BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 01 Februarie 2014

VERPLIG TOT VOORTDURENDE VREUGDE

– hoe om blydskap te bou en te behou! 

In 1 Tessalonisense 5:16-17 lees ons: “Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”

Ja, kort en kragtig kom die opdrag na die kinders van God : “Wees altyd bly!” Dis ‘n opdrag – nie maar net ‘n stukkie goeie raad van ‘n motiveringspreker, onderwyser of predikant nie, maar ‘n bevel van God. Dis wat God van ons verwag...

Goed dis ‘n opdrag, maar hoe gaan ons dit regkry? Ja, bly is ons partykeer, maar ALTYD bly - is dit hoegenaamd realisties uitvoerbaar?
Voor ons verder gaan moet ons net eers iets twee sake goed verstaan:

~Die opdrag hier is spesifiek tot kinders van God gerig. Die blydskap ter sprake is ‘n Goddelike blydskap, dis ‘n unieke blydskap. Dis nie die normale waarin alle mense deel nie. Alle mense – hetsy goddelose of gelowige is bly as dit goed gaan, of as jy ‘n geskenk kry of as ander mense jou prys of jou sportspan die beker wen... en daarmee is natuurlik niks verkeerd nie, maar die blydskap waaroor dit hier gaan is iets meer en iets bo en behalwe die normale vreugdes. Dis iets ekstra, want dis juis ‘n blydskap in alle omstandighede.

~ Hierdie blydskap is iets meer as net ‘n emosie of gevoel. Dis ‘n lewenshouding, dis ‘n ingesteldheid... Die rede hoekom ek so sê is omdat hier ‘n opdrag is, en mens kan nie opdrag aan iemand gee om ‘n spesifiek emosie voort te bring nie. ‘n Emosie is iets waaroor mens nie regtig beheer het nie, dis iets spontaan. Ek kan mos nie sê : “wees hartseer” en dan begin jy huil nie!” (dit sou bloot toneelspel wees) Hierdie blydskap, Bybelse blydskap is iets dieper as net ‘n afwisselende gevoel, dis ‘n doelbewuste keuse op grond van sekere vaste feite en gegewens! Dis ‘n keuse wat ek maak om bly te wees, al huil ek ook!

Hoe gaan die kind van God dit regkry om altyd bly te wees? Dis nodig om te weet : Wie of wat bedreig ons blydskap en Wie of wat gee ons blydskap, of ander gesê waarop bou ek my blydskap en hoe behou ek my blydskap?

BLYDSKAP BEDREIG

Daar is baie dinge wat ons van kennis moet neem, wat ons blydskap bedreig. Die belangrikste is seker sonde. Die kind van God (anders as die wêreldling) se hart is sensitief vir sonde en word ontstel deur sonde. Die oplossing lê in belydenis. 1 Johannes 1:9 is seker oorbekend en tog leef (en ly) ons so dikwels asof hierdie waarheid nie bestaan nie! Belydenis, vergifnis en blydskap gaan saam. As Dawid sy skrikwekkende sondes bely in Psalm 51 dan is dit opvallend dat hy ook bid : “Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is...” Sonde vat ons blydskap weg, maar ons het tog beheer daaroor, ons kan daarteen kies en ons kan dit bely. 

Maar daar is dinge buite ons wat ons blydskap bedreig waaroor ons nie beheer het nie. Ons het lees byvoorbeeld daarvan in Psalm 37. “ Van Dawid. Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie, want soos gras vergaan hulle gou en soos groenigheid verdwyn hulle sommer. Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg. Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die son, jou reg soos die helder lig van die middag. Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van ‘n skelm nie... “ (lees gerus die hele Psalm)

