BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 13 Julie 2017

GELEEF, GESTERF VIR MY!

Jesus se passiewe én aktiewe gehoorsaamheid gee vir ons volkome sekerheid.


Gaan ek die hemelse wenstreep haal? Dis so ‘n belangrike vraag. Dink maar aan ‘n Comrades marathon – as daardie laaste skoot klap om die afsnypunt aan te kondig. Die teleurstelling en smart as iemand dit gemis het... Hoeveel erger sal die gevolge wees as ek die hemelse afsnypunt mis? Hoe kan ek seker wees dat ek dit nie sal misloop nie? Ja, ek het Jesus aanvaar maar kyk net ek is en voel so onvolmaak... Sal ek kan ingaan in die Koninkryk? Kan ek seker wees? Ons gaan die antwoord uit die Woord kry, maar ek wil dit ook koppel aan die woorde van die bekende Liedboek 396 se eerste vers en spesifiek die woorde “Hy leef, Hy sterf in my belang”

[Terloops. Wat ons sing is baie belangrik. Nie net om tyd om te kry of afwisseling te bewerk nie. Dit is eintlik ’n weerspieëling van wat ons glo. Dis aanbidding tot God, maar dis ook moontlik ’n manier waardeur ons mekaar bemoedig en onderrig. Dis m.a.w. nie net die dominee wat lering aanbied nie, ons leer mekaar deur die liedere wat ons sing.(Kol 3:16;17)] 

Wat beteken dit as ons sing dat Jesus in my belang geleef en gesterf het? Jesus het vir ons gestérf (dit weet almal ). Ons weet ook wat dit beteken. Hy het al ons sonde op Hom geneem en is daarvoor in ons plek gestraf. (Jesaja 5:5,6) Daarom is ons wat in Hom glo vry van straf...MAAR Hy het ook vir ons gelééf. Beide Jesus se lewe en sterwe is vir ons van die allernoodsaaklike belang. Wat beteken dit dat Jesus vir ons geleef het? Ons sing dit mos. En ons moet tog bedoel wat ons sing!

VOLBRING!

Een van die sleutel begrippe in die Johannes evangelie is die woord “volbring”*. Dis die woord wat Jesus aan die kruis uitroep (Johannes 19:30), maar dis ook ‘n deurlopende tema in die hele Johannes evangelie.  Dit is ’n uiters belangrike leidraad om Jesus se lewe en werk te verstaan. Blaai bietjie saam met my deur die vierde evangelie:

Johannes 4:34 “Jesus sê vir hulle: My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.” Jesus se groot ingesteldheid was om God se wil te doen, om die werk wat God Hom gegee het te voltooi. 

Ook so Johannes 5:36 “Maar Ek het 'n groter getuienis as dié van Johannes, want die werke wat die Vader My gegee het om te volbring, die werke self wat Ek doen, getuig van My dat die Vader My gestuur het.”

Johannes 17:4 “Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring.” Net Jesus kan dit sê in ‘n absolute sin! Sy hele lewe lank was Hy perfek gehoorsaam aan God se wil. Nooit iets teen God se wil en wet gedoen nie. Dis ’n ander manier om te sê Jesus was sondeloos. 

Jesus het niks verkeerd gedoen het nie, maar meer as dit, Hy het ook positief alles gedoen wat God wou gehad het Hy moes doen. 

Hy en Hy alleen het al God se opdragte in die kleinste detail en met volmaaktheid uitgevoer. Jesus en net Jesus was die volmaak regverdige Israeliet. (Dis die duidelike boodskap van Matteus 4 – die verhaal van die versoeking in die woestyn; elke keer het Jesus opgetree soos ’n volmaak regverdige) As volmaak gehoorsame het Jesus geslaag waar alle ander mense misluk het - Adam, Moses, Dawid, al die groot helde van die Ou Testament het gefaal, Jesus nie. Die volk Israel as geheel het gefaal, maar Jesus het die toets geslaag. Jesus en Jesus alleen het sy Vader se werke volbring en sy wil perfek uitgevoer!

Wat baat dit ons ? Hoe raak dit ons? Geweldig baie. U sien ons staan skuldig voor God oor die verkeerde dinge wat ons gedoen het. Maar meer nog, ons staan ook skuldig oor die regte dinge wat ons nie gedoen het nie. Niemand van ons het God genoeg lief nie, niemand eer God genoeg nie, niemand dank God genoeg nie.... Ons staan dus dubbeld skuldig voor God! Maar nou het Jesus as ons plaasvervanger ’n volmaakte lewe voor God geleef hier op aarde. Alles wat Hy gedoen het was presies soos God dit wou gehad het. Hy het God se werke volbring in die volle sin van die woord!

