BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 25 November 2013

MAG EK HULLE TROU?

- Bybelse ankers in die stormwaters van die gay debat.

Onlangs het die pers berig oor ‘n Vrystaatse NG dominee wat sy lesbiese dogter “getrou” het. (Dat dit in stryd is met die NG Kerk se huidige amptelike siening dat ‘n huwelik uit ‘n verbintenis tussen ‘n man en vrou bestaan, eers daargelaat.) Dis seker net iemand met ‘n hart van klip wat nie deernis het vir ‘n predikant (of enige Christen ouer) in so ‘n moeilike morele dilemma nie. Dat die dominee opregte ouerliefde vir sy dogter(s) het, staan seker bo verdenking. Tog bring dit mens by die vraag van ons hoogste lojaliteit... menslike bande en voorkeure of gehoorsaamheid aan God se onfeilbare Woord?
Is sy liefde ‘n liefde volgens die waarheid (van die Woord) of is dit een of ander vorm van humanisme en ‘n gerieflikheidsbesluit?



Dit bring ons by die gay debat, ‘n debat waaraan die Christen beslis moet deelneem – maar dan ook baie beslis in onderwerping aan die Woord! Hierdie debat sal nie sommer weggaan nie. Die momentum wêreldwyd is aan die kant van die voorstanders van ‘n siening wat homoseksuele oriëntasie en gedrag as normaal voorhou. Die redenasie is : “Ons is so gebore en dis ons reg om onsself uit te leef volgens ons oriëntasie! Aanvaar jouself, dis die pad na geluk!” Wat moet die Bybelgehoorsame Christen se standpunt wees?

WAT LEER DIE BYBEL OOR HOMOSEKSUALITEIT EN ONS OPTREDE TEENOOR DIESULKES?

Kom ons kyk na ‘n paar duidelike Bybelse merkers wat ons koers behoort te bepaal in die hantering van en ons houding teenoor homoseksualiteit en almal wat daardeur geraak word:

Die kind van God moet alle mense liefhê. God verwag duidelik van ons om ons naaste, wat alle soorte sondaars insluit lief te hê soos ons self. Dis sommer ‘n baie radikale liefde, dit sluit ook ons vyande in. Dis tog duidelik dat ons ons voorvaderaanbidder of Hindoe of Moslem bure moet liefhê en met ordentlikheid behandel, al verwerp ons hulle afgodery en valse godsdiens as ‘n gruwel. Hoe anders gaan ons aan hulle die evangelie van God se genade en vergifnis oordra? Presies dieselfde geld ook vir ons homoseksuele naaste. Vriendskap en liefde hoef mos nie noodwendig goedkeuring van hulle dade te beteken nie? Laat ons dit onomwonde duidelik stel, daar is geen plek in die kerk van Jesus Christus vir kwetsende taal of “gaybashing” nie! (Haatspraak teen gays soos veral in Amerika bedryf byvoorbeeld deur die Westboro Baptist Church is 'n tragedie en doen die beeld van die evangelie oneindig baie skade aan.)

Homoseksuele dade opsigself laat nie mense hel toe gaan nie, net so min as wat heteroseksuele dade vir my ‘n plek in die hemel verseker. “Gaan gays hel toe?” is ‘n vraag met ‘n valse vertrekpunt. Mense gaan nie hel toe oor een of ander spesifieke sonde nie, maar omdat hulle die enigste weg tot God, Jesus Christus verwerp. Mense word ook nie gered deur een of anders sonde nie te doen nie, maar omdat hulle Jesus as hulle Middelaar en Hoëpriester ken. Hierdie is ‘n noodsaaklike klem om ‘n gesonde perspektief te vind. So maklik kan iemand skouers optrek en hooghartig sê : “Gelukkig is ek nie ‘n moffie nie, gelukkig is ek nie ‘n dronkgat nie...” Dis nie die saak nie, die vraag is altyd primêr : “Het jy die Seun van God?” Wie Hom nie het nie, het nie die lewe nie... (1 Johannes 5:12) Maar juis HY nooi sondaars, ja alle sondaars om by Hom rus te vind. (Matteus 11:28) Dit sal die vertrekpunt wees in ons getuienis teenoor ons homoseksuele naaste, soos trouens ook teenoor alle ander mense!

