- maar na wie?
In die kerk word daar baie verwys na die sogenaamde “Seisoen van luister”. Hiermee poog die kerkleiding om die belangrikheid te onderstreep van luister na ander stemme wat insluit, lidmate, buite kerklikes, skeptici ens. “Ons moet hulle ernstig opneem en regtig hoor”, is die voortdurende oproep. Die kerk behoort (volgens hierdie siening) aandag te gee aan die argumente van allerhande andersdenkendes en selfs ateïste. (Ja, inderdaad word ateïste uitgenooi om kerklikes toe te spreek!) Alles in belang van sogenaamde debat en dialoog! Dit word soms tot uiterstes te gedryf soos die voorbeeld van “Kletskerk” wat verword het tot ‘n forum vir smerigheid en die Stellenbosch Woordfees debakel waar sommiges blykbaar gedink het die kerk moet so ver gaan om ongeloof en heidendom te subsidieer – alles in die naam van “ons moet luister wat die mense daarbuite sê.”
Natuurlik mag die kerk haarself nie in ‘n ivoortoring van kulturele onkunde en isolasie toesluit nie. Beslis moet die kerk die taal, agtergrond, kultuur, vertwyfelinge en filosofiese vertrekpunte van die mense onder wie sy beweeg en werk verstaan. Niemand stry daarmee nie. Paulus het homself ook deeglik vergewis van die Atheners se denkwyse, maar toe het hy die Woord reguit op die man af gebring...
IS DAAR NOG PLEK VIR PREDIKING?
As dit nodig is om na mense te luister is dit nog duisend maal meer nodig dat ons na God sal luister...En dit klink my het so stilweg ondergeskik geraak aan allerlei menslike agendas van dialoog en sogenaamde verdraagsaamheid. “Luister en julle al lewe!” is die dringende appèl wat ons in die kosbare Jesaja 55 hoor! Daardie luister is ‘n luister na God! (en dus na sy Woord) Gesagvolle Skriftuurlike verkondiging van God se wil en ‘n gehoorsame reaksie daarop, bring lewe. Dit is die primêre behoefte van mense binne en buite die kerk! Dit bring ons natuurlik by die (vandag) omstrede saak van prediking. In baie kringe het die konsep van prediking in onguns verval Daar is selfs predikante wat hulle daarop beroem dat hulle nie meer preek nie. Prediking word beskou as iets outyds wat net nie meer pas en effektief is in ons postmoderne tyd nie (Dis nie toevallig dat baie gemeentes so ver gaan om hulle preekstoele te verwyder nie!)
Waar kom die negatiewe houding ten opsigte van prediking vandaan?*
~ Baie predikers (na ‘n paar jaar se breinspoeling in sommige teologiese fakulteite) glo nie meer dat die Bybel God se gesagvolle en onfeilbare Woord is nie. Die oomblik as ek hieroor twyfel het ek natuurlik niks meer gesagsvol te sê nie. Dan kan ek bloot maar gedagtes uitruil en opinies uitspreek. Die een se mening is so goed soos die ander een s’n. Die rol van die prediker wat sê : “So sê die Here” verval dan vanselfsprekend. Hiermee saam gaan die filosofiese idee dat daar nie iets soos waarheid bestaan en dat ons dit nooit werklik kan ken nie. Hierdie siening van relativisme slaan natuurlik die bodem uit alle moontlikheid van prediking. (Kliek op IETS SOOS WAARHEID? om meer hieroor uit te vind.)
~ Die weersin in enige vorm van gesag waardeur ons tyd gekenmerk word, maak prediking ongewild en vir baie mense in beginsel onaanvaarbaar. “Niemand kan vir my vertel wat reg en verkeerd is nie. Elkeen besluit vir homself.” Ten diepste is dit maar net weer van vooraf die rebellie van Adam en Eva, wat beter wou weet as hulle Skepper. Vir sulke rebelle is prediking ‘n steen des aanstoots! Aan ‘n bespreking sal hulle nog deelneem en in ‘n kletskamer sal hulle ‘n opinie lug, maar van onderwerping aan God se Woord wil hulle niks weet nie. (Gelukkig kan die soewereine werk van die Heilige Gees ook rebelle harte omvorm en buig tot gehoorsaamheid!)
