BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 06 Januarie 2019

PROFIEL VAN ‘N GESEËNDE

- Is jy seker dat jy ‘n geseënde is? 


Ons wens mekaar graag ‘n geseënde of voorspoedige nuwe jaar toe. Wat beteken dit? Vir ‘n kind van God beteken dit Goddelike seën. Goddelike seën is om die goedheid en guns van God te ervaar. Maar wat impliseer dit nou prakties vir ons in die alledaagse lewe van swoeg en sweet? Dis alles belangrike vrae... En baie persoonlik, is jy 'n geseënde, of wonder jy? Voel jy dat jy dalk eers 'n bankstaat moet trek of die uitslag van 'n onlangse mediese toets moet nagaan...? (Terloops, ek vermoed daar is sommige wat dink hulle is geseënd, maar nie is nie, en ander wat nie geseënd voel nie weens een of ander rede, maar inderdaad wel geseënd is!) 

Wie is geseënd en wie is nie? Hier is dit baie belangrik om die verskil tussen die ou en nuwe bedelings te verstaan. Die tyd voor en na Christus. Wie hierdie onderskeid en konteks nie ernstig opneem nie gaan in diep slaggate en dwalings val. Dis onder andere die dwaling van die Prosperity Gospel. (Wat trouens geen gospel is nie!) Hierdie mense maak oorvereenvoudigde en direkte afleidings sonder om die heilshistoriese konteks in ag te neem. Daar word so maklik gesê – “Abraham was geseënd en die Here het hom ryk gemaak” – so as die Here jou seën gaan jy ryk word. Nog ‘n prominente Skrif wat mens baie hoor is Deut 28:1-14. Veral vers 13. “En die HERE sal jou die kop en nie die stert maak nie, en jy sal net boontoe en nie ondertoe gaan nie as jy luister na die gebooie van die HERE jou God wat ek jou vandag beveel om te hou en te doen,” (Deut 28:13) Die implikasie, so word gesê is dat dit met God se kinders baie goed sal gaan op liggaamlike en finansiële gebied. Jy moet Hom net gehoorsaam – veral om tiendes te gee sal die Amerikaanse TV evangeliste beklemtoon! Jy sal dan in als eerste wees – die kop en nie die stert nie! Jy gaan eerste in die ry staan as geluk en goud uitgedeel word... Is dit regtig so? 

Kom ons kyk eerlik na die Bybelse gegewens. Ongetwyfeld is daar in die ou bedeling ‘n sterk klem op sigbare materiële seëninge! Dit staan beslis voorop in ‘n gedeelte soos Deuteronomium 28. (Natuurlik is daar wel voorbeelde in die Ou Testament van God se gunsgenote wat baie swaar gekry het... Dink maar aan die arme Jeremia of die boodskap van die boek, Job!) Oor die algemeen vind ons egter die gedagte in die ou bedeling dat dit goed sal gaan met God se gehoorsame mense. Veral met die verbondsvolk as geheel in terme van 'n lang en gelukkige lewe in die land wat God hulle gegee het. Gelukkig onder jou vyeboom en wingerd!

Maar dit bring mens by ‘n hele klomp moeilike vrae as ons by die Nuwe Testament kom. Was Paulus dan ‘n geseënde – hy vertel van honger en naaktheid en ‘n doring in die vlees? Wat van die ontvangers van die Hebreër brief wat juis hulle besittings verloor het weens hulle geloof? (Hebreërs 10:34) Wat van al die martelare deur al die eeue, wat nie net hulle goed nie, maar ook hulle lewens verloor het weens hulle Christenskap? Wat van Jesus self? Hy het nie eers eiendom besit nie en sy lewe was vol lyding en smart? Was Hy geseënd?

GEESTELIKE SEËNINGE 

Kom ons kyk wat sê Paulus oor geseënd wees in Efesiërs 1:3-14. Ons begin as vertrekpunt by vers 3. Die OAV praat van “geestelike seëninge.” Ook die DVL vertaal dit so. “Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus. Dit is Hy wat ons in Christus geseën het met elke geestelike seëning in die hemel.” 

As ons na hierdie gedeelte kyk en in die Nuwe Testament as geheel sien ons ‘n duidelike klemverskuiwing. In die konteks van die Nuwe Verbond is die fokus inderdaad op geestelike seëninge. Jesus beloof nêrens aan sy volgelinge ongekwalifiseerde rykdom en gerief nie, juis die teendeel. “Neem julle kruis op en volg my.” Juis, “Kies teen jouself en jou belange!” 

