BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 05 Februarie 2014

DIS MOS VIR ‘N GOEIE DOEL!

- morele pragmatisme of gehoorsaamheid aan God se Woord?

Volgens watter beginsels neem die gemiddelde mens (maar dikwels ook die Christen en kerk as geheel) deesdae besluite? Vra ons nog wat God se Woord sê, of kyk ons eerder na wat gerieflik en voordelig vir onsself is?

Die aangrypende gebeure in 1 Samuel 15 wat fokus op koning Saul se ongehoorsaamheid roep ons om weer ‘n bietjie oor hierdie aspek van besluitneming en alledaagse keuses te dink.

God gee ‘n opdrag, maar koning Saul maak sy eie slim plan...
God se opdrag was baie duidelik : Roei die volk van Amalek* uit – almal en alles! Ook al hulle diere. Niks mag bly lewe nie! “Gaan verslaan nou vir Amalek. Jy moet alles wat hy het, om die lewe bring. Jy mag jou oor hom nie ontferm nie. Jy moet man en vrou doodmaak, kind en suigling, bees en skaap, kameel en donkie." (3) Koning Saul gehoorsaam die grootste deel van die opdrag, maar maak sy eie slim plan en wysiging : Hy spaar die koning en van die beste vee. En dan gebruik hy die vee om nogals aan die Here te offer.

Dis God se opdrag teenoor Saul se slim logika. Maar slim vang sy baas!

Samuel word geensins beïndruk deur Saul se soetsappige verduidelikings nie. “En Samuel sê vir Saul: "Bly stil! Laat ek jou vertel wat die Here vannag vir my gesê het." Saul sê toe vir hom: "Praat maar." (16) Samuel kondig God se oordeel oor Saul aan. Die gevolge was skrikwekkend : God verwerp Saul as koning. “Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp." (23) Ongehoorsaamheid kom neer op die verwerping van God se Woord, wie God se Woord verwerp word deur Hom ook verwerp! Van hier af het dit net afdraend vir Saul gegaan wat uitloop op ‘n tragiese selfmoord by Gilboa! (1 Samuel 31)

VERWERP DIE BYBEL EN GOD VERWERP JOU!

Kom ons sien net weer raak : Saul se verskoning dat hy die vee wat gespaar is aan die Here geoffer het, maak geen indruk op Samuel nie! "Maar Samuel antwoord: "Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme." (22)

Saul se logika is vandag baie gewild. Jy moes dit al dikwels gehoor het. Hoe klink dit? “Ag, ek kan maar ongehoorsaam wees aan die Here solank dit vir ‘n goeie saak gaan!” Of : “Ja, ek weet dis seker nie heeltemal wat die Here wil hê nie, maar dis darem vir ‘n goeie doel.” Dis ‘n vorm van morele pragmatisme. So lank iets werk, so lank dit positiewe gevolge het, so lank ek dit darem kan regverdig, mag ons dit maar doen, al is God se Woord daarteen. Dis immers vir ‘n goeie doel!

GELD EN SEKS

“Dit is mos vir ‘n goeie doel!” Veral op twee terreine gebruik mense hierdie tipe redenasies om die bevele van God se Woord te omseil. As dit kom by geldsake of liefdeslewe val baie so graag terug op hierdie vroomklinkende verduideliking.

“Ag, ons weet God hou nie van DOBBELARY EN LOTERY nie, maar die geld gaan mos vir ‘n goeie doel, dit gaan vir die skool of selfs vir die kerk. Ons gaan arm kinders daarmee help. Ons weet hierdie kunstenaar se lewe en waardes is teen die Woord, maar ons nooi maar vir hom of haar, want dit gaan vir ‘n goeie doel. Ek weet daardie ou met wie ek wil trou is nie regtig ‘n Christen nie en God se Woord verbied dit, maar ek dink ek sal hom na die Here toe kan bring en dis tog ‘n edel motief. Ek weet dis nie reg om ongetroud saam te bly nie, maar ons bid darem ook saam, dis immers mos iets goeds.” Ook die kerk self maak haar dikwels skuldig aan hierdie tipe denke. Ons gebruik bedenklike middele vir fondsinsameling (materialisties gedrewe feeste en uitspattige kunstenaars) en maak gebruik van allerhande mensgemaakte foefies (soos onbekeerde celebrities) om mense te lok en die kerk kamstig te laat groei!

