BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 01 Julie 2014

SPREEK LEWE

- die resep vir sukses?

MENS IN DIE MIDDELPUNT


Ek sit onlangs en luister na ‘n uitstekende motiveringspraatjie. Die gehoor van hoofsaaklik hoërskoolkinders hang aan die spreker se lippe... Hierdie man straal gesondheid, positiwiteit en ‘n lus vir die lewe die uit. Hy sê beslis ook goeie en waar dinge. Hy praat eerlik en uit eie ondervinding. Hy het die volle aandag van sy gehoor. (en hy geniet dit) Maar ek voel onrustig, die tekste wat hy aframmel is al die klassieke “bewysplekke” van die Word Faith Movement. Ons noem hulle sommer die “Spreek lewe” beweging... By verdere nadenke besef jy, die mens en sy behoeftes en prestasies is in die middelpunt... Iewers skort iets. Ek het dan niks van die kruis gehoor nie? Net gehoor, “Moenie worry oor sonde nie, doen net wat reg is!” Daarin lê ook ‘n element van waarheid in..., maar Paulus begin tog sy verkondiging van die evangelie by die aaklige werklikheid van die sonde. Was Paulus dan verkeerd? (Rom 1:18ev) 

Ek wil nie ‘n persoon aanval of onnodig snorbaarde trek nie, maar ek mag nie stilbly oor die kruisboodskap as die enigste ware Goeie Nuus nie! Ek mag ook nie maar net goedsmoeds stilbly oor die gevaarlike dwalings van ons dag nie. Wie valse lering hoor en daaroor swyg is medepligtig.

Elke boom word aan sy vrugte geken, maar elke boom het ook wortels (‘n agtergrond) wat heel dikwels baie ver terugstrek in die verlede. Daar is immers niks nuuts onder die son nie. Die wortels van die Word Faith Movement lê in ’n ou dwaling genaamd die Gnostiek. (Dit kom van die Griekse woord - gnosis = kennis) Volgens hierdie denkwyse kan ons alles regkry deur die regte kennis. Ons moet ten alle koste hierdie geheime kennis (resep) kry en daardeur bepaal ons ons eie toekoms. Hiervolgens werk die geestelike wêreld volgens ’n sekere stel wette/beginsels van kennis. As ek dit ken, kan ek my eie bestemming bepaal en beheer neem daaroor.

Ek het na die tyd met die Lewe Spreek profeet gaan praat en uitgevind dat sy wortels by Myles Munroe lê. By nadere ondersoek blyk dit - hierdie Munroe is “Myles” away from truth! Munroe verklaar openlik dat die Goeie Nuus nie oor Golgota gaan nie! Hy bots dus direk teen wat Paulus in 1 Korintiers 15:1-4 sê. Ek verstaan dus nou ook hoekom die erns van sonde en die kruisboodskap so verswyg is!

Kom ons kyk in die algemeen na ‘n paar kenmerke van die Word Faith Movement*:

1. Vals siening van Geloof. Geloof is by hierdie mense iets heel anders as in die Bybel. Geloof is ’n spirituele energie of krag wat ons op God rig (of die geestelike wette). Al wat ek nodig het is konsentrasie, ’n positiewe houding, meditasie of een of ander formule om die kragte van die natuur te beheer. Positive confession is dus baie belangrik. Volgens die Bybel is geloof egter om God se beloftes te glo byv. die belofte oor vergifnis! 

2. Sterk klem op genesing! Dis vir almal, jy moet net die regte resep kry! Siektes moet net aangespreek word, dan bly ek en my familie gesond! Natuurlik maak so ‘n benadering ‘n groot appèl op mense, want wie wil nou siek wees? Genesings bewys egter nie dat daardie krag wel noodwendig van God af kom nie. In alle heidengodsdienste kry mens dramatiese onverklaarbare genesings. Die klem in die Bybel val nie op genesing nie, maar op die verlossing van sonde! En op die ou end gaan alle Christene buitendien dood weens een of ander siekte... wat dan nou? Was daar ‘n fout met hulle geloof?