Homoseksuele aangetrokkenheid (oriëntasie) is deel van die gebrokenheid van ‘n gevalle mensdom en ‘n skepping wat deur sonde geskend en gevolglik aan verganklikheid onderworpe is. Romeine 8 is hieroor baie duidelik. In hierdie skepping werk nie als soos dit moet nie. Ons het te make met ‘n stukkende mensheid en ‘n versteurde verganklike skepping weens God se straf op die sonde van die mens. Die direkte oorsake van homoseksualiteit kan moontlik baie kompleks wees: geneties, gesinsomstandighede, molestering, groepsdruk... Beteken dit nou dat ons homoseksuele gedrag as normaal of reg moet tipeer? Die feit dat ’n bepaalde gedrag moontlik fisies-genetiese oorsake sou kon hê, maak dit nog nie reg nie. Sommige mense is geneties meer geneig tot verslawing – dit maak alkohol of dwelmmisbruik nog nie reg nie. Sommige mense mag fisies meer geneig wees tot onaktiwiteit – dit verhef luiheid nie tot ‘n deug nie. ‘n Lae drumpel van frustrasie of ‘n siekte toestand soos diabetes mag bydra tot woede uitbarstings – dit beteken nie dat ons padwoede en geweld mag goedpraat nie. Sommige se natuurlike seksuele drange weens (hoë?) hormoonvlakke is sterker as ander s’n en mag ‘n bydraende faktor wees in owerspel, pornografie verslawing of poligamie. Dit beteken tog nie, dat ons hierdie dinge nie meer sonde mag noem nie. Gemolesteerde kinders word dikwels self molesteerders, maar moet ons nou pedofilie probeer regverdig? Vetsug is ‘n gekompliseerde toestand waarin genetiese, omgewings en emosionele faktore beslis ‘n rol speel. Dit beteken nie dat mens nie daarteen kan veg en dit oorwin nie! Die feit is, alle mense ly op een of ander wyse onder die sonde gebrokenheid in hierdie wêreld. Maar deur die genade van God in Jesus kan ons ten spyte van hierdie gebrokenheid teen sonde kies en ons positief beywer vir ‘n heilige lewe volgens God se wil.

Homoseksuele gedrag en dade is nie alleenlik sonde nie, maar ook ‘n besondere simptoom van die wesentlike sonde om God se heerskappy te ontken. Die feit dat daar komplekse oorsake en baie faktore betrokke mag wees, verander niks aan hierdie feit nie. Drie redes kan daarvoor aangevoer word: 

  - Die Bybel sê dis sonde. Alle pogings om die om met slim jakkalsdraaie Bybelse gegewens iets anders te laat sê, as wat dit sê, misluk. Die betrokke tekste is oorbekend... ‘n Homoseksuele verbintenis is sondig en kan nooit ‘n huwelik genoem of kerklik gesanksioneer word nie.

  - Die Bybel maak dit duidelik dat God se wil vir die uitlewing van die mens se seksualiteit, die instelling van die huwelik is. Dis ‘n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou. In die lig hiervan is buitehuwelikse en voorhuwelikse seks (saamblyery), egskeiding, owerspel, homoseksuele gedrag en alle vorme van seksuele losbandigheid sonde... al word dit met watter mooi name of edelmoedige motiewe gekamoefleer!