Hoe raak dit my? As ek in Christus is, word sy volmaaktheid, sy geregtigheid as myne beskou en staan ek volmaak voor God. Ons sing ook mos : “Hy is my geregtigheid , ek staan volmaak in Hom.” HY IS MY GEREGTIGHEID! “Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.” (1 Kor. 1:30) Alles wat Christus was en is, is Hy VIR ons TER WILLE VAN ons. Hy is die sondelose mens vir ons (ons moes dit gewees het....). Hy is die ware verbondgenoot vir ons (ons was veronderstel...). Hy is die regverdige, die heilige, die Geesvervulde, die volmaakte aanbidder van God, wat ons moes gewees het... - Alles VIR ons!

Anders gestel : 

Jesus het die toets wat ons moes skryf namens ons geskryf! Hy het die reisies wat ek moes hardloop, namens my gehardloop! 

AKTIEWE GEHOORSAAMHEID VAN CHRISTUS

Jesus het vir ons gesterf. Dit word sy passiewe gehoorsaamheid genoem. Jesus het ook vir ons geleef. Dit word sy aktiewe gehoorsaamheid genoem. Sy aktiewe gehoorsaamheid het Hy ook namens ons uitgeleef. Sy volmaakte gehoorsaamheid word vir ons wat glo toegereken. Sy gehoorsaamheid word nou beskou as ons gehoorsaamheid en daarom kan ons sonder vrees voor God staan, as ons met Jesus verenig is. Aan die einde van sy lewe het die groot teoloog en stryder vir die waarheid, Gresham Machen ’n telegram aan John Murray gestuur met die woorde “I am so thankfull for the active obedience of Christ. No hope without it”**

WAT VAN MY?

Jesus het God se wil volmaak uitgevoer en uitgeleef. Wat Hy geleef en gedoen en gesterf het was vir ons, ter wille van ons, tot ons voordeel. Sodat ons gered kan word! Een belangrike vraag bly oor. Hoe kry ék deel daaraan. Hoe weet ek dat wat Hy gedoen het, ook my persoonlik raak. Dat dit persoonlik verlossing vir my bring?

Die Johannes evangelie gee ’n baie duidelike antwoord. Weer is die sleutelwoord “volbring.” “Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.” (Johannes 6:28,29) God vra van ons net een ding - Glo in Jesus , die Een wat deur God gestuur is. Jy sien daar is net een wat God se werke volbring het, net een wat volmaak gehoorsaam voor God se aangesig geleef het. Jesus. As ons God se werke wil doen, doen wat God verlang en verwag, dan moet ons in Jesus glo. Ons eie pogings nie genoeg nie. Dis waarom baie mense se godsdiens so ’n tragiese frustrasie is. Hulle wil self God tevrede probeer stel. Ons kan nie. Net Jesus het God tevrede gestel, net Jesus kon aan die einde van sy lewe sê : “Dis volbring. Al die werk wat die Vader my gegee het , het Ek afgehandel.” Ons kry deel aan Jesus se volmaaktheid namens ons deur die geloof. 

Nou wat is geloof? Een of ander ingewikkelde gedagtehandeling? Nee, gelukkig nie!

Geloof is om tevrede te wees met dit wat God vir ons gedoen het in Jesus. Geloof is nie opsigself ’n perfekte daad wat vir ons verlossing verwerf nie. Geloof sê maar net : “Ek weet ek is nie goed genoeg nie, maar ek vertrou wat Jesus gedoen het met sy lewe en sterwe was goed genoeg, ook vir my!”

Die grond van my sekerheid is nie die kwaliteit van my geloof nie, maar die genoegsaamheid en volkomenheid van Jesus se lewe en sterwe namens my!

Horatius Bonar sê dit so mooi :
“What God demands from us is not satisfaction with our faith, but satisfaction with Christ and His work" - en juis dit is ware geloof!

*In die Grieks is dit deurgaans die stamwoord τελειόω. Die OAV vertaal dit dan ook konsekwent met “volbring”

**Murray, Ian, The Life Of John Murray; p64.

3 opmerkings:

  1. Aangrypende en wonderlike waarheid, prys die Here! Dankie Johannes.
    Philip, Kaapstad

    AntwoordVee uit
  2. Dankie vir die waarheid uit die Woord. Dis baie kosbaar. Ek is ook van Windhoek 1970. Bly tans in Kimberley, Jan.

    AntwoordVee uit
  3. Sjoe Johannes!!! Dankie, so maklik. Dankie vir weereens jou insig in die Woord. God seen jou!!!

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.