3. Elitisme. Elke ervaring lig die gnostisis tot ’n hoër vlak van kennis, hoër dus as sy mede Christene! Die indruk word gelaat : “Ons het iets meer.” Die evangelie is dus nie genoeg nie. Daar word gesoek na iets beter en dieper. Geloof in Jesus, liefde vir die heiliges en hoop op die erfenis soos ons dit in Kolossense 1 aantref is nie voldoende nie. Daarom kry mens ’n naarstigtelike gesoek na nuwe ervarings! Paulus spreek hierdie dinge baie duidelik aan in die Kolossense brief.

4. Klem op die individu. As kennis die sleutel is, het ek nie ander mense nodig nie, ook nie die plaaslike gemeente nie. (Ek kan my kerk op TV kyk by die huis) Daar’s nie meer ’n gevoel en Bybelse waardering vir die kerk nie! Die erediens in my gemeente is nie prioriteit nie, nee, ons reël sommer ons eie dinge in kerktyd! 

Die motiverings-Word-Faith-teacher is individueel-gesentreer, mens-gesentreer, maar alles behalwe God-gesentreerd!

5. Dit stel die mens en sy behoeftes eerste. Die Word Faith leraars verkondig dat ons nou die beste kan hê in hierdie lewe! Jy is bestem om hierdie geweldige suksesverhaal te wees! Dis glad nie die beeld wat ons in die Nuwe Testament kry nie. Vgl. Johannes 16:33; Romeine 8:18ev (hulle beweer ook valslik dat Jesus ryk was, maar sien Matteus 8:20) Die hele klem val op die self! Dit klink ook asof God die mens se dienaar is wat ons moet help om ons ideale te verwesentlik. God moet as’t ware agter jou aan hardloop om jou wense en ambisies waar te maak.. (Miskien wonder jy dan nou wat die WINS van Christenskap is. Kliek op WARE WINS)

In hierdie benadering staan God in diens van die mens se ideale!

6. Dit vergoddelik die mens. Die grens tussen God en mens word uitgewis as die mens se woorde skeppingsmag het. God is daarom nie meer die soewereine almagtige God nie. Die onderstaande gesprek tussen Munroe en die groot dwaalleraar Benny Hinn spreek vanself :

Myles Munroe, “Yes let me define prayer for you in this show. Prayer is man giving God permission or licence to interfere in earths affairs. In other words prayer is earthly licence for heavenly interference.” 

Benny Hinn, “That is incredible.”

Myles Munroe, “God could do nothing on earth. Nothing has God ever done on earth without a human giving him access.”

Benny Hinn, “So he is always looking for that somebody.”

Myles Munroe, “Always looking for a human to give him power and permission. In other words God has the power but you have got the permission. God has got the authority and the power but you have the licence. So even though God can do anything he can only do what you permit him to do.”

DIE MENS WIL GOD WEES!

Charles Capps sê : “Anything man can imagine or conceive in his heart he can perform.” 

Die Bybel leer dat God alleen almagtig is, dat God soewerein is en doen wat Hy wil! In sy groot genade betrek Hy ons en ons gebede, maar Hy bly altyd God! Hy kan doen wat Hy wil en Hy kan gebruik wie Hy wil! God het selfs heidense konings gebruik om sy wil uit te voer. Die mensgemaakte god van die Word Faith Movement is eintlik baie klein… Dis ‘n maaksel van die mens self, ontwerp om die mens se behoeftes te pas!

In hierdie leuen oor die goddelikheid van die mens is daar ’n duidelike ooreenkoms tussen Word Faith en die New Age filosofie wat leer dat ons moet kontak maak met die god in ons! Shirley MacLaine sê : I hold each yoga position for twenty seconds and internally chant : “I am God in light.” ( maak kontak met jou hoër self, innerlike lig, ens.)

