tot gevolg kan hê. Om dit prontuit te stel, daar is lidmate wat diep ongelukkig is met die koers waarin die kerkleiding klaarblyklik beweeg. Sommige oorweeg dit dalk weer om die pad te vat... “Wanneer is genoeg , genoeg en moet ons afskeid neem?”, word gevra.

AFSKEIDING EN AFSTIGTING?

Moet ons wegbreek en afstig as die kerkleiding ‘n koers inslaan wat volgens ons mening nie reg aan die Skrif en ons belydenis laat geskied nie? Ek dink dat daar (ten minste tans) goeie praktiese, historiese en teologiese redes is, waarom ons uiters, maar uiters versigtig moet wees om sommer ‘n kerkverband te verlaat en ons “eie” ding te doen.

Prakties : Afskeidings lei tot kerkversplintering en dikwels tot ‘n ongebreidelde individualisme wat uiteindelik ontaard in kerklosheid en chaos. Rondom ons is daar baie sigbare voorbeelde. As jy eers begin afstig en afstig word dit later ‘n eindelose proses van afstigting en kerkhoppery, want kort voor lank kom daar in die nuwe groep ook verskille na vore wat weer afstigting of afskeiding “regverdig”. Die gevolg is op die ou end klompies opregte, maar dikwels verdwaalde skape van die Here wat hulle eie koers inslaan en die prooi word van verwaarlosing en wrede wolwe. Los individue wat elkeen die Here op sy eie manier probeer dien, is nie die Nuwe Testamentiese siening van Christenskap nie!

Histories : Die geskiedenis bewys by herhaling dat afstigtings gewoonlik op die lange duur nie lei tot suiwerder kerkwees nie. (Dink maar aan Nederland!) En dis ook by ons die geval : hoeveel van diegene wat hulle spesifiek van die NGK afgeskei het se bedienings het in ’n doodloopstraat beland en nie juis tekens gelewer van God se seën en goedkeuring nie? Wat van die 16de eeuse reformasie sal mense vra, dit was tog ‘n radikale afskeiding van die Roomse kerk, of hoe? Die geskiedenis wys dat dit nie die reformatore soos Luther se aanvanklike idee was om af te skei nie. Hulle is uiteindelik gedwing om dit te doen. Om weg te loop is een ding, om weg gejaag te word is iets heel anders...

Teologies : Die verbondsvolk van God in die Ou Testament was dikwels (meestal) in ’n uiterste toestand van verval en het selfs polities geskeur na Salomo se regering. Tog word godsdienstige afskeiding of skeuring nêrens as ’n oplossing voorgehou nie. Dis ’n minderheid van die Verbondsvolk wat die ware God by tye gedien het, maar die sewe duisend wat nie die knie voor Baäl buig nie, kry nie die opdrag om eenkant hulle eie ding te gaan doen nie.

Die Nuwe Testament se herhaalde en ernstige waarskuwings om gereed te wees, om selfondersoek te doen, om in die geloof te bly en ook die oproep tot bekering byv. tot die gemeente van Laodicea, wys dat daar nie ’n is-gelyk-aan-teken tussen kerk en ewige burgers van die Koninkryk is nie. Almal in die kerk sal nooit ware volgelinge van Jesus wees nie. Die volmaakte kerk bestaan nie, selfs onder Jesus se binnekring van dissipels was daar ‘n Judas en ook die ander het by tye ernstig gedwaal. Die toestand van die kerk op aarde kan natuurlik wissel in gesondheid en waarheid, soos die briewe aan die sewe gemeentes in Openbaring duidelik aantoon. Dit blyk dat dit met party gemeentes heel goed gaan, terwyl sommige kerke (gemeentes) bloot nog net die naam het dat hulle leef. So was dit met die gemeente van Sardis. “Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood.” (Openbaring 3:1) Tog word selfs hulle nog steeds as gemeente van die Here vermaan en aangespreek en opgeroep tot bekering. Die getroue gelowiges in hierdie afvallige gemeentes kry nie in ’n enkele geval die raad om hulle af te skei nie! Nee, hulle moet optree teen verkeerde elemente en hulleself weer toewy in gehoorsaamheid en liefde vir die Here. Die kerk in Korinte word steeds as gemeente van Christus deur Paulus hanteer al was daar gruwelike voorbeelde van twis en seksuele losbandigheid... Kyk hoe spreek Paulus hierdie gemeente korporatief aan. “aan die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges,” (1 Kor 1:2 OAV) En ja, beslis, hy raas baie ernstig met hulle vorentoe in die brief, maar tog herinner hy hulle as gemeente daaraan dat Jesus Christus getrou is om hulle te laat vasstaan. (1 Kor 1:8,9)


Gelukkig is die deurslaggewende faktor nie kerkrade, ringe en sinodes nie, maar ons GETROUE HERE JESUS CHRISTUS!

