BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 12 Maart 2013

KERKBODE KASKENADES

- bring weer die uniekheid van ons GEKRUISIGDE VERLOSSER in die kollig!

Vir almal wat die waarheid liefhet is dit baie goeie nuus dat die omstrede joernalis en Kletskerk aanhitser, Jean Oosthuisen, uiteindellik weg is by DIE KERKBODE. (Die amptelike koerant van die NG Kerk) Die slegte nuus is,  dat iemand met sulke afwykende teologiese sienings  hoegenaamd daar geduld is en in die proses onherroeplike skade aan die NG Kerk (en dus ook aan die liggaam van Christus) aangerig het. Dwalinge is nie maar soos sommige mense dink net “alternatiewe en onskuldige vorms van een waarheid nie”, maar vernietig die geloof van sommige. 2 Timoteus 2:16-18 stel dit so : “Maar die onheilige en sinlose praatjies (seker tydskrifte en webwerwe ook?) moet jy vermy, want dié wat dit versprei, sal nog verder in goddeloosheid verval, en hulle woorde sal voortvreet soos kanker. Onder hulle is daar Himeneus en Filetus, wat van die waarheid afgedwaal het deur te sê dat die opstanding alreeds plaasgevind het. Daarmee vernietig hulle die geloof van sommige.”

Of die Kerkbode base goeie regverdige arbeidsetiek gehandhaaf het in sy losmaking en die skikking wat met hom bereik is, weet ek nie. Wat ek wel weet is dat dit ‘n tragedie is dat ‘n dwaalprofeet vir so lank ‘n platform in die hart van die kerk gebied is.  

Waarom sê ek so?

Kom ons bepaal ons net by een kernsaak. Jean glo baie beslis nie aan die uniekheid van Jesus as die enigste weg na die Vader nie en daardeur verwerp hy ‘n wesentlike gedeelte van die Christelike geloof! In sy onderhoud met Hanli Retief van Rapport sê hy duidelik : “Kyk, party mense dink ons geloof is ál regte een. Maar as ek in ’n Moslemland gebore is, was ek mos ook een. En ’n Jood in Israel. Wie gee mý die reg om te sê net my godsdiens is reg? Ek het God leer ken deur ­Jesus van Nasaret wie se volgeling ek is, wat rigting gee aan my lewe. Maar ek kan nie sê ’n Moslem is verkeerd nie, dis arrogant.”

Dis ‘n skreiende skande dat die NG Kerk so iemand  toegelaat het om so ‘n groot invloed op die kerklike debat uit te oefen. 

Wie hoegenaamd in die Bybelse Jesus glo, moet sy uniekheid as enigste Seun van die Vader aanvaar. God het mens geword, net in Jesus, nie ook in Mohammed of Boedha nie! Vir wie anders as Jesus het God daar op die Berg van Verheerliking gesê : "Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom." (Matteus 17:5) Van wie anders kan die  uiters ontsagwekkende stelling gemaak word : “In Hom is die volle wese van God beliggaam” (Kolossense 2:9) Wie anders het sonder sonde geleef, volmaak gehoorsaam aan die wil van God, ja, gehoorsaam tot die dood van die kruis en kon uitroep : “Dit is volbring!” (Johannes 19:30)

Dis ‘n basiese Bybelse beginsel dat geloof in Jesus die enigste ware reddende geloof is, omdat daar geen ander Naam is waardeur mens gered kan word nie. Die Geesvervulde Petrus se woorde laat hieroor geen twyfel nie : “Julle almal en die hele volk Israel moet weet dat dit in die Naam van Jesus Christus van Nasaret is dat hy hier gesond voor julle staan—dié Jesus vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het. Hy is die klip wat deur julle, die bouers, afgekeur is. Juis Hy het die belangrikste klip in die gebou geword. Hy bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie." (Handelinge 4:10-12)