EEN SAAK STAAN VOOROP IN HIERDIE VALSE LERING:

DIE MENS EN SY GERIEF

Dit gaan eintlik in alle valse strome en leringe om een saak nl. die mens se soeke na bonatuurlike metafisiese krag om die lewe vir homself so gerieflik moontlik te maak, om sy eie toekoms te bepaal, om met ander woorde God te probeer speel! Dis natuurlik die ou leuen van die Satan in die paradys, die suggestie dat die mens soos God kan word... Die mens se soeke na goddelike krag maak hom nou nog kwesbaar vir hierdie leuen. Dis waarom ‘n rou heiden na die sjamaan/toordokter gaan, maar dis ook hoekom post-moderne materialiste gaande is oor die Word Faith gebaseerde motiveringspraatjies! Dis die aantrekkingskrag van die New Age en okkultisme, swart en wit magie, hekse en Satanisme en die Word of Faith Movement (Die Spreek lewe beweging)... Daarteenoor, die krag wat die lewende God ons gee is ‘n eties-morele krag om geduldig in alle omstandighede te kan volhard (Kolossense 1:22) Om in alle omstandighede dankbaar en vergenoegd te wees.

7. Pragmatisme. “As dit werk is dit waar en reg” Menslike ervarings word die norm van die waarheid. “Dit het gewerk, ons het ’n engel gesien, hy is gesond daarom is dit waar! Kyk net watter positiewe invloed het hierdie ou!” Hulle vergeet dat die Satan enige menslike ervaring kan naboots en homself as ’n engel van die lig kan voordoen! (Net soos wat die valse profeet in Openbaring13:13 sal doen!) Paulus waarsku in Galasiërs 1 teen ’n ander evangelie! Word Faith met die mens en sy behoeftes in die middelpunt is ‘n ander evangelie. Die soeke na ervarings het die objektiewe waarheid van die kruis en die opstanding verdring. Hierdie mense jaag van een ervaring na die ander, hulle is uiters naïef en verslind alles wat opgedis word. Die oplossing is om terug te keer na die nugtere (binne konteks) bestudering van God se Woord! Die antwoord is om weer die genoegsaamheid van Jesus raak te sien! Natuurlik gebruik die Word Faith sprekers ook Bybeltekste, maar hulle haal dit buite konteks aan, van deeglike Bybelstudie en eksegese is daar maar min sprake!

MAAR DIT WERK DAN?

Is die Word Faith Teachers en Spreek Lewe guru’s effektief? Ongetwyfeld! Enige goeie spreker kan mense se koppe draai! Dit het Hitler eens en vir altyd vir ons gewys. Word mense se lewens ten goede verander deur hierdie positiewe praatjies. Beslis! In elke kultus is daar duisende wat hoog en laag sal sweer dat hulle die geheim van die lewe ontdek het! Is hierdie boodskap van die Word Faith sprekers, die evangelie van Jesus Christus? NEE! En dis die probleem, want net die evangelie, soos Paulus en die apostels dit verkondig het, is die krag van God tot REDDING vir elkeen wat glo! (Romeine 1:16)


*Ek probeer nie insinueer dat ‘n spesifieke persoon aan al hierdie wanopvattings skuldig is nie. Dis algemene kenmerke van hierdie beweging.

