BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 17 Augustus 2022

DUBBEL SEËNING

Verward, onseker, teleurgesteld?

 – Jesus ontmoet jou op hierdie pad met 'n dubbel seëning!

[Maak gerus oop by Lukas 24:13-35]

Twee van Jesus se dissipels is kort na sy opstanding op pad na die dorpie Emmaus. Dis die opstandingsdag, dié Sondag!  (13) Dit sou ‘n merkwaardige onvergeetlike Sondag word! Hulle was nie deel van die elf apostels nie…deel  van sy ander dissipels. Hulle het iets gehoor van die opstanding, maar dis baie duidelik dat hulle verward en onseker was. Ook teleurstelling -  (21) Ontsteltenis! (22) Die graf is leeg, maar waar is Jesus, is sy liggaam dalk gesteel?  Wat het geword van al sy beloftes?




Maar wat nou so wonderlik is, hierdie einste opgestane Jesus reik na hulle uit, Hy kom stap saam met hulle, Hy ontmoet met hulle en openbaar Homself aan hulle. En dis wat ek en jy tog ook nodig het. Dis ons diepste behoefte – om  die opgestane Jesus te ken!

TWEE MIDDELE

Jesus gebruik twee middele om hulle te bedien, troos, koers en insig en hoop te gee – ja, die hoop wat net in ware kennis van Hom te vind is. En dis so wonderlik – Hy gebruik vandag nog hierdie twee middele!

Nadat hulle vir Jesus van hulle ontsteltenis vertel het, reageer Jesus onmiddellik. Hy val sommer met die deur in die huis. En Hy vat hulle nogal skerp aan… (25,26) “Ai, mense hoekom glo julle nie julle Bybels nie? Hoekom sukkel julle om te verstaan? Dis mos eintlik duidelik dat die Christus eers moes ly en daarna in heerlikheid opstaan.” En toe begin Jesus die Skrif/Woord vir hulle uitlê! (27) Dis natuurlik die Ou Testament. Die hele Ou Testament is vol van Jesus. Ja, direkte voorspellings van sy koms en sy lyding soos ons dit byvoorbeeld vind in die profete. 

Dink maar aan Jesaja 53 : 5,6. 





Maar meer as dit - al die groot temas van die Ou Testament wys heen op een of ander manier na Jesus. Jesus wat reeds by die skepping betrokke was, kom nou as die Herskepper, die nuutmaker van mense en die hele skepping. Jesus is die tweede Adam – en wat ‘n heerlike kontras. Die eerste Adam misluk en bring ellende vir die mensdom, Jesus die tweede Adam oorwin alle versoekings namens ons en bring vir ons redding. Jesus self is die ware sonde offer, Hy is ons Paaslam wat vir ons geslag is. (Daarom sterf Hy spesifiek tydens Paasfees.) Jesus gee die ware Sabbatsrus. Jesus vervang die tabernakel en die tempel – net soos die heerlikheid van God op hierdie plekke was, so is die heerlikheid van God sigbaar in Jesus. (Sien Johannes 1:14,18) Jesus is ons koning, priester en profeet – hy vervul al hierdie funksies. Jesus is die ware Moses. Die Matteus evangelie verduidelik dit so mooi – Soos Moses die volk uit Egipte uitlei, lei Jesus ons uit die slawerny van sonde uit. Net soos die vyandige Farao vir die klein Moses wou doodmaak saam met die ander Joodse seuntjies, wou Herodes vir Jesus laat doodmaak saam met die ander seuntjies. Moses  ontvlug juis deur in die farao se paleis opgeneem te word, so vlug Josef en Maria  juis na Egipte.  Moses kry later God se wet op die berg Sinaï. Jesus gee die nuwe wet van God se koninkryk op die berg – Bergrede. Jesus self is egter ook die ware Israel. Soos Israel kom Hy uit Egipte. Soos Israel na hulle verlossing deur die Rooi see in die woestyn ingelei is en daar versoek is, word Jesus na sy doop deur die Heilige Gees in die woestyn gelei (Matteus 4) om deur die duiwel versoek te word. Maar daar is een heerlike verskil en kontras – Israel swig vir die versoekings, maar Jesus oorwin die duiwel se versoekings, daarom kan Hy ons ware Verlosser wees!

As mens Jesus begin raaksien in die Ou Testament, dan besef jy dis nie mense wat dit kon uitdink nie. Dan begin mens opgewonde en entoesiasties raak oor God se wonderlike verlossingsplan! Dis presies wat met hierdie twee Emmausgangers gebeur het! (32) 



Het die Bybel al vir jou begin oopgaan? Jou hart begin raak? Begin sin maak? Dis 'n duidelike teken van die wedergeboorte.  Jesus se uitleg van die Skrifte het so ‘n indruk op hulle gemaak dat hulle Hom ingenooi om by hulle oor  te bly. Min het hulle geweet, die beste sou nog kom. 

