BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 07 Julie 2017

SMAG JY NA KRAG?

- Die gebed van die apostel Paulus gee perspektief en hoop!



Paulus bid vir sy lesers onder andere vir krag in die gebed wat opgeteken is in Kolossense 1:9-14. Nou as Paulus van krag praat roer hy onmiddellik ‘n snaar in ons almal aan. Hoe so? As Christene die woord “krag” hoor dan word die ore gespits. “Krag, wel dis wat ek nodig het, dis wat ek kort in my geestelike lewe”, sal baie kinders van God erken. Inderdaad is krag ‘n onmisbare faset van Christenskap. Die koninkryk bestaan tog nie uit praatjies nie, maar krag. ‘n Geloof wat nie werk, nie ‘n verskil maak nie is seker nie veel werd nie. 


Ons wil almal meer krag hê, maar wat het ons werklik in gedagte? Om die waarheid te sê alle mense smag na krag en sukses. Dis die rede waarom muti winkels, toordokters en “lifecoaches” altyd florerende besigheid maak. Almal soek krag... Dink aan Simon die towenaar (Hand 8) wat sy natuurlike begeerte na krag onder ‘n geestelike dekmantel versteek het. Dis die rede waarom mense deur die eeue godsdienstig was en is. Om krag by die een of ander godheid te kry om die aardse lewe makliker te maak en meer suksesvol te wees. Dis die groot aanspraak van alle dwalinge en kultusse – “by ons is daar regte krag te vind.” Dis vir baie mense deurslaggewend in die keuse van ‘n kerk – “hier is dit nie dood nie, hier is krag.”

Maar presies wat verstaan ons onder krag? En is dit ook wat Paulus met krag bedoel? Weet julle, onwillekeurig, die oomblik as ons die begrip krag hoor maak ons gedagtes ‘n vinnige draai by Tarzan, Superman of enige ander gespierde figuur uit die hede of verlede afhangende van jou ouderdom en blootstelling.* Onbewustelik projekteer ons dan hierdie konsep in die Bybelse begrip “krag”. Bonatuurlike krag wat die poppe laat dans en die koppe laat draai. Krag wat my bemagtig om dinge te laat gebeur, my gaan help om bonatuurlike dinge reg te kry. Krag wat siektes, probleme en teenstanders hetsy (fisies of geestelik) in die stof sal laat byt. Krag wat soos ‘n laserpistool werk en my geestelike opponente (hetsy bose magte of menslike teenstanders) sal laat vernietig tot daar net so ‘n rokie van hulle oorbly. Meer krag beteken in ons denke minder probleme en moeilikheid, meer sukses en gerief. Hoe meer krag hoe minder vyande en ongerief. Juis daarom soek almal krag. 

Wat bedoel Paulus hier met krag? Kyk na die teks self en die onmiddellike konteks.

“...en met alle krag bekragtig word volgens die mag van sy heerlikheid tot alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap, en die Vader mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig...” (Kolossense 111,12 OAV)

“Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig.” (Kolossense 111,12 NAB)

Drie sake kom na vore:

~Die aard van die krag - “mag van Sy heerlikheid” (OAV) “wonderbare krag” (NAB) Die krag waarvoor Paulus bid is die krag van God self. Dis nie positiewe denke nie, dis nie ‘n menslike foefie nie. As ons glo in die werklikheid van ‘n lewende God moet ons ook glo in die werklikheid van Sy krag in ons wat glo. In Efesiërs 1:18-20 verduidelik hy meer uitvoerig wat hierdie krag behels:

“Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het...”

Ja, die krag wat in jou as kind van God werksaam is, is dieselfde krag waarmee Jesus uit die dood opgewek is. Hierdie selfde krag is (reeds) werksaam in die lewe van God se kinders. (besef dit!) Dis ‘n ontsaglike ongelooflike heerlike waarheid! GLO DIT!

~Doel van die krag.  Dit word duidelik aangetoon - “om geduldig te volhard.” LW -nie krag vir sukses nie. Wat kan ons hieruit aflei ten opsigte van die krag? Een saak is baie duidelik dié krag is nie ’n towerstaffie om ons probleme uit die weg te ruim nie. Volharding en geduld veronderstel juis stryd, ‘n langdurige stryd! Dit gaan oor krag wat ons moet dra en laat vasbyt op die styl bergpad van die geloof! In alle omstandighede! Juis omstandighede wat nie lekker en aangenaam is nie... toetsing, verdrukking. Prakties beteken hierdie krag dus nie dat ek lyding in my huis, werkplek of skool sal vryspring nie. Hierdie krag beteken nie noodwendig dat my hele familie/werksmense onmiddellik sal bekeer en ek dit makliker sal hê nie. Hierdie krag beteken nie dat ek superfiks of stinkryk word nie! Hierdie krag gaan daaroor dat ek alles wat oor my pelgrimspad kom sal kan hanteer. Dis ook presies soos Paulus die bekende Filippense 4:13 gebruik!

