- Leiding uit die lyding van die verlede (toe die helfte van 'n kerkraad in geweld sterf)
Plaasmoorde, geweld en verwoesting is algemene nuus. Maar dis nie iets nuuts nie. Dit bring ons as kinders van God sommer by ‘n aktuele vraag - HOE STERF ‘N OUDERLING?
Ek deel graag met jou ietsie van hierdie gebeure soos veral opgeteken deur dr Thijs Nieuwoudt.(terloops eens op ‘n tyd ook leraar op Tsumeb) Vier van Gibeon se agt kerkraadslede is destyds vermoor – ouderlinge Smeer en Smit en diakens Booysen en Mähler.*
Dit was die veelbewoë
jaar 1904 – die tyd van bloedige opstande teen die Duitse koloniale bewind.
Reeds in 1903 was daar ‘n opstand onder die Bondelswart stam by Warmbad in die
suide wat redelik gou tot ‘n einde gebring word. Maar toe kom die groot
moeilikheid nog. Met die meeste Duitse soldate in die verre die suide, breek
die Herero opstand onder Samuel Maharero in die sentrale noorde uit. Dit sou
uiteindelik bloedig onderdruk word en tot die tragiese uitwissing van ‘n groot
deel van die Herero bevolking lei. Die omstrede Vernichtungsbefehl (uitwissingsbevel)
van Lothar von Trotha weerklink
vandag nog in die psige van die Namibiese nasie.
Maar toe kom die derde fase. Hendrik Witbooi een van die groot Nama leiers het aanvanklik sy gewig by die Duitsers ingegooi teen die Herero’s. Na die Slag van Waterberg keer hy en sy manskappe terug. Nou terwyl die Duitsers nog in die Noorde besig is, sien hy sy kans om sy eie ideale te verwesentlik. Sy wrede plan en verwarde visie om ‘n Messiaanse Vrederyk** te verkry behels dat alle blanke manlike persone klein en groot summier vermoor moet word en die vroue en dogters uit die land gejaag moes word. (Blykbaar was sy beplande hoofaanslag nie teen die Boere nie, maar wel teen die Duitsers. In die hitte van 'n stryd loop dinge egter lelik skeef en word daar nie altyd by doelwitte gehou nie.) Soos dikwels in die geskiedenis kry bose planne ‘n christelike sousie deurdat sy profeet Baäl Stuurman uit die boek Jesaja aangevoer het dat die Namas en Basters die uitverkorenes was en die Blankes indringers.
Oudl. Frans Smeer, sy vrou en hulle aangenome
seuntjie Jannie was per ossewa vanaf ‘n kerkgeleentheid by Kub op pad na hulle opstal
op die plaas Marienthal wat hulle gehuur het. Volgens ‘n vertelling van mevrou
Smeer het hy die oggend baie uit sy Bybel gelees en naby die huis met Psalm 42
afgesluit. Hy het ook ‘n gebed gedoen en blykbaar ook gesê : So Bybel, nou is ek met
jou klaar.” By die huis aangekom is hy deur Namas oorrompel en is ‘n osriem om
sy nek vasgemaak, Mev Smeer is ook van die wa afgeruk met ‘n riem om die
nek. Hulle word na die polisie gebou op
die plaas gelei, die polisie is reeds die vorige dag vermoor. Smeer pleit tevergeefs vir hulle lewens. Hy
versoek toe om die geleentheid te kry vir ‘n gebed. Dit word toegestaan. Hy bid
hardop – ook vir sy voornemende moordenaars. Een van die Namas het begin huil
en vir sy lewe gepleit, maar die leier het beveel dat hy geskiet moes word. Hy
word weggelei en geskiet. Mevrou Smeer kon hom nie eens groet nie. Sy word na
haar huis terug gelei en beveel om op die traporreltjie te speel sodat die
Namas kon dans. Ja -Sy speel geestelike liedere maar dit keer hulle nie om te
dans nie.
Hoe sterf ‘n kind van die Here in sulke omstandighede? Biddend. Ook biddend vir sy vyande. Net soos Jesus aan die kruis en Stefanus in Handelinge. [Handelinge 7:60] Daar kan nog wrede verhale uit hierdie tydperk vertel word. Veral die grusame gebeure op die plaas Swartmodder van ouderling Hendrik Smit. Hier is ‘n massaslagting aangerig, ook onder kinders. Merkwaardig is die ontkoming van klein Dirkie Smit wat oorleef het omdat hy soos ‘n dogtertjie aangetrek was en ‘n sewejarige seuntjie wat net deur sy armpies geskiet is. Ek gaan nie hieroor uitwei nie. My punt wat ek wil maak is nie ‘n fokus op die wreedheid en barbarisme nie, maar die belangrikheid van getrouheid aan ons Verlosser in woord en daad, juis ook in die manier hoe ons teen ons vyande optree. Geweld en oorlog is nooit goed nie, vir niemand nie – Op die ou end was dit juis die Nama volk self wat die swaarste gely het as nagevolg van Duitse weerwraak! Baie sterf. Sommiges moes uiterste weerstoestande op Shark eiland by Luderitz verduur waar hulle aangehoudenes was. Witbooi sterf self ook by Vaalgras naby Keetmanshoop op 29 Oktober 1905.
Geskiedenis, ook
van ons kerk in Namibië herinner ons aan baie donker dae van die verlede, maar
dit onderstreep ook juis die boodskap van hoop in ‘n stukkende somber sonde
geteisterde wêreld. Hierdie helder hoop is
moontlik deur die helder lig van die evangelie van genade en vergifnis .
Hoe wreed en sinloos
‘n oorlog kan word, blyk ook uit die moord op die Duitse sendeling eerwaarde
Holzapfel.*** ‘n Wa met vroue en kinders onder geleide van Nama vegters het
naby Rietmond die wa van die Holzapfel gesin teegekom. Pastoor Holzapfel wou
nog die mense troos, maar word afgekeer en deur ses gewapende Namas geskiet; en
skrikwekkend - een van hulle was ‘n ouderling in sy gemeente. Ouderlingskap is
nie 'n waarborg vir heiligheid nie! Die Bose is ook werksaam binne die kerk.
Mag ons altyd waaksaam wees teen die listige planne van die Satan wat kan
probeer om enigeen van ons ook te verlei!
Die evangeliese getuienis en roeping van ons kerk se pionier lidmate word pragtig onderstreep wanneer Meester Albertus Kooy die onderwyser van Kub, in die afwesigheid van ‘n predikant ‘n roudiens vir die vermoordes lei in 1906.(die getal vermoorde NG lidmate was 29)
Sy teks was Openbaring 7:14 “Deze zijn het, die uit de groote verdrukking komen: en zij hebben hunne lange kleederen wit gemaakt in het bloed des Lams.”
“Dit is
die mense wat uit die groot verdrukking kom. Hulle het hulle lang stolas gewas,
en wit gemaak in die bloed van die Lam.” (2020 Vert,)
Ons leef vandag nog
steeds in die tyd van die groot verdrukking, watter vorme dit nog kan aanneem
weet ons nie, maar mag ons gereed wees, gewas in die bloed van Jesus! Mag ons
die genade ontvang om altyd die gesindheid van Jesus te vertoon.
*Nieuwoudt, M.M; Die Nederduitse Gereformeerde
Kerk in Suidwes-Afrika, 1979, p125
** Buys, GL en Kritzinger, JJ, Salig die
vredemakers, 1989, p89ev
*** Nieuwoudt, M.M; Bakermat van ‘n
kerkverband – Mariental, ‘n eeufees, 1998, p100