WAT STAAN ONS TE DOEN?

As afstigting nie ‘n opsie is nie, wat dan wel?

Die selfstandigheid van elke gemeente bied bewegingsruimte en kan dien as ’n vertrekpunt vir reformasie. Ons moet tog waak om nie die beginsel van ecclesia completa te vergeet en kollegialisties oor die kerk te dink nie. Die plaaslike gemeente is volledig kerk en nie bloot ‘n tak van ’n instituut nie. Elke plaaslike kerk staan direk onder die regering van Christus deur middel van die Woord en onder leiding van die ampte. Elke plaaslike gemeente wat dit ernstig opneem, het die heerlike voorreg, ruimte (en verantwoordelikheid!) om toe te neem in insig van God se wil en gehoorsame gelykvormigheid aan Christus. Meerdere vergaderings (ringe en sinodes) is slegs meerdere vergaderings omdat meer kerke teenwoordig is en nie omdat hulle meerdere gesag het nie. ‘n Sinode, moet ons onthou is nie ‘n hiërargiese (pouslike) liggaam nie, maar eerder ‘n gebeurtenis! Een kerk (gemeente) het wel ’n getuienistaak ten opsigte van ander kerke (gemeentes) wat die pad byster geraak het, maar kan tog nie verantwoordelik gehou word vir hulle sondes nie. Waarop kom dit neer? Die plaaslike kerk onder leiding van die plaaslike kerkraad, moet na groter gehoorsaamheid aan die Skrif streef en voortdurende reformasie najaag. Ons eerste verantwoordelikheid is hier by onsself! Ek wil amper sê (sonder om die belangrikheid van 'n besluit rondom Artikel 1 te ontken) : "Wees dus asseblief minder bekommerd oor Belhar en meer bekommerd oor die geestelike toestand van ons eie jeug, sedelike norme, kerkbywoning en diensbaarheid!" As ons euwels soos onsedelikheid (saamwonery) en los dissipline (byvoorbeeld oor versuim van kerkbywoning) sommer goedsmoeds in eie geledere duld, hoe kan ons dan die groter kerkverband oor “sondes” aanspreek? Positief gestel, niks wat ‘n sinode sou kan besluit kan ons verhinder om getrou aan Jesus en Sy Woord voluit kerk te wees nie. Laat ons hiermee erns maak!

Kerkrade moet groter verantwoordelikheid vat in praktiese aangeleenthede soos die beroeping van leraars wat die Woord suiwer verkondig, ondersteuning aan Skrifgetroue bedienings en die bestuur van gemeentes in eerlike gehoorsaamheid aan die Woord. Vir hierdie tak moet kerkraadslede hulleself toerus (en laat toerus) sodat hulle kan standpunt inneem teen wat verkeerd is en kan bevorder dit wat reg is.

Lewer ‘n helder en blymoedige getuienis binne jou kerkverband sowel as na buite met die Skrif en belydenisskrifte as basis. ‘n Helder getuienis – laat ons duidelik sê waar ons verskil en dit deeglik vanuit die Woord en belydenis fundeer. Maar ook belangrik – ‘n blymoedige getuienis – sommige kampvegters vir die waarheid verval in ‘n oorkritiese, siniese dikbek gesindheid en kelder so hulle eie standpunte. Oor die waarheid kan en moet ons altyd bly wees. Daarom moet ons bereid wees om ons standpunte met beskaafdheid, vriendelikheid en innerlike vreugde aan almal te stel wat maar wil luister.

Soek groter kontak en eenheid met ander gemeentes wat opreg na Woordgehoorsaamheid streef. Pasop vir die “net ons is reg” sindroom. In elke kerkverband en daarbuite is baie gemeentes en gelowiges wat die Here getrou wil dien in hierdie tye van chaos. (Nooit sal ons ook oor elke "i" se dotjie en "t" se strepie presies dieselfde dink nie. En ons hoef ook nie...) Laat ons wat oor ons baisiese geloofsfondamente dit eens is, mekaar opsoek en die hande vat. Ons het mekaar nodig.

