BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 11 September 2014

BAIE LIEFDE

- en die vraag oor wie mag deelneem aan die nagmaal? 

Ons as mense sit met ‘n probleem. Die Bybel is duidelik : Ons moet God liefhê en dien met ‘n volkome hart. (Dis onder meer so duidelik uit Jesus samevatting van die wet.) Dit klink mooi, maar hoe kry ‘n mens dit reg? Wat motiveer ons om God lief te hê? Of anders gestel, het ek God lief genoeg om Nagmaal te gebruik? Kwalifiseer ek vir die nagmaal? - want dis duidelik nie ‘n ligtelike saak nie! In LUKAS 7:36-50 kry ons ‘n voorbeeld van opregte en uiterste liefde. Dis die aangrypende verhaal van die sondige vrou wat Jesus se voete met haar trane “gewas” het, terwyl Hy aan tafel was saam met Simon die Fariseër. (lees dit gerus in jou Bybel)

DALK 'N SKANDAAL?

Wanneer ‘n mens ‘n belangrike gas vir ete nooi, hoop jy mos dat als sal regloop en dat niks sal gebeur wat jou in die verleentheid sal stel nie. (Ons wil ten alle koste verhoed dat die kinders skandes maak, die vrou uit haar beurt praat of dat iets met die kos sal skeefloop.) Op ‘n dag het Simon die Fariseër ‘n belangrike Gas genooi. (hy het natuurlik self nie besef hoe belangrik nie!) Probeer jouself die gebeure voorstel. Almal sit rustig aan tafel – moontlik was daar maar ‘n taamlik stywe en formele atmosfeer. Skielik kom ‘n huilende vrou die vertrek ongenooid binne gestorm. Wat sou sy hier maak? Sy gaan na Jesus en salf sy voete... Geskokte stilte, dan effense fluistering... en die gedagtes... Wat ‘n ongemaklike situasie! Dis asof ek die vraagtekens op almal se gesigte kan sien. Om alles te vererger was hierdie ‘n vrou met ‘n slegte reputasie- waarskynlik ‘n straatvrou met losse sedes.  Dalk 'n gewonder : "Ken sy Hom dan? Het ons dalk hier met ‘n skandaal te maak? Moet ons miskien RAPPORT se verslaggewer bel?"  ‘n Groot verleentheid vir almal, almal behalwe vir Jesus...

As ons die betekenis van hierdie gebeure wil verstaan, sal dit help om bietjie die drie hoofkarakters van naderby te bekyk:

SIMON. Op die oog af lyk Simon na ‘n billike ou. Hy het immers vir Jesus vir ete genooi.(terwyl Jesus seker nie baie vriende onder die Fariseërs gehad het nie) Tog word een ding duidelik, alhoewel hy uiterlik beleefd en ordentlik opgetree het teenoor Jesus, was daar in sy hart geen opregte liefde vir Hom nie. Eerder ‘n hoogmoedige kritiese gesindheid. “Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: "Hy, as hy ‘n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy ‘n sondares is." (39) 

Die rede : Simon het nie sy persoonlike behoefte aan Jesus besef nie, hy het nie besef dat hy Jesus nodig het nie, want hy het homself nie as ‘n verlore sondaar gesien nie... Dis die groot verskil tussen die veroordelende Simon en die gebroke vrou...

Simon is tipies van die godsdienstige goeie mens, wat nog nooit die Verlosser leer ken het nie. So baie Simons sit Sondag na Sondag in die kerk - pligsgetrou in baie opsigte, maar van berou, vergifnis, en verlossingsvreugde weet hulle niks... Daarom het hulle ook geen aanvoeling vir die nood van sondaars nie.

VROU. Anders as Simon wat ‘n gesiene persoon was, het hierdie vrou niks gehad om op trots te wees nie. Almal het geweet dat sy ‘n slegte vrou was. Maar baie belangrik : Sy was self ook bewus van haar sonde en daarom het sy gedoen wat sy gedoen het. Sy het haar sonde besef, maar gelukkig het sy nog iets besef, daar is net een Persoon wat haar in haar sondenood kan help, Jesus van Nasaret. (miskien het sy Hom al op straat hoor preek...) Dis duidelik dat sy desperaat was: “Ek moet by Jesus uitkom.” Sy het beslis nie meer omgegee wat mense van haar dink nie, die begeerte na vergifnis was te oorweldigend. Ek dink sy kon almal se oë op haar voel brand, maar vasbedrae voltooi sy haar sending...