DIE BREKING VAN DIE BROOD

Hulle sit aan vir ‘n eenvoudige maaltyd. Tog is dit opvallend dat Jesus die leiding neem… Dis mos nie sy huis nie, Hy is nie die gasheer nie, of is Hy dit dalk juis. Luister weer wat gebeur…(30) 




Hier is iets opvallend. Die manier waarop Lukas hierdie ete beskryf eggo sy beskrywing van die instelling van die Nagmaal. (Lukas 22:19) Die parallel is baie duidelik. 


Terug by die Emmausgangers. Nou gebeur ‘n merkwaardige wonder. (24:31) 




En let op hoe vertel hulle die gebeurtenis later aan die ander dissipels. (35) 




Die breking van die brood is in die Lukas-Hand verhaal ‘n verwysing na die Nagmaal.(Hand 2:424620:7). Hierdie manne ontdek die volheid van Jesus in/tydens die maaltyd. Paulus praat ook van die breek van die brood. “...Die brood wat ons breek is dit nie deelname aan die liggaam van Christus nie?” (1 Kor 10:16)

Jesus maak Homself aan ons bekend deur Skrif en Sakrament, Woord en Maaltyd. 

Dié twee gaan saam. Hulle is onlosmaaklik aan mekaar verbind.  NT Wright 'n belende Nuwe Testamentiese teoloog stel dit so treffend : Take scripture away, and the sacrament becomes a piece of magic. Take the sacrament away, and scripture becomes an intellectual or emotional exercise, detached from real life. Put them together, and you have the centre of Christian living as Luke understood it.

God het in sy alwysheid bedoel dat ons geloof nie net deur die gehoor gevoed word nie, maar ook deur ons ander sintuie. Geloof is nie net 'n intellektuele belwenis nie, maar ook 'n konktrete werklikheid rondom 'n maaltyd.  Ja, die lewende Jesus maak deur sy Gees die Woord vir ons oop om Hom te ken, maar Hy gee Homself ook aan ons in ‘n maaltyd. Hy is  beide ons Gasheer, maar ook self die Lewende Brood wat ons siele voed!

Maak gebruik van beide die Woord en die Sakrament. Jesus ontmoet jou so binne jou verwardheid, onsekerheid, teleurstellings en worstelings!

Maandag 04 Julie 2022

LEWE OP DIE BERGTOP!


- wat is die lewe wat jy vir jouself en ook vir jou kinders begeer?




Elke ouer wil graag die beste vir sy kind in die lewe hê. My kinders moet tog eendag ‘n goeie lewe lei en ‘n suksesvolle bestaan kan maak. Maar wat presies is ‘n goeie lewe en wat behels ‘n suksesvolle bestaan? Daaroor kan baie opinies wees… Miskien moet ons dalk vir Jesus vra?

Maar wees gewaarsku Sy antwoord is baie radikaal. Dis ontstellend en meer nog dit gaan die totale bankrotskap en dwaasheid van ons westerse samelewing en spesifiek ook ons leefstyl en denke hier op Tsumeb ontbloot! 

Kom ons luister na ‘n paar van Jesus se uitsprake in Matteus 16.


Jesus het so pas aan sy dissipels bekend gemaak dat sy loopbaan en doel deur lyding moet gaan. (21) Laat ons dit maar onthou ons aanbid nie ‘n populere en gemaksugtige Christus nie, maar ‘n lydende en stewende Christus. 













Petrus het nie hiervan gehou nie. Hy het ‘n ander tipe verlosser en Messias verwag. (22) Jesus bestraf Hom sterk. (23) Jesus maak dit duidelik dat Petrus volgens menslike waardes en standaarde dink. 







Maar direk hierna rig Jesus nou ‘n radikale uitdaging om Hom te volg aan sy dissipels... (24) Ons moet onthou hierdie uitspraak is gemaak lank voor die kruis, die simbool geword het van die Christendom. Daar was niks mooi aan ‘n kruis nie, mense het nie kruise om hulle nekke gedra nie. Inteendeel almal het geweet as jy iemand met ‘n kruis sien is daardie ou op pad om die wreedste en skandelikste dood te sterf. ‘n Verworpene! 




Dit kan vergelyk word met die emosie rondom ‘n galgtou toe ons land nog doodstraf gehad het. Jesus se woorde sou daarop kon neerkom – AS jy regtig my wil volg hang ‘n galgtou om jou nek…wys vir almal jy het die dood gekies ter wille van My. Skokkend. Afgryslik. Heeltemal ongewoon. Kies teen jouself, kies vir die dood as jy my volgeling wil wees. Jesus se implikasie is duidelik – sy eie pad is die pad van selfverloening, lyding en dood en as ek Hom wil volg moet ek ook bereid wees om daardie pad te loop! ‘n Keuse vir Jesus is ‘n keuse teen my eie sondige begeertes, selfs my eie gerief, eie planne en eie aspirasies… dis ‘n keuse om Hom eerste te stel! 