  - Romeine 1* gee vir ons ‘n besondere perspektief oor die saak van homoseksualiteit. Dis onmiskenbaar opvallend dat die onnatuurlike verbintenisse tussen lede van dieselfde geslag hier vir besondere aandag uitgesonder word. Ja, al die ander sondes word ook verderaan genoem, maar homoseksuele verbintenisse kry beslis prominensie. Hoekom? Dit lyk asof Paulus sê dat die misplaaste eerbetoon van die mens om homself as skepsel te eer in plaas van die Skepper, daartoe aanleiding gee dat God die mens as straf oorgee aan ‘n verwronge misplaaste liefde – ‘n gerigtheid teen die natuur in op die (self) eie geslag in plaas van die teenoorgestelde geslag! Asof God wil sê : “Julle in julle rebelsheid draai alles verkeerd om, nou sal julle die konsekwensies daarvan op ‘n soortgelyke manier in julle diepste menswees, in julle seksualaiteit ervaar.” Die verskynsel van homoseksualiteit is opsigself God se oordeel oor die rebelse menslike ras wat nagelaat het om Hom as God te vereer!**

Homoseksuele moet opgeroep word tot geloof en bekering soos alle ander sondaars. Dit sluit aan wat reg aan die begin gesê is. Sondaars moet nie weg gewens of gehaat word nie, maar met liefde en erns tot bekering geroep word.

Homoseksuele hoef nie te wanhoop nie, daar is ook vir hulle soos vir alle sondaars wat hulle tot Jesus bekeer, vergifnis en verlossing. Die Woord is duidelik hieroor in Korintiërs 6:9-11. “Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie. En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.”

Die implikasie is mos baie duidelik God is in staat om alle tipe sondaars te red, ook homoseksuele. Hulle WAS so...  Lees/luister na die getuienis van ‘n voormalige lesbiese professor deur te kliek op Rosaria Champagne Butterfield.

‘n Kind van God kan nog steeds ‘n stryd hê teen ‘n homoseksuele aangetrokkenheid. Die duidelike onderskeid tussen vryspraak en heiligmaking moet altyd vasgehou word. Vryspraak (regverdiging) is ‘n eenmalige kwytskelding van skuld wat die sondaar onmiddellik en volledig ontvang as hy hom op Christus se soenverdienste werp. Heiligmaking is ‘n lewenslange stryd van die kind van God teen sonde en versoeking en sal eers finaal iets van die verlede wees, wanneer die kind van God verheerlik word by die wederkoms. Enige kind van God kan deur enige sonde (ook sondes van ‘n homoseksuele aard) versoek word en selfs ook val, maar moet opstaan en die stryd weer voortsit!

Die kerk van Jesus het ‘n besondere liefdesplig om haar lidmate wat in ‘n stryd teen sonde en twyfel gewikkel is by te staan; dit sluit mense in wat met homoseksuele versoekings worstel. In die stryd teen sonde en versoeking moet ons mekaar help, aanmoedig en mekaar se laste dra. ”Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom. Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus. As iemand hom verbeel hy is iets en hy is niks, bedrieg hy homself." (Galasiërs 6:1-3)

Die kerk van Jesus kan ‘n selibate leefstyl aan gebrokenes op hierdie terrein voorhou as ‘n heerlike manier om Christus se liefde te ervaar en toewyding aan die wêreld te demonstreer! Dit blyk dat nie alle homoseksuele wat gered word, so herstel van selfde geslag aangetrokkenheid dat hulle ‘n huwelik kan sluit nie! Dit beteken nie dat hulle tweedeklas Christene hoef te wees nie. Die ongetroude staat is nie iets negatief volgens die Bybel nie. Dit kan die geleentheid skep vir ‘n standaard van diens en toewyding wat vir getroudes nie altyd moontlik is nie! Lees verder oor hierdie belangrike aktuele saak, kliek op ALTERNATIEF.

