BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 08 September 2016

HEILIGE BYBELSE BALANS

- vrees en vertroue



In hoofstuk 1 van die Eerste Johannes brief hoor ons duidelik watter ernstige saak sonde is. (Kliek op GEMEENSKAP). Sonde en gemeenskap met God is twee onversoenbare dinge. Dis baie duidelik gestel, gemeenskap met God en ‘n lewe in duisternis is onderling uitsluitend! Dis of die een of die ander, saam kan dit nie bestaan nie. Aan die ander kant het Johannes die hele waarheid van vergifnis sterk gestel waar daar belydenis van sonde is. (1:9) Die vergifnis wat God skenk is volledig, ruim en oorvloedig!

TWEE REAKSIES, TWEE GEVARE

Waar mense hierdie waarhede hoor is daar dikwels twee uiterste reaksies wat altwee gevaarlik en verkeerd is.

Die een groep beklemtoon vergifnis en dink baie ligtelik oor sonde. Die gevoel is amper : “Ag, dis eenvoudig, dis my voorreg om sonde te doen en dis God se plig om my te vergewe. Waarom sou ek bekommerd wees oor sonde?” Dis juis hierdie groep wat nie sal skroom om Nagmaal te gebruik terwyl hulle doelbewus in onvrede, onvergewensgesindheid of onsedelikheid voortleef nie. Dis mense wat nog nooit die geweldigheid van God se heiligheid of die erns van sonde besef het nie. Dis baie gevaarlik om so ‘n houding te hê. Dis ‘n misbruik van genade! Die genade van God word as verskoning gebruik om losbandig te leef!

Die ander groep beklemtoon slegs die erns van sonde en is dikwels onseker oor vergifnis. Hulle redeneer so : “O, ek val so dikwels en so maklik. Daar is vir my geen hoop nie. Ek voel onwaardig en vuil, ek durf seker nie Nagmaal gebruik nie. God se heiligheid wek by my die heeltyd ‘n gevoel van vrees en verwerping. Dit vul my met onsekerheid en moedeloosheid.” Dis ook ‘n verkeerde houding. In hierdie groep kry mens soms ook mense met ‘n oorsensitiewe gewete wat oor allerlei nietige en onbenullige dinge voortdurend skuldig voel. (Kliek op OORSENSITIEWE GEWETE)

Johannes spreek beide groepe aan in 1 Johannes 2:1. Vir die eerste groep sy hy duidelik : “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie.” Die kind van God moet dit nie eers oorweeg om sonde te doen nie. Die moontlikheid moet nie eers by ons opkom nie. Sonde is ‘n vreemde verskynsel, dit pas hoegenaamd nie by God se kinders nie. Verder in sy brief stel hy dit nog sterker! Hy stel dit eintlik oordrewe, hiperbolies : “Iemand wat ‘n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy uit God gebore is. Hiéraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die duiwel is: iemand wat nie regverdig lewe nie en nie sy broer liefhet nie, behoort nie aan God nie.” (1 Joh 3:9,10) 

As iemand dus ‘n ligtelike, ongeërgde, slap houding teenoor sonde het, moet jy weet dat jy op ‘n baie gevaarlike terrein beweeg! Die eerste groep moet dus duidelik hoor, sonde is ‘n bitter ernstige saak. God is lig! Dis nooit iets waarmee ons kan speel nie! Sondevergifnis het immers Jesus se dood gekos!

Ons moet sonde vrees!

Johannes spreek ook die tweede groep aan en wil vir hulle hoop gee. “En as een van ons sondig -ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.” Johannes beveel ons ernstig om nie te sondig nie, maar indien dit wel gebeur (hy weet dit is iets wat kan gebeur), moet ons nie moed en hoop verloor nie, maar weet dat ons nog steeds Jesus as Voorspraak, as Advokaat het! Sonde is baie ernstig, dis iets wat ons hoegenaamd nie moet oorweeg nie, maar as dit wel gebeur, kan die kind van God die vertroue hê, daar is iemand wat vir my intree. My Advokaat, my Voorspraak, my Hoëpriester, Jesus! Hy stel my saak by God, daarom hoef ek nie te wanhoop as ek geval het nie. 

Hierdie waarheid van Jesus wat vir ons intree is ‘n duidelike Bybelse waarheid wat ook op ander plekke beklemtoon word. In Romeine 8:34 roep Paulus uit : “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Weens Jesus se pleitrede staan ons onskuldig! En Hebreërs 7:24,25 wat sê : “Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hy ‘n priesterskap wat nie op ‘n ander oorgedra word nie. Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.” 

Ons moet op Jesus vertrou en hoopvol wees!

WIE IS KIND VAN GOD?

As Johannes vir Jesus ons Voorspraak noem, raak hy die hart van Christenskap aan. ‘n Kind van God is iemand wat Jesus as Middelaar en Voorspraak het! Die vraag is nie in die eerste plek of my sonde min of baie is nie, die vraag is nie of my sonde darem minder ernstig is as ander mense s’n nie, die vraag is nie of ek nog wel Bybel lees of bid nie, die vraag is ook nie of ek goed voel oor myself nie. Al vraag wat tel is : “Is Jesus my Advokaat?” Kan jy dit met oortuiging sê? Sonder Jesus geen hoop, met Jesus ‘n vaste heerlike hoop! Later sê Johannes dit nog duideliker in ‘n baie skerp kontras. “Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.” (1 Johannes 5:12)

BYBELSE BALANS

Johannes het ‘n pastorale hart wat omgee vir ander Christen gelowiges, wat omgee vir ons. En daarom wil hy help dat ons nie in een van bogenoemde uiterstes verval en so skade ly nie. Ons moenie ligtelik dink oor sonde nie, ons moet ook nie alle hoop verloor as ons wel in sonde geval het nie. Dis die gesonde heilige Bybelse balans! Hy sê in effek : “Maak erns met sonde, kies teen sonde, bely en laat staan dit!”, maar hy sê ook : “Moenie moed verloor nie, hou vas aan die Middelaarskap van Jesus!” Dis in wese ook die voorwaarde vir die gebruik van die Nagmaal. Besef die erns van sonde, bely dit en breek daarmee. Besef die voorreg om Jesus as Middelaar en Advokaat te hê! Hy pleit vir jou omdat Hy met sy eie bloed jou sondeskuld betaal het! 

Ons gebruik juis die Nagmaal, nie om ons goedheid en sondeloosheid daarmee te verklaar nie, maar om opnuut ons vaste vertroue in Jesus se Middelaarskap, ja, vir my persoonlik te bely! Ons gebruik veral die Nagmaal omdat Jesus self deur sy Gees juis daardeur Sy getrouheid en genoegsaamheid vir ons tasbaar bevestig!



1 opmerking:

  1. Amen,'n goeie balans. Dankie Johannes.
    Philip, Kaapstad

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.