Laat ons ons verootmoedig in gebed en berou oor die gebroke toestand van ons eie gemeente en kerkverband en groter kerk as geheel. Die geestelike temperatuur in die 18de eeuse Engeland is nie deur wegbreekaksies, formele kerkdebatte en besluite verander nie, maar deur ‘n Godgewerkte herlewing! Ja, God het menslike instrumente in hierdie herlewing soos Whitefield en Wesley gebruik, maar dit was in die eerste plek ‘n bonatuurlike ingryping van God self! Hoe nodig het ons Hom nie! Wie ernstig is oor die welsyn van die kerk sal begin bid! God is nog steeds God en vir Hom is niks onmoontlik nie. Ons mag en hoef nie moed te verloor weens die uitsprake van diegene in leiersposisies nie; ons is ook nie afhanklik van sommige misleide akademici aan ons universiteite nie. God kan ’n magtige werk op voetsoolvlak doen as ons Hom entoesiasties gehoorsaam en die waarheid biddend verkondig. Die werk van  (kliek op) Hans Hauge (1771-1824) in Noorweë is ’n pragtige en besielende voorbeeld hiervan.

POSITIEWE HOOP

Solank die Woord binne die kerk gevind word (en onthou sowel die ou as die voorgestelde Kerkorde Artikel 1 begin met : “Die Nederduitse Gereformeerde Kerk is gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God.”) en ons hierdie Woord mag verkondig is daar hoop! Hierdie Woord is ons basis en vertrekpunt van reformasie.  Maar daar rus ook ’n nederige verpligting op elkeen wat hierdie Woord glo, om dit gehoorsaam uit te leef. Ons hoef nie vir iemand te wag nie - ek en jy kan mos deur die genade dit begin gehoorsaam... 


Die plek om te begin is my eie hart en daarnaas ook in ons eie gemeente. Die versoeking om die pad te vat is dalk soms groot. (Jy het dit dalk alreeds gedoen en ek het baie begrip daarvoor. Jy het dalk geen ander keuse nie, want jy moet Sondag na Sondag die gruwelikste dwaallering aanhoor – daar kan sekerlik situasies ontstaan, wanneer daar geen ander opsie is as om by ‘n ander gemeente of kerkverband in te skakel nie. Moet asseblief net nie die LONE RANGER OPSIE kies nie! ) Elkeen wat dit oorweeg moet egter eers eerlike selfondersoek doen of dit in die lig van die breë beginsels van die Skrif die regte ding is. Het God jou nie juis geplaas waar jy is, binne-in ‘n bepaalde gemeente, met die oog op ‘n tyd soos hierdie nie? Mag Hy jou duidelik deur Sy Gees en Woord lei!

Afskeiding kan maklik ‘n afgrond word...



*Huidige Artikel 1 

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619, naamlik die sewe en dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse Leerreëls.


Voorgestelde Nuwe Artikel 1 

1. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk is gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. 

2.1 Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, word verwoord in die ekumeniese belydenisse, naamlik die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanasius; en die Drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls. 

2.2 Die Belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die Kerk, op so ’n wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as ’n belydenisskrif onderskryf nie. 

3. Die Kerk aanvaar dat haar roeping om haar geloof te bely, altyd geld en dat ’n uitbreiding van haar belydenisgrondslag sonder dwang geskied. 


[Die kerkraad van die NG Kerk Tsumeb het op 12 Oktober 2014 met ‘n groot meerderheid , NEE gestem, teen die voorgestelde verandering van Kerkorde Artikel 1.]

10 opmerkings:

  1. Johannes

    Dankie vir jou tydige en aktuele artikel. Ek onderskryf jou mening heelhartiglik.

    Die onderskeid wat Dr Martyn Lloyd-Jones maak tusen afskeiding en kerkskeuring is vir my nogals verhelderend. Hy meen dat afskeiding onvermydelik word wanneer ‘n plaaslike gemeente of kerk die kernwaarhede van die geloof of evanglie op die spel plaas en selfs openlik verloën. In so’n geval is afskeiding iets onvermydeliks. Maar wanneer gelowiges oor nie-wesenlike sake hulle band met die gemeente of ‘n kerk verbreek dan maak hulle hul in werklikheid skuldig aan skeuring en verdeeldheid, soos dit in Korinte die geval was. En om skeuring of verdeeldheid te verooraak is altyd iets vleesliks en sondigs.

    Die reformatore het hulle nie aan skeuring skuldig gemaak nie. Dit was erdeer ‘n afskeiding wat noodsaaklik en onvermydelik geword het. Al was hulle uit die kerk gewerp sou hulle nie daar kon bly nie. Afskeiding is noodsaaklik wanneer dit nodig blyk te wees, maar skeuring is ‘n sonde en dien nie die liefde en eenheid in die kerk nie. Dis hoe ek Lloyd-Jones hoor en verstaan.