Dan verduidelik Hy verder. (25) Ter wille van Jesus moet ons bereid wees om alles prys te gee. En net deur Hom kan die ware lewe gevind word. Loop die sterwenspad van verwerping en lyding saam met Jesus en jy sal die ware lewe vind! LEWE in die volle sin van die woord. (en net die Heilige Gees kan dit vir jou laat sin maak).







Jesus beklemtoon NET in Hom is die ware lewe te vind! (26) Als sou ek die hele wêreld besit, dan gaan dit my als niks help as ek Hom nie waarlik ken en volg nie! Die menslike soeke na sukses, geld en belangrikheid en besit is ‘n doodloopstraat! Jy moet die lewe soek buite jouself en jou eie prestasies en dit in Jesus vind. Die lewe in verbintenis met Hom wat nooit sal verbygaan en nooit sal teleurstel nie. Die ewige lewe wat nou reeds begin en vir altyd sal voortduur. Die lewe wat beteken dat ek God en sy Seun Jesus sal ken. Jy kan sien. Jesus se idee van lewe en die algemene siening in die wereld van lewe staan reëlreguit teenoor mekaar. 

LEWE is ‘n lewe van navolging van Jesus al kos dit lyding en verwerping. Lewe op die bergtop is lewe saam met Jesus!

Nou is die groot vraag : Is die goeie lewe wat jy vir jou kinders wil hê, is die goeie lewe waarop jy jou kinders wil voorberei in lyn met Jesus se siening van lewe? Leer ons ons kinders deur woorde en deur voorbeeld dat die heel belangrikste ding op aarde is om Hom te ken? Leer ons ons kinders dat alle dinge uiteindelik tot niet sal gaan, maar dat om Hom te ken alles in waarde oortref? Leer ons ons kinders dat al ons dade eendag deur Jesus beoordeel gaan word? Sy lof, sy goedkeuring is al wat tel? (27)




Dit wat ek oor die algemeen rondom my sien, laat my dink dat ons nie die waardes en waardevolheid van Jesus aan ons kinders oordra nie. Voorbeelde: Is huisgodsdiens die eerste prioriteit – in ons huise? Of is sepies en ander programme belangriker? (Ek ken die antwoord, want die oorgrote meerderheid van kinders met wie ek in aanraking kom, ken glad nie die Bybel nie. Maar hulle kom uit "Christelike huise" en gaan skool in 'n "Christelike privaatskool') Leer ons vir ons kinders dat om Jesus te ken die belangrikste is, as ons bereid is om naweek na naweek honderde kilometers agter sportbyeenkomste aan te ry, maar min moeite doen om by die kerk te kom. 

Leer ons ons kinders dat hulle verlore sondaars is sonder Jesus, as hulle altyd net vertel word hulle is ysters? Ons kweek ‘n generasie van ysters met so ‘n oordrewe selfbeeld dat hulle nooit hulle aaklige sonde sal besef en God om genade sal smeek nie…

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek sê nie ons met heeldag net Bybel lees vir ons kinders nie… Ja, natuurlik moet ons gebalanseerde kinders grootmaak- ons moet tyd en geld bestee aan hulle akademiese en fisiese ontwikkeling, maar ons eerste groot passie moet wees om hulle te begelei om volgelinge van Jesus te word. Dit help als niks hulle word akademiese reuse en sportsterre, maar hulle sal vir ewige verlore gaan in die hel sonder God nie! (26)

God gee aan ons verbondskinders om vir Hom groot te maak. Hy beskou hulle as baie belangrik, as syne. Luister na God se snydende verwyt in Esegiël 16:20-21. 



Israel het hulle kinders soms letterlik aan afgode geoffer. Doen ons dit nie ook as ons deur ons voorbeeld en praatjies kinders laat verstaan dat geld en prestasies die belangrikste in die lewe is nie? Vertel jy jou kinders dat om Christus Jesus te ken alles in waarde oortref? Sien jou kinders jou gereeld in die kerk, sien hulle jou besig wees met die Bybel, hoor hulle jou bid? Die waarde van Jesus en die allerbelangrikheid om Hom te volg, dis die lewe. Dis die lewe op die bergtop in God se teenwoordigheid saam met Jesus!



Saterdag 04 Junie 2022

EENSAAM?




Kind van God hier is vir jou 'n baie bevrydende waarheid!

Eensaamheid is ‘n baie ernstige en algemene probleem. Dit raak eintlik maar alle mense – ons dink dalk dadelik aan ongetroudes, maar dit raak baie beslis ook getroudes (dikwels is hulle die eensaamste van almal...), kinders, grootmense, bejaardes… ja, ook kinders van God. Die kind van God is in ‘n sekere sin meer uitgelewer aan alleenheid as ander mense

Ek bedoel, sedert jou bekering (en ek hoop werklik jy het al tot bekering gekom) ondervind jy teenstand van eie familie en naasbestaandes.  Jou vorige vriende  isoleer jou. (hulle wat voorheen saam met jou gedrink en vuil grappe vertel het.... Want jy is mos nou anders, jy neem ongewilde besluite, jy het nuwe belangstellings en jy swem teen die stroom van die wêreld in. Spesifiek na jou kom hierdie troosboodskap : 

Kind van God, jy is nie regtig alleen nie en jy hoef nooit eensaam te wees nie.