**’n Teks wat dikwels uit konteks (mis)gebruik word deur die Word Faith leraars om die belangrikheid van hierdie ingewyde kennis te onderstreep is Hosea 4:6 “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis;…” (OAV) Dis egter baie duidelik, dit gaan nie hier oor geheime kennis nie, maar God se geopenbaarde wil naamlik sy Woord. God se wil is nie ’n geheim nie, maar in die Skrif geopenbaar! Die fokus van hierdie openbaring is Jesus self! En, Jesus self is die waarheid! (Johannes 14:6) Hy maak ons vry. Vry van die skuldlas én die mag van sonde! Ware kennis is kennis van Jesus! Daar is nie meer ’n geheime kennis wat ons moet ontdek nie! Die Geheim is uit - dis Jesus! (Kol 2:3) Dis reeds geopenbaar (Kol 1:26) Die volheid van God is in Jesus beliggaam en elkeen wat aan Jesus behoort deel daarin! (Kol 2:9,10) Dis wat mens mis by hierdie praatjiesmakers. Christus word nie verkondig nie, nee bloot ‘n mensgedrewe verbeteringsprogram met ‘n dun Christelike sousie oor.

Jesus en sy kruisdood is nie regtig nodig nie, want volgens hulle word die heelal regeer deur geestelike wette. Die sleutel is dus om kennis van hierdie geestelike wette te hê , want dan kan ek my eie toekoms en welsyn bepaal. Ek kan die lewe vir myself gerieflik en lekker maak, deur reg te dink!

Bronne : Crenshaw, Man as God – the Word Faith Movement

              MacArthur, Charismatic Chaos

6 opmerkings:

  1. Hallo Johannes,
    Eseg33 (wagters op die mure),Maak elke begeerte deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend; Bid gedurig (1 Thess)Rom 10:9-17....Jes55:8-11 ens ens..
    Dankie vir jou artikel. JA EN NEE. Om binne die ruimte van GOD se WOORD te lewe, kan jy nie anders om te glo en nie net te spreek nie MAAR OM GOD SE WOORD TE PROKLAMEER! Die outeur van Charismatic Chaos is bekend daarvoor dat hy onomwonde stellings maak soos: Wonderwerke gebeur nie in ons tyd nie,dit het opghou in die tyd van die Bybel, dieselfde outeur is van mening dat die Heilige Gees nie meer manifisterend aan die werk is in ons dag en tyd nie....Waar laat dit ons? Die Bybel as Geskiedenis handboek, sonder enige krag of invloed in ons lewe en samelewing.Wat van Mrk 16:16-20 ens ens?
    Natuurlik is ons nie God nie...maar wel Sy Kinders en Beeldraers en in Jesus se woorde, Sy broers..So waar ek opdaag..daag die Koninkryk van die LIG op al dan nie!! Mense is defnitief Sy verteenwoordigers (Gen)..so sonder my en jou sal daar op hierdie aarde niks gebeur nie(verwys na enkele boonste Teksverse).Ek verstaan dan dat as Munro praat van dat deur ons lywe en ons hierwees...Vader manifisterend opereer op hierdie aarde en wel as verteenwoordiger van die Koninkryk van die Lig...Wie nie die Woord kan proklameer en dit glo nie...verval in 'n stuk religie. Die Kruis is absoluut SENTRAAL-maar in dit het Vader deur Sy SEUN die Heilige Gees gegee...kragtig en steeds vernuwend en hervormend dag en nag (Efs1) en as ons dit nie toelaat en proklameer sodat dit manifisteer in ons leef wereld nie...dan lyk die kerk soos dit in groot dele van die wereld sigbaar is...dood en net mooi geboue wat staan en so paar afgewaterde teologiee.Hoekom staan daar dan in die Psalms, dat die dood van 'n gelowige vir God geen geringe saak is nie...eenvoudig-nog 'n Ligdraer/Beeldraer/Koninkryksverteenwoordiger se invloedsfeer is nie meer daar nie. Van die begin het God gekies om deur mense te werk op hierdie aarde..so hier Proklameer ons op verskillende maniere en wyses almal een ding.DIE KONINKRYK VAN GOD HET GEKOM EN OORWIN.Hierdie is nie vir my net woorde nie, maar innige persoonlike belwenise en werklikhede van "to walk with my FATHER".Blessing Brother.Ek geniet voorwaar jou WOORD GETROUHEID.ALBIE

