BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 20 Maart 2021

MAAK SOOS JESUS!

[Die waarheid as fondasie van RADIKALE LIEFDE]




VANUIT DIE TRONK! 

Filippense is ‘n opwindende brief! Een rede – die “real life setting” is so eenvoudig en duidelik. Paulus is in die tronk en hy bemoedig ouens buite die tronk. Merkwaardig! Nog meer merkwaardig - die oorheersende tema is blydskap. Hierdie brief wys dat geloof werk, dis realisties uitleefbaar en haalbaar in die donkerste situasies. In 'n Romeinse gevangenis, maar ook in ons tye van Covid, korrupsie, onreg  en kerkverkrummeling…

Een van die redes vir die skryf van die brief was om die gemeente te bedank vir ‘n geskenk wat hy van hulle in die tronk ontvang het. Paulus gebruik sommer die geleentheid om sy weldoeners aan te moedig tot blydskap en vergenoegdheid. Tog spreek hy ook goggas aan soos ‘n gebrek aan eensgesindheid (4:2)* en natuurlik dwaalleer. (3:2)** (Hy verwys op ‘n baie kras manier na hierdie dwaalleraars!)

VERMANING

Paulus vind dit dus nodig om die gemeentelede van Filippi op etiese en leerstellige vlak te vermaan. Ons sien dat Paulus se grootste begeerte vir die Filippense was dat hulle ‘n evangeliese eenheid en liefde tot mekaar sal openbaar. Die sleutel vir ‘n eenheidsgesindheid is om te besef wat ons deur Jesus ontvang het (“as, aangesien” in vers 1)*** Hierdie besef moet ‘n dankbaarheid wek wat onselfsugtig is. (3,4)****

Lees gerus nou eers Filippense 2:5-11****

JESUS AS VOORBEELD

Nou fokus Paulus op die kragtigste voorbeeld van nederigheid, opoffering, die ander hoër ag as jouself... JESUS! “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:” (5) Die opdrag, die imperatief is – “Wees soos Jesus in julle verhouding met mekaar!”

UITGEBREIDE CHRISTOLOGIE

Ons vind hier iets baie opvallend. Die etiese opdrag is kort, maar die teologiese begronding hiervan is baie uitgebreid en ongelooflik diep en deeglik. (Dis waarskynlik ‘n vroeg Christelike lied wat Paulus hier aanhaal.) Hierdie is een van die groot belangrike Nuwe Testamentiese gedeeltes oor die persoon en werk van Christus. Dit beskryf beide wat ons noem : sy trappe van vernedering en sy trappe van verhoging. Onontbeerlike Christologie. Anders as wat baie predikers van vandag dink – was dit vir Paulus belangrik dat mense die regte teologiese kennis moes hê, want Paulus het besef dat dit wat jy regtig verstaan en glo, neerslag gaan vind in jou dade.

Hier is dus geen oppervlakkige “Hi ouens julle moet nice wees met mekaar, want julle is ‘n klomp great ouens bymekaar” nie! Verre daarvandaan! Nee, Paulus se benadering is eerder : “Broers en susters, kom ons probeer iets verstaan van die geweldige vernedering wat Jesus ter wille van ons deurgegaan het en kom ons probeer iets verstaan van sy ontsagwekkende mag en majesteit! En in die lig hiervan durf ons nie anders as om mekaar radikaal onselfsugtig lief te hê nie!

Kom ons gaan net so vinnig deur die Christologie wat Paulus hier opsom: Dit gaan eerstens daaroor dat Jesus bereid was om van die grootste hoogte neer te daal en neer te buig na die diepste vernedering, vrywillig! Vir my en jou!

(6) Jesus het nie selfsugtig krampagtig vasgeklou aan Sy Goddelike regte en status nie! (Wat is die implikasie ons? Wees onselfsugtig lief vir ander. Vergeet van : “Dis my reg om...” of “Ek is belangrik...”) Dink weer mooi. Jesus was gewillig om na die stukkende gevalle, sondige wêreld te kom, nie as superheld nie, maar as beperkte mens onderhewig aan die “ellende” van menswees. Hy het swak en ellendig geword om ons te help. Vrywillig!

(7) Hy het Homself leeggemaak. Hy het nie sy Godheid afgelê nie, maar Hy het wel die menslike natuur aangeneem. Hy word een van ons. Waarlik Immanuel, God met ons. Hy het vlees geword en in ons skoene kom staan. Nie ‘n veraf gerieflike Redder nie. Die Kersboodskap is alreeds ‘n boodskap van vernedering en lyding! . Jesus is nie soos ‘n ryk donateur op ‘n afstand nie! (Hulle stuur mos graag geld , maar wil nie hulle hande vuil maak nie.) Jesus is anders, Hy kom maak letterlik sy hande en voete vuil ter wille van ons. Hy kom ook nie as super mens, semi Goddelike heerser nie, maar as dienskneg. Hy demonstreer dit letterlik in Johannes 13:3-5 (voetwassing)

(8) As mens word Hy absoluut gehoorsaam aan die Vader, ‘n gehoorsaamheid wat lei tot die afgryslike skande en vernedering van die kruis. “...nogtans nie my wil nie...” Aan die vloekpaal word Hy ‘n vervloekte – Galasiërs 3:14!