Die optrede van goddelose mense en die gevolglike omstandighede wat daaruit voortspruit kan maklik ons vreugde vernietig en ons van ons blydskap beroof! Goddeloses sal daar altyd wees. Hulle optrede ontstel ons, dit maak ons kwaad of moedeloos. Dit maak ons seer en hartseer. Dikwels word kinders van God deur goddelose verdruk,verniel en beskinder. Of goddelose familie se weiering om te bekeer en hulle gevolglike verlorenheid, kwel ons... Aan die ander kant kan goddeloses se oënskynlike sorgvrye lewe ons soms ook jaloers maak en so ons vreugde bederf – “Kyk, hoe goed gaan dit met die skelms en hoe swaar met my.” Daar kan selfs by ‘n Christen ‘n (geheime?) hunkering wees na die partytjies en plesier van die goddelose. Jy sê vir jouself : “Sjoe, hulle lewe lyk darem so lekker...” Psalm 37 leer ons om ‘n korrekte perspektief te kry op die goddelose. Die Psalm lê klem op die tydelike verbygaande aard van die goddelose se bestaan en herinner ons : “Weet vir seker die goddelose sal vernietig word!” ( Sien vers 1,2,9,10) 

BLYDSKAP GEBOU EN BEHOU

Psalm 37 gee egter ook baie positiewe raad oor hoe om altyd bly te wees ten spyte van goddeloses en slegte omstandighede. Dit word so mooi saamgevat in vers 4. (lees dit weer) Dit kom neer op : Fokus en vertrou op die Here! Vergelyk dit met Filippense 4:4. “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” Nou hoe werk dit prakties, hoe verbly en verlustig mens jou in die Here? 

Fokus jou gedagtes op wie Hy is en wat Hy doen en vertrou Hom in alle omstandighede.

Prakties : 

Besing en bewonder ons Verlosser en dank (wees dankbaar in alle omstandighede het Paulus mos gesê) Hom vir vergifnis, vir sy genade, goedheid en grootheid. Terloops, kan jy God werklik dank vir vergifnis? Een groot rede waarom blydskap by mense ontbreek is gebrek aan berou en daarom ‘n gebrek aan vergifnis. (So baie mense het nog nooit deeglik GEPLOEG nie!) Onthou Jesus sê : “Die wat treur sal vertroos word.” Jesaja 61:1-3 leer ons : “Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is, om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon, die dag waarop ons God sy vyande straf maar almal wat treur, vertroos, die dag waarop Hy vir dié in Sion wat treur, eer gee in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer. Hulle sal genoem word: Bome van Redding. Die Here het hulle geplant om sy roem te vermeerder.” Hierdie beloftes is in Jesus vervul... Hy bring verlossing vir die nederiges, gebrokenes en treurendes... en dit bring blydskap! (dis wat in HERLEWINGSTYD gebeur – daar is diep hartverskeurende berou en gebrokenheid oor sonde, maar juis ook grondige vreugde van vergifnis!) 

Bedink die Here se karakter en dade. Herinner jouself aan hoe groot getrou en goed God is! Lees sommer gou ‘n lofpsalm (byv. Psalm 103) hardop! Verlustig jou in sy groot heerlikheid wat groter is as die “heerlikheid” van sonde. Dink hoeveel groter die vreugde is wat Hy gee as die tydelike vreugdes van sondaars. Dink baie oor die kruis, opstanding, naderende wederkoms, die nuwe hemel en aarde...

Aanbid Hom voortdurend. (bid gedurig) Wees voortdurend in kontak met Hom. (hiervoor moet mens tyd maak en stil word) As jy met Hom praat, noem sy name en titels hardop ... Daar is so baie : “Leeu van Juda, Koning van alle konings, die Lam wat geslag is, die Alfa en Omega...” Word net stil voor Hom in jou binnekamer, in die natuur... In die warm gloed van ons Verlosser se teenwoordigheid smelt al die koue gevoelens van treurigheid en depressie...

Vat jou oog weg van mense en omstandighede en oefen om God en sy heerlikheid raak te sien. Kies om bly te wees, kies om voortdurend in kontak te wees, besluit om Hom te dank ongeag omstandighede!

God se kinders kan ALTYD bly wees, ja in alle omtandighede, omdat ons blydskap op God gebou is, wie se karakter, liefde en goedheid ALTYD stand hou! Ons omstandighede verander, maar Hy is ewig dieselfde!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.