Die kerk van Jesus het ook ‘n plig om die heiligheid van die kerk tot eer van God te beskerm. Die Bybel aanvaar dit as vanselfsprekend dat ook die lidmate van die kerk steeds onvolmaakte mense is en in sonde kan val. Waar daar onberoulik in sonde volhard word, het die kerk egter ‘n liefdesplig om te vermaan en indien nodig verder te gaan deur afsnyding. Die motief bly die redding van die sondaar en die eer van God. As die kerk weens papbroekigheid, die soeke na mense eer, wêreldgelykvormigheid en die vrees vir vervolging (soos deur die goddelose media) terugdeins van hierdie plig, word die heil van die sondaar en die eer van God nie gedien nie! Op die ou end wen die kerk buitendien geen aansien deur ‘n pamperlang beleid nie, maar word nog meer ‘n voorwerp van bespotting omdat ons te bang is om die Woord waarin ons beweer ons glo, uit te voer!

‘n Lamsakkige kerk dwing geen respek af nie! So ‘n kerk verloor sy Bybelgetroue lidmate, terwyl sy in elk geval nooit genoeg aan die eise van die gay agenda kan voldoen nie! ONS MOET DIE WAARHEID MET LIEFDE VERKONDIG! So sal God verheerlik en sondaars gered word!

NOTAS

*Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van 'n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. 
Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen. 
Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; 
en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. (Romeine 1:22-27)

** John Piper stel dit so : The reason Paul focuses on homosexuality in these verses is because it is the most vivid dramatization in life of the profoundest connection between the disordering of heart-worship and the disordering of our sexual lives. I'll try to say it simply, though it is weighty beyond words.

We learn from Paul in Ephesians 5:31-32 that, from the beginning, manhood and womanhood existed to represent or dramatize God's relation to his people and then Christ's relation to his bride, the church. In this drama, the man represents God or Christ and is to love his wife as Christ loved the church. The woman represents God's people or the church. And sexual union in the covenant of marriage represents pure, undefiled, intense heart-worship. That is, God means for the beauty of worship to be dramatized in the right ordering of our sexual lives.

But instead, we have exchanged the glory of God for images, especially of ourselves. The beauty of heart-worship has been destroyed. Therefore, in judgment, God decrees that this disordering of our relation to him be dramatized in the disordering of our sexual relations with each other. And since the right ordering of our relationship to God in heart-worship was dramatized by heterosexual union in the covenant of marriage, the disordering of our relationship to God is dramatized by the breakdown of that heterosexual union.

Homosexuality is the most vivid form of that breakdown. God and man in covenant worship are represented by male and female in covenant sexual union. Therefore, when man turns from God to images of himself, God hands us over to what we have chosen and dramatizes it by male and female turning to images of themselves for sexual union, namely their own sex. Homosexuality is the judgment of God dramatizing the exchange of the glory of God for images of ourselves. (See the parallel uses of "exchange" in verses 25 and 26.)

13 opmerkings:

  1. Dankie Johannes! Dis goed gestel met al die pastorale liefde van 'n pastor en tegelykertyd die gestrengheid van die Here. Mag diegene wat vasgevang is in 'n homoseksuele leefstyl hierin die genade van Jesus sien en bevry word!

    Hou so vol, ons mis nie graag jou blog nie. Groete.

    Jimmy

    AntwoordVee uit
  2. Baie dankie. Soos gewoonlik 'n voorbeeld van die waarheid in liefde praat (Ef 4:15). Gewoonlik gaan homoseksuele orïentasie oor in homoseksuele gedrag wanneer normale seksuele ontwikkeling (kleuters raak gaandeweg eers bewus van hul seksualiteit) op 'n drastiese manier onderbreek word (bv deur 'n pedofiel), maar soms ook wanneer atipiese seksuele gedrag gekondoneer of selfs "oulik" gevind word deur belangrike persone. Dit verg baie wysheid, liefde en toewyding om sulke kinders te begelei in die toeeiëning van seksuele identiteit en gedrag wat tipies is van hul geslag.