WORTELS IN DIE OU TESTAMENT

Twee Ou Testamentiese temas speel hier ‘n rol:

Jesus is as’t ware “Adam in reverse.” Adam en Eva wou soos God wees –opgaan, gelyk wees aan God, Jesus kom vrywillig af, word gelyk aan mense. Adam en Eva was ongehoorsaam, Jesus was volledig gehoorsaam aan God – ja, tot aan die kruis!

Hier is ook ‘n ego van Jesaja 53:12 die Lydende Kneg. Ons is ook geroep tot ‘n lewe van selfopofferende liefde vir ander!

VERHOGING EN VERHEERLIKING

Paulus bly egter nie stilstaan by die vernedering nie, maar gaan aan met die ontsagwekkende heerlike verhoging van Jesus! Dit soos jy weet behels Sy opstanding, hemelvaart, sit aan die regterhand van God, die magsposisie van die heelal! Daar is ‘n direkte verband tussen sy vernedering en die verhoging –“ daarom.” Omdat Hy bereid was vir die vernedering word Hy verhoog. (Die lesers moes hierdie implikasie in hulle lewens ook begryp)  Vernedering lei tot beloning!

“Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom 'n naam gegee wat bo elke naam is, “ (9)

Die hoogste naam? Here, God, Verlosser! Goddelike Verlosser! Dis die implikasie vanuit die agtergrond in die profesie van Jesaja! Jesaja 45:15 – “U is die God wat U verborge hou, die God van Israel, die Redder! Eers na sy lyding word sy ware identiteit bekend! Jesaja 45:23 – “Ek sweer by Myself; geregtigheid gaan uit my mond, 'n woord wat nie herroep word nie: dat voor My elke knie sal neerbuig, by My elke tong sal sweer.”

Paulus wil sê : “Sien tog raak wie Jesus is! Sy vernedering, maar ook die heerlike gevolge van sy vernedering! En wys sy gesindheid en karakter ook in julle lewens! (Terloops – hierdie bonatuurlike Christologie is onaanvaarbaar vir die ongelowige mens... destyds... maar ook vandag... Die wedergeboorte is nodig om dit te glo, te begryp en te waardeer!)

VERKONDIG CHRISTUS!

Mens kry die indruk dat lidmate tot satwordens toe vermaan word tot betrokkenheid, opoffering, eenheid, liefde... met min resultate. Dalk moet ons weer besef dis allereers nodig om Christus Jesus te verkondig en Hom as Gekruisigde, maar ook as die Verhoogde Messias. Die basiese heilsfeite is primêr en onontbeerlik. Slegs diegene wat aangegryp word deur die opofferende menswording en selfvernedering van Jesus, sy plaasvervangende lyding en sterwe, gaan getransformeer word tot ‘n gesindheid van radikale eenheid, opoffering en liefde! Alleenlik hulle wat in verwondering en blydskap juig oor die historiese feit van sy liggaamlike opstanding en die werklikheid van sy almag en majesteit word gemotiveer tot ‘n lewe van liefdesdiens. ‘n Liefde en eenheid nie gebou op die tydsgees van verdraagsaamheid (toleransie) vir sonde nie, maar ‘n liefde vir die waarheid. Wat ‘n groot waarheid! Wat ‘n groot liefde!

Ortopraksie volg op ortodoksie.*****

Leer ken die ware Jesus en jy sal begin reg leef! Ek bedoel natuurlik nie dat als gaan reg wees as ek bloot die heilsfeite ken nie, dat my lewe gaan verander as ek my katkisasie toetse deurgekom het nie. Ek bedoel dat as ek waarlik die feite rondom Jesus glo en dit vir my ‘n werklikheid geword het, sal my lewe nooit weer dieselfde kan wees nie. Onmoontlik! As sy vernedering en sy verhoging my aan die hart gegryp het kan ek nie ongeërg voortgaan op die pad van sonde, die soeke van eie belang en onvergewensgesindheid nie! Wat glo ek en jy werklik oor Jesus?


Slotopmerking – Die geskiedenis bewys dat daar waar Jesus as Verlosser vir mense persoonlik ‘n werklikheid word, hulle gedrag sal verander. In die 18de eeu was Engeland moreel op ‘n laagtepunt en op die rantjie van ‘n rewolusie soortgelyk aan Frankryk. Die haglike toestand van hierdie nasie was nêrens duideliker sigbaar as in die sogenaamde Gin Craze nie. Daar word bereken dat een uit elke sesde huis in London ‘n Gin shop was. (Sien Arnold Dallimore se George Whitefield, Vol I p25) Dit was die kragtige Christosentriese herlewingsprediking van George Whitefield en John Wesley wat die nasie geskud het en tot morele en maatskaplike hervorming gelei het!

Mag ons almal weer geskud word deur die evangelie van Jesus en so kom tot ‘n nuwe gesindheid in ons harte – die gesindheid van Jesus, wat ons anders sal laat optree!

NOTAS

· *Filippense 4:2 “Ek vermaan vir Euodia en ek vermaan vir Sintige om eensgesind te wees in die Here.”

· ** Hy spreek die dwaalleraars aan wat die besnydenis vir gelowige verpligting wou maak en noem hulle “hond” 3:2 - Let op die honde; let op die slegte arbeiders; let op die versnyding. (OAV)

· *** “Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing...”

**** 2:5 Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.

2:6 Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie,

2:7 maar het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword;

2:8 en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.

Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom 'n naam gegee wat bo elke naam is,

sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,

 en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader. (Filippense 2:5-11)


***** ‘n regte lewenswyse volg op ‘n regte teologie!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.