BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 13 Mei 2018

DIE SPOKE WAT JOU TEISTER

- en hoe om die oorwinning oor hulle te behaal! 



Is daar spoke wat jou pla? Ek praat nie van die soort wat soos wit lakens lyk en in begraafplase of by Uniondale ronddwaal nie... Ek praat van arrogante aktiewe spoke soos Selfbejammering, Selfbewustheid, Mislukking, Verlore kanse, Skuldgevoelens. Eintlik almal maar een of ander vorm of gevolg van SONDE! Hierdie spoke is gevaarlike vyande in diens van die groot vyand Satan. Hulle spits hulle veral toe op God se kinders. Hierdie vyand en sy trawante hou daarvan as jy op die grond lê. Hulle trap jou en vra dan smalend : “Nou waar is jou God dan nou?” Hierdie spoke hou jou terug en breek jou spoed. Hulle breek jou lewe af totdat dit 'n stukkende bouval word! Hulle is die rede dat baie mense nie die vreugde van God kan beleef nie, moedeloos word, skuldig voel om iets vir die Here te doen.... 



In Miga 7:5-10 vind ons kosbare bemoediging uit die Woord wat vir jou wat deur hierdie spoke geteister word hoop kan bring!* Ja, my vriend, daar is hoop as ons geval het, hoop as ons in die donkerte is! Daar is uitkoms as ons ons hoop op God stel en nie op mense nie! Ja, dis waar, selfs die mense naaste ons stel ons dikwels teleur, maar nie God nie. “Moenie ‘n maat vertrou nie, moenie op ‘n vriend staatmaak nie, pasop wat jy sê vir die vrou langs wie jy lê. Die seun beledig sy pa, die dogter kom in opstand teen haar ma, die skoondogter teen haar skoonma. ‘n Man se huismense het sy vyande geword.” (5,6) Die oplossing is om my nie meer op mense te verlaat nie, maar myself tot GOD te keer! “Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.” (7) Die oplossing vir al die spoke wat jou teister is ’n toekeer na God - wend jou in die gebed tot Hom. By die Here is daar bevryding en dan sal jy triomfantelik kan uitroep : “Wees nie bly oor my nie my vyand nie, al het ek tot ’n val gekom, ek sal weer opstaan!” (8) Hierdie is ‘n geweldige wapen teen die groot beskuldiger en aanklaer, Satan. Al die spoke is maar eintlik net in sy diens... 

DUISTERNIS EN LIG

Spoke floreer in die donker. Lig verdryf spoke. Om ontslae te raak van hierdie spoke soos Selfbejammering, Selfbewustheid, Mislukking, Verlore kanse, Skuldgevoelens moet God se lig eers oor my skyn. Ons enigste hoop is as God se lig ons verlig. Let op wat sê die profeet : “Die Here is my lig!” (8) Nou weet ons uit die Nuwe Testament, Jesus sê dat Hy die Lig van die wêreld is. Die lig wat die spoke uit ons lewens laat vlug is die evangelie lig. Die heerlike boodskap van Jesus se sterwe en opstanding. Sy genoegsame afgehandelde verlossingswerk! 

VAT DIE SPOKE AAN...

Kom ons kyk prakties hoe die evangelie se lig die spoke uit ons lewe verdryf. Ons vat hulle bietjie een vir een aan: 

Selfbejammering. Wat ’n verlammende spook! “Ag arme ek...” Met hierdie spook moet ek baie hard werk- ek moet hom sien vir wat hy is nl. sonde. Ja, jy het reg gehoor, Selfbejammering is sonde. Dis ‘n mosie van wantroue in God se bestuur van my lewe. As ek na die kruis kyk, die liefde van Christus vir my besef, sal ek besef dat selfbejammering sondig is. Selfbejammering is niks anders as opstand teen God se soewereiniteit nie. God het my mos gemaak soos ek is, Hy is in beheer van my lewe. Die goeie nuus is, dat daar bevryding ook van hierdie sonde is. Bely jou selfbejammering... ook dit kan vergewe word. En begin God dank... daar is soveel om voor dankbaar te wees... Hierdie spook vlug vir alle vorme van dankbaarheid en vergenoegdheid, hy kan dit nie uitstaan nie... 

Selfbewustheid. Dis daardie gedurige en verterende ongemaklikheid : “Wat sal ander mense van my sê, wat dink hulle van my? Ek voel altyd te vet, of te maer of te dom! Ek is vasgevang in mense vrees, ek is so bang vir kritiek ek doen maar liewers niks.” Selfbewustheid is eintlik net hierdie spook se skuilnaam. Sy regte naam is hoogmoed en hoogmoed is sonde! Die oplossing is om te verstaan dat as ek ’n Christen is, ek ’n nuwe identiteit gekry het deur Jesus se kruis en opstanding. As ek Jesus al aanvaar het, beteken dit mos dat ek saam met Hom gesterf het en saam met Hom uit die dood opgewek is! Die ou ID is dood. (Kliek op OORWINNING) Ek is nou ’n nuwe skepsel... God het my aanvaar en as sy eie kind aangeneem. Ek hoef geen mens te vrees nie. Ek kan tevrede wees soos God my gemaak het. Ek kan uitsien na die pad waarop Hy my lei in sy alwysheid! 