    AntwoordVee uit
  3. Iemand het eendag in verband met homoseksualiteit gesê: Dit maak nie saak as wat ons gebore is nie, ons moet weer gebore word!
    "Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie." (Johannes 3:3)

    Die Bybel leer baie duidelik dat ons almal in totale vedorwenheid ontvang en gebore is, vanweë die feit dat ons uit Adam voortspruit:
    "Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het"
    (Rom 5:12).
    "Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang."(Psalm 51:7)
    "Afvallig is die goddelose mense van die geboorte af; die leuensprekers dwaal van die moederskoot af. (Psalm 58:4) Dis die hartseer realiteit van ons elkeen wat op hierdie aarde gebore word!
    "en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander." Efesiërs 2:3

    Hierdie waarheid is ook duidelik uit Romeine 3:10-18

    Philip, Kaapstad

    AntwoordVee uit
  4. Ek het waardering vir jou mening. Dit is egter nie 'n eenvoudige saak nie, veral nie as jy 'n ouer of 'n broer of 'n suster is nie. En hier praat ek van christene. Gaan staan eers in 'n verhouding met 'n gay persoon. Beleef sy menswees, wie hy is, en wat sy ervarings is en dan kan ons dalk weer gesels. Alles is nie wit en swart nie. Die hele lewe is grys. Ons het nie al die antwoorde nie en moet dit erken en dit sê. Miskien moet ons die hele saak by die gay persoon los, sodat hy dit uitmaak met die Here vir wie hy lief is. Dis nie nodig om 'n antwoord en 'n verklaring vir alles te hë nie. Die Here verstaan ons rondtas in die duister ook.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Anoniem, ek stel dit baie hoog op prys dat jy bereid is om jou opinie te gee. Baie dankie. Ek persoonlik dink ook nie hierdie sake is eenvoudig nie. Ekself het ook nie klinklare antwoorde op elke vraag nie, daarom praat ek baie pertinent van 'n "paar duidelike Bybelse merkers". Hiermee bedoel ek vaste hoekpenne en grense WAARBINNE ons met die gebroke werklikheid worstel. Ek meen wel dat die Bybel vir ons duidelike riglyne en grense stel, waarbinne ons die detail van ons stryd moet uitwerk. Dit geld natuurlik ook vir baie ander vraagstukke en etiese worstelinge, soos alkoholisme, egskeiding ens. Buitendien, hoe gaan die gay persoon dit uitmaak met die Here? - as hy/sy aan God onderworpe is sal hy/sy die Woord moet raadpleeg en voor die Woord moet buig, al druis dit teen ons sondige natuur in! Daarom is dit myns insiens ook die kerk se plig om die Woord te bestudeer en die Bybelse beginsels te formuleer sodat die homoseksuele persoon wat begeer om volgens God se wil te leef, gehelp kan word! Liefde vir God is nie bloot 'n sentimentele begrip nie, in die Woord word dit direk gekoppel aan gehoorsaamheid... Dit is vir ons as gebroke mense nooit maklik nie, daarom die voortdurende stryd om die werke van die vlees dood te maak deur die krag van die Heilige Gees! (Romeine 8:12,13 ev) Die pad van heiligmaking is trouens vir geen geredde sondaar maklik nie!

      Baie sterkte vir jou en lees dit gerus weer, dan sal jy sien dat ek so eerlik moontlik en gebalanseerd moontlik na die Skrifboodskap gekyk het. (natuurlik met die hulp van ander meer bekwame Christene) Op die ou end het ons net een norm, GOD SE WOORD! God en sy Woord kry voorrang, selfs ook as dit by ons dierbaarste aardse verbintenisse kom...
      Mag Hy ons insig gee!
      Vrede
      Johannes

      Vee uit
  5. Beste Johannes,
    Baie dankie vir die geleentheid wat jy skep om hierdie pynlike saak te bespreek.