Regtig? Wel dis die duidelike implikasie van God se beloftes, maar spesifiek van Jesus se kragtige uitspraak in Johannes 14:23.




Die teenoorgestelde van eensaamheid is gemeenskap. LW- nie net saamwees nie. Gemeenskap (fellowship) ets baie meer as saamwees. ‘n Mens kan steeds eensaam wees tussen ‘n klomp mense, dalk juis… as daar nie ware en egte gemeenskap is nie. Saamwees verhoed nie noodwendig eensaamheid nie. Eensaamheid verdwyn eers as daar ware gemeenskap is. 



Wat is ware egte gemeenskap? Om die heerlikheid en diepte daarvan te begryp moet ons by God begin. Die Drie – enige God! Die diepste en mees verhewe vorm gemeenskap – ‘n diep innige egte verhouding van volmaakte liefde en wedersydse respek vind ons binne in God Drie-enig. Tussen Vader, Seun en Heilige Gees. God is in Homself in ‘n volmaakte gemeenskap. Volmaakte harmonie. Dis ‘n waarheid wat mens nie noodwendig in een teks kry nie, maar iets wat deurlopend in die Johannes evangelie na vore kom. Dit word duidelik geïllustreer deur die werkswyse en woorde van Jesus. Net ‘n paar voorbeelde : 



Jesus se woorde is die woorde van die Vader! Hy het nie sy eie onafhanklike agenda nie! Kyk ook na   Johannes 5:19-23,26-27; 8:54-55; 10:17,18; 11:41,42; 12:48-50; 14:8-10; 16:13-15 

Ons fokus nou op die werk van die Heilige Gees... Die Heilige Gees laat die volheid, die volle liefde en troos van die Vader en die Seun voelbaar/werklikheid word in ons harte. Die Heilige Gees binne ons is die bewys dat God in ons woon! – 1 Johannes 4:13. 



Onthou - Vader, Seun en Heilige Gees is nie in kompetisie met mekaar nie, maar is ‘n diep innige eenheid en SAMEWERKING van ware gemeenskap. Ons sien dit in God se reddingswerk… Die Vader besluit om ons te red en stuur sy Seun, die Seun Jesus bewerk ons verlossing aan die kruis, die Heilige Gees maak dit ‘n werklikheid in ons harte deur geloof en bekering!

En nou is dit so wonderlik – ons as kinders van God word deel gemaak en ingetrek in hierdie binnekring van gemeenskap. God kom woon by ons! Heerliker kan dit nie gestel word nie. God Drie-enig kuier nie net af en toe by jou nie… Hy kom woon by jou! Dis die heerlike en verbysterende waarheid van Johannes 14:23 Beleef ek en jy dit prakties? Of is dit net mooi teorie?

VOORWAARDE

Hoe gaan ons hierdie gemeenskap prakties beleef? Daar is ‘n voorwaarde. Kyk weer na vers 23 – “om Jesus se woorde ter harte te neem” – om Jesus ernstig op te vat m.a.w. gehoorsaamheid. Gehoorsaamheid bevorder gemeenskap. Ongehoorsaamheid verbreek gemeenskap. (ongehoorsame kinders van God beleef ongelukkigheid en eensaamheid) Gehoorsaamheid en geloof gaan onlosmaaklik saam. Alle sonde is ongehoorsaamheid! Dis hier waar die groot probleem kom – ons is blind, hardkoppig, bang... blind vir die feit van sonde in ons lewens, hardkoppig om afstand te doen daarvan..., bang om te erken en te bely...bang wat mense sal sê...

Dis 'n vaste waarheid - Waar ons erns maak met gehoorsaamheid, beleef ons gemeenskap – met God en met mekaar!


GEMEENSKAP VAN DIE GELOWIGES

Belangrik. Ons word ingetrek in hierdie heilige innige gemeenskap, nie net as enkelinge nie maar saam in gemeenskap en eenheid met ander gelowiges. Dit kom pragtig na vore in Jesus se aangrypende hoëpriesterlike gebed in Johannes hoofstuk 17.  Lees gerus 17:20-24 




Saam in God!!! Hoe gebeur dit prakties? Die Heilige Gees woon in elke kind van God. Dis hoe ons gemeenskap met die Vader en die Seun binne in ons beleef – en ook in ander in wie dieselfde Gees woon. Ja, ten spyte van al die woelinge en teenstand, vervolging, onreg in die wêreld. Dis die heerlike versekering wat elke kind van God kan glo...

Natuurlik is hierdie gemeenskap op aarde nog nie volmaak nie – dit word telkens deur sonde versteur, maar dit word ook weer en weer deur belydenis en vergifnis herstel! Volle gemeenskap met God is beskikbaar! Ons verbreek dit… Ons is verantwoordelik vir ons eie eensaamheid!