Die waarheid van Jesus se unieke Middelaarskap word so duidelik in 1 Timoteus 2:3-5 uitgespel dat die miskyk daarvan slegs aan totale geestelike blindheid te wyte kan wees. “...So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat Homself as ‘n losprys vir almal gegee het...”  (1 Timoteus 2:3-6) Hierdie Skrif ontmasker die elemente van postmodernisme wat beweer dat daar nie waarheid is nie en dat dit nie geken kan word nie, as in stryd met die Bybelse boodskap. Dit maak ook korte mette van al die praatjies oor baie godsdienste en baie middelaars wat ons by God sou kon uitbring. Juis omdat daar net een Middelaar is, is Paulus as apostel van die heidene aangestel om hulle te onderrig “in die boodskap van die geloof en die waarheid.” (2 Timoteus 2:7) Juis omdat daar net EEN MIDDELAAR is en die nasies van die wêreld nodig het om tot geloof in Hom te kom vir redding, stuur God gesante uit en is hulle te midde van groot opoffering bereid en gehoorsaam om diie blye boodskap van Jesus na die eindes van die aarde uit te dra. Omdat daar net een Middelaar is, het Martin Rautanen (Nakambale) Finland verlaat en na Ovamboland gekom om aan heidene in duisternis van die Lig te vertel. Dit was ‘n groot offer wat die lewens van ses van sy nege kinders gekos het. Omdat daar net een Middelaar is en die Moslems dit ook moes hoor, het Henry Martyn sy geluk, sy geliefde en sy lewe geoffer in diens van die verkondiging van die evangelie.  Die voorbeelde van heldedade en offers van mense wat vir hierdie waarheid geleef en gesterf het is oneindig.... Die kerk en sendinggeskiedenis is geskryf in die bloed van mense wat onwrikbaar geglo het in die enigste unieke middelaarskap van Jesus. Hulle het hulle lewens verloor weens hierdie waarheid, maar het dit juis vir ewig behou!

Dit lyk my nou asof sommige kerkmanne oor hulle voete val om mooi woordjies aan arme Jean oor te dra. Verskoon my, maar ek kan nie in hierdie rugkrapkoor sing nie. Dit spreek of van huigelary of van onkunde of van bedenklike simpatie met sy dwaalstories. Jean word geprys dat hy soos Paulus godsdiensgesprekke na die markplein toe gevat het.  Hoe kan enigiemand wat by sy volle positiewe is, Jean met Paulus vergelyk? Ja, Paulus het die evangelie na die mense geneem binne hulle konteks en denke, maar luister wat Paulus vir die Grieke en uitlanders op die Areopagus te sê gehad het : "’God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer,  want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.’ Toe hulle van die opstanding uit die dood hoor, het party hom uitgelag, maar party het gesê: "Ons sal jou weer hieroor wil hoor." (Handelinge 17:30-32) Paulus se debatsvoering het hom uiteindellik by ‘n duidelik verkondiging van die waarheid uitgebring. ‘n Ondubbelsinnige bekeringsboodskap aan ‘n goddelose mensdom! Ek het nog nêrens gesien of gehoor dat Jean sy kletsvriende oproep tot bekering tot die enigste Middelaar Jesus en hulle waarsku oor die komende oordeel nie!

KOM ONS BELY ONS UNIEKE MIDDELAAR ONBESKAAMD!

Dis baie dringend noodsaaklik dat ons weer die uniekheid van Jesus, die gekruisigde en opgestane Seun van God duidelik en onbeskaamd in hierdie verwarde wêreld sal bely. Ons eie finale toekoms hang daarvan af, maar meer nog, die eer van God is op die spel. Ja, ons moet inderdaad ons geloof na die markplein toe neem – die werk, die skool, die sosiale media... maar dis slegs die geloof in die enigste unieke Middelaar, Jesus wat die moeite werd is om in die openbaar onder die massas verkondig te word... al kos dit ons aansien en populariteit... oor die boodskap van die opgestane Jesus wat as Regter sal kom is Paulus immers al destyds uitgelag, dis niks nuuts nie.


Die ontkenning van Jesus se unieke middelaarskap sal lei tot ewige verdrinking in die diep waters van God se toorn!

10 opmerkings:

  1. Hector Jooste (NG Kerk, Otjiwarongo)12 Maart 2013 om 13:57

    Johannes, baie dankie vir hierdie baie waar woorde van jou. Jy is een van baie min wat die moed van sy oortuiging het om uit te roep dat die koning kaal is. Vele ander staan in dwase verwondering onder die misleiding en leuens van die vele geestelike Uilspieels van ons tyd.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Baie dankie Hector, mag ons biddend en nederig die Waarheid bely!

      Vee uit
  2. BAIE dankie Dominee, jy verwoord pragtig wat ons klompie Besorgde Lidmate in ons boek "Die Trojaanse perd in die NG Kerk" gesê het.

    Lees meer daarvan en oor talle ander sake in www.glodiebybel.co.za

    AntwoordVee uit
  3. Beste Ds de Koning, baie dankie vir jou uiters bemoedigende en geloofsversterkende boodkap. Ja die Here sluimer of slaap beslis nie!