    Ek wonder soms of Rom 1: 26 nie verkeerdelik op alle mense van toepassing gemaak word nie.
    Homoseksualisme word dikwels as dieselfde ding as gay gesien.
    Ek wil hierdie 2 stellings in grootste versigtigheid hanteer, met die volle wete dat dit nie as 'n blinde reël moet geld nie. Elke enkele geval moet op sy eie hanteer word.

    Rom 1:26/7 gaaqn oor mense wat hul NATUURLIKE begeerte na die teenoorgestelde geslag verlaat het en ter wille van hul seksuele plesier, hul vergryp aan hul eie geslag.

    Die kernvraag is dus: Het die (gay) persoon waarmee iemand te doen het, inderdaad sy/haar NATUURLIKE drang verlaat?
    So baie mense word gebore met 'n lang geslag-orgaan, maar is inherent vrou. So 'n 'man' praat met 'n vroulike stem, hou sy hand tipies in die lug, speel as kind eerder met poppe, en tree net soos 'n vrou op. Sy begeerte is nie na vrouens nie, maar na sy inherente teenoorgestelde geslag, naamlik na mans.

    Nou vra ek: Hoe interpteer ons, soekende na God se wil, Rom 1?
    Dis maklik om selibaat voor te stel in ons gerieflike heteropgene huwelike, maar wat van 'n persoon met 'n sterk seks-drang?
    Dit sal BESLIS na masturbasie lei, en dan sit ons maar weer net met dieselfde sonde.

    Ek persoonlik het die voordeel dat hierdie probleme nie by mense naby aan my teenwooredig is nie, maar die hooghartige veroordeling van persone veilig verskans in 'n heterogene huwelik wat feitlik onbeperkte omgang bied, is ontstellend.

    Maar ek is steeds onseker hieroor, en sou graag jou geëerde insig hieroor verneem

    Soekend na God se eer
    en na die toepassing van Sy liefde
    Josef Coetzee
    Sonlandpark

    AntwoordVee uit
  6. Dankie Josef vir die kommentaar. Ek dink net die woorde "hooghartige veroordeling" pas nie by hierdie artikel nie - lees dit gerus weer. Trouens ek verwerp so 'n houding onomwonde, en stel dit net weer op rekord, dat ons met baie groot deernis en begrip kinders van God wat homoseksuele negings worstel moet begelei. Ons moet duidelik onderskeid maak tussen die gelowige wat 'n stryd het met homoseksuele versoekings en die Gay agenda as sodanig!

    Laat ons eerlik wees : 'n mens staan diep verslae voor die gebrokenheid van 'n sondegevalle skepping. Ook Christene ly onder hierdie gebrokenheid (ek moet steeds bril dra), maar juis daarom sien ons met verwagting uit na die verheerliking!

    As kinders van God het ons GEEN ander keuse as om voor die gesag van die Skrif te buig nie! As ons op hierdie punt van God se duidelike wil afwyk, wel wat bly oor?Dan moet ons oor alle etiese sake stilbly!

    Net 'n paar opmerkings tov jou argumente:

    Jou interpretasie van Rom 1 hou geen water nie. Dit gaan nie daar oor die persoon se eie aard nie, maar teen die natuur volgens God se oorspronklike skeppingsdoel. As jy "teen die natuur" wil verstaan soos jy voorstel; wel bedink die konsekwensies - sommige mense het "van nature" 'n begeerte om seks met kinders, diere en selfs lyke te wil hê- gaan jy dit ook verdedig?

    Dis nie waar dat net homoseksuele mense voor die keuse van selibaat gestel word nie - wat van 'n normale Christen langtermyn gevangene se behoeftes? Wat van mense wat weens 'n verskeidenheid van redes nooit 'n geskikte huweliksmaat vind nie? Wat van iemand wat wel getroud is, maar wie se huweliksmaat weens langdurige of dalk permanente gesondheidsreds nie instaat is tot omgang nie? Moet ons dan weer die etiek buig om by ons behoeftes te pas en dalk so iemand na 'n prostituut verwys?

