- Wil die Algemene Sinode nou nóg dwalings inbring?
Natuurlik dit spreek vanself
dat ons alle mense, as skepsels van God met respek moet behandel. Onbeskofte gedrag en beledigende optrede gaan niemand vir die evangelie wen nie. Paulus se weldeurdagte, maar kompromislose voorbeeld van verkondiging aan die heidene van Athene in Handelinge 17 is 'n handboekvoorbeeld.
Respekvol wees en sinkretisme (godsdiensvermenging) is twee verskillende dinge. Ek wil daarom ernstig beswaar maak teen die gedagte dat ons in ons gemeentes saam met Hindoes, Moslems, aanhangers van tradisionele Afrika godsdienste ens. kan bid.
VIER REDES
Ek noem graag vier redes waarom gesamentlike aanbidding met vals gelowe nie mag gebeur nie..
Die eerste drie gaan oor die verbreking van die eerste gebod, naamlik liefde
tot God. Die vierde rede gaan oor die verbreking van ons liefdesverpligting
teenoor ons medemens.
1.Daar is niks mooi in enige afgodsdiens nie.
Hoe opreg die afgodsdienaars dit nou ook al bedoel, diens aan enige afgod is weersinwekkend. In die genoemde ATLAS dokument word inderdaad verwys na Paulus se rede
in die Areopagus in Athene, maar Handelinge 17:16 word gerieflikheidshalwe
verswyg. “Terwyl Paulus in Athene op hulle (Silas en
Timoteus) gewag het, was hy in sy gees
diep verontwaardig toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde is.” Die aanskoue
van afgodsbeelde maak Paulus kwaad! PUNT. Dit was sy diepste
gewaarwording, maar natuurlik het hy taktvol en met wysheid hierna verder gepraat. Met
vriendelikheid en beslistheid het hy Jesus aan hulle verkondig - die Man wat uit
die dood opgewek is! Sy diplomatiese optrede het egter nie verhoed dat hy sy hoorders duidelik teen die komende oordeel gewaarsku het nie. Paulus het ook nie geskroom om die eis tot bekering te stel nie.
2.Wie afgode aanbid, aanbid eintlik demone.
Dis nog ‘n ernstige rede waarom ons nie maar kan toekyk en deelneem aan ‘n geleentheid waar ander afgode aanbid word nie. Dis Paulus se argument in 1 Korintiers 10:18-22 Let spesifiek op na vers 20!
“Kyk na die volk Israel: Het diegene wat van die offers eet, dan nie deel aan die altaar nie? 19 Wat bedoel ek hiermee? Dat 'n afgodsoffer tog iets is, of dat 'n afgod iets is? 20 Nee, maar wat hulle offer, offer hulle aan demone, nie aan God nie – en ek wil nie hê dat julle aan demone deel moet hê nie. 21 Julle kan nie die beker van die Here drink én die beker van demone nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here én aan die tafel van demone nie. 22 Of is ons besig om die Here jaloers te maak? Is ons dan sterker as Hy?”
Wie deel wil neem aan die Heilige Nagmaal, moet seker maak dat hulle nie kompromie met die afgode en eintlik demone maak nie! Dit sou God se toorn kon opwek! Pasop!
3.God deel sy eer met niemand nie!
Hier kom ons nou by die wortel van die saak. Laat jou gedagtes bietjie teruggaan na die berg Karmel. Elia, God se enkele profeet op die toneel. 'n Weifelende volk. Hordes heidense priesters. Elia se boodskap en ultimatum aan die wyfelende verbondsvolk was baie duidelik - “Hoe lank gaan julle nog op twee krukke bly hink? As die Here God is, volg Hom; as dit Baäl is, volg hom.” (1 Konings 18:21)
Moet ons regtig nou
toelaat dat Hindoe gode en voorvadergeeste in ons kerkgeboue aangeroep word? Duisend maal NEE! Dit sou ‘n aantasting van God se eer wees! God se eie standpunt in Jesaja
42:8 is baie duidelik : “Ek is die
Here, dit is my Naam, die eer wat My toekom, gee Ek aan geen ander nie, die lof
wat My toekom, gee Ek nie aan gesnede beelde nie.”
Kompromie met die afgode laat ons getuienis skade ly... Dit bring ons by die vierde rede.
4.Gesamentlike gebed met valse godsdienste is
nie net disrespekvol teen God nie, maar is juis ook liefdeloos teenoor die
verlore heidene. Hoekom? Daar is net een Middelaar tussen God en mens naamlik
Jesus. In ons tyd van postmodernisme en raltiwisme is die boodskap van 1 Timoteus 2:5 baie belangrik. “Want daar is een God, en een Middelaar tussen God en die mense: die mens Christus
Jesus” As ons nou maar sonder protes saam met heidene
bid kan dit die indruk skep dat daar
baie paaie na God is en dat Jesus net een moontlikheid uit baie is, en so
mislei ons mense. Dis doodgewoon liefdeloos.
Die stemme binne in die kerk wat ons wil
aanmoedig om saam met ander godsdienste te bid is nie die stem van die Lam nie,
maar van die vals profeet!
*"Christene kan dus meehelp om gesamentlike aanbiddingsgeleenthede ‘n besondere kwaliteit te gee. Dit is nie ‘n geleentheid waar godsdiensgroepe met mekaar kompeteer of armdruk nie, maar ‘n geleentheid waar Christene – saam met mense van ander geloofsgroepe – ons geloof bely, elkeen op ons eie unieke manier. Godself is die Een wat ons harte toets en deurgrond – ons s’n, maar ook die harte van mense van ander godsdienste. Dus word die oordeel aan God alleen oorgelaat. Dit sou dus aanbeveel kon word dat Christene – veral dan ook as gemeentes op plaaslike vlak – nie sal huiwer om gesamentlike geleenthede te reël waarin kwellende kwessies van ons samelewing en die wêreld aan die orde gestel kan word nie. Dit sou op “neutrale” plekke kon plaasvind, maar dit sou ook ‘n besondere gebaar van gasvryheid teenoor mense van ander godsdienste kon wees om sulke byeenkomste in ons kerkgeboue te hou. By sulke geleenthede is wedersydse respek vir mekaar se tradisies en rituele van uiterste belang. Christene kan en moet by sulke geleenthede nie daarop aandring dat mense van ander godsdienste die Christelike tradisies moet volg nie. Eweneens sou Christene ook nie die eiesoortigheid van hul gebedstradisies en -rituele hoef op te gee nie. Sulke gesamentlike byeenkomste kan só ingerig word dat almal geleentheid gegun word om (ná mekaar, of parallel met mekaar) die kwessies wat bespreek is in gebed op te dra." {Aanhaling uit AS 2023 Agenda p76]
Dankie Johannes vir 'n goeie beredeneerde benadering tot hierdie probleem. Die skokkende deel in jou blog is die aanhaling uit die sinode leesstuk wat net deurspek is van kompromie, gebrek aan 'n begrip van die verskil tussen die kind van God en ander godsdienste (afgode) en die "slippery slope" in die woorde, "Eweneens sou Christene ook nie die eiesoortigheid van hul gebedstradisies en -rituele hoef op te gee nie." Maar, jy is reg, die wortel van die saak is die eer van God en dat ons Hom alleen aanbid.
AntwoordVee uitDie stemme binne in die kerk wat ons wil aanmoedig om saam met ander godsdienste te bid, is nie die stem van God nie, maar van die Satan!
AntwoordVee uit