Hierdie vrou ontvang die grootste geskenk wat ‘n mens kan kry : Vergifnis! “En Jesus sê vir haar: "Jou sondes is vergewe." (48) Hoe het sy dit gekry? Nie deur dit wat sy gedoen het nie, nie deur trane nie, maar deur geloof! Persoonlike geloof. “Maar Jesus sê vir die vrou: "Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede." (50) Haar trane, haar berou, haar diensbetoning aan Jesus, was maar net die bewys dat haar geloof eg was. Dit was die gevolge van haar geloof. Redding kry ons net deur ‘n persoonlike vertroue op Jesus. Ek kry dit as ek na Hom kom met my sondelas!

JESUS. Daar is niemand soos Jesus nie! Hierdie gebeure bevestig dit net weereens. Kyk hoe volmaak hanteer Hy hierdie moeilike situasie. Ander mense in sy posisie sou dalk kwaad geword het (“verwyder asseblief hierdie indringer”) of paniekerig (“wat gaan die ander mense nou van my dink?”), maar nee, Jesus is volkome in beheer. Jesus gebruik die geleentheid om die waarheid van vergifnis en liefde te demonstreer. Jesus weet van Simon se kritiek en Hy vertel daarom ‘n kort verhaaltjie om te wys dat vergifnis lei tot ware liefde. Hy vat alles mooi saam in vers 47. “Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde." Die implikasie is baie duidelik : Iemand soos Simon, al was hy uiterlik ordentlik het nog nooit die ware vreugde van vergifnis beleef nie, daarom was daar min liefde in sy hart teenoor Jesus. Hierdie vrou wat ‘n groot sondaar was, het radikale vergifnis ontvang en daarom loop haar hart oor van liefde vir Jesus. Sy is nie skaam vir Jesus nie, sy gee nie om wat mense dink nie, want sy het vergifnis persoonlik beleef en dis al wat tel!

Die verstommende en mees basiese feit (wat ek en jy so maklik vergeet) oor Jesus is dat Hy die mag het om sondes te vergewe. Nie net klein foutjies nie, maar sondes, regte sondes, aaklige sondes, “hel-toe-sleep-sondes” – ja, ook daardie een ding wat jou jare al bloots ry of soos ‘n gewig aan jou gewete vasgeketting is!

Wat leer ons hieruit? Spesifiek oor liefde en vergifnis? En wat sê dit oor die Nagmaal?

Liefde tot God is nie iets wat aangeplak kan word nie. Dit vloei voort uit ‘n ontdekking van my sonde en daaropvolgende belewenis van die heerlike vrye vergifnis wat Jesus skenk. Die nagmaal is daarom nie bedoel vir "goeie" mense nie, maar vir dankbare vergeefde mense. Net hulle waardeer die offer van Jesus en wil dit regtig vier. Natuurlik wys hulle lewens dit. Die vraag by die nagmaal is dus nie of ek goed voel oor myself of ‘n ordentlike persoon is nie, maar of ek al werklik my sondes besef het, dit na Jesus gebring het, vergifnis ontvang en daarom dankbare liefde in my hart het. (al besef ons ook hoe onvolmaak hierdie dankbaarheid is) Stukkende mense is welkom by die nagmaal, stukkende mense wat berou het oor sonde en hulle hoop op Jesus alleen geplaas het. Het jy al?


As die lig van sy vergifnis deurbreek oor ons lewe...




2 opmerkings:

  1. Aangrypend! Hoe sal ons ooit vir God genoeg kan dank vir sy loutere genade? Baie dankie Joahnnes.

    AntwoordVee uit
  2. Baie dankie Johannes vir hierdie stukkie. Dankie aan Hom wat ons eerste lief gehad het. "Amazing Grace"

    Seen
    Boeta

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.