“Ek weet die Here is nie heeltemal gelukkig nie, maar dit was vir ‘n goeie doel, God sal mos darem verstaan!” Saul se geskiedenis, wys dat God hoegenaamd nie sulke redenering en verdorwe logika verstaan nie! Hy verag dit en straf dit.

God verwag nie slim planne en redenasies nie, maar net eenvoudige gehoorsaamheid aan sy duidelike opdragte. Halwe gehoorsaamheid aan God kom neer op ongehoorsaamheid! En onthou, ongehoorsaamheid was die wortelsonde van Adam en Eva. Deur hulle ongehoorsaamheid het hulle God se heerskappy verwerp en so eintlik gekies om Satan se onderdane te wees... met die bekende verwoestende gevolge!

Gelukkig hoef ons nie by die hartseer verhaal van Saul en sy verwerping te stop nie. Ons kan aangaan na Jesus Christus. Ja, Saul is vervang deur Dawid en uit Dawid se geslag het Jesus ons Verlosser-Koning gekom!

JESUS EN GEHOORSAAMHEID

Jesus is ‘n volmaakte voorbeeld van die gehoorsaamheid wat God verlang, maar meer nog, Jesus bring ook vir ons die oplossing vir ons eie ongehoorsaamheid.

Reeds tydens sy versoeking deur Satan in die woestyn wys Jesus dat Hy nie val vir Satan se stroperige pragmatisme nie. Jesus bly by die duidelike opdragte van sy Vader. Hy gehoorsaam die Woord. Aan die einde van sy bediening kom sy gehoorsaamheid egter voor die grootste toets : Op drie en dertigjarige ouderdom staan Jesus voor die keuse van die kruis. Dit lyk so onregverdig en onprakties, dit lyk na ‘n vermorsing van talent, onnodige verspilling van ‘n belowende jong lewe. Onthou, Jesus se bediening het nog maar net drie jaar geduur – Hy sou nog ‘n lang loopbaan voor Hom kon hê. Dink net hoeveel genesings, hoeveel wonders, hoeveel preke sou Hy nog kon lewer. Maar nou vra sy Vader dat Hy moet sterf. Jesus kies om nie pragmaties te wees nie, maar sy Vader blindelings te gehoorsaam. Daarom bid Hy in daardie angsnag in Getsemane : "My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil." (Matteus 26:39)

NIE GROEPSDRUK, MENSEVREES, ALGEMENE OPINIE, EIE BELANG OF WATTER VORM VAN MORELE PRAGMATISME MOET ONS GEDRAG BEPAAL NIE – SLEGS DIE WOORD VAN GOD!

Deur Jesus se gehoorsaamheid kom daar nou vergifnis vir ons ongehoorsaamheid. Hy dra die straf vir al ons ongehoorsaamheid. Elkeen wat waarlik in Hom glo vind volledige vryspraak. Mag ons nou as verlostes die Here dien met ‘n lewe van gehoorsaamheid. Mag ons in elke omstandigheid vra : Here, wat sê U Woord?

*Die Amalekiete was God se teenstanders, want hulle was Israel se vyande sedert die Uittog. (Eksodus 17:8-16, Deuteronomium 25:17-19)

2 opmerkings:

  1. Daar was 'n geval waar Lotto-geld aan 'n barmhartigheidsprojek van die kerk toegeken is en die betrokke kerklike ampentaar het dit "met 'n traan in die oog" aanvaar.

    Aangaande die gbruik van celebrities ens. om buitekerklikes in die kerk te kry het Spurgeon opgemerk dat jy daarmee sal moet voortgaan om hulle dan in die kerk te hou.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Wolf, ja mag ons die genade ontvang om God se werk op God se manier te doen. Mag Hy julle wonderlik gebruik tot sy eer daar in Madagaskar!

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.