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Baie dankie Albie. Net so ‘n paar vinnige opmerkings:
      1. Die feit dat ek MacArthur aanhaal beteken natuurlik nie dat ek in alle opsigte met sy teologie saamstem nie. My artikel gaan in elk geval nie oor die kwessie van wonderwerke nie, maar oor die sogenaamde skeppingskrag van die menslike tong! Moenie die twee sake verwar nie. Ek dink ook nie dis billik om te beweer dat MacArthur nie glo in die manifestasies van die Heilige Gees nie - die wedergeboorte is die duidelikste bewys van die werk van die Heilige Gees en dit glo hy beslis. Hierdie stukkie gaan ook nie oor die kwessie van die gawes nie. Om dit by te sleep is irrelevant.
      2. Ongetwyfeld moet ons proklameer – maar wat? DIE EVANGELIE! AS die mens begin om sy eie rykdom, gesondheid en sukses te proklameer is hy in stryd met die Bybel. Het Paulus ooit vir homself gerief geproklameer?
      3. Die spreek lewe teologie is ver verwyderd van die historiese Christelike geloof – nie die reformatore of die kragtige herlewingspredikers van vorige eeue het hierdie boodskap verkondig nie. Dis iets vanuit die mens vir die mens!

      Groetnis en seën vir jou

      Vee uit
    2. Hi Johannes,
      Ek glo nie dat ek en jy verskil op die punt "van Spreek lewe" nie...Opmerking 2 en 3 stem ek 100% saam.
      Die punt wat ek net wil onderstreep in die verband. Ons het die Kragtigste Wapen in ons Hand.....Ons hanteer dit "moge troffe" in plaas van dat ons binne die ruimte van DIE WOORD....SY BELOFTES PROKLAMEER(Hanteer as 'n Bevel,Deklerasie,
      a public or official announcement dealing with a matter of great importance).Daar Is Jes 55:10 en 11 tog duidelik.
      Blessings
      Albie

      Vee uit
    3. Dankie Albie, ek besef al hoe meer die waarheid van Sola Scriptura, ja mag ons staan op die vaste beloftes van die Woord!

      Vee uit
  2. Johannes ek dank die Here vir jou nugtere en skriftuurlike beoordeling van die Word of Faith Movement. Die leerstellings van hierdie beweging is regtig skrikwekkend en teleurstellend. Op sekere punte selfs skokkend. Dis ‘n beweging wat sonder twyfel ‘n ‘ander Jesus, ‘n ander gees en ‘n ander evangelie’ verkondig’ ( 2 Kor 11:4). En die hartseer is dat so baie gelowiges, sonder om te dink wat hulle hoor en sien, hulle eenvoudig blindelings (met toe oë) laat mislei deur hierdie predikers. En boonop ook nog die bedieninge van hierdie TV predikers finansieël ondersteun. Ons leef in ‘n tyd waar daar ‘n groot gebrek aan onderskeidingsvermoë is. Dis een van die gawes van die Gees wat ons broodnodig het. En hiermee saam ook ‘n liefde vir die waarheid soos dit in Christus is.
    ‘n DVD stel wat ek baie graag wil aanbeveel is die van Justin Peters. ‘A Call for Discernment – a Biblical critique of the Word of Faith Movement’. Dit bevat Meer as 6 ure van gesonde onderrig vanuit die Skrif. Bekende Predikers van hierdie beweging se bedieninge en leringe word deurgaans visueel vertoon en beoordeel. Elke sessie is informatief en inspirerend. Dit kan selfs in groep sessies gebruik word met vooraf toestemming van die uitgewers. Dit is bekombaar by: Grace Media in Johannesburg (Tel 011 454 6045). Epos: shop@gracemedia.co.za Webtuiste: www.gracemedia.co.za

    Groete
    Coen Sutton

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Baie dankie Coen vir die mooi woorde en die inligting! Sterkte vir jou bediening!

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.