    As ek luister en lees wat sekere NG teoloë in hulle persoonlike hoedanigheid skryf in die kerkbode en openbare media, dan is dit vir my duidelik dat van hierdie teoloë beslis nie meer staan by die christelike geloof soos dit deur die eeue aan ons oorgedra is nie. As hulle standpunte die amptelike standpunte van die Algemene Sinode sou word dan meen ek dat ons beslis voor ‘n afskeiding te staan gaan kom. Maar solank dit egter nie-amptelike standpunte is, moet ons bly waar ons is. In jou artikel kom dit uitstekend na vore.

    Jou broer in Christus
    Coen Sutton

    AntwoordVee uit
  2. Johannes
    Ek wil net graag vra wat Coen bedoel as hy sê “Maar wanneer gelowiges oor nie-wesenlike sake hulle band met die gemeente of ‘n kerk verbreek dan maak hulle hul in werklikheid skuldig aan skeuring en verdeeldheid, soos dit in Korinte die geval was. En om skeuring of verdeeldheid te verooraak is altyd iets vleesliks en sondigs.” Ek vra hierdie na aanleiding van my eie situasie wat ek kortliks skets. Ek was diaken en ouderling in die NG Kerk, maar reguit op pad hel toe. Toe die Gees my wederbaar en die Woord my vrymaak, het ek die Bybel (amper sê ek verskeur). Ek kon nie genoeg die Woord bestudeer nie. Toe ek die volle waarheid ten opsigte van God en Sy Woord buite my kerk gevind het, het ek ontdek:
    Daar is n leer van God waarmee ʼn mens uit jou put kan klim.
    God spel in Sy Woord uit presies hoe ons, ons Goliats kan neervel.
    Deur geloof in God kom ons by ons Nineve uit.
    Tem die leeu in die naam van Jesus en hy het geen mag of reg om ons te verorber nie, behalwe as ons hom in onkunde toelaat om dit te doen.
    God het vir ons ʼn weg uit die varkhok gegee. Ens. Ens.
    Ek het na God geroep en sonder dat ek mooi verstaan het wat ek vra, het ek gevra: “ Here vul my met U Heilige Gees.” Ek het die doping in die Heilige Gees ontvang en van daardie dag af in tale begin praat. En toe ek dan ook die bekerings doop ondergaan was die gort gaar. Kort hierna het die kerk my begin vervolg. Wat ek nie kon verstaan nie was dat toe ek in die wêreld was die kerk nie ʼn probleem met my gehad het nie, maar toe ek warm was vir Jesus (wat ek vandag nog is) toe word ek vervolg.
    Daar is van die kansel af aangekondig dat ek nou uit die kerk gesit is en ook uit die koninkryk van God is, volgens die Heidelbergse Kategismus, vraag 82 se antwoord (a) op bl. 53 staan dit so geskrywe: “dat die dominees die sleutel van die koninkryk van God het en mense kan uitsluit uit Sy koninkryk. Dan word die Skrifte daar genoem. (Groot dwaling)
    Kort hierna is my seun wat in graad 11 was ook gered, hom laat doop en is hy ook uit die koninkryk gesluit. My seun was in ʼn groot seunsskool en het na sy bekering elke Woensdag gedurende pouse ʼn Bybelstudie in die skoolsaal begin hou wat tot deur 300 seuns bygewoon is. (Hierdie verlore kind volgens die kerk). Die hele huisgesin het toe die NG Kerk verlaat.
    Ek wil dan nou net vir Coen vra, was ons vleeslik en sondig toe ons die aangesig van die Here gesoek het?
    Ek kan eintlik ʼn boek skryf oor hierdie gebeurtenis.
    Seen
    Boeta

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Geagte Boeta,
      Baie dankie vir jou skrywe en opregte getuienis. Ons dank die Here vir elke ware bekering, en mag jy steeds voortgaan om die Here lief te hê en te dien.
      Ek het bloot die beginsel onderskeid tussen kerkskeuring en afskeiding soos Lloyd-Jones dit verstaan gestel, sonder om prakties daarop uit te brei.
      Wat jou vraag aan die einde betref antwoord ek graag as volg. Dit was nie vleeslik en sondig om die aangesig van die Here te soek nie. Dit is immers ‘n opdrag van die Here self. Jy het ook nie ‘n nuwe kerk gestig nie. Ongelukkig onthou ek uit die tyd toe ek tot bekering gekom het, dat ek in my onervarendheid soms ‘vleeslik en sondig’ opgetree het. Ek was nog nooit spyt oor my bekering nie, maar wel oor die foute wat ek daardie tyd gemaak het.
      Ek kan nie ‘n oordeel fel oor wat jy beleef het nie. Ek vertrou egter dat indien daar teen jou verkeerd opgetree is, dat jy sal kan vergewe soos wat jy vegewe is.
      Liefde in Christus
      Coen

      Vee uit
    2. Jammer Coen,
      Ek het nooit gesien dat jy my geantwoord het nie, my fout.
      Ja Coen ek het die Here baie lief en dien Hom voluit. Ja Coen vergewe die het ek en hulle ook vrygespreek.