~ ‘n Ander (verstaanbare) rede vir die negatiewe houding teenoor prediking is die misbruik van God se Woord vir politieke agendas. Ongelukkig was baie predikante (in Suid-Afrikaanse konteks) onder die dekmantel van “So sê die Here” eerder preekbuise vir die Broederbond en die Nasionale party as eerlike eksegete en verkondigers van die Woord. Natuurlik was hierdie vorm van misbruik nie slegs ‘n euwel van die verlede nie, maar ook in die huidige bestel is daar predikers wat meer begaan is oor “politieke korrektheid” as wat hulle gewetens gebind word deur die Woord van God. So word die Bybel verdraai, verswyg en versag om nie politieke leiers, feministe of gay aktiviste (o, ja en die ryk ooms op die kerkraad) aanstoot te gee nie. Hierdie huigelary en oneerlike napratery maak dat mense skepties staan teenoor prediking.
~ By denkende mense ontstaan ‘n weersin teen prediking as gevolg van “showmanship” wat onder die naam van prediking aangebied word op veral TV stasies soos TBN. Die verhoognarre en geldwolf predikers van Amerika en hulle meelopers in Afrika gee ‘n swak naam aan prediking. In hierdie tipe “prediking” gaan dit slegs oor die uiterlike vorm en vermaaklikheidswaarde (dis bloot maar net nog ‘n vorm van “entertainment”), maar van grondige eksegese, suiwere lering en evangeliese oortuigingskrag is daar weinig sprake. Dis ‘n kwessie van hoe meer lawaai hoe minder evangelie!
Dit is dus duidelik - volgens baie se siening is prediking op pad uit! Die alternatiewe word oral op die proef gestel. Vir sommige is die antwoord te vinde in informele “kuierkerk”, vir ander lê die oplossing weer in liturgiese simbole en mistieke rituele. In die Skrif val die klem op die verkondiging van die Woord...
SENTRAAL IN DIE KERK SE BEDIENING
Al hierdie negatiewe faktore moet ons nie laat wegskram van prediking nie. Prediking is deel van die sentrale roeping van die kerk. Die lewe van Jesus Christus en die bediening van die apostels ruim alle twyfel wat hieroor mag bestaan uit die weg.
Jesus was nie bloot ‘n wonderwerker nie, maar in die eerste plek ‘n prediker wat die Koninkryk van God verkondig het.
Die evangelies is baie duidelik hieroor. Twee voorbeelde is seker genoeg :
En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie. (Markus 1:14,15)
Maar Hy antwoord hulle: "Laat ons êrens anders heen gaan, na die nabygeleë dorpies toe, sodat Ek daar ook kan preek, want daarvoor het Ek gekom." (Markus 1:38)
Jesus se wonders en dade van barmhartigheid was nooit sy fokus nie, maar het sy prediking en lering ondersteun. Die boek Handelinge, so anders as wat sommige dink laat ook nie die klem val op wonders en buitengewone dade nie, maar op die onstuitbare verkondiging, voortgang en verspreiding van die Woord!**
ONS GROOT BEHOEFTE IS AAN GESTUURDE PREDIKERS VAN DIE WOORD!
