BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 19 Februarie 2013

OM “JA” TE DOEN


- dis wat tel.          

Dis so ‘n eenvoudige gelykenis hier in Matteus 21:28-32 van die twee seuns. Maklik verstaanbaar. ‘n Toneeltjie wat dikwels al seker in baie huishoudings afgespeel het... Twee seuns kry dieselfde opdrag om te gaan werk…    Een sê, uiters ongeskik en blatant : “Nee, ek sal nie”, maar het later berou gekry oor sy weiering en gaan tog...  Die ander een sê baie ordentlik : ”Ja, Pa”, (OK, Pa!) maar doen niks. Wie het nou werklik die wil van die vader gedoen? Wel daar kan net een antwoord wees - die een wat gedoen het. Die een wat by die praktiese daad uitgekom het. Die een wat “JA” gedoen het!

Jesus  het twee duidelike groepe mense van sy dag in die oog. Hy trek die gelykenis se betekenis deur na die uiteenlopende houdings van die godsdienstige leiers en Fariseërs aan die eenkant en die berugte en verworpe sondaars aan die anderkant. Dit gaan hier spesifiek oor hulle  reaksie op die prediking van Johannes die Doper. (32) Maar, natuurlik hulle houding teenoor Johannes word ook maar uiteindelik weerspieël in hulle houding teenoor Jesus. Kom ons bekyk die twee groepe van naderby:

Die JA groep. Die Fariseërs en godsdiensleiers was mense wat formeel "Ja" gesê het vir God. Hoe so? Wel, hulle het erns gemaak met die gesag van God se Woord. Hulle het ook die Woord geken en bestudeer. Ons kry ‘n treffende voorbeeld van hulle Skrifkennis in Matteus 2:4-6. (Hulle kon op navraag van Koning Herodus, vanuit hulle insig in die Skrif bevestig dat Jesus in Betlehem gebore sou word) In vandag se terme sou ons kon sê hulle sou definitief nie die liberaliste se aanslag teen God se Woord geduld het nie. Hulle was beslis nie aan die kant van die “Nuwe Hervormers” nie. Hulle het die regte gebede gebid, die regte woordeskat geken, die regte “belydenisskrifte” onderskryf. Hulle was ook duidelik gekant teen die morele laksheid en losse sedes van hulle  dag.  In ons konteks sou hulle die mense wees wat tereg teen die New Age indringing en morele verval kapsie maak. In beginsel het hulle “ja” gesê op al God se opdragte.  En in hierdie opsig, verdien hulle ons ondersteuing en bewondering. MAAR toe Johannes die Doper kom en God se Woord konkreet bring en aandring op praktiese persoonlike bekering het hulle hom nie geglo nie. (25) In die praktyk het hulle dus nie by die doen van God se wil uitgekom nie en sy volle openbaring aanvaar nie. Hulle het nie die regte vrugte gedra nie en daarom was hulle bestem vir die oordeel. “die byl lê al teen die wortel van die boom” Ten spyte van regte geluide het die Woord nooit grondgevat in hulle harte nie, want as dit gebeur het sou hulle na Jesus en Johannes geluister het.

Pasop vir dooie ortodoksie, wat nie bekering insluit nie!

Kom ons kyk na die ander groep, die NEE groep – die tollenaars het deur hulle gierigheid en die prostitute deur hulle immoraliteit “Nee” gesê vir God. Hulle het nie ‘n saak gehad met God se Woord en morele waardes nie. Maar deur ag te gee op die prediking van Johannes het hulle berou getoon, van plan verander en "Ja" gedoen. Hulle het geglo. Hulle geloof het beteken om prakties "Ja" te sê vir die regte pad. Hulle het hulle verkeerde dade laat staan en vrugte gedra wat by die bekering pas.  Saggeus was so ‘n praktiese voorbeeld uit Jesus se bediening. Daar was ‘n duidelike ommekeer sigbaar! Hoe dramaties en ingrypend!  ‘n Gierigaard deel nou sy besittings met die armes. ‘n Korrupte amptenaar wat sonde bely en dinge gaan regstel met die mense wat hy benadeel het. (lees weer Lukas 19:1-10)

Hierdie gelykenis spreek ‘n harde oordeel uit oor diegene wat intellektueel en verbaal “JA” sê vir God se Woord sonder dat die wil van God realiseer in hulle lewens.  

Jesus gee hier ‘n soortgelyke boodskap deur as in Matteus 7:21ev. "Nie elkeen wat vir My sê : 'Here, Here,' sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is."

Met hierdie gelykenis as agtergrond wil ek graag hê ons moet saam dink oor die reaksie op die Woord in ons lewens.  Het die Woord al ‘n verskil gemaak in my optrede? Waarom is ‘n gehoorsame reaksie op die evangelie so belangrik?

Natuurlik word ons gered deur die geloof in Jesus alleen. Verstaan asseblief : Ek sê nie daar is ‘n lysie van dinge wat jy moet doen om gered te word nie. Dis onteenseglik duidelik, ons word gered deur ons  vertroue  op Jesus alleen te plaas en te glo dat Sy offer aan die kruis genoeg is. Maar waar gehoorsaamheid afwesig is moet daar ‘n vraagteken oor hierdie geloof geplaas word. Ons moenie dink gehoorsaamheid en dade staan los van geloof nie. Jakobus sê mos duidelik dat die geloof dood is sonder werke. ‘n Heilige bekeerde en bekerende lewe is nie bloot ‘n opsionele gevolg van geloof nie, maar is ‘n onontbeerlike bewys van egte geloof. Waar nie dade is nie, is dit ‘n bewys van die afwesigheid van geloof. 

Julle wat vandag openbare belydenis van geloof afgelê het, het vandag formeel “JA” gesê, maar het julle al by die JA doen uitgekom? (die vraag geld almal wat al belydenis afgelê het, in watter konteks of kerk ookal) Het jy al JA GEDOEN? deur:
Jesus  persoonlik te vertrou vir jou verlossing?
Jou rug te draai op verkeerde vriende en verkeerde plekke?
Te kies teen sonde? Te vlug vir versoekings? (Wys jou gewoontes, jou ontspanning, jou musiek en jou klere aan wie se kant jy is?)
Om as jy geval het (soos met ons almal gebeur) weer op te staan en aan te gaan...
Heilig en anders te lewe, teen die stroom in te gaan ?  Jou hele lewe tot God se beskikking te stel?

Ons almal loop die gevaar om net “JA” te sê soos die Fariseërs. Ook mense wat gereeld kerk toe kom moet hiervoor oppas. So maklik word die erediens vir ons ‘n stuk breingimnastiek – ons bedink en analiseer alles, maar ons dade word nie geraak nie.  Sommige gereformeerdgesindes (en ekself is beslis ook een) verval maklik in ‘n krities foutvinderige gesindheid, waar die klem te veel val op suiwer formulerings en ortodokse terminologie. Ortodoksie (suiwer lering) is ongetwyfeld en onmisbaar belangrik, maar onthou om die waarheid beter te kan verstaan en te formuleer is een ding, om die waarheid  te gehoorsaam is ‘n ander ding – dis juis waarin Jesus belangstel.

Mag ons betyds reageer op die evangelie deur "JA" te doen. As ons net altyd hoor en “JA” sê ontwikkel daar sulke eelte om ons siele en raak die Woord ons later nie meer nie.  Ons moet pasop dat ons nie deur voortdurende ongehoorsaamheid later ongevoelig en afgestomp raak teenoor God se boodskap van bekering en genade nie! DOEN "JA" – gee jou lewe oor aan Jesus en volg Hom elke dag in gehoorsaamheid !


Belydenisklas en hulle ouers (foto : Credo Photography)

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.