BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 01 Junie 2016

PROFIEL VAN ‘N DROSTER

[Ds. Erik van Zyl het onlangs ‘n boodskap in ons gemeente gebring oor Bittereinders en Drosters (ook genoem hensoppers of joiners). Dis natuurlik terme wat uit die hartseer geskiedenis van die Anglo Boere-oorlog uit kom. Die bittereinders is die ouens wat aangehou het met veg tot die einde toe, die drosters is die ouens wat tou opgegooi het en in sommige gevalle selfs by die vyand aangesluit het. Van toepassing gemaak op die Christelike stryd en wedloop is Bittereinders die mense wat Jesus as Verlosser aanvaar het en tot die einde volhard en vrugdra saam met Hom. (soos Paulus in 2 Tim 4:6-8) Drosters is mense wat eens op ‘n tyd die Here Jesus gevolg het, maar toe omgedraai het. (soos Demas wat die teenswoordige wêreld liefgekry het in 2 Tim 4:10) Gelukkig het ons in die Bybel ook voorbeelde van drosters wat weer betyds teruggekeer het, weer Bittereinders geword en Jesus getrou gevolg het. (soos Johannes Markus)]



Ek wil bietjie dieper ingaan op die vraag : 


Waarom word volgelinge van Jesus dan drosters? 

Wat veroorsaak dat mense omdraai van die geloofspad en moed opgee? Waarom sak mense uit in die Christelike wedloop?

In die gelykenis van die saaier (Lukas 8) gee Jesus self ‘n baie duidelike antwoord. Dis spesifiek die derde groep, die saad wat tussen die onkruid geval het wat vir ons duidelikheid gee oor drosters! In die eerste twee groepe gaan dit oor mense wat eintlik nooit regtig aan die gang gekom het nie, maar in die derde groep gaan dit oor plante wat goed gegroei het, maar geleidelik deur onkruid verstik is en nooit op die ou einde vrug gedra het nie.

DROS HET ‘N GELEIDELIKE AANLOOP.

“Die saad wat tussen die onkruid val, dui op dié wat die woord hoor, maar deur die sorge en die rykdom en die genietinge van die lewe word dit gaandeweg verstik, en dit skiet nie saad nie.” (Lukas 8:14)

Die kern gedagte is geleidelike stadige byna ongemerkte agteruitgang. “Gaandeweg.” Onkruid maak nie ‘n plant in een dag se tyd dood nie, die plant word net geleidelik verdring en versmoor... Geleidelike, stelselmatige agteruitgang... Dis die profiel van ‘n droster.

By ‘n droster vind mens ‘n geleidelike versmoring en afkoeling van liefde vir Jesus en sy kinders. ‘n Tanende en kwynende entoesiasme vir Jesus se Koninkryk en die werk van die Here. Die potensiële droster vind al meer verskonings om nie die byeenkomste van die heiliges by te woon nie; daar is net altyd iets belangriker... ‘n Al hoe groter geneigdheid om kompromie met sonde te maak... “Ag, dis darem nie so erg nie, ek doen dit net een keer, niemand doen skade op nie....” Verskonings, verskonings... 

Dis interessant dat Jesus die meeste klem lê op hierdie derde groep en drie konkrete dinge noem wat mense geleidelik doodwurg. Dit gaan dalk vir ons ongemaklik wees om hierdie dinge te hoor. Maar luister maar, want dalk lê Jesus sy vinger hier op ‘n seerplek in jou lewe wat dringend aandag moet kry...