    Ds de Koning wil jy dit nie oorweeg om jou brief in Kerkbode Aanlyn te plaas nie? Ek voel dit behoort beslis wyd gelees te word.

    Groete
    Liza-Nel

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie vir die bemoediging. Ek waardeer jou voorstel, maar voel nie op die oomblik om dit te doen nie.

      Vee uit
  4. Dankie, ds. De Koning, vir jou openlike standpuntname vir die waarheid/Waarheid. Dit brand soos 'n helder ster in 'n andersins donker naghemel. Net die wete dat daar nog leraars is wat werklik waarheidsleraars en -verkondigers is en bereid is om nié kompromie te maak oor die waarheid nie, bied al veel troos in hierdie uitsiglose geestelike woestynlewe soos deur ons jongste kerkleiers en teoloë bewerk. Ek dink aan die vier fases van 'n pasiënt se besoek aan 'n geneesheer - en jou skrywe laat my daaraan dink - die ondersoek, diagnose, intervensie en die prognose. Ek kan in jou skrywe duidelik die eerste twee fases onderskei. Na deeglike ondersoek het jy by 'n duidelike diagnose aangeland waaroor jy jou so duidelik uitspreek. Die vraag is egter nou: Maar wat van die intervensie wat op die diagnose moet volg? Hoe moet dié daaruit sien ten einde as kuur te dien vir die huidige "siektetoestand" in die kerk, óf moet ons in dié geval dalk 'n verdere ondersoek loods en dalk tot die finale slotsom kom dat dié "pasiënt" aan 'n ongeneeslike siekte ly? Wat sê die Bybel in dié verband, en wat is die relevansie van die teks wat sê: "Gaan uit haar uit my volk" ?

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Baie dankie vir die bemoediging. Die vrae wat jy opper is baie sinvol en eenvoudige antwoorde is nie maklik nie. In kort is die antwoord dat net God kan ingryp deur 'n werking van Sy Woord en Sy Gees. Daarvoor moet ons bid en werk. Wat die "uitgaan" opdrag betref: Ek hoor jou. Die briewe aan die gemeentes in Openbaring werp tog lig op die saak. Sommige was in 'n uiterste toestand van verval en dwaling en tog word hulle nie afgeskryf nie, maar ernstig opgeroep tot bekering! Ek dink sterk vanuit die plaaslike gemeente. My taak en plig is eerstens hier. Ek probeer ook soos dit moontlik is wel 'n wyer getuienis te gee,maar hier is my eerste verantwoordelikheid en solank ons hier die Woord kan hoor en geleentheid kry tot bekering is dit sinvol om hier te wees. Hans Hauge se lewe is vir my 'n inspirende voorbeeld. (lees artikel op Blog) Kyk gerus verder oor die kwessie van die kerk by SO GLO EK. Mg die Here sy kinders lei.

      Vee uit
  5. hallo johannes,
    mbt jean oosthuizen en miljoene ander waarvan God ook getuig in Sy woord, niemand was tot dusver of sal in aller ewigheid in staat wees om, soos jy met alle respek meld Sy kerk 'onherroeplike skade' toe te doen nie - nebukadnesar is altyd vir my so 'n wonderlike voorbeeld.
    ek weet wat jy hiermee bedoel maar ons moet seker waak om krediet te gee waar dit nie toekom nie, netnou verbeel sy haar sy is die morester in jesaja 14:12 ;-)
    seen
    gabriel smit

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Baie dankie vir jou perspektief. Ja, ek stem saam dat "die poorte van die doderyk" die kerk nie sal oorweldig nie, dat die volle getal uitverkorenes veilig by die ewige bestemming sal aankom,en ja, die Here en Sy Gesalfde lag vir almal wat teen Hom in opstand kom (Ps 2) ens. Ek probeer maar net die ernstige implikasies van dwalinge uitwys - dit veroorsaak beslis skade aan die geestelike gesondheid van gelowiges, aan die effektiwiteit van die kerk se getuienis, dit bring oneer aan God se Naam... daarom waarsku die Bybel met erns teen dwaalleraars. Die hele kwessie van menslike verantwoordelikheid is hier ter sprake... Maar natuurlik kan geen mens of mag ooit God se ewige raadsplanne laat ontspoor nie...Dis weer die heerlike waarheid van God se almag en soewereiniteit!
      vriendelike groete
      Johannes

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.