Prediking van die evangelie bring die oplossing vir die mens se kernbehoefte en diepste nood, naamlik sy behoefte aan versoening met die heilige God! Dit beteken nie dat die kerk blind en afgestomp mag wees vir ander behoeftes soos siekte, armoede en allerlei emosionele en sosiale probleme nie! En tog moet ons duidelik sê :” As die kerk huiwerig geraak het om die kruisboodskap as die oplossing aan ‘n sondegevalle wêreld te verkondig, dan is ons baie ver van God se bedoeling vir sy kerk, soveel so ons het eintlik krimineel geword!” Ja, as ‘n dokter by jou aan huis kuier en een van die ander gaste kry ‘n ontsettende pyn in sy sy, sal dit baie dwaas en onvanpas wees vir daardie dokter om slegs ‘n paar trooswoorde en ‘n glas water aan die gepynigde aan te bied of aan te beveel dat hy ‘n Panado of twee moet neem. ‘n Dokter wat sy sout werd is en vir mense omgee sal dadelik ‘n basiese ondersoek doen om vas te stel of dit nie ‘n blindederm of iets dergeliks is nie. Daar moet vasgestel word wat die oorsaak (wat moontlik lewensbedreigend kan wees) is. Om net tydelike verligting vir simptome te bied en dit daar te laat, grens aan kriminaliteit aan die kant van die dokter! Daar is baie goeie dinge wat aan ons aan mense kan doen as kerk en dis mooi en reg, maar dis van ewigheidsbelang dat die Woord aan hulle verkondig sal word! Hoe anders kan hulle van sonde, dood en hel gered word? “Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: "Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring." (Romeine 10 :14,15)
Jesus het inderdaad tyd gemaak vir mense en na hulle nood geluister. Hy was egter nie tevrede om maar net simptome tydelik te verlig nie, maar het deur sy verkondiging deurgedring tot die kern van hulle probleem. Sy diepsinnige gesprek met die Samaritaanse vrou by die put van Sigaar is ‘n pragtige voorbeeld. Jesus maak kwaliteit bemoeienis met haar, maar gee nie maar net ‘n oppervlakkige troos nie. Sommige van vandag se people’s pleasers sou seker vir haar gesê het : “Ag, wees maar net positief dame... en baie sterkte vir jou liefdesprobleme...” Nee, Jesus dring deur tot haar diepte nood, ontbloot haar morele bankrotskap (haar losbandige lewe) en bied vir haar die Lewende Water (Hyself) aan. Hy praat mooi en geduldig met haar, maar tog met gesag. Hy is nie bang om haar onkunde en verskonings aan te spreek en die waarheid aan haar te bring nie! Dis die taak van die kerk as navolgers van Jesus : Gesagvolle verkondiging van die Waarheid aan ‘n wêreld in duisternis en verwarring! Die mensdom het nodig om na God te luister, die kerk moet Sy boodskap helder oordra sodat dit kan gebeur!
Die kerkgeskiedenis*** bewys dit wat die Woord ons leer : Geesbekragtigde prediking skud Satan se vestings, bringe verlorenes na die Lig, aktiveer gelowiges tot getuienis en dienswerk... bring eer aan God!
*Baie van hierdie gedagtes is ontleen aan die besondere boek van Dr. Martyn Lloyd-Jones, Preaching & Preachers. Dis ‘n boek wat ek baie sterk wil aanbeveel, nie net by predikante nie, maar alle gelowiges wat die welsyn van die kerk op hulle harte dra. Sy groot punt is : “...the primary task of the Church and of the Christian minister is the preaching of the Word of God.” (p19)
** Om maar net ‘n paar voorbeelde te noem. Kyk na Handelinge 6:7; 8:25; 12:24; 13:46; 13:49; 19:10 ens. Die laaste teks in Handelinge bevestig dit weereens. Ten spyte van teenstand word God se Woord onverhinderd verkondig.
*** Dink maar aan groot predikers soos Luther, Calvyn, Knox en Latimer in die tyd van die Reformasie en later Whitefield, die Wesleys, Edwards... nog later Spurgeon. In Suid-Afrika iemand soos Dr. Willie Marais...
" ONS GROOT BEHOEFTE IS AAN GESTUURDE PREDIKERS VAN DIE WOORD!" Hiermee stem ek heelhartig saam! In die NG-kerk waar ek grootgeword het, het die goud-gegrafeerde woorde: " Luister en jul siel sal lewe" Sondag na Sondag na ons gekaats. 'n Predikantsvrou in my latere lewe het omtrent elke keer as sy gebid het ( en sy WAS 'n formidabele voorbidder, waarvoor mens nie moeg geword het of gewens het sy s^e " amen" nie) vir die Here gevra: " Gee ons 'n leerbare gees" - dit is net so nodig anders val die " luister" op dowe ore.
AntwoordVee uitDaarom kry ons seker ook nie verniet die opdrag om te bid dat die Here van die oes, arbeiders in sy oesland sal stuur nie... Slegs HY kan hulle stuur!
Vee uitMooi jaar vir jou!
Johannes