Beteken dit nou dat God in die nuwe bedeling glad nie meer omgee vir ons gewone bestaan as mense nie? Natuurlik nie. Jesus leer ons ongetwyfeld dat ons kan bid vir daaglikse brood, dus daaglikse versorging, maar dis nie waar die klem val nie. 

Die beste as ons wil weet wat Paulus hier met seëninge bedoel is natuurlik om in die konteks self te kyk. Hy brei uit op wat hierdie geestelike seëninge behels. Kom ons kyk na ‘n paar aspekte. Ons kry hier as’t ware ‘n profiel van ‘n geseënde! (Maak oop jou Bybel en kyk saam in Efesiërs 1) 

‘n Geseënde het genadige en onverdiende seën ontvang. God het ons daartoe uitverkies voor die wêreld geskep is. (4) Ons kan dus geen bydrae lewer tot hierdie seën of daarvoor kwalifiseer nie. Ons kan dit nie met tiendes “koop” nie! Dis sy besluit, sy voorneme. (9,11) Dis inderdaad net genade. (5) ‘n Geseënde is dus ‘n begenadigde uitverkorene volgens God se besluit. Alle uitverkorenes is geseëndes! Alle geseëndes deur God is uitverkore! 

‘n Geseënde het spesifiek die geskenk van vergifnis en verlossing ontvang. Kan daar beter nuus wees vir 'n sondaar wat skuldig staan voor God? (7) Die doel is sodat ons onberispelik en heilig voor Hom kan wees. (4) LW – dis ‘n duidelike geestelike doelwit. Nie aardse gerief en gemak nie, maar hemelse gereedheid! 

‘n Geseënde het die Heilige Gees ontvang as waarborg van kindskap en erfgenaam wees. (13,14) n Geseënde is dus ‘n kind en ‘n erfgenaam van God en dit sê ALLES! Met ander woorde God is jou Vader en jy erf als by Hom! Vir ewig kan jy niks kortkom nie! Hiervan oortuig die Heilige Gees wat nou in jou woon jou – Hyself is immers die klimaks van God se seëninge! Watter groter seëning sou daar kon wees as die Gees van die Lewende God wat in my as swakke mens woon? 

‘n Geseënde is elkeen wat IN Christus is. Dis die kernwaarheid. (kyk weer na vers 3) Hier word die lyn getrek, hier kom die verskil. In Christus is jy geseënd en ontvang jy al God se guns. 

Buite Christus is jy nie geseënd nie en bly jy ‘n voorwerp van Goddelike toorn! 

Kyk ook weer na vers 13! Hierdie waarheid is so duidelik ook in Galasiërs 3:13-14. “Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: "Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is."Daardeur kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het.” Jesus het ons straf gedra. Die vloek wat die oortreding van die wet oor ons gebring het is uitgewis. In Jesus is ek dus nie meer ‘n skuldige vervloekte nie, maar ‘n geseënde. Ek kry nou deel aan die seën wat reeds aan Abraham beloof is. Aan Abraham is drie dinge beloof : ‘n land, ‘n nageslag, en dat die Verlosser van alle nasies uit hom sou voortkom. As ek aan Jesus behoort, IN Christus is – erf ek die ewige Kanaän, ek is deel van God se uitverkore volk, die Verlosser is nou ook my Verlosser! Dit is alles dinge wat verby hierdie huidige sigbare werklikheid strek...

Pasop! Selfs ook ons wat nie aanhangers van die Welvaartsevangelie is nie, trap in die slagyster om God se seëninge primêr aan materiële en sigbare welvaart te koppel! 

Die groot punt is : 

As jy in Jesus is, is jy ‘n geseënde, ‘n uitverkore begunstige!

Aan die anderkant... As jy los van Jesus is, staan jy onder die vloek en toorn van God al is jy blakend gesond en besit jy die helfte van Clifton en Kampsbaai...al het jy die mooiste persoonlikheid en vriendelikste geaardheid! Jy is sonder hoop en sonder uitsig, nou en vir ewig! 

Is jy ‘n geseënde? Dis nie ‘n onsekere saak of moeilike vraag om te antwoord nie. 

As jy aan Jesus Christus behoort en die Gees in jou woon is jy ‘n geseënde ongeag jou omstandighede. Jy is ‘n geseënde te midde en ten spyte van daardie siekte, swaarkry of smart wat jou op die oomblik teister! Hierdie wete maak dat ons 2019 met positiewe verwagting en vertroue kan ingaan. 

ONTHOU OM DIE HERE TE PRYS! Dis immers waartoe Paulus ons wil oproep in Efesiërs hoofstuk 1.

Geseënd wees gaan oor baie meer as net 'n paar lekker dinge wat God ons gee om te geniet. Dit gaan oor ons nuwe status IN Christus!


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.