~Nog ‘n derde saak wat hierdie krag besonders, eiesoortig maak is die blydskap aspek.** Dit bring ons by ‘n uniek Christelike aanslag. Daar’s immers baie nie-Christene wat ook ‘n hoë premie plaas op volharding, uithouvermoë en geduld soos byv. die Stoïsynse filosowe van Paulus se tyd. Hulle het groot klem gelê op selfgenoegsaamheid – “ek kan alles verduur en vat, want ek glo in myself.” Die element van blydskap impliseer dat die krag wat God ons gee nie maar net beteken om morrend of knorrend vas te byt nie of op ‘n fatalistiese wyse maar net gedwee alles te verduur nie.  Ons volharding is positief 'n saak van vreugde al is dit nie maklik nie. Dit gaan ook nie bloot oor aanplakglimlaggies ter wille van die media nie. Ons het as God se verlostes regtig rede om bly te wees. Wat is die grond van ons blydskap en dankbaarheid? “en die Vader mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig, Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde, in wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes." (Kolossense 1:12-14.) Die verbysterende heerlikheid van ons genadige verlossing moet voorop staan in ons gedagtes, dan kan ons nie anders as om bly te wees nie!

Is hierdie blydskap te midde van alle omstandighede realisties? Ja, dink maar aan dit waarvan ons lees in Handelinge 16. Paulus en Silas in die tronk het nie net op hulle tande gebyt en gesê ons sal nie huil nie – nee, hulle gaan verder en sing! Dis in lyn met die opdrag wat Paulus (vanuit die tronk) gee in Filippense 4:4 “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” Wees bly! ALTYD! Trouens net ‘n entjie verder sien ons dit waarvoor Paulus gebid het vir die Kolossense was inderdaad ‘n praktiese belewenis in sy eie lewe! “Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie.” En dis juis die krag wat God hom gee wat hom hiertoe in staat stel! “Hóm (Jesus) verkondig ons deurdat ons alle mense met alle moontlike wysheid onderrig en leer, sodat ons elke mens tot geestelike volwassenheid in Christus kan bring. Daarvoor span ek my ook in en beywer ek my met die krag wat Hy gee en wat kragtig in my werk.” (Kol 1:24, 28-29)

Terloops, dis duidelik die ontvangs van Goddelike krag maak ons nie passief nie, maar wek in ons ‘n ywer en inspanning!

Jesus self is natuurlik die groot absolute voorbeeld van die soort krag wat Paulus hier in gedagte het! Maar merkwaardig, Hy het dit nie gebruik vir gerief, eie belang, eie veiligheid en gemak nie! Hy het nie eers brood vir Homself gemaak nie. Wat doen Hy met sy krag? Hy onderwerp Homself volkome aan die wil van sy Vader. Jesus se krag het Hom in Getsemane laat bid ”nogtans nie my wil nie...” Jesus se krag was so groot dat Hy Homself swak gemaak het om aan die kruis te hang en te sterf. Maar dit het Hom ook weer uit die dood laat opstaan volgens God se wil!

Die krag van God in ons maak ‘n praktiese verskil, nie in die aantal moeilikhede wat ons verduur nie, maar in die manier hoe ons dit verduur.

Dis ‘n krag wat ons laat volhard juis op ‘n manier dat ons eer aan God bring. Dis ‘n krag wat ons laat sing terwyl ons huil. Dis die krag wat ons oorwinnaars oor sonde maak. Dis die krag wat my terwyl ek seergemaak en verontreg word, my in staat stel soos Stefanus om toe hy met klippe doodgegooi is te bid : “Vader vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Die krag wat ons in staat stel tot volharding om die hemelse wenpaal triomfantlik te haal. 

Vertrou op God om hierdie gebed van Paulus in jou lewe waar te maak! Bid dit vir jouself en jou medegelowiges! Kies om in die stryd en beproewinge van die week wat kom geduldig te volhard met blydskap!

*Erkenning aan my broer dr. Jacobus de Koning van die Antipas Gemeente in Pretoria by wie ek hierdie preek die eerste keer "gehoor" het.
**Die verskille hier tussen die OAV en die NAB het te make met die keuse van punktuasie binne die Griekse teks. Gaan die woord blydskap saam met volhard of gaan dit saam met dank? Op die ou end is die betekenisverskil nie groot nie. Of ek dit sien as volharding met blydskap of dankbaarheid met blydskap, dis duidelik dat die werking van God se krag in my lewe tot blydskap sal lei.




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.