      Seen
      Boeta

      Vee uit
  3. Goed geskryf! Dankie
    Taylor Ridgard

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie. Lekker om van jou te hoor Taylor. Maak meermale so.

      Vee uit
  4. Ja. Ek weet dat ek nou nie die mees ingeligste is nie, maar die dinge rondom die NG kerk het ek al voorspel toe ek nog in die skool was. 'n Kerk verval nie in een geslag nie. Die dag toe die NG kerk tenvolle deel geword het van die Wereldraad van Kerke, was die skrif aan die muur en het ek alreeds gese dat die uiteinde van die Kerk reguit op 'n verval van die ware geloof afstuur.Kyk maar na die geskiedenis van die Verbonds Volk. Die opdrag was om almal uit te roei, maar dit het nie gebeur nie en is daar toe reeds vir hulle gese dat dit vir hulle tot 'n val sal lei. Daar is geen kompromie te sluit met die ongelowiges nie. Wat het die dag en nag in gemeen? Niks nie!!
    Ek was skaars 3 maande 'n verhoorafwagtende gevangene toe het ek al die vraag gevra: Vader, na watter Kerk toe moet ek eendag gaan as ek eendag uit die gevangenis uitkom? Ek is nou nie van die NG kerk nie, maar wel van die Susters Kerke wat basis groot geword het in die NG kerk , omdat ons eenkeer per maand 'n diens gehad het. Ek het na 10 jaar en 2 dae wel uitgekom en het wel 'n tuiste gevind soos wat ek gelei was, by die NG kerk, waar ek al die jare toe kerk gegaan het, die slag in Tsumeb. 'n Prediker wat die Woord suiwer verkondig en wie se prediking voldoen aan al die vereistes. Vermaan die wat vermaan moet word en bemoedig die wat dit nodig het. Die verkondiging moet inlyn wees met die prediking soos voorgehou deur die Seun van God. Skerp soos 'n 2 snydende swaard waar die 2 kante van die munt baie duidelik uitgespel word.
    Die grootste probleem in die kerk is die verdraagsaamheid teenoor "anders denkendes". Om nie aanstoot te gee nie i p v dat daar drasties opgetree word teen die sulkes wat hulle skuldig maak aan dwalings. As daar een vrot appel is sal die hele boks sleg word. Verwyder die suurdeeg onder julle uit, m a w, die oplossing is nie om af te stig nie, maar om skoon te maak. Paulus beaam ook die woorde van die Seun van God
    Die vraag is dus nou. Kan die NG Kerk nog skoonmaak of het dit te ver gevorder? Die volgende is dus: Hoelank gaan dit die suurdeeg neem voordat dit die hele brood suurgemaak het, selfs in my gemeente? Hoe kan ek as gemeentelid gewaarborg wees dat my Prediker gaan bly waar hy is? Sal die uiteinde van dit alles nie lei dat ek later in 'n gemeente sit waar daar geen Prediker is nie, omdat daar nie 'n geskikte een gevind kan word nie. Of dalk nog erger dat een beroep word en uit desperaatheid aanvaar word wat my in totaliteit te vervreem van die Kerk, opsoek na 'n kerk wat nog die suiwer Woord verkondig,
    Die verdere kwessie is nou die toekoms van die kerk vir die nageslag?
    Die harseer storie van die KERK EN DIE MENS.
    Hy het alles gedoen om die Waarheid te openbaar, maar die mens het die leun liewer as die Waarheid.
    Antwoord tog ASB vir my net die een vraag: WAAR IS DIE KERK VAN CHRISTUS? Vader na watter kerk toe moet ek gaan as ek eendag uit die tronk kom?

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Tinka. Die kerk van Jesus sal altyd daar wees, omdat Jesus self haar in stand hou! Waar vind ek die kerk? Daar waar die Woord suiwer verkondig word (tsv baie foute en mankamente.) God self lei sy kinders na die Woord.

      Vee uit
  5. Dankie Tinka. Die kerk van Jesus sal altyd daar wees, omdat Jesus self haar in stand hou! Waar vind ek die kerk? Daar waar die Woord suiwer verkondig word (tsv baie foute en mankamente.) God self lei sy kinders na die Woord.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.