BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 05 Januarie 2017

AANVEGTINGE : AAMBEIE TOT WELLUS

en die nut daarvan om God se Woord regtig te verstaan.


Ons dink hierdie jaar aan die geestelike reus Martin Luther se rol in die Protestantse Reformasie. 

Laat ons een ding sommer van die begin af duidelik weet : Luther se lewe was nie net vol geestelike oorwinnings en heilige suksesse nie. Hy self was baie eerlik oor sy lyding, mislukkings en stryd, maar ook oor die positiewe gevolge daarvan in die lewe van die gelowige.

Luther het daarop gewys dat die skrywer van Psalm 119 nie net oor die Woord gebid en gemediteer het om dit te verstaan nie, maar dat persoonlike lyding ook ‘n groot rol gespeel het. “Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord.” (vers 67) “Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer.” (vers 71)

Volgens Luther bestaan die regte metode om teologie te studeer drie reëls wat in Psalm 119 voorkom naamlik : oratio, meditatio, tentatio (gebed, bepeinsing, versoeking/beproewing) Die pragtig beskrywende woord wat hy vir sulke beproewings of toetsings gebruik het is aanvegtinge. Aanvegtinge leer jou nie net ken en verstaan nie, maar ook te ervaar hoe reg, hoe waar, hoe soet, hoe lieflik, hoe magtig en hoe vertroostend God se Woord is, die absolute hoogste wysheid.

Hierdie uitsprake van Luther was nie blote studeerkamer teorie nie. Die harde werklikheid van sy lewe was gekenmerk deur allerlei vorme van lyding en swaarkry.

Sy lewe was konstant in gevaar. (Juis daarom het sy weldoener Keurvors Frederik hom vir sy eie veiligheid na die Wartburg kasteel laat ontvoer.) Keiser Karel V het alles in die stryd gewerp teen Luther. Hy het immers verklaar : “Ek het besluit om alles teen Luther te mobiliseer. My koninkryke en domeine, my vriende, my liggaam, my bloed en my siel.” Die aanslag is op ‘n wye fronte teen hom gevoer, veral deur die ergste beswadderinge en swartsmeer van sy naam. Hy is uitgekryt as ‘n duiwelbesetene en sy ma as ‘n hoer. (Terloops, is dit nie ook van die lastering wat teen Jesus self ingespan is nie?)

Luther se aanvegtinge en beproewings het nie net van buite gekom nie. Hy het met allerlei liggaamlike kwale te kampe gehad. Pynlike nierstene, hoofpyne, oorinfeksie en hardlywigheid. Die ergste aanvegtinge was egter op geestelike en emosionele vlak. So skryf hy op 2 Augustus 1527 aan sy bondgenoot en vriend Melanchton : “Vir meer as ‘n week is ek heen en weer gewerp in dood en hel, my hele liggaam voel voos, my ledemate bewe nog steeds. Ek het Christus byna heeltemal verloor, gedrewe op die golwe en storms van wanhoop en laster teen God. Maar as gevolg van die voorbidding van die gelowiges was God my genadig en het Hy my siel uitgeruk uit die dieptes van die hel." 

Uiterlik het Luther vir baie mense sekerlik na die onaantasbare geestelike reus en gelowige held gelyk. Maar mense soos Melanchton wat naby aan hom geleef het, het ook sy swakheid, worsteling en versoekings geken. Op 13 Julie 1521 skryf hy soos volg weer aan Melanchton : 

“Ek sit hier in gemak, verhard en sonder gevoel – ag tog! Bid min, treur min vir die kerk van God, brandend eerder in die erge vure van my ongetemde vlees. Dit kom hierop neer : ek behoort aan die brand te wees in die gees, maar in werklikheid is ek aan die brand in die vlees, met wellus, luiheid, ledigheid, slaaploosheid. Miskien is dit omdat julle ophou bid het vir my, dat God weggedraai het van my...Vir die laaste agt dae het ek niks geskryf nie, nie gebid of gestudeer nie, deels weens my eie soeke van genot, deels weens nog ‘n tergende hindernis [hardlywigheid en aambeie]... Ek kan dit regtig nie meer langer uithou nie... Bid vir my, ek smeek jou, want in my afsondering hier word ek oorweldig deur my sonde.”

Onthou net hierdie brief kom uit die tyd toe Luther besig was met die reuse werk om die Nuwe Testament in Duits te vertaal. Mens kan nie anders as om getref te word deur Luther se pynlike eerlikheid oor sy innerlike stryd nie! (Natuurlik is daar kwaadwillige vyande van Luther wat vandag nog hierdie bekentenisse probeer gebruik om hom in diskrediet te bring.)

Wat leer ons as gelowiges hieruit? Versoekings, beproewinge, aanvegtinge, stryd en worsteling is deel van die proses wat God in ons lewens gebruik om Sy Woord beter te verstaan en beter toe te pas. Dis nie bloot net lastige hindernisse op ons pad nie, maar instrumente in God se vormingsproses met ons. Opsigself is hierdie dinge natuurlik nie lekker nie, maar dit het ‘n heerlike uiteinde en doelwit. “Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ‘n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God." (Hebr 12:11)

Vir 'n meer volledige skets oor Luther se merkwaardige en avontuurlike loopbaan, kliek op LUTHER 500.

(Erkenning aan die uitstekende biografiese skets van John Piper oor Luther. Kliek op LESSONS)

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.