Mislukking. Hierdie spook kan uitgeken word aan sy geliefkoosde fluisterwoorde : “Onthou jy nog? Kyk hoe het jy daar verbrou, kyk watter skade het jy aangerig....Kyk hoe het jy die Here teleurgestel.” Jy moet hom hard aanvat op sy eie terrein. Sê vir hom : “Ja ek onthou alles..., maar ek onthou veral die kruis! Daar is volledig betaal vir alles. Ek het misluk, dis waar, maar Jesus het geslaag namens my!” 

Verlore kanse. “Ag het ek maar..,” is die herhalende gesanik van hierdie verlammende spook. Ek kan nie fokus op my huidige verantwoordelikhede nie, tob altyd oor dit of dat wat ek moes gedoen het. Kortom, ek is vasgevang in die slagyster van die verlede. Hoor nou baie mooi! Die boodskap van die kruis sê dat ons verlede uitgewis is en dat ons nou vorentoe kan kyk. Daarom kon Paulus ook sê : “Ek vergeet wat agter is en strek my uit na wat voor is.” (Fil. 3:13) Begin om dit te glo... 

Skuldgevoelens. Oor sondes van die verlede en hede. Heel dikwels fokus dit op daardie een groot sonde....daardie enkele verskriklike ding waaroor ek so bitter skaam en sleg voel. Hierdie is nogals ‘n baie groot en sterk spook. Dis ‘n duiwelse spook wat vir jou met sadistiese genot probeer afkraak : “Kyk wat het jy gedoen. Jy is niks anders as ’n sondaar nie.” Hy sê dit as jy so pas geval het, maar hy kan jou ook skielik herinner aan iets van lank lank gelede... Hoe antwoord jy hierdie spook? Stem saam! “Ja, ek is ’n sondaar, ek kan niks ontken nie, maar die Woord sê :“Christus het Homself vir ons sonde gegee” (Gal. 1:4) 

Oorkoepelend gestel – al hierdie spoke van duiwelse duisternis word deur die evangelie lig verdryf! 

Hoe skyn God se lig, die bevrydende evangelie lig oor my lewe? Vers 7 het die sleutel. "Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.” Die eenvoudige waarheid van geloofsvertroue op God se beloftes. Spesifiek vertroue op Jesus Christus soos God Hom openbaar het, spesifieke vertroue op die sterwe en opstanding van Jesus. Om te vertrou – “Sy sterwe was genoeg, ja ook vir my! Daar is alles volbring! Ek was skuldig, maar Jesus het my straf gevat en nou staan ek sonder skuld voor God!” O, vriend bedink dit, glo dit, dank God vir hierdie waarheid. Ek erken my foute en onderwerp my aan sy tugtiging, maar ek weet Hy tugtig my nie om my te vernietig nie. Hy gee weer lig en oorwinning. Hierdie waarheid, die kruiswaarheid gee my die oorwinning oor al die teisterings en beskuldigings van die Satan. “Ek sal aanvaar dat die Here my straf in sy toorn, want ek het teen Hom gesondig. Wanneer Hy my saak verhoor en oor my uitspraak lewer, sal Hy weer lig bring in my lewe, sal ek ondervind dat Hy die oorwinning gee.” (9) Deur vas te hou aan die vaste waarheid van Jesus se genade offer sal ek die Satan en sy trawante plat trap. “My vyand sal dit sien, hy sal deur skaamte oorval word, hy wat vir my vra: "Waar is die Here jou God?" Ek sal op my vyand neersien, hy sal plat getrap word soos modder op die straat.” (10) 

BLOEI JY? STAAN WEER OP!!!

Is die spoke in jou lewe besig met ‘n skrikbewind? Is jy platgeslaan, lê en bloei jy in die donker? Sê in geloof : “Moet jou nie oor my verlekker nie, my vyand, al het ek tot ‘n val gekom, ek sal weer opstaan, al sit ek in die donker, die Here is my lig.” (8) Dis die wapen van elkeen wat aan Jesus behoort! Hiermee kan ons die spoke die hasepad laat kies!


*Natuurlik het hierdie profetiese boodskap in die eerste plek gegaan oor die situasie van die vervalle Jerusalem. Jerusalem sou weer opstaan en herbou word! Vers 11! "Die dag wanneer jou mure herbou word, dié dag sal jy nie onder die vyand se wet staan nie." Hierdie troos is duidelik egter ook vir God se kinders van alle eeue bedoel, soos Openbaring ons immers leer is almal wat aan Jesus behoort, die nuwe Jerusalem, die bruid van die Lam! 


God kan inderdaad spookgeteisterde bouvalle weer herstel!
(Foto - Kolmanskop)



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.