Maar eendag sal daar geen sonde en gebrokenheid wees nie. Daar wag nog ‘n volmaakte gemeenskap vir elke kind van God.




Kinders van God sal weens ‘n verskeidenheid van redes alleen voel… maar ons hoef nooit alleen nie en hoef nooit eensaam te wees nie! Hierdie troos vloei voort vanuit die waarheid van die Drie-eenheid van God. Dis trouens die kernwaarheid van die geloof. Ons praat van ‘n Trinitariese geloof. Mag ons groot vreugde en vervulling vind in die gemeenskap met die Drie-enige God saam met medegelowiges. 

Om na die boodskap te luister op YouTube kliek op EENSAAM?

Vrydag 06 Mei 2022

MAAK DIE SONDESOM

 - DINK LOGIES! WAT HET DIE SONDE JULLE IN DIE SAK GEBRING?  HOU TOG OP DAARMEE!

Ons het nou al gekyk na die bevrydende boodskap van volledige vergifnis vir elke sondaar wat berou het, dit bely en sy vertroue op Jesus stel.  (As jy daarna wil luister kliek op GELUKKIG!) Heerlik! Maar dit bring mens onwillekeurig by ‘n belangrike vraag: 

“Mag ‘n Christen maar aanhou sondig, want God se genade het mos als vergewe?”  

Paulus hanteer hierdie vraag in Romeine 6 vers 1.


Paulus se kort en kragtige antwoord is : “Beslis nie!” Maar dan gaan hy aan en gee verskeie redes waarom dit ondenkbaar vir elke Christen sou wees om so te redeneer (dat ek maar kan aanhou sondig omdat die genade groot is). Een rede is dat ons as kinders van God saam met Christus gesterf en opgestaan het... in Jesus het ons 'n nuwe identiteit! Sonde pas net nie meer by ons nuwe status en realiteit nie... DOOP herinner ons hieraan...

In die Romeine 6:15-23 raak Paulus aan ‘n ander redenasie wat mense aanvoer om aan te hou sondig (en mens hoor hierdie redenasie vandag nog) – Dit loop soos volg : “Ag, ons leef gelukkig nie meer onder die wet nie, maar onder die genade! Steel, leuens, saambly en egbreuk is nie meer so erg nie, want ons staan mos nie meer onder die wet van Moses nie!”

Inderdaad is dit so. Ons staan as Christene van die Nuwe Verbond nie meer onder die Mosaïese wetgewing nie. Hieroor is Paulus baie duidelik : “Maar nou is ons vrygemaak van die wet, want ons het gesterf en staan nie meer onder die wet waardeur ons gebind was nie. Nou kan ons dien in die nuwe bedeling van die Gees, nie in die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie.” (Rom 7:6) Maar weereens beteken dit dat ons nou maar sonde kan doen?

Wat is Paulus se antwoord, sy teen argument hierop? Kortliks twee dinge:

Onthou julle wat Christene is, was voorheen slawe van die sonde. Hierdie sonde was julle baas, julle kon nie daarmee ophou nie, julle was slawe. Ja, ons moet weet, die sondaar lyk baie gelukkig, natuurlik geniet hy dit, maar hy is ‘n magtelose slaaf. Jy dink jy doen sonde soos jy wil en lekkerkry, dis die teenoorgestelde – sonde is jou baas. Wrede baas! Jy kan nie  daarmee stop nie! Die sonde lei tot allerlei ellende, jy sien waarheen dit gaan. Jy sien die verwoesting en pyn wat dit veroorsaak,  jy weet diep in jou binneste lei dit na die hel, maar jy is magteloos om anders te leef. So Paulus se argument teenoor Christene wat weer wil sondig is kom neer op : Is julle nou mal? 

Wil julle weer teruggaan na die ou wrede baas (sonde)?

Elke deel van julle liggame was in diens van die wrede baas van sonde, julle was glad nie in God se diens nie. Nou is julle vrygespreek, begenadigdes, julle is mos nou dankbaar in God se diens. Julle is nou God se slawe. 


 Hoe kan julle so jul rug op God draai en weer na die ou baas toe teruggaan? Dit maak net nie sin nie! Jy sien Paulus gebruik ‘n bepaalde logika om Christene te waarsku en te probeer oorreed om nie weer terug te gaan na die sonde toe nie.




MAAK DIE SOM : WAT WAS DIE GEVOLGE?

Die tweede deel van die argument sluit nou aan by die eerste deel. (21) Paulus wil sê : (Onthou hy praat met bekeerde mense) Dink bietjie terug aan die tyd toe julle onbekeerd was en slawe van die sonde was. Dink aan die dinge wat julle toe gedoen het. Wat was die vrug/gevolge van daardie dinge? Wat het daardie dinge julle in die sak gebring? Watter nut het daardie dinge gehad? Wat het julle gewen deur daardie dinge?