BEKOMMERNISSE 

Ons spot partykeer so oor al ons sorge en bekommernisse, maar dis ‘n ernstige saak wat jou geestelike lewe kan vernietig, wat jou ‘n droster kan maak as jy dit nie reg hanteer nie. Die harde feite van die lewe is natuurlik dat almal van ons te make het met situasies wat dreig om bekommernis by ons te veroorsaak. Moeilikheid en bekommernis gaan oor ons pad kom, maar die vraag is hoe ons dit moet hanteer Jesus praat duidelik daaroor in Lukas 12:29-31. “Julle moet julle ook nie gedurig afvra wat julle gaan eet of drink nie, en julle moenie besorg wees nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges in die wêreld begaan is, maar julle het ‘n Vader wat weet dat julle dit nodig het. Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee.” Vertrou op God, God wat weet wat ons nodig het. Hy is immers ‘n Vader wat sorg. Ook Paulus het hieroor geskryf. “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” (Filippense 4:6.) Gebed, dankbaarheid en tevredenheid is die Christen se teenvoeter op bekommernisse! Petrus se raad kom op dieselfde neer. “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.” (1 Petrus 5:7.)) Moenie in bekommernisse vasval nie, moenie dat vrees oor die toekoms jou fokus van God af wegvat nie. Hanteer dit biddend en met vertroue. Ja, bekommernisse is ‘n werklikheid, ons kan dit nie miskyk of ontken nie, maar God is ‘n groter werklikheid! Maak so ‘n realistiese som... sal die God wat vir die Israeliete in die woestyn gesorg het, wat vir Elia by die spruit Krit gesorg het, wat ons so liefgehad het dat Hy sy Seun vir ons gegee het, dan nie ook in alle opsigte vir ons volgens sy wil kan sorg nie?

RYKDOM 

Dis ‘n baie sensitiewe saak, maar vir Jesus baie belangrik. Teen geen ander ding het Jesus meer gewaarsku nie. Geen ander ding hou meer mense uit die hemel as rykdom nie. Rykdom is dié groot rede waarom krygsmanne van Jesus wegdros! Dis nie so eenvoudig om die gevaar van rykdom te definieer nie, want dit gaan nie noodwendig oor die grootte van jou bankbalans of die waarde van jou bates nie. Dit gaan daaroor dat geld en besittings geleidelik vir jou die belangrikste in die lewe geword het. Besit begin jou lewe bepaal. Ek meet myself aan wat ek het of nie het nie. Niemand wil maklik erken dat rykdom of ‘n liefde vir geld vir hom ‘n probleem geword het nie. So, hoe weet ek dat geld vir my ’n gevaar begin word? Hier is vier toetse wat jou kan help as jy eerlik wil weet : 

Rykdom raak vir my ‘n strik : 

  • As ek ander mense begin benadeel om meer geld te maak. (Dis veral my vrou en kinders wat eerste verwaarloos word, al gebruik ek die verskoning van "ek werk juis so hard om vir hulle 'n toekoms te bou...")
  • As ek my afsprake met God en sy gemeente mis ter wille van meer besigheid of invloed. ("Ons kon nie by die kerk wees nie, want ek het my vennote vir 'n jag gevat!")
  • As ek oneerlik begin raak om meer of vinniger geld te maak. 
  • As ek daarvan hou om my rykdom uit te stal. Ander mense moet sien watter model motor ek kan bekostig, my maats moet tog net raaksien dat ek die regte handelsmerk klere en tekkies dra! (Tieners, dis nou daai “brands”!) 

Hoor Paulus se waarskuwing in 1 Timoteus 6:6-11. “Die godsdiens is ‘n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees. Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal. Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid.”

GENIETINGE 

Dit gaan hier oor hedonisme, die jaag na plesier as die hoogste doelwit van my lewe. My lewensdoel is om te soek hoeveel plesier ek daaruit kan kry. Natuurlik gee God vir ons baie dinge om te geniet, maar as genot my doelwit word, raak dit gevaarlik. As genot geleidelik die plek van God begin inneem is ek besig om ‘n droster te word. “Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God.” (2 Tim 3:4) As plesier my tyd steel wat ek aan God moet gee, as plesier my sag maak vir sonde, as plesier my aptyt vir God en sy Woord demp (my stokperdjies of ontspanning maak my minder lus vir God se Woord), is die onkruid van genietinge besig om my dood te wurg!

INTERESSANT: GAAN KYK MAAR, DIE REKLAMEWESE IS JUIS GEMIK OP DIE DINGE WAARTEEN JESUS SO ERNSTIG WAARSKU -  IN DIE MEERDERHEID ADVERTENSIES WORD DAAR GESINSPEEL OP ONS VRESE EN BEKOMMERNISSE OF ONS WORD AANGESPOOR EN VERLEI TOT DIE NAJAGING VAN GELD EN PLESIER AS DIE HOOGSTE VREUGDES IN HIERDIE LEWE!