    Daar word 'n hoë prys van alle mense gevra om Jesus te volg! Hy is dit werd! Miskien moet ons die vraag positief stel, wat is ek bereid om op te offer vir my Verlosser?

    Groete hier uit die verre Noorde
    Hoor graag weer van jou!
    Johannes

    AntwoordVee uit
  7. Baie dankie Johannes.

    Askies as jy my verkeerd verstaan het oor die 'hooghartige veroordeling'. Jou artikel weerspieël dit glad en geheel en al nie. Ek het daar verwys na die algemene gevoel van so baie mense.
    Jou deernis en balans spreek baie duidelik uit al jou preke en artikels waarna ek altyd uitsien om te verslind.

    Jy het my mooi geantwoord. Ek sal dit bietjie bedink en bebid. Jou laaste vraag is natuurlik 'n voltreffer!

    Veels geluk met 'n uitstekende en interaktiewe blog.

    Ou Josef

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie broer Josef, ek sal graag meer dikwels jou kommentaar en opinie op hierdie Blog wil sien!

      Vee uit
  8. Dankie Johannes, Groot waardering vir jou artikel. Ook vir jou deernis waarmee jy die moeilike saak hanteer. Is jy bekend met Andre Bekker en sy bediening (New Living way ministries) Hy deel vanuit persoonlike ervaring.
    Sy FB blad is https://www.facebook.com/andre.bekker.7?fref=ts
    Hy het onlangs n ope brief aan kerkleiers gestuur met besondere informasie
    Sy webwerf is http://www.learntolove.co.za/

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ek het Andre se brief op hierdie Blog geplaas, reeds 'n tyd gelede.Onder die titel, DIE GAY AGENDA SE GEBRUIK VAN EMOSIONELE MANUPILASIE.

      Dankie en groete
      Johannes

      Vee uit
  9. Wel, Ek dink dat ons baie geneig is om, veral in hierdie onderwerp, die geneigtheid te he om te persoonlik betrokke te raak en die lyde van die mens[persoon] eerste raak te sien. Die punt waarby hier uitgekom word, is; wat is die voorwaardes van God rakende diegene wat deel sal he aan die Koningkryk van Sy Seun en wat stel Hy as vereistes waaraan diegene MOET voldoen, ten eerste. Dan moet ons verder onthou dat die waarheid ons sal vry maak en nie die leun of nog minder die stilswye nie. Die Waarheid kan nie verander word nie, as ek dit begin verdraai of verander dan bring ek 'n leun te voorskyn en is die Waarhied nie meer die Waarheid nie.
    Dan is dit ook so dat die persoon nie aangeval word nie, maar die sonde wat veroordeel word. Die persoon sal nie en kan nie voortydig veroordeel word nie, maar sou die persoon tot sterwe kom in die volharding van die sonde, net soos enige ander, sal die werke van die mens hom/haar vergeld word. 'n Regverdige oordeel sal gedoen word en nie soos die mens wat oordeel volgens dit wat ons sien nie.
    Ek dink dat ons net na die kruis gebeure moet gaan kyk. Een aan beide kante van die Gekruisigde. Die een word die openbaring gegee van die werklikheid van die Seun van God en die ander bly Godsverlate. Hoeveel tyd het die geredde persoon gehad om goed te doen of om onvergifnis te vra voor die einde. God het medelye met die opregte van hart En die berou wat uit 'n opregte hart kom kan deur Hom aanvaar word. Niemand veroordeel die mens deur die prediking van die Waarheid en werklikheid van die sonde nie, Want die sonde moet veroordeel word sodat God geregverdig kan word en Hy alleen Regverdig kan wees.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Baie dankie Tinka vir jou kosbare perspektief! So waar - die Waarheid maak ons vry, nie die leuen of stilswye nie.... Lewer gerus meer kere kommentaar! Groete Johannes

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.