Weereens Paulus sê nie maar net bloot, sonde is sleg nie. Hy maak ‘n appèl op ons logiese denkwyse. Logiese denkwyse is ‘n hulpmiddel in ons keuses, ook in ons stryd teen die sonde. Bekyk ‘n bietjie die saak van sonde naderby. Dink bietjie terug aan die dinge wat jy daardie tyd gedoen het en waaroor jy nou skaam is. (Terloops, ‘n mens wat nie skaam oor sy sonde is nie wys maar net dat jy totaal verlore is en hoegenaamd nog nooit die genade van God aanvaar het nie… As jy nog spog hoe lekker dronk jy was op partytjies en hoeveel meisies jy bed toe gevat het, weet jy is op pad na die hel!) Christene is skaam oor hulle vorige leefstyl. Paulus sê nou ons moet terugdink daaraan en dit logies beredeneer… Wat was die gevolge van daardie sonde? Wat was die gevolge van my goddelose partytjies, my onsedelike leefstyl, my losbandige lewe, my drankmisbruik, my leuens, my opstand teen my ouers… Dink bietjie, onthou bietjie die vrug daarvan… die hartseer, die huweliksverbrokkeling, kinders wat deur die trauma van egskeiding moet gaan, party weet nie eens wie hulle pa’s is nie, die skade aan ander mense se gesondheid, gemoed, eiendom en lewens, die skades en ellendes wat sonde in my eie lewe veroorsaak het… Dink aan die leegheid van sonde, die vrugteloosheid...die vermorsing van kosbare tyd en energie. Verlore kanse... Watter ewige nut het al daardie kortstondige plesier en jollery vir jou gebring? Was dit dinge waarop jy in die oordeelsdag trots op kan wees? En moenie vergeet nie, die uiteinde van daardie leefstyl is die ewige dood! Die poel van vuur, ewig weg van God af! Julle wat nou weer met sonde wil speel, kom nou, dink terug, bereken weer die gevolge… Die einde van die pad van volharding in sonde is die hel, al kry jy die welsprekendste dominee om soetsappige stories op jou begrafnis te vertel!

Paulus kom nou weer terug na God se kinders se huidige posisie. Hy wil sê :“Kom nou kinders van God, moenie dwaas wees nie. Julle is mos vry van die slawerny van sonde, julle dien nou die lewende God. Julle leef mos nou heilig en die einde daarvan is die lewe!” Julle sien sonde en dood gaan saam, heiligheid en lewe gaan saam. Moenie deurmekaar raak nie! Daar is twee duidelike opsies voor ons.

  Twee wyduiteenlopende en teenoorstaande opsies. 

Dit stel Paulus nou in ‘n kragtige klimaks kontras  in vers 23. 


Hy kies sy woorde fyn. Die loon van die sonde is die dood. Die noodwendige betaling, dit wat ek verdien as ek sonde doen is die dood. 







Kyk die doelbewuste kontraste: Die genadegawe (teenoor loon) wat God gee (teenoor sonde) is die lewe (teenoor dood) Kies die pad van genade! 





Kind van God, moenie met sonde begin speel nie! Kies daagliks teen sonde! Die pad van genade staan teenoor die pad van sonde. (genade kan dus nooit as verskoning vir sonde gebruik word nie) Kies die pad van die lewe!

Luister ook op YouTube by VOORDELE VAN SONDE

Dinsdag 03 Mei 2022

Ons besoek Jesus se mense in Boesmanland...

'n Groep van ons uit die NGK Tsumeb het die opwindende geleentheid gehad om saam met Andries en Tracey Gous vir ’n kort uitreik verlede naweek na Boesmanland te gaan. Vir sommige was dit die eerste kennisname met hierdie pragtige deel van ons land. Die opvallendste was egter nie net die besondere natuurskoon nie, maar veral die pragtige kinders van God. Ja, dis mense van ’n totaal ander kultuur as ons, maar omdat dieselfde Heilige Gees wat in ons woon ook in hulle woon is daar ’n wonderlike band van eenheid.

In die weste van Boesmanland het ons Kanovlei en Omatako besoek. Dis in 'n pragtige vallei met reuse kameeldorings waar die Vasekele !Kung (voorheen van Angola) woon. Die Woord is aan klein en groot gebring. Trudie van Niekerk en haar medewerker Elvin van CEF het voorgevat met die kinders. Hierna is daar ’n vinnige draai by M’Kata gemaak waar soos Andries ons ingelig het die Mpunguvlei !Kung woon. (Hulle is dus oorspronklik afkomstig uit die Kavango.) Hier is ’n baie groter mate van ontwikkeling en blykbaar is hier ’n beleid dat as iemand nie wil werk nie, hy ook nie mag eet nie!


Uiteindelik was ons op Mangetti Duin. Dit was vir my ’n groot voorreg om ’n jong man, Amon Petrus op Sondag 1 Mei hier as leraar te bevestig. Kom ons bid vir hom en sy vrou Nyama se bediening. Jaõ, ’n ou kennis uit my weermagdae het as tolk opgetree. 


Linguïsties is hierdie gemeente (die amptelike naam is Luhebu Noord) 'n mini Babel... Die mense praat natuurlik hulle variant van !Kung wat uit Angola kom... Maar daar het die mans uiteraard Portugees gepraat as soldate in die koloniale tyd. Hulle kerktaal was Luchazi. Hulle sing vandag nog Luchazi liedere in die kerk. Met hulle deel word van die destydse SAW en hulle vestiging in die ou Suidwes het Afrikaans bygekom. En deesdae in die onafhanklike Namibië is die voertaal in die skole natuurlik Engels. Die jong geslag verstaan natuurlik nie meer Luchazi nie... aanpassings moet gemaak word.

Terug by die bevestiging. Dit was opmerklik dat mense uit ander gemeentes ook die bevestiging bygewoon het. Ons moet nooit vergeet dat Andries se bediening onder die vaandel van DEGNOS baie wyer strek as net NG lidmate nie.

Later die dag het ons via Aasvoëlnes na Nhoma gegaan. Dis ’n pragtige omgewing. Dis in die ooste van Boesmanland en is die woongebied van die Juǀʼhoansi. Hier kon ons ook kennismaak met twee van die oorlewende Boesmans wat deel was van ’n groep wat met hulle lewens ’n paar jaar gelede ’n Australiese toeris in ’n veldbrand beskerm het. Drie manne het letterlik hulle lewens verloor om haar lewe te red! Hier het Herman Fuls en Andries die Woord gebring en daar is ook weer ’n geleentheid vir die kinders aangebied.







Herman Fuls en Andries Gous. Ons hou kerk onder pragtige  Rhodesian teak bome.





Gert en Bertus op Nhoma. Gert dra nog die littetekens van die vreeslike brandwonde.








Ongelukkig sien mens nie net mooi dinge nie. Dis was skokkend om te sien hoe gierige mense die bastermopanie woud (rooshout/osiwi) in hierdie afgeleë gebied uitgeroei het. ’n Reuse stapel houtblokke oorgelewer aan wind en weer was die hartseer getuienis. Nêrens is die skepping meer veilig teen die mens se verwoestingswerk nie.



Maar, kom ek keer weer terug na die positiewe. Ons moet die Here dank vir sy kerk in Boesmanland. Jesus Christus self hou sy kerk in stand. Daar is natuurlik verskeie uitdagings... die reuse afstande, tekort aan fondse en arbeiders, uitbuiting van die Boesmans deur gewetenlose handelaars, die binnedring van ander meer gegoede volke en die bedreiging van valse leringe soos die van die Sewendedaagse Adventiste wat daarop uit is om mense van die kerk af te rokkel. (hulle doen dit met fondse van oorsee.) Te midde van alles doen Andries en Tracey reuse-werk. Min van ons het ’n besef wat dit als behels. Om net ’n kerkraadsvergadering te hou moet daar honderde kilometers gereis word! Dan het ons nog nie eers gepraat oor die ondersteuning van die skooltjies, die aanbied van opleiding en die onderhoudswerk aan eiendom nie.

Kom ons raak betrokke deur gebed en ondersteuning. Bid vir al die leraars, kerkraadslede en onderwysers, maar spesifiek vir Andries en Tracey (hulle is nog lidmate in Tsumeb) wat ’n byna bomenslike verantwoordelikheid moet dra. En miskien moet jy dalk volgende keer saamgaan...




Saterdag 23 April 2022

GELUKKIG!

- Psalm 32 Sondebelydenis : die duidelike pad na ware vryheid en geluk.


Ons weet almal hoe vindingryk en bedrewe ‘n alkoholis is om sy drank en sy sonde weg te steek… Hy steek dit so goed weg dat hyself nie eers besef hy het ‘n probleem nie. Maar dis natuurlik net alkoholiste wat deskundiges is op hierdie gebied nie. Alle sondaars dra maskers… almal is maar skelms en redeneer "Ag, die mense moet tog net nie weet nie! Ek moet maar net maak asof alles reg is."


Maar dis juis die groot tragedie. Om stil te bly oor sonde, om dit weg te steek of dit te ontken, los geen probleme op nie. Inteendeel. Dit mergel jou uit, dit maak jou siek, dit tap jou kragte, want die Here se hand druk swaar op jou. 

Ons leer dit in Psalm 32:3,4




Ja, onbelyde en verswygde sonde versteur die gemeenskap met God. Dit maak o.a. dat jou gebede nie verhoor word nie. Jesaja 59:1,2 leer ons dat God nie doof en magteloos is om te help nie, maar dat ons ongeregtighede die probleem is waarom Hy nie reageer op ons gebede nie...




As ek egter eerlik word voor God en my sonde erken en bely, dan kom daar ‘n heerlike verandering. VERGIFNIS. 



En hierdie vergifnis wat God skenk lei tot bevryding en vreugde! Kyk watter groot verandering en ommekeer het hierdie psalmis beleef. Dit lyk asof vers 3-5 ‘n persoonlike bekeringsgetuienis is. Hy wil sê : Ek het eers my sonde probeer wegsteek en ontken, maar dit het geen verligting vir my gebring nie. Als het net erger geword. Maar toe ek my sonde deeglik, omvattend voor God bely het, het daar ‘n onbeskryflike verligting gekom. Die psalmis gebruik drie verskillende Hebreeuse woorde wat hier vertaal word as sonde, sondeskuld en oortredings om die omvattendheid, volledigheid, erns van sy belydenis te beklemtoon. Moenie net halfhartig erken, ja ek is ook maar ‘n sondaar nie – nee, erken voor die Here – “Ek is ‘n dief, ‘n leuenaar, ‘n dronkaard, ‘n hoereerder, ‘n ongehoorsame….” Hierdie belydenis het onmiddellike heerlike gevolge gehad. 


Sondebelydenis is soos die oopmaak van ‘n dam se sluise. Dink aan ‘n oorvol dam wat dreig om te kraak en te breek as gevolg van die geweldige waterdruk wat opbou en al erger word… En dan eensklaps word die sluise voluit oopgetrek en daar kom verligting… die druk neem af en die gevaar is verby! 



TREK OOP DIE SLUISE VAN BELYDENIS EN VOEL DIE VERANDERING!

GELUKKIGE MENS!

En daarom word die mens wat vergifnis ontvang het – as ‘n gelukkige mens beskryf! 



(1) LW – bedek – nie wat die mens bedek nie , maar wat deur God bedek word! 




(2) LW – opvallend dat bedrog uitgesonder word. Vergifnis is bedoel in die konteks van hierdie psalm vir mense wat nie hulle sonde wegsteek nie, maar eerlik bely. Net wanneer hierdie belydenis openhartig sonder bedrog en valsheid is, sal daar vergifnis kom. Hierdie inleiding van die Psalm beskryf ‘n algemene wysheidsbeginsel. Gelukkig is die mens wie se sondes vergewe is. Dis belangrik, hierdie beskrywing veronderstel nie ‘n sondelose persoon nie – die psalmis weet baie goed mense is sondige wesens – as geluk berus het op sondeloosheid sou ons nooit gelukkig kon wees nie – Nee, geluk is moontlik vir ons as sondaars omdat daar iets bestaan soos vergifnis. Ware vergifnis wat volg op eerlike belydenis.

Hierdie volledige vergifnis en die gevolglike vreugde pas in by die Nuwe Testament se evangelieboodskap. Hierdie vergifnis is deel van die vryspraak wat die gebroke sondaar ontvang as hy in berou sy vertroue op Jesus stel. Paulus behandel die vryspraak deur die geloof in Jesus en verwys dan na die voorbeelde van Abram en Dawid. En met verwysing na Dawid haal hy hierdie psalm aan. (Romeine 4:6-8)







Nadat die psalmis sy getuienis gedeel het, roep hy nou alle gelowiges op om ook te bid vir dieselfde bevryding as wat hy ervaar het. Ons word elkeen aangemoedig – maak gebruik van die geleentheid! 

 









Belydenis en vergifnis is net die begin van die pad vorentoe. God wil nie net vir jou bevryding gee nie, maar ook insig oor hoe jy verder moet lewe. Hy wil ‘n wakende oog oor jou hou. (8)





Alles is nie net goeie nuus nie, hier is ook ‘n waarskuwing vir ons elkeen. 


 (9,10) Moenie hardkoppig wees nie. Moenie aanhou om jou sonde weg te steek en te ontken nie. Moenie jou gedra soos ‘n dwase hardkoppige dier sonder verstand nie. Moenie weerstand bied teen sondebelydenis nie. Dit bring net smart. Daar is net twee opsies voor jou. Die pad na geluk is belydenis, die pad na ellende is ontkenning en wegsteek van sonde.





Die Psalm eindig met ‘n lofprysing. (11) Laat ons bly wees dat God vir ons die duidelike resep vir geestelike gesondheid en vreugde gegee het. Dis nie ‘n ingewikkelde resep nie. Dis net ‘n basiese fundamentele waarheid – erken jou sonde en bely dit! Los die verskonings en verduidelikings, bring jou sonde voor God in berou en belydenis. 




Die groot kerkvader Augustinus het hierdie waarheid so goed besef. Hy sê “ intellegensia prima est ut te nôris peccatorem” – “die begin van kennis is om te weet dat jyself ‘n sondaar is” Blykbaar was Psalm 32 sy gunsteling psalm en het hy dit voor sy dood geskryf op die muur by sy siekbed. 


VANDAG!

Mag hierdie psalm ook vir my en jou troos en uitkoms bied, nou en eendag as ek en jy ook op die drumpel van die ewigheid staan. Maar hoor ook die dringende uitdaging – moenie sondebelydenis en vertroue op Jesus uitstel nie... 

Dis een van die groot hartsere wat ek in my bediening hier op Tsumeb beleef... mense stel uit en as jy weer hoor het hulle gesterf...


 Vandag is die dag van JOU verlossing!

Luister hierdie boodskap ook op YouTube by GELUKKIG   (kliek)