Hierdie dinge is gevaarlik en ek moet daadwerklike stappe neem om hierdie onkruide uit te roei. As hierdie dinge aanwesig is in my lewe is dit ‘n aanduiding dat ek dalk besig is om ‘n droster te word! As bekommernisse my wil oorweldig moet ek doelbewus fokus op God se Vaderlike getrouheid en liefde, as rykdom vir my te belangrik word moet ek doelbewus fokus om skatte in die hemel bymekaar te maak (belê jou geld en lewe in die koninkryk) as genietinge my van die spoor af wil bring moet ek doelbewus my vreugde soek in God en sy werk!

LEEF DOELBEWUS IN DIE TEENOORGESTELDE RIGTING!

Mag God hierdie gelykenis van Jesus gebruik om ons aan te spoor tot volharding, nie tot ‘n “bitter einde” nie, maar inderdaad tot ‘n heerlike einde, die beloning wat wag op elkeen wat volhardend vrug gedra het!


[Hierdie indrukwekkende kremetart oos van Tsintsabis in die Grootfontein distrik is 'n pragtige voorbeeld van 'n "Bittereinder", as jy daaraan dink hoeveel droogtes en bedreiginge hy al getrotseer het om so groot te word!]

7 opmerkings:

  1. Beste Johannes, Ek was nog besig om klaar te maak, toe verdwyn alles sommer - hoe dit ook al sy; hier by ons in die Suide neem ek veral twee(drie) dinge waar: daar is 'n baie groot groep jong mense(± 28- 45j wat ontsaglike hoeveelhde geld verdien/maak. Die vakansie huise word al groter(ons moet met die Jonese bybly), die 4x4's word al groter en duurder en padmaniere geld nie vir dié spesie nie(dis "kerkmense"waarvan ek praat). Ons "shop" gereeld by die "malls", en as jy nie by "Woolies" se Deli uithang nie, is jy uit. Ek het onlangs verneem van 'n vakansie huis wat opgeknap word - die twee ligte in die kinders se speelkamer, R8 000 elk; 'n "bar fridge" word ingebou om die bloedjies se koeldrankies koud te hou. Dis asof hulle sê: "God, ons kom net Sondag so 'n bietjie "worship", los ons uit Maandag-Saterdag". Wat gaan met die mensdom aan; dis asof iets hulle jaag - ek veralgemeen nou vreeslik, maar ek dink die boodskap kom deur.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ja, Deon en dis dan hierdie selfde mense wat klae oor die "moeilike tye"

      Vee uit
  2. Baie, baie goed Johannes!!! Jy het die spyker op sy kop geslaan.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Sas, wonderlik om weer 'n slag van jou te hoor daar uit die VK!

      Vee uit
  3. Dankie Johannes, dit is so waar. Ek huil voor God in my hart so baie maal oor die "lewe" hier wat die mensdom so insluk en verslind en mense wat al hoe meer weg beweeg.

    AntwoordVee uit
  4. Dankie Johannes vir die vars perspektief op die Gelykenis v/d Saaier. Stem saam met Sas: Dit was spyker op die kop! Ek het so pas deur Jesaja 40-66 gepreek (12 maande) en dit het my verbaas hoe dik Jesaja se denke in die bloed van ons Heiland loop. Jesaja se hele missie en denke sit ook agter die Gelykenis v/d Saaier. Reg deur van begin tot die einde is dit die respons op die Woord / Evangelie wat die verskil maak vir Jesaja... nl. die wat bewe vir Sy Woord vs. hulle wat hoor en tog hulle eie pad gaan. "Luister en jou siel sal lewe!" se die Here. M.a.w. wanneer 'n mens se hart nie meer dors na die water v/d lewe nie, is jy op 'n gevaarlike plek. Mooi loop daar in Tsumeb! Christo

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ja , dis groot genade as mens se hart honger en dors na Hom... O, ons het Hom so nodig, hierdie lewe is stukkend, hoe sien ek